Een van die kleurvolste karakters in die wolbedryf in Suid-Afrika, Alan (Chips) Reid (87) is in Nieu-Seeland oorlede, en heel gepas, is hy in ‘n wol-kis begrawe.
Reid was ‘n Nieu-Seelandse skeerinstrukteur wat vroeg in die 1980’s saam met nóg ‘n Kiwi, Ian Rutherford, Suid-Afrika toe gekom om aan die voorpunt te staan van skeeropleiding in Suid-Afrika. Dit was ‘n nuwe dimensie vir die Suid-Afrikaanse wolbedryf. Hulle het ‘n gedugte groep instrukteurs gevorm wat op menige skaapplaas in Suid-Afrika gewerk het.
‘n Internet-vriende, Keith Brinch, het op Facebook laat weet dat Chips in Christchurch oorlede is. En in ‘n wol-kis begrawe is. Ja, dink ‘n mens, dis die gepaste afskeid vir dié ou grote.
Een van Reid se twee dogters, me. Lois Turner, het uit Kiwiland bevestig dat Reid wel in ‘n kis wat in wol gedrapeer is, begrawe is. Die kis is in 3,5 kg van ‘n wol-feltmateriaal gedrapeer en volgens haar was dit ‘n gepaste wyse om ‘n laaste eerbewys aan haar pa te betoon. Die kis is in Engeland gemaak en Reid was die vierde Nieu-Seelander wat op dié manier begrawe is. Reid laat ook ‘n tweede dogter agter, Heather Reid.
Izak Klopper besoek Reid in NZ
* Mnr. Izak Klopper, bestuurder: Skeeropleiding van die NWKV, het Chips in Februarie besoek het, het die volgende inligting gestuur:
"Ek dink almal wat vir Chips geken het weet dat dit regtig ‘n grote is wat geval het. Chips se gelyke wat werksetiek betref, moet nog gebore word!
Ek was bevooreg om op 20 Februarie 2012 vir Chips in Christchurch te besoek. Wat opvallend was is dat hy op 87-jarige ouderdom steeds sy ou gewoontes en vrolike geaardheid gehad het. “I am aiming at 90” was van sy eerste woorde aan my. Hy het graag mense se been getrek met sy spitsvondige opmerkings (wat baie Suid-Afrikaners vanweë sy aksent soms nie gehoor of verstaan het nie en tog maar saam gelag het vir sy grappies). Hy het tydens my besoek aan hom die dame wat sy kamer skoonmaak, ‘n slag of wat teruggeroep om met haar te skerts.

Byskrif: Izak Klopper (regs) gesels met Chips Reid.
Die werksbesoek aan SA vanaf 1981 tot 1995 het Chips baie geniet, en daar staan baie monumente (skeerplatforms) reg oor SA wat Chips en Klaas tydens naweke wanneer hulle nie skeeropleiding gedoen het nie gebou het.
Chips se gehamer, douvoordag
Ek het die voorreg gehad om self by ‘n paar van die bousessies betrokke te wees, en glo my ou Chips het die daglig-ure op ‘n Saterdag en Sondag ten volle benut. As jong man was ek nie té opgewonde wanneer ek op ‘n Sondagoggend om 04:30 wakker geword het met die gekap van Chips se hamer in die agtergrond nie. Dan moet jy maar uit die vere spring n gaan inval in die skuur.
Teen ongeveer 18:30 was die dag se werk voltooi, dan moet daar eers opgeruim word, elke soort hout by sy maats gepak word, gereedskap skoongemaak en die plek uitgevee word voordat ons die skeerskuur kon verlaat. Chips het baie vriende reg deur die land gehad, en wanneer ons Vrydagmiddae uit Britstown of ‘n ander Karoo dorpie vertrek het terug Bloemfontein toe, het ons baie keer eers teen 23:00 of 24:00 in Bloemfontein aangekom, soos daar langs die pad eers by mense aangegaan is en skeerkontrakteurs langs die pad ontmoet is om gou nog weer ‘n boks skaapskêre af te gee. Niemand wat ek ken, kan ‘n spyker so sekuur inslaan soos Chips nie. Wanneer ‘n spyker weerbarstig was en nie wou in nie, het Chips homself deur die hare gevryf en gesê “you must grease it a bit” en sonder uitsondering is die spyker dan ingemoker.
Dol op nagereg
Van sy gunsteling sêgoed was: “Funny if you keep on eating, you lose you appetite” en wanneer die huishulp soos die gebruik is die tafel met ‘n mes vurk en lepel gedek het en die boervrou vra tydens die aandete of Chips dalk nog kos wil hê, sou hy die lepel vat en sê “I am a gambling man, I gamble that there are some sweets”. Baie aande het dit die boervrou gou in die spens laat inglip en ‘n bottel of twee ingelegde perskes of pere laat gryp, want foeitog, ou Chips verwag nagereg!
Daar is by my geen twyfel dat die jare in SA van sy kosbaarste herhinneringe was nie. Oral in sy laasate woonplek was kleinnode wat hom aan Suid-Afrika herhinner het. ‘n Springbokvel agter die deur, skilderye van handskeerders in die Burgersdorp-distrik deur Babara Phillips, ‘n handgekerfde skapie wat Kleinjan Malgas gemaak het en ‘n foto van Tappans, sy Jack Russel-hondjie en Siena die huishulp. Ek moes ook sy “scrap book” van alles wat hy in SA gedoen het uit die kas haal, en saam is ons terug op die ver paaie van sy herhinneringe.
Wat Chips tydens my besoek gesê het wat my bybly is: “If I can do it over, I will do it again!”
Foto hieronder: So lyk 'n wolkis, soos wat Chips in begrawe is. Foto: JOHN RIND, begrafnisondernemer.

23 Mei 2012