|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Brucellose dring maklik 'n kudde binne. In dié artikel word gekyk na die siekte en sy gevolge sowel as die regte gebruik van entstowwe.
Brucellose word veroorsaak deur 'n bakterium, Brucella abortus bovis, wat binne-in die sel groei. Dit is gelukkig baie vatbaar vir blootstelling aan omgewingstoestande, soos uitdroging, regstreekse sonlig en hitte asook meeste ontsmetmiddels.
As toestande gunstig is, kan Brucella abortus baie lank oorleef tot agt maande in misputte of in 'n geaborteerde fetus wat in die skaduwee lê. Dit oorleef ook vir so lank as drie maande in klam grond of onder 'n kikoejoe-mat in die kamp waar die koei gekalf het.
Brucellose word in 'n skoon kudde ingebring deur 'n besmette dier of as besmette materiaal (nageboorte, nageboorte-vloeistowwe, die pasgebore kalf van 'n besmette koei) deur beeste gelek of geruik word en die organisme dan toegang deur die slymvlies verkry. Besmette koeie skei die organisme uit in baarmoederafskeidings vir solank as 30 dae ná aborsie of as die koei daarna gekalf het.
Bulle kan ook besmet raak en ontwikkel dikwels 'n testikelontsteking asook ontsteking van die bygeslagskliere wat hulle steriel maak en die deklus onderdruk. Verse kan die besmetting reeds in die baarmoeder van die moederdier kry. Tot 20 % van verse wat uit besmette koeie gebore is, kan op hierdie wyse besmet wees, maar aborteer eers met hul eerste dragtigheid of selfs baie later voordat daar met 'n diagnostiese bloedtoets vasgestel kan word of hulle positief is. Ongeveer 80 % van dragtige koeie wat die eerste keer blootgestel word, sal aborteer en ná die eerste aborsie dit nie noodwendig weer doen nie. Die oorblywende 20 % van die diere wat nie aborteer nie, skei steeds die organisme uit.
Dit is logies dat 'n boer seker sal maak dat geen besmette diere van elders in sy kudde ingebring word nie. Daarby moet hy immuniteit by sy vee bewerkstellig deur inenting.
Voor enige entstof aan vee toegedien word, moet die voordele en risiko's deeglik in berekening gebring word, veral as 'n kombinasie van verskillende entstowwe en ander middels, soos dipmiddels, gelyktydig toegedien gaan word. Boere moet hul veearts in dié verband raadpleeg.
Daar is net twee lewende Brucellose-entstowwe beskikbaar: Stam 19 (ontwikkel deur die onderneming Onderstepoort Biologiese Produkte), wat tradisioneel eenmalig aan alle verskalwers op die ouderdom van vier tot sewe maande toegedien word, en RB51 (ontwikkel deur Schering Plough Dieregesondheid), 'n entstof wat vanaf die ouderdom van vier maande aan enige nie-dragtige vers of koei toegedien kan word en ook in skoon kuddes ingespan kan word om die risiko van besmetting te verminder.
Boere moet onthou dat die eenmalige inenting van verse, met watter Brucellose-middel ook al, nie voldoende beskerming bied nie. Die eerste inenting op vier tot sewe maande met Stam 19 of RB51 sal net sowat 70 % van die diere beskerm. 'n Eerste skraagdosis met RB51 voor die eerste dekking sal die beskerming tot 91 % opskuif. 'n Tweede skraagdosis met RB51 ná die koei die eerste keer gekalf het, sal dit na 97 % vermeerder.
Met 'n derde skraagdosis met RB51 ná die koei die tweede keer gekalf het, sal ongeveer 99 % van die koeie beskerming hê. Die tweede en derde skraagdosisse moet minstens 30 dae ná die koei gekalf het, maar nie binne 30 tot 40 dae voor die volgende dekking nie, toegedien word.
'n Koei of vers sal ná die toediening van 'n Brucellose-entstof 'n immuniteit teen die Brucella abortus bovis-bakterium ontwikkel. Boere moet onthou dat maer diere se immuun-stelsel nie genoeg op 'n entstof sal reageer nie.
Ken jou vyand
Besmetlike misgeboorte (Brucellose) kan groot finansiële verliese in beeskuddes veroorsaak.
Sinvolle voorkomingsmaatreëls kan net in werking gestel word as boere dit verstaan en die voordele en risiko's van enige entstof deeglik in berekening bring.
Nadat verse of koeie die eerste keer besmet word, vind aborsies in ongeveer 80 % van gevalle plaas. Die geboorte van swak kalwers kom ook voor en vererger die finansiële verliese.
Koeie bly lewenslank draers en sal elke keer nadat hulle gekalf het die siekte deur na-geboortevloeistowwe versprei. Hierdie koeie is 'n permanente bron van besmetting in die kudde.
Die siekte is ongeneeslik in beeste. Geen entstof of antibiotikum, hoe dikwels ook al toegedien, kan Brucellose in beeste genees nie.
Hanteer entstowwe só
'n Mens moet brucellose-entstof ten alle tye versigtig hanteer. As jy per ongeluk raakgespuit word, moet jy dadelik 'n geneesheer raadpleeg.
Geen Brucellose-entstof mag aan manlike diere toegedien word nie.
Moet nie beeste binne 'n maand ná die toediening van RB51-entstof slag nie, omdat die lewende organisme dan nog uit die limfkliere geïsoleer kan word.
Die RB51 is 'n lewende entstof en word nie aanbeveel vir die gebruik in dragtige beeste of binne een maand voor kunsmatige inseminasie of natuurlike dekking nie. As dit op die aanbeveling van 'n veearts buite die registrasievereistes in dragtige vee gebruik word (soos in 'n positiewe kudde om verdere verspreiding te voorkom), is daar 'n risiko van tot 2 % aborsies of vroeggebore kalwers. Hierdie syfer is vasgestel vir gesonde beeste. Sou daar 'n meegaande virus- of bakteriële besmetting van watter aard ook al in die kudde heers tydens inenting met RB51, kan die syfer aansienlik hoër wees.
Die gelyktydige toediening van RB51 met entstowwe wat dooie en lewende virus- of bakteriekomponente bevat, kan ook die aantal aborsies of vroeggebore kalwers verhoog.
14 November 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24