'n Mens kry hoendervleis as jy die verhale lees van hoe vroeë natuurbewaarders en hul perde die wildernis help tem het. Vandag speel die perd weer 'n ál belangriker rol op wildplase om wild te vang en toeriste tot meters van wild af te bring.
Die rol wat perde in jag en natuurbewaring in die vroeë dae van Suid-Afrika gespeel het, kan nie na waarde geskat word nie omdat dié pioniers dit nie opgeteken het nie. Gebeure wat vandag die verbeelding sal aangryp, is destyds as alledaags beskou.
Die enkele voorvalle wat tog bekend is, klink na verhale wat met slim kamera-tegnieke in rolprente opgetower is. Om 'n woedende olifantbul te perd aan te durf, klink na malligheid. Tog is dit oor en oor gedoen, met groot welslae en enkele noue ontkomings.
Dr. Kobus du Toit, wildveearts, perdeboer en diereliefhebber van Pretoria, is besig met omvattende navorsing oor die geskiedenis en rol van die perd in Suid-Afrika. Lesers kan 'n bydrae lewer deur ware perdestories te vertel en kan 'n lekker groot kontantprys van R8 000 daarmee losslaan (sien hieronder).
In sy navorsing tot nou toe het Du Toit op talle interessanthede afgekom wat hy al gedeeltelik geboekstaaf het. In dié artikel val die klem op die rol van die perd in natuurbewaring.
Burt van der Walt, 'n boer, was van 1907 tot 1935 die eerste wildvanger in Suid-Afrika wat wild kommersieel met perde agter die Soutpansberg gevang het. Voor dié tyd het jagters perde gebruik. Dit het dikwels op groot slagtings uitgeloop.
Petrus Jacobs was ná die Britse ontdekkingsreisiger David Livingstone een van die eerste blankes om Botswana en Zimbabwe te besoek en het op een ekspedisie daar meer as 200 olifante geskiet. In sy leeftyd het hy 110 leeus en 750 olifante geskiet. F.C. Selous het in dié tyd meer as 500 olifantbulle geskiet en sowat 80 000 pond (sowat 36 000 kg) ivoor versamel.
Hendrik van Zyl was waarskynlik een van die jagters wat te perd die wydste beweeg en die meeste olifante geskiet het, na raming sowat 500 tot 1 000 olifante per jaar.
Op een Sondagmôre in daardie tyd het hy en sy Boesmanspoorsnyers 'n trop van sowat 103 olifante doodgeskiet nadat die diere met perde aangejaag is tot in 'n modderpan waar hulle vasgeval het.
In ongeveer 1900 het die patrollie-era egter vir die perd aangebreek toe kol. James Stevenson-Hamilton en Harry Wolhuter dié diere gebruik het om met natuurbewaring te begin in die destydse Sabie-natuurreservaat, vandag die Nasionale Krugerwildtuin.
Wolhuter is deur 'n leeu van sy perd afgeklap en weggesleep om leeukos te gaan word. Tydens die slepery en met sy regterskouer in die leeu se bek, het hy sy mes met sy linkerhand uitgetrek en die leeu doodgesteek. Hy was swaar gewond en het die nag in 'n boom geskuil totdat hulp opgedaag het.
Perdesiekte was toe 'n groot probleem. Boere, soos Van der Walt, het sebras mak gemaak wat as trekdiere gebruik is vir die Zeederbergkoetse. Mettertyd het dié boere gesoute perde begin gebruik.
Met die koms van die spoorlyn tot by Musina, het Van der Walt wild te perd begin vang deur die diere in te jaag en 'n riem met 'n vangstok oor hul nekke te gooi. Die diere is per trein Durban toe gebring en daarvandaan oorsee gestuur.
In die 1960's het veldwagters weer perde begin gebruik om renosters in die parke van KwaZulu-Natal te vang en olifante in Namibië terug te jaag waar hulle uit die Etosha-wildtuin gebreek en skade op plase aangerig het.
Peter Stark vertel in sy boek Die Wit Boesman (Proteahuis, Pretoria), hoe hy en sy span Boesmanhelpers die kuns feitlik vervolmaak het om troppe olifante op dié manier van plase af terug te jaag na die Etosha-wildtuin.
Daarvoor was deeglik afgerigte en gehoorsame perde en saalvaste ruiters nodig. Hulle het bokant die wind tot naby die olifante gery, skielik begin skreeu, raas en skote in die lug gevuur. Gewoonlik het die olifante op die vlug geslaan en met dié geraas is hulle in die regte rigting gestuur totdat hulle weer in die wildtuin was.
Alleenloperbulle was egter 'n "perd" van 'n ander kleur. Hul reaksie op die geraas was feitlik altyd 'n verwoede stormloop. Hy vertel dié storie van 'n spesifieke moedswillige alleenloperbul.
Hy en sy spoorsnyer, Stefanus, het die bul se spoor gevolg. Stark was gewapen met 'n 303-geweer. Hulle het net 'n entjie gestap en toe die olifant sowat 50 meter voor hulle sien wei. Soos gewoonlik het hy 'n skoot oor die olifant geskiet om hom skrik te maak.
"Maar toe die skoot klap, het die olifant stil bly staan, sy slurp opgetel en na wind gesoek. Ek het geweet hier kom moeilikheid. Toe hy ons ruik, het hy sy kop effens laat sak, sy ore hoog bokant sy kop opgetel, woedend begin trompetter en met opgekrulde slurp in ons rigting begin storm," lui sy vertelling in dié boek.
Onderwyl Stefanus op sy bevel soos 'n warrelwind laat spaander het, het Stark, wat met 'n rug- en beenbesering net hinke-pinke kon beweeg, in 'n ander rigting padgegee.
Die olifant het hom geskraap en toe die dier feitlik op hom was, het hy omgeswaai en sonder om te korrel na die olifant se kop geskiet, wat met 'n donderslag langs hom neergeslaan het.
Later het dit geblyk die koeël is langs die oog in, deur die oogholte tot in die brein. Dít was een van sy noue ontkomings, en toe moes hy nog verduidelik hoekom hy 'n wildtuin-olifant doodgeskiet het.
Mettertyd is perde deur viertrekvoertuie vervang. Nick Steele, 'n natuurbewaarder van KwaZulu-Natal, skryf egter: "Die voertuig is nog nie ontwerp wat so stil kan loop soos wat 'n mens te voet of te perd kan beweeg nie."
Vandag word perde weer ál meer vir natuurbewaringsdoeleindes gebruik. Die perde word deesdae veral gebruik om toeriste in bewaringsgebiede uit te neem en tot naby aan wild, en soms gevaarlike diere, te bring.
Die gids moet wilde diere se gedrag goed ken om die toeris veilig tot na aan die diere te bring. Die perd moet 'n goeie temperament hê, gehard wees teen siektes en by die omgewing aangepas wees om met die minimum onderhoud klaar te kom.
Mnr. Anton Grimbeek bedryf só 'n onderneming al sowat 12 jaar lank in die Mabula-wildreservaat digby Bela-Bela (Warmbad), waar hy vroeër navorsing oor luiperds gedoen het.
Hy het in 1992 met perde begin boer en sedert 1993 stelselmatig Nooitgedacht- en Historiese Boerperdmerries begin aanskaf. Omdat perdesiekte erg by Mabula voorkom, hou hy sy teeldiere in die Witkoppe by Vrede in die Vrystaat aan. Daar teel hy funksioneel doeltreffende en geharde perde met 'n goeie temperament en wat met min onderhoud kan oorleef.
Oorsese besoekers aan dié gewilde oord wil graag die wild van naderby besigtig. Daarvoor word voertuie gebruik, maar hulle neem die toeriste ook op begeleide staptogte en bied perderitte aan. Grimbeek gebruik gemiddeld sowat 20 perde en hy kan drie ritte per dag aanbied. Elke rit duur twee uur en hulle ry dan sowat ses kilometer. Die reservaat is nagenog 12 000 ha groot en opgeleide gidse wat weet waar die wild hou, begelei die ruiters.
Die perde slaap snags buite en wei tussen die wild sodat hulle gewoond raak aan mekaar. Daarom kan die besoekers tot sowat vyf meter van buffels af gebring word. Olifante is die enigste diere waar daar 'n effense afstand gehandhaaf word en hulle ry nie tussen leeus nie.
Soggens voor die eerste rit word die temperatuur van ál die perde geneem om moontlike siektetoestande te identifiseer. Daar word ook gekyk vir beserings. Dié met 'n koors word verder ondersoek en voorkomend behandel.
Dan kry die perde elkeen sowat een kilogram kragvoer wat ryk is aan proteïene en energie. Teen elfuur is die eerste twee ritte gewoonlik afgehandel en die perde gaan dan veld toe. Teen vieruur word hulle weer ingebring vir die laaste rit van die dag.
In die stalle is fosfaatryke mineraallekke en soutblokke vryelik beskikbaar. Omdat perdesiekte algemeen voorkom, word die perde elke aand met 'n plantaardige insekweerder bespuit.
Die buitelandse besoekers is aanvanklik skrikkerig om te perd die wildernis in te ry, maar as hulle eers rustig in die veld en tussen die wild is, kan hulle nie uitgepraat raak oor die ondervinding nie.
Die veiligheid van besoekers geniet voorkeur. Een gids ry voor en een agter sodat hulle die ruiters voortdurend kan dophou en help, indien nodig. Tweerigting-radio's word ook saamgevat sodat hulle met personeel by die basiskamp en die stalle kan kommunikeer.
Net reunperde word gebruik, met Trail Rider-saals en stiebeuels wat voor toe is om die voete te beskerm en te voorkom dat 'n mens se voet vashaak as jy dalk afval.
Grimbeek glo perde kan nog baie beter op plase in die algemeen en wildplase in die besonder gebruik word. Een van die beperkings is dat die meeste wildgebiede baie ongunstig is vir die aanhou van perde, 'n aspek wat baie goeie bestuur vereis. Omdat perde ook lank nie in dié gebiede aangehou is nie, ken die boere en veral die plaaslike bevolking nie meer perde nie. Die diere het gereelde sorg nodig en die eienaar en werkers moet hulle daagliks monitor.
Hy dink tog die waarde van perde word opnuut besef, want ál meer wildboere begin weer perde koop vir toerisme of vir algemene werk op plase.
Wen met storie uit die perd se bek
Die beste ware perdestorie kan vir een van ons lesers 'n prys van R8 000 losslaan en die twee naasbeste stories sal elk R1 000 vir die verteller verdien.
Van die beste stories sal in Landbouweekblad en in 'n beoogde boek oor die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse perd gepubliseer word, met volle vermelding van die verteller.
Dr. Kobus du Toit, wildveearts van Pretoria, het al ver gevorder met die opteken van dié geskiedenis. Die oogmerk is om ware verhale, van komiese gebeurtenisse tot heldhaftige en self tragiese stories, te kry.
Hy soek ook nog inligting wat die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse perd volledig sal maak, soos wanneer die eerste perdeskou gehou is, die getal trekkers wat jaarliks verkoop is van 1910 tot 1950, inligting oor Piet-perde, ens.
Foto's kan ook baie stories vertel en mense wat aandenkings het, kan van hulle laat hoor sodat foto's daarvan geneem kan word.
Die reëls:
1. Net ware verhale is aanvaarbaar en, indien nodig, sal bewys daarvan gelewer moet word.
2. Deur in te skryf, gee u toestemming dat ons die inligting onder u naam kan publiseer.
3. Alle stories sal nie noodwendig gepubliseer word nie.
4. Alles moontlik sal gedoen word om te voorkom dat enige materiaal wat u aanstuur, verlore raak, maar geen aanspreeklikheid daarvoor word aanvaar nie. Ons aanvaar ook geen verantwoordelikheid vir inskrywings wat in die pos wegraak nie.
5. Indien twyfel oor die egtheid of waarheid van inskrywings bestaan, sal dit nagegaan of uitgegooi word.
6. Deelnemers moet volledige kontak-inligting verskaf.
7. Stories moet hoogstens 500 woorde beslaan.
8. Die kompetisie sluit op 15 Oktober 2004.
9. In geval van 'n dispuut waar dieselfde storie deur verskillende mense ingestuur is, sal die een wat eerste ontvang en eg is, aanvaar word.
10. Die beslissing van die redakteur is finaal.
11. Die prysgeld vir die wenner sal R8 000 wees en die twee naaswenners sal elkeen R1 000 ontvang.
12. Stuur inskrywings na Perdestorie-kompetisie, Landbouweekblad, Posbus 1802, Kaapstad 8000.
6 Augustus 2004