Tuis
Gevorderde soek
  • Tuis
  • Nuus
  • Bedrywe
    • Diere
    • Akkerbou
    • Tuinbou
    • Meganisasie
    • Bedryfsake
    • Tegnologie
    • Wiele
  • Die weer
    • Vandag se weer
    • Weervoorspelling
    • Weerberigte
    • Gesels saam oor die weer
  • Markte
    • Safex-pryse
    • Aandeelpryse
    • Agri-weekliks
    • Veilingspryse
    • Finansies
    • Varsprodukte
  • Vra die kundiges
    • Vra vir Faffa
    • Dierevoeding
    • Finansies
    • Chemikalieë
    • Regskenner
  • Stoeterye
    • Beeste
    • Skape
  • Jou mening
    • Forums
    • Gespreksforum
    • Boereblogs
    • Peiling
  • Multimedia
    • Foto-albums
    • Video's
    • E-pos foto’s aan ons
  • Potpourri
    • Kos en resepte
    • Boer soek 'n vrou
    • Pretkalender
    • Kalender
    • Jag en gewere
    • Jongste Landbouweekblad
    • Bloktoetse
    • Kompetisies
    • Boeke
  • Geklassifiseerde advertensies
Jy is hier: Bedrywe / Diere / Geheime-van-rooikatvang

Nuus

Gemengde verwagtinge oor mielie-oes

Terwyl Graan SA reken dat die mielie-oes dalk groter kan wees as wat verwag is, sê sommige boere hul oeste lyk slegter as wat hulle verwag het.

  • Hoenders in haglike toestande ontstel
  • Sterk groei in suiweluitvoer
  • Te min mentors kniehalter kleinboere
  • Boer dodelik siek aan hondsdolheid
  • Nampo-gangers twiet vir die vale
  • Boerepatente bobaas by Nampo
  • Tina wil landboutrusts nie los
meer...

Lekkerlees

  • Nampo 2012 - die landbou in al sy glorie
  • Bewerkingstoer na Argentinië
  • Titelaktes van familieplaas
  • Eis teen Transnet nadat plaas afgebrand het?
  • Wie smous met BK’s?
  • Verlore transport-akte

My Weer

  • Voorspelling
  • Vandag
  • My ligging

Kaapstad

  • Dinsdag
  • Meestal bewolk
  • Hoog:22 C
  • Laag:10 C
  • Woensdag
  • Gedeeltelik bewolk
  • Hoog:18 C
  • Laag:10 C
  • Donderdag
  • Gedeeltelik bewolk
  • Hoog:19 C
  • Laag:10 C
Sonsopkoms: 7:36
Sonsondergang: 17:48

Kaapstad

Bygewerk:22 May 06:00 IDT
Temp:
Druk:
Doupunt:
Humiditeit:70%
Wind:

Kaapstad

Peiling

Is mentorskap die regte oplossing vir die suksesvolle bemagtiging van nuwe boere?:

Geheime van rooikatvang

 
GARY LAUBSCHER

Die beste rooikathok wat geld kan koop, sal nie werk as dit nie reg of op die regte plek gestel is nie. Die vanger se ingesteldheid, kennis van hul gewoontes, die hok self en die lokaas wat gebruik word, sal alles 'n invloed hê op die welslae wat 'n mens met die stel van rooikathokke behaal.

Om roofdiere met 'n hok te vang, is nie maklik nie. Dit is 'n wetenskap.

As rooikatte 'n probleem is en bestry moet word, moet die vanger eksperimenteer en leer waar die diere se loopplekke is. 'n Rooikat sal byvoorbeeld nie in die nat veld stap nie. Hy stap eerder op die wal van die dam, om 'n donga, op die kant van die pad of op droë land. Hy sal ook nie in 'n pas gestroopte koringland loop nie, want die stoppels maak sy voete seer.

Daarom gaan ek, voordat ek 'n rooikathok stel, in 'n probleemdier-"mode", want as jy die probleemdier wil vang, moet jy soos die dier dink. Jy kan nie 'n hok op enige plek neersit en verwag om iets te vang nie. Buk af, buig jou knieë, kom tot op die kat se hoogte, en probeer sien wat hy sien.

Jy moet kan verstaan waar hy sal loop en hoekom. 'n Roofdier verkies dikwels om op 'n pad te loop, maar sal nie altyd padlangs loop nie. Hy sal hoeke sny en in reguit lyne stap. Moet dus nie 'n hok by die draai van 'n pad plaas nie.

'n Manier waarmee ek al heelwat welslae behaal het, is om 'n paar vere aanmekaar te bind en ongeveer 500 mm van die grond af in 'n boom te sit. So 4 m verder sit ek nog 'n paar vere en tussen die twee bondels vere die rooikathok. Die vere word só geplaas dat die kat dit maklik van die pad af kan sien. Dit dien as lokmiddel om die kat by die hok te kry.

As 'n skaap deur 'n rooikat gevang is, is die kortste pad na die prooi waarskynlik die roete wat die rooikat gevolg het. As twee paaie kruis, is dit die beste om die hok daar te plaas. Dit verdubbel die vangkans.

'n Hok moet nie in die middel van 'n oop stuk land geplaas word nie. Jy sal niks daar vang nie, veral nie as die land nat is nie. As daar 'n plek met bome is, is dit 'n moontlike plek waar 'n wyfiekat en haar kleintjies skuil. Stel 'n paar hokke daar.

Indien jy 'n skaap kry wat deur 'n rooikat gevang is en die skaap is met gras bedek, is die kans 99 % dat die kat na sy prooi sal terugkeer. Dit is 'n goeie plek om 'n hok te stel.

Die hok moet só gemaak word dat dit altyd honderd persent sal werk — selfs al roes dit 'n bietjie. Die trapplaat moet byvoorbeeld baie fyn gestel kan word.

Die grootte van die hok is belangrik, want 'n rooikat is baie versigtig en op sy hoede. Hy sal nie in 'n hok instap as dit te klein is nie. 'n Rooikathok moet verkieslik aan elke kant 'n valhek hê, want 'n rooikat hou daarvan om deur 'n hok te kan kyk. As 'n hok aan albei kante valhekke het, moet die trapplaat wyd wees en in die middel van die hok geplaas word. Albei hekke moet aan die trapplaat gekoppel wees.

'n Eenvoudige konsep is altyd doeltreffender. 'n Video is beskikbaar wat presies wys hoe die vanghokke gemaak word en hoe die verskillende onderdele werk.

'n Rooikat verkies om sy kos self te vang, daarom moet die hok en lokmiddels baie aanloklik wees. Daar is verskeie lokmiddels wat baie goed werk, maar 'n rooikat se urine is die beste.

Die rooikat se blaas (dit is altyd vol) moet saam met sy derms verwyder en alles in 'n bottel gesit word. Meng dié goed vir die beste lokmiddel in die wêreld.

Iets soos bokkems wat twee maande lank in 'n toe bottel met water gelos word of vrot dassievleis met heuning werk ook goed. Die vleis moet met gliserien besmeer word om dit teen maaiers te beskerm. Skaapwol is ook 'n goeie lokmiddel.

Ek maak my eie "rooikat-urine" en kry goeie resultate, maar het ook uitgevind dat 'n houer met Bostik-gom baie soos kat-urine ruik. Die reuk van 'n nuwe houer is sterk, maar dit raak ná 'n paar dae flou en moet vervang word. Dit kan ook aan 'n lappie gesmeer en in die hok geplaas word.

Seagro (plantvoeding) werk ook. 'n Lappie word daarmee benat en in die hok geplaas.

Al het jy nie skape verloor nie, is dit goed om die hokke te stel. Jy vang dalk 'n rooikat wat na 'n buurman se vee op pad is. Dit is 'n vermorsing as die hok in die skuur gelaat word.

'n Goeie hok wat reg gestel is, werk altyd. As 'n boer egter nie met hokke regkom nie, moet 'n professionele jagter se hulp ingeroep word om die rooikatte te roep en te skiet. 'n Roeper met baie fyn klanke vir rooikatte is beskikbaar. Dit werk goed.

Navrae: Die skrywer sal graag meer inligting oor hokke, handroepers, lokaas, ensovoorts verskaf. Sy e-pos-adres is sellis@telkomsa.net, en sy foonnommer 082 485 3885.

Vyand nommer een

Jakkalse en rooikatte is veeboere se vyand nommer een. Na raming vang jakkalse meer as 250 000 skape per jaar. Boere bestee elke jaar duisende rande aan die bestryding van hierdie probleemdiere.

Ongelukkig word onskuldige diere dikwels ook doodgemaak. Om te verseker dat net probleemdiere bestry word, moet boere hokke en roepers inspan.

Indien 'n onskuldige dier in 'n hok gevang word, kan hy vrygelaat word, terwyl jy met 'n roeper die keuse het om net die werklike probleemdier te skiet. Slagysters en gif bied nie hierdie onderskeid nie. Geen gif of slagyster is teikenspesifiek nie.

Om rooikatte suksesvol met hokke te vang, of jakkalse te roep en te skiet, is 'n fyn kuns. 'n Mens moet eksperimenteer, geesdriftig wees, vasberade bly en jou verbeelding gebruik. "Jy moet begin dink soos 'n roofdier om 'n roofdier te vang," sê mnr. Gary Laubscher, 'n professionele probleemdierjagter.

Hierdie artikel handel oor die vang van rooikatte in hokke. In die volgende artikel sal hy aandag gee aan die roep van probleemdiere met teikenspesifieke roepers wat gebruik kan word om rooikatte en jakkalse te bestry.

Dié wenke sal help

Die volgende wenke kan gebruik word om goeie resultate met rooikathokke te verseker:

  • Daar moet altyd sand op die vloer van die hok gegooi word. 'n Rooikat sal nie instap as hy op metaal moet trap nie.
  • Die hokke moet groot genoeg wees. Rooikatte sal nie in beknopte plekke ingaan nie. 'n Goeie grootte is 1,6 m x 700 mm x 700 mm.
  • Lewende aas, soos 'n hoender, kan in 'n kleiner hok bo-op die eintlike hok geplaas word.
  • Plaas altyd iets wat blink (soos 'n stukkie blink papier of 'n CD) in die hok, want as iets in die son blink, sal 'n rooikat kom kyk. Hang dit bo die trapplaat, sowat 30 mm onder die hok se dak. As dit te laag hang, sal dit in die dier se pad wees en sal hy nie ingaan nie.
  • Visolie kan saam met 'n stukkie skaapvleis gebruik word, maar dan moet 'n stukkie wol van die vleis wys. Dit is belangrik dat die wol gesien word. Los ook 'n lappie met visolie in die hok.
  • 'n Klein, sagte speelgoedhasie kan in die hok gesit word. Dit werk goed, maar dan moet die speelding baie realisties lyk.
  • Wanneer jy 'n kat gevang het, stel nog 'n hok langs daardie een en hou dit 'n dag lank daar. Die gevange dier kan 'n ander roep.
  • Kerf 'n katspoor-stempel uit 'n stukkie hout en maak katspore in die sand — veral binne die hok in die sagte sand. Dit skep die indruk dat 'n ander kat binne was.
  • Twee of drie stukkies mis van ander diere kan altyd in die hok geplaas word. Die rooikat se aandag sal dan op die spore en die mis gevestig wees en nie so erg op die hok self nie.
  • Moet nooit die bloed van 'n rooikat wat jy doodgemaak het in die hok los nie. Baie mense het 'n stok met 'n strik wat hulle oor die kat se kop sit en styf trek. Die kat het klein longe en sal gou bewusteloos raak. Hulle trek hom dan uit die hok uit en skiet hom in die kop.
  • Maak seker die kat is dood voordat jy hom optel. Steek jou vinger in sy oog. As sy oog knip, is hy nie dood nie. Jy wil nie hê 'n rooikat moet wakker word terwyl jy hom dra nie.
  • As genoeg tyd beskikbaar is, kan meer hokke (agt tot tien) gestel word. Terwyl die son sak, kan iemand 'n halfuur lank 'n roeper blaas op die plek waar die hokke gestel is. Die roeper klink soos 'n haas wat doodgaan. Rooikatte sal die roepgeluide hoor en stadig naderkom. Hoe meer hokke gestel is, hoe beter is jou kans om katte te vang. Ek gebruik hierdie tegniek baie en het in die omgewing van Sutherland al 'n rooijakkals só in 'n hok gevang.
  • Soos kinders wat in die moeilikheid beland omdat hulle nuuskierig en sorgeloos is, maak jong roofdiere ook foute. Moet dus nie die hok uitwas om van die urinereuk ontslae te raak nie. Die reuk sal ander rooikatte laat dink hul maats is naby en sal ook ingaan.
  • Begrawe 'n botteltjie rooikaturine (wat meestal nagemaak is) op die plek waar die hok gestel word. Net die botteltjie se nek moet uitsteek. Om te keer dat die diere die botteltjie bykom, moet die hok só geplaas word dat die trapplaat oor die botteltjie is. Ek sit meestal riete in die bottel, want dan hou die reuk langer. Mettertyd kan van die riete uitgehaal en in die hok geplaas word.
  • Hoendereiers kan ook as 'n lokmiddel gebruik word. Sowat tien eiers word oopgebreek, in 'n bottel geplaas en 'n paar dae lank in die son gelaat. Maak 'n paar gate wat natuurlik lyk in die grond en sit die eierbrousel in die gate. Gaan kyk 'n dag later wat daar geloop het. 'n Gat is die beste manier om 'n roofdier se aandag te trek. Jy kan ook 'n veer of twee in die gat plaas, dan lyk dit meer na 'n ander roofdier se bêreplek. Hierdie metode sal wys watter soorte roofdiere in die omgewing voorkom, want jy sal die spore in die sand kan sien.
  • As jy kat-urine as lokmiddel gebruik, moet jy dit nooit buite op die staalhek of metaaldele smeer nie. Die kat kan daarteen vryf om homself te stimuleer en die hekke kan toeval met die rooikat buite die hok.
  • As daar 'n plek is waar katmis van verskillende ouderdomme (vars en droë mis) lê, is dit 'n merkplek ("scent spot"), wat 'n uitstekende plek is om hokke te stel. Onthou, rooikatte krap nie hul mis toe soos ander katte nie en hul mis het wol en stukkies been in.

    4 Maart 2005

  • 5
     
     
    • 3533 keer gelees

    Geborgde skakels


    Plaassilo's - 'n Blink Gedagte

    Kwaliteit Saad

    Die toekoms is in jou land

    In lyn met die boer

    MSD Animal Health

    Our brand new website

    Daaglikse nuusbrief

    Weeklikse nuusbrief

    Teken In

    • Registreer as gebruiker
    • Wagwoord vergeet?

    E-pos forum

    • Soek Atchar in Malelane/Komatipoort area.
    • Hoe meet jy as melkboer jou melk, per kg of liter
    • Boom Lusern en siektes
    • Nekklamp vir beeste
    • verpakking soos bokse en sakke
    meer...

    Gewildste stories

    Vandag

    • Boerepatente by Nampo
    • Nampo 2012 - die landbou in al sy glorie

    Immergroen stories

    • RSS-voere
    • E-pos foto's aan ons

    Pas gelees

    • Sommige lande sal mielies los
    • Brandstofkrisis aan die kom
    • Wie is ons?
    • Kontak ons
    • Gebruiksvoorwaardes
    • SMS-diens
    • RSS-voere
    • Teken in op LBW
    • LBW-argiewe
    • Vennote

    Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24

    Web Development by FormFunction