Sowat ’n jaar ná die Rooivleisbedryfsforum (
RMIF) beloftes van hulp en steun van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye ontvang het, voel die organisasie of hulle
terug is by die begin.
Mnr.
Dave Ford, voorsitter, het Dinsdag (23 Oktober 2012) in ’n voorlegging aan die portefeuljekomitee vir landbou gesê die trae terugvoering wat die forum van die departement kry, het die land die afgelope twee jaar sowat R8 miljard gekos.
Hy sê bitter min vordering is gemaak met die lys van klagtes en kwessies wat sowat ’n jaar gelede met die departement bespreek is. Luidens ’n
berig in
Business Day sê Ford hul navrae aan die departement word geïgnoreer. “Die enigste tyd wat die departement reageer op enige navrae is wanneer dit van ’n regsverteenwoordiger kom.”
Nege uitkomsteFord het aan die komitee gesê die departement het nog net aan een van die nege ondernemings wat dit verlede jaar aan die bedryf gegee het, voldoen. Net die aansoek om die status as bek-en-klouseer-vry aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (
WHO) het aandag geniet.
Van die ander ondernemings sluit in die implementering van ’n wet vir
vleisveiligheid, die vestiging van ’n vleisinspeksiediens en optrede teen onwettige
vleisinvoer. Die departement het ook die voorkoms en behandeling van tuberkulose en aansteeklike aborsie beloof. Verder het dit ook misluk om siektebebestryding in grensgebiede toe te pas en kleinboere vir hul verliese te vergoed, soos bepaal deur die Wet op Dieresiektes.
Mnr.
Mlungisi Johnson, voorsitter van die komitee, het die departement opdrag gegee om ’n lys van sy uitstaande ondernemings teen einde volgende week aan die komitee te verskaf. Verder moet die departement voor einde November ’n diepte-verslag voorlê oor die vordering wat met die kwessie gemaak word.
Mnr. Sipho Ntombela, waarnemende direkteur-generaal, het kapsie gemaak teen die forum se “opponerende standpunt”, en het beloof dat die komitee se opdragte uitgevoer sal word.
Bron:
Business Day