|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Fyn bestuursvernuf en 'n skerp oog is nodig as 'n boer met
drie kleinveestoeterye welslae wil behaal. ANDRIES GOUWS het in die Swartrante
in die suide van Namibië gaan kyk hoe dit gedoen word.
As 'n mens in die suide van Namibië, digby Helmeringhausen oor een van die swartrante ry, ontvou 'n pragtige vallei voor jou. Maar 'n mens moet jou nie deur die natuurskoon laat mislei nie, dis 'n harde wêreld dié.
Daar boer mnr. Dirk Louw op die plaas Conradie van 16 000 hektaar groot.
Dit was Karakoelwêreld totdat die pelspryse getuimel het. Toe het die Louws, soos talle ander boere, na Dorpers oorgeskakel, maar die kern van hul Karakoelstoetery behou.
Om aanvanklik net in hul eie rambehoeftes te voorsien, is die Dorperstoetery op die been gebring wat mettertyd gegroei het tot 'n bekende stoetery wat waarde tot die boerdery toevoeg.
Maar die Boerbokstoetery, wat mnr Louw begin het toe hy nog gewerk het, is eintlik sy groot liefde en daarmee behaal hy uitsonderlike welslae.
Op die afgelope Namibiese kampioenskapskou waaraan 16 vertoners deelgeneem het, het hy 11 van die 12 kampioenskappe gewen. Een van sy top junior ooie is egter op die skou dood en hy glo dat dit moontlik twaalf uit twaalf kon gewees het. Die enigste kampioenskap wat hy nie gewen het nie, was die reserwe junior kampioen-ooi. Die bok wat dit gewen het, was egter ook 'n lam van een van sy ramme.
Maar vir hom gaan dit nie net om skouwenners nie, maar aangepaste diere in 'n stelsel waarin bemarking by die vraag aangepas word.
Daarom paar hy elke twee maande sowat 60 van sy stoet-Boerbokooie sodat hy deur die jaar lammers het om te verkoop en aan skoue deel te neem. Só kan hy ook meer aandag aan die diere gee wanneer die lammers aankom.
Mnr. Louw sê hy het in 1983, toe hy nog gewerk het, met Boerbokke begin boer en in dieselfde jaar sy eerste stoetram, Mooiman, by mnr. Willem van Zyl van Boshof teen R5 000 gekoop. Hy het dié ram aanvanklik op kommersiële ooie gebruik en later vir 'n kunsmatige inseminasie.
Drie jaar later het hy die eerste keer met sy Boerbokke aan 'n skou deelgeneem. Toe hy die boerdery ná sy pa se dood in 1987 oorgeneem het, het hy meer aandag aan die bokke begin gee en het hy vinnig gevorder. Hy het deurentyd die beste ramme se saad in sy KI-program gebruik.
Nou het hy sowat 400 ooie in sy stoetery en is hy die laaste vyf tot ses jaar die voorste Boerbokteler in Namibië. Hy samel gereeld die meeste punte op skoue in en vertoon talle skoukampioene.
In 1996 op die Suid-Afrikaanse kampioenskapskou het hy die senior en reserwe-grootkampioenram vertoon en het hy ook die naasmeeste punte ingesamel.
Die twee bekendste ramme wat hy geteel het, is waarskynlik Kola en Fywie. Dié ramme se nageslag het talle skoukampioene opgelewer en hy glo sy ramme word in sowat 90 % van die Boerbokkuddes in Namibië gebruik.
Omdat hy elke twee maande sowat 60 ooie laat lam, is dit moontlik om spesifieke ooie met spesifieke beproefde ramme te paar sodat hy weet watter lammers hy kan verwag.
Die beproefde ramme kry 40 ooie op 'n slag en die jong ramme sowat 25 ooie elk. Op dié manier word die jong ramme beproef en kan hy bepaal of hulle in die stoetery gebruik of verkoop kan word.
Uitstekende ramme word optimaal benut. Gewoonlik kan hulle ná sowat drie seisoene vervang word aangesien hulle teen daardie tyd al beter nakomelinge geteel het wat hulle kan vervang.
Die ooie lam in klein kampies van sowat 5 ha waar hulle daagliks na omgesien word en hulle word net gekraal as daar probleme is. Die stoetery se lampersentasie is sowat 180 en die speenpersentasie 160.
As die lammers twee weke oud is, word die ooie na 'n groter kamp van sowat 50 ha geskuif waar hulle omtrent 'n maand bly voordat hulle veld toe gaan.
Hy probeer om elke jaar 20 % tot 25 % van die ooie te vervang. Die ooitjies word op ses maande gespeen en die eerste seleksie is op agt maande wanneer die prulle uitgeskot word. Op sowat 'n jaar word hulle finaal geselekteer.
Die uitskot word dan bemark en die stoet-ooitjies wat nie vir die stoetery gehou word nie, word aan boere verkoop.
Die rammetjies word met speentyd op (vier maande) die eerste keer geselekteer. Hulle word naby die opstal in klein kampies gehou waar hulle vir sowat twee maande ná speentyd 'n afrondingsvoer kry om hoofsaaklik die tweelinglammers oor die speenskok te help.
Daarna word hulle maandeliks geselekteer en uiteindelik word sowat 25 % van die ramlammers gehou en beproef. Mnr. Louw verkoop sowat 70 ramme per jaar en net dié wat uitstekend vaar en sy bokke verder kan verbeter, word vir die stoetery oorweeg.
àl die bokke word geselekteer vir funksionele doeltreffendheid sodat hulle selfs in die harde, ekstensiewe toestande wanneer dié wêreld droog word, kan produseer.
Die ooie moet mooi vroulike diere wees wat goed melk produseer en gereeld lam. Daarom word die ooie ook met speentyd beoordeel. Dié wat min melk het en 'n swak lam grootmaak, word met lam en al uitgeskot.
Ramme moet sterk, karaktervolle koppe, sterk bene en 'n goed ontwikkelde vel hê. Hulle moet manlik, robuust en lewenskragtig wees.
Omdat die bokke oor die skaal bemark word, speel die skaal in seleksie ook 'n belangrike rol. Diere wat nie goed groei nie, word uitgeskot.
Die uitskot groot ooie, prul-ooitjies en kapaters word lewend bemark. Spekulante is die grootste kopers. Omdat die mark baie wissel, moet 'n mens daar ook aanpasbaar wees, sê mnr. Louw.
Sommige jare vereis die mark hoofsaaklik diere van sowat 30 kg en ander jare kry swaarder diere van 40 kg tot 45 kg weer voorkeur.
Net so opgewonde as wat mnr. Louw oor die prestasie van sy eie Boerbokke is, só vuur en vlam is hy oor die toekoms van dié bedryf in Namibië nadat dié telers verlede jaar van die SA Boerboektelersgenootskap weggebreek het om hul eie ding te doen, veral op die internasionale stoet-, embrio-, en vleismark.
Die Boerboktelersgenootskap van Namibië het sowat 70 lede.
Volgens die navrae wat die genootskap oor kursusse kry, is dit duidelik dat daar 'n groot belangstelling in dié bedryf in die land is en dat baie meer boere betrokke wil raak.
Wit Karakoele laat die geld inrol
Toe die
pelsmark in 1989/90 getuimel het, is die kommersiële Karakoel-kudde van 2 000
ooie op mnr. Dirk Louw se plaas met kommersiële Dorperskape vervang en van die
Karakoelstoetery is net die beste diere behou. En toe die pelspryse in 1998/99
weer begin herleef het, was daar 300 stoetooie waarvan sowat die helfte wit is
en waaraan hy sedertdien weer ernstig aandag gee.
Wit pelse behaal nou
die beste pryse, wat wit stoetramme gesog maak. Op die afgelope pelsveiling
(Junie) in Kopenhagen was die netto prys wat wit pelse behaal het R235,14
(hoogste R343,50) en wit Karakoelwol het in Mei R44/kg gekos (hoogste prys van
R61/kg).
In 2000 het hy weer ramme op die Elite Karakoelveiling begin aanbied
en verlede jaar het hy 'n gemiddelde prys van R8 000 vir sy wit ramme (die
hoogste prys was R10 800) gekry, wat hom vanjaar eerste op die veilingsrol
plaas. Sover mnr. Louw weet, sal dit die eerste keer in die geskiedenis wees wat
die Elite Karakoelveiling met wit ramme sal begin.
Verlede jaar het hy ook
die eerste keer wit Karakoel-ooitjies op dié veiling aangebied. Die hoogste prys
was R4 800 en die gemiddelde prys R2 200.
Intussen het die stoetery tot 700
ooie gegroei: 200 is wit, 200 word opgeteel na wit en 300 is swart.
In die
dekseisoen word 40 ooie afsonderlik by 'n ram gesit en noukeurig aantekeninge
gemaak wat op die rekenaar verwerk word.
Só is dit baie maklik om swak ramme
te identifiseer en uit te haal. As 'n lam gebore word, word die pels nog daardie
dag beoordeel. In die Karakoelbedryf gaan dit oor die gehalte van die lam se
pels pas nadat dit gebore is. Dit is dus die beste plek om 'n ram se teelvermoë
te bepaal.
Die lammers wat goed genoeg is om in die stoetery opgeneem te
word, word afgeneem en die pels beskryf. Dié wat nie slaag nie, word geslag en
die pels bemark.
Die Karakoele se lampersentasie is gemiddeld 150 en die
strewe is drie lammers in twee jaar van elke ooi. Van 60 % tot 65 % van die
ooitjies word in die stoetery opgeneem en ongeveer 20 % van die ramlammers word
gehou, waarvan net die beste in die stoetery opgeneem word en die res as
stoetramme verkoop word.
Altesame 1 500 kommersiële Dorperooie het die
Karakoelkudde vervang. Gou het daar ook 'n Dorperstoetery tot stand gekom,
aanvanklik net om in eie rambehoeftes te voorsien.
Stelselmatig het dit egter
gegroei totdat daar nou sowat 500 stoetooie is. Mnr. Louw sê die afgelope drie
jaar het hy veral in die vraag na veldramme begin voorsien.
Hy neem aan 'n
veldramprojek deel waar hy saam met verskeie ander telers ramme na die
Rohrbeck-proefplaas by Stampriet stuur waar die diere aan `n groeitoets
onderwerp en ook streng gekeur word.
Sowat 40 % tot 50 % van die ramme wat
ingeneem word, voldoen aan die vereistes om op 'n veldramveiling aangebied en
teen gemiddeld R2 500 verkoop te word.
Mnr. Louw sê hy benut veral die
ranteveld op sy plaas met die kommersiële Dorpers. Die skape kry deur die jaar
'n sout- en fosfaatlek en in die droë wintermaande en met lamtyd ook 'n
energielek.
'n Ram word vir elke 25 ooie gebruik. Die lampersentasie is sowat
140, waarvan 90 % gespeen word. Die meeste lamverliese is weens
ongediertes.
Die lammers word op vier tot vyf maande gespeen en van die veld
af bemark teen 'n lewende gewig van gemiddeld 38 kg. In die droë tye kan die
lammers tot ses maande oud word voordat hulle dié gewig bereik.
Sowat die
helfte van die lammeroes word aan plaaslike spekulante verkoop en die res word
na die slagplaas gestuur.
13 September 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24