Menu
 

JOHAN COETSEE (jcoetsee@landbou.com)
28 Oktober 2005

2086 keer gelees | 0 kommentaar

In 'n nuwe stelsel beweeg sôe los in 'n sentrale soghuis rond en elkeen kan vreet wanneer sy wil.


'n Unieke rekenaarbeheerde voedingstelsel - die eerste in Suid-Afrika en waarskynlik in die Suidelike Halfrond is in die Suid-Kaap in gebruik geneem. Met dié stelsel beweeg die sôe los in 'n sentrale soghuis rond en elkeen kan vreet wanneer sy wil.

'n Varkboerdery roep gewoonlik een van twee prentjies in die meeste mense se geheue op: 'n Moderne, geslote varkeenheid waarin die diere in 'n hipermoderne kliniese kratstelsel gevoer word tot hulle slaggewig bereik; of 'n klompie loslopende varke in 'n buitekampie wat meestal 'n modderige, onwelriekende en vuilerige gedoente is.

In die omgewing van Mosselbaai is 'n varkboerdery wat nie in enige van bogenoemde kategorië pas nie.

Die stelsel is hipermodern en van voeding tot dekking word tot in die fynste besonderhede deur 'n rekenaarprogram beheer wat inligting van elke sog ontvang deur middel van 'n radiosendertjie wat in die dier se oor ingeplant is.

Die enkelkratstelsel is laat vaar en die sôe loop los rond met algehele bewegingsvryheid. Hulle kan selfs gaan vreet wanneer hulle wil asook soveel hulle wil per keer uit 'n rantsoen wat vir elkeen bepaal is, byvoorbeeld 2,5 kg per dag.

Mnr. Freddie Tolman van Outeniquabosch buite Mosselbaai het onlangs sy eerste "oop" soghuiseenheid van 300 sôe in gebruik gestel met 'n unieke transpondervoerstasie met outomatiese swaaideurhekke wat net op 'n sein van die sendertjie aan die dier se oor reageer. Selfs sôe wat nie ná kunsmatige inseminasie of natuurlike dekking dragtig geraak het nie, word ook deur die stelsel uitgekeer van die res sodat hulle weer gedek kan word.

Tolman het 'n abattoir op sy plaas, maar het dikwels gesukkel om goeie slagvarke in die hande te kry. In 1999 het hy selfs 'n varkboerdery van 20 sôe van mnr. Paul Zietsman van Gourits gekoop in 'n poging om in sy vraag na goeie slagdiere te help voorsien.

Sy varkboerdery is op die gewone wyse bedryf volgens die bekende stelsel waarin elke sog in 'n enkelhok in 'n groter soghuis gehou is en een keer 'n dag gevoer is.

Hy het besef dat hy 'n radikale verandering in sy varkboerdery nodig gehad het vir groter doeltreffendheid en winsgewendheid en het na ander moontlikhede begin kyk. Só het hy en mnr. Joos Solms, besturende direkteur van Plantkor in Winterton, KwaZulu-Natal, bymekaar uitgekom en het hy met die Skiold Echberg-varkvoerstelsel kennis gemaak. Dit is 'n Deense stelsel en word reeds op redelike skaal in Europa en Noord-Amerika gebruik, maar is nog onbekend in die Suidelike Halfrond. Die natvoerdeel van die stelsel het hom dadelik opgeval.

Solms het hom verlede jaar genooi om die stelsel in Denemarke te gaan bekyk. Op die besoek het hy dadelik besef dat dit in sy boerdery sal werk.

Terug in Suid-Afrika het Tolman dadelik begin om sy varkhuis aan te pas.

Solms sê die stelsel bestaan uit 'n voerstasie met 'n vlekvrystaaltrog, 'n spesiale toegangshek waardeur die sôe toegang tot die voerstasie kry, 'n stelsel waarmee die sôe van mekaar geskei kan word, byvoorbeeld dragtiges van nie-dragtiges, en 'n "beer-verklikker" wat aandui of 'n sog dragtig is of nie.

Alles word per rekenaar beheer met behulp van inligting wat 'n radiosendertjie in elke sog se oor verskaf.

Met die intrapslag lyk die sogkamer anders as dié waaraan die meeste boere gewoond is, want die sôe loop los rond en lê in groepe teen die enkele binnemure en slaap. Die vloer bestaan uit spesiale dwarslêers wat mis en urine wegvoer, wat die skoonmaak daarvan baie vergemaklik.

Die antwoordsenderkonsep is die enigste manier waarop loslopende sôe se innames asook ander aksies behoorlik beheer kan word. Daarsonder sou van hulle as't ware kan verdwyn in groepe van 300 of meer, sê Solms. Sôe wat op hitte is, sou baie moeilik van ander uitgeken kon word as dit nie vir die sendertjies was nie.

Elkeen van die sôe loop los, en elkeen kan vreet wanneer en hoeveel keer sy wil, totdat sy haar 12 porsies rantsoen per dag ingekry het. As sy haar rantsoen vir die dag gevreet het, sal die rekenaar haar geen verdere rantsoen binne daardie tydsiklus gee nie.

Elke sog kry 'n sekere hoeveelheid kos, nat of droog, per siklus van 12 uur. Die voer word vooraf gemeng volgens 'n resep wat deur die rekenaar beheer word en bestaan uit vyf dele wei en een deel voer. Die wei kan ook vervang word met water. Die rekenaar beheer die vloei van die verskillende bestanddele uit die silo's en meng dit in die vooraf bepaalde verhouding.

Elke sog het 'n antwoordsender wat met 'n nommer aan die rekenaar gekoppel is aan die oor, en die antwoordsender of vreetstasie reageer op die nommer deur aan elke sog haar voorafbepaalde porsie rantsoen te gee wanneer sy binne die stasie is. Gedekte, maar droë sôe kry byvoorbeeld 24 megajoules per eetsiklus van 12 uur, maar vanaf 21 dae en voordat hulle na die kraamhokke gaan, word die rantsoen tot 30 megajoules per siklus deur die rekenaar verhoog (12 megajoules is gelyk aan 1 kg rantsoen; 240 g rantsoen is gelyk aan 12 megajoules).

Die voerstasie laat net 'n porsie van 80 g op 'n slag uit. Die sog kan haar 80 g rantsoen vreet, uitgaan en later terugkeer om nog 80 g te kry, of sy kan net daar in die stasie bly en die rekenaar sal haar volgende rantsoen van 80 g uitlaat. Die rekenaar hou "boek" van hoeveel sy per keer vreet en hoeveel van haar volle dag-rantsoen opgevreet is.

As 'n sog egter haar volle rantsoen met een besoek aan die voerstasie opgevreet het, sal die rekenaarprogram verhoed dat sy nog kos kry. Al sou sy dus die stasie nog een of meer kere in die voersiklus besoek, sal sy nie meer kos kry nie. Dit is een van die groot pluspunte van die stelsel - geen kos word gemors of gaan verlore nie, meen Tolman.

Wanneer 'n sog klaar gevreet het, gaan die ingaan-hekkie agter haar oop, die volgende sog stoot haar by 'n hekkie voor haar uit en haar rantsoen word dan ooreenkomstig die sein vanaf die rekenaar verskaf in hoeveelhede van 80 g elk.

Buiten dat dit alle vermorsing van kos verhoed, is die hele stelsel daarop gemik om die varke deurentyd rustig te hou.

Die voeding kan dus deurentyd aangepas word na gelang van die situasie van elke sog en die boerdery in sy geheel. Verskillende rantsoene word outomaties aangepas, byvoorbeeld van 'n kruiprantsoen na 'n groeirantsoen.

Net F1-Landras-Groot Wit-kruissoggies word gebruik, sê Tolman. Vir dekdoeleindes word Durocbere gebruik. Alle varke wat op Outeniquabosch gebore word, gaan na die plaaslike slagmark. Alle teelmateriaal word gekoop, meestal van Kanhym. Die varke word op gemiddeld 150 dae geslag wanneer die gemiddelde karkasgewig sowat 65 kg is, sê Tolman.

Solms se maatskappy bemark hierdie stelsel plaaslik, en Tolman is die eerste boer in Suid-Afrika en waarskynlik die Suidelike Halfrond wat sy boerdery daarvolgens aangepas het. Hy sê baie beter pryse word in die Noordelike Halfrond gegenereer met varke wat volgens die vrylopende konsep geteel word omdat hul vleis in die algemeen beter gegradeer word. As dié konsep ook plaaslik meer ingespan word, sal dit Suid-Afrikaanse varkboere ook meer mededingend in die mark maak, meen Solms.

Stelsel verseker goeie besetting
Natuurlike dekking en kunsmatige inseminasie word in die moderne varkboerdery van mnr. Freddie Tolman buite Mosselbaai toegepas. Net ná dektyd of kunsmatige inseminasie gaan die sôe na die groot groep in die sogkamer.

Die sôe word nie gesteur nie, en gevolglik hoef hulle nie ná dektyd vir 21 dae apart gehou te word soos in die kratstelsel nie. Die groep moet verkieslik uit meer as 60 sôe bestaan. Die soghuis kan tot 2 500 sôe huisves, sê Tolman.

Wanneer 'n sog die saal binnegaan, word ál haar gegewens in die rekenaar gepons vanaf dag -114. Dit beteken dat die varkies dan oor sowat 114 dae gebore sal word. Op dag -7 word sy outomaties by die voerstasie uitgekeer deur 'n hekkie wat nie na die sogsaal oopgaan nie, maar haar na 'n uitkeerkamer sal lei. Hulle word daar gehou en die daaropvolgende Donderdag na die jongsaal oorgeskuif.

Elke Donderdag wag daar dus 'n groep sôe in dié vertrek op die plaasbestuurder - klaar deur die rekenaar geselekteer.

Dit gebeur noodwendig dat alle sôe nie vat ná 'n dekking of KI nie, en om sulke diere wat dus nie dragtig is nie, gou genoeg van die ander sôe te onderskei, word 'n beer strategies in 'n spesiale hok binne die droësogsaal aangehou. 'n Sog ovuleer ná 18 dae tot 21 dae as sy nie dragtig is nie, en dan sal sy daardie beer se "geselskap" gaan opsoek.

'n Hitte-indeksstelsel word gebruik. Hoe langer sy by 'n klein opening in die beerhok vertoef, hoe hoër is haar hitte-indeks. As haar hitte-indeks tussen 25 en 100 eenhede is, word sy outomaties met 'n kleur gemerk waar sy voor die opening vertoef. Die gemerkte sôe word ook by die voerstasie deur die rekenaar waargeneem en uitgekeer sodat hulle weer gedek of kunsmatig geïnsemineer kan word.

Tolman sê die manier van hittebepaling is heelwat akkurater as wat met skandeerders ondervind word.

Deur die stelsel word 'n hoë besettingsyfer behaal, wat natuurlik meer geld in sy sak beteken. Om seker te maak dat sôe dragtig is, word hulle ook op dae -36 en -76 te skandeer.

Wanneer 'n vark siek is, word die gegewens in die rekenaar gepons en sy word outomaties gemerk vir behandeling.

Tolman sê hy het in Denemarke gesien hoe boere kunsmatige inseminasie doeltreffender inspan. Saad van twee bere word getap en met mekaar gemeng, waarna dit in 20 eenhede verdeel en dadelik in die sôe oorgeplaas word. Hierdie proses duur gewoonlik minder as 'n uur.

In dié stadium word sowat 80 % van sy sôe kunsmatig geïnsemineer, maar dit sal mettertyd tot 100 % opgestoot word.

28 Oktober 2005

Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 08/04/14 15/04/14 %
Beesvleis A2/A3 3415c 3422c down 0.2
Speenkalf (lewend) 1723c 1719c down -0.2
Skaapvleis A2/A3 4638c 4636c down 0
Varkvleis (gem. prys) 2136c 2119c down -0.8
Braaikuikens 1712c 1721c down 0.5

Aandele

  • Namibiese Elite-koei: Bonsmara

    Funksioneel doeltreffende diere wat oral in alle toestande kan produseer, is die doelwit van mnr. Edward Hansen van Okahandja.

  • Sussex se Elite-koeie

    Met sý Sussex-beeste moet kommersiële boere op die veld wins kan maak, sê mnr. Chris Nel van Petrus Steyn.

  • Beefmasters se Elite-koei

    Mnr. Piet Human van Steynsrus se Beefmasters is die resultaat van die familie wat al 150 met beeste in die Vrystaat boer.

  • Drakensbergers se Elite-koei

    Jou oë kan vir jou jok, maar nie syfers nie, sê mnr. Edwin Schroeder van Dundee, eienaar van die Elite-koei in die Drakensberger-ras.