|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Boere op wie se plase baie Acacia karoo-doringbome groei, is verdeeld oor of dit 'n bate of 'n kruis is. Sommiges meen dat dit grasproduksie benadeel. Proewe het egter die teendeel bewys.
Hoewel bokboere die voordele van Acacia karoo-doringbome besing, is skaap- en beesboere nie oortuig dat dit 'n bate op 'n plaas kan wees nie. Sommige boere bestee jaarliks duisende rand om dié bome meganies of chemies uit te roei, sé mnr. Neels de Ridder, beheertegnikus van die weidingseksie by die Döhne Landbou-onwikkelingsinstituut (LOI) naby Stutterheim.
Acacia karoo-doringbome kom wydverspreid in die Oos-Kaapse soetveld voor. Namate boere weens veediefstal van hul skape en Boerbokke ontslae geraak en ál hoe meer met beeste begin boer het, het bosverdigting ingetree. "Die verwydering van die groter bome bring mee dat honderde kleiner boompies vir die "begrafnis" opdaag en tot verdigting bydra."
Baie boere op wie se plase baie doringbome voorkom, verkeer onder die indruk dat dit nadelig vir grasproduksie is en dus 'n afname in weidingkapasiteit tot gevolg het. Mnr. De Ridder sé egter die voorkoms van Acacia karoo-doringbome het net 'n nadelige invloed op grasproduksie in seisoene wanneer dit baie min reën. "Gedurende normale tot hoë reënvaltydperke sal selfs dié dele met digte boomladings meer gras produseer as dié minder digte gebiede." Die rede hiervoor is bloot dat die Acacia karoo-doringboom oor 'n stikstofbindende vermoë beskik en ook skaduwee gee, wat waterverlies beperk.
Om dié teorie te bewys, het hy 'n proefneming op die plaas Euphorbia van mnr. John Hartley gedoen. Dit is sowat 25 km van Stutterheim. Mnr. Hartley was oortuig dat die bome die rede was waarom die stand van die gras onder die bome so swak was.
Die waarheid was egter dat die diere die gras onder die bome só smaaklik gevind het dat hulle dit inderdaad vir lang tye bewei het. Boonop is vee geneig om op warm dae die skaduwee onder die bome op te soek hulle bring dus nog meer tyd daar deur as in die ooptes.
Die proefneming op mnr. Hartley se plaas is teen 'n noordwestelike en suidelike helling uitgevoer. Draadhokke is gebruik om beweiding in dié dele wat aan die proewe onderwerp is, te voorkom. Die monsters is in vier afsonderlike boomdigtheidsklasse geneem tussen digte bome; binne groot, oop gebiede; onder die boomsambreel aan die noordelike (sonnige) kant, en onder die boomsambreel aan die suidelike (skaduwee-) kant.
Nadat die diere die veld bewei het en verwyder is, is 40 monsters binne en 40 monsters buite die draadhokke geneem. Die samestelling van die veld is bepaal deur die droëmassa-rangtegniek: Elke monster word gesny, gedroog en dan geweeg. Elke grassoort se bydrae tot die totale biomassa onder die verskillende boom-digtheidsklasse kon op dié wyse verkry word. Laastens is bereken hoeveel weiding deur die diere in die afsonderlike kategorieë verwyder is.
Mnr. De Ridder sé daar is bevind dat die grasproduksie aan die suidelike kant van die boomsambreel noemenswaardig hoër was as aan die noordelike kant. Die gesamentlike grasproduksie aan die noordelike en suidelike kante onder die bome (1 848 kg droëmateriaal per hektaar) was merkbaar beter as die 1 795 kg/ha in die oop gebiede. "Dít bevestig die teorie dat grasproduksie nie deur die boomdigtheid beïnvloed word nie."
Volgens mnr. De Ridder was die gras in die oop dele van die veld (met geen bome binne 'n omtrek van 15 meter nie) minder smaaklik en het dit hoofsaaklik uit koperdraad (Elionurus muticus) en steekgras (Aristida congesta) bestaan.
In die beboste deel (minstens 3 bome binne 'n omtrek van 5 meter) het die stand van vingergras (Digitaria eriantha) en assegaaigras (Heteropogon contortus) die grootste deel van die veldsamestelling verteenwoordig.
Onder die boomsambreel aan die suide-like kant was vingergras (Digitaria eriantha) en rooigras (Themeda triandra) die oorheersende soorte en het hulle meer as die helfte van die totale grasproduksie uitgemaak.
Onder die boomsambreel, aan die noor-delike kant, het geen enkele grassoort die ander oorheers nie. "Die rede is waarskynlik dat hoewel die grond droër was dit steeds vrugbaar was."
Hy sé daar is bevind dat 28 % van die gras in die beboste gebied en 62 % onder die boomsambreel (noorde- en suidekant) gevreet is. Die vee het net sowat 10 % van die veld in die oop gebiede benut. "Dit blyk dus dat die diere meer gras om en tussen die bome vreet. Hulle het ook langer hier gebly omdat die gras wat daar groei, smaakliker is en die bome skaduwee bied."
Met dié proefneming is bewys dat boomdigtheid grasproduksie en die veldsamestelling bevoordeel. "Dit is duidelik dat die oorbenutting van die smaaklike dele en nie die aantal bome nie die belangrikste rede is wat boere tot dusver letterlik om die bos gelei het."
Mnr. De Ridder beveel aan dat wanneer boere hul veld vir produksie evalueer, dit gedoen word voordat die kampe bewei word.
Lesers met navrae kan mnr. De Ridder bel by tel. 043 683 1240.
23 Mei 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24