|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Deur turksvyblaaie pleks van duur winterlekke aan sy beeste te gee, bespaar 'n beesboer heelwat geld. Met dieselfde resep, wat hy as kind by 'n Kalahariboer geleer het, behaal hy ook sukses in droogtes.
Turksvyblaaie as byvoeding het 'n lakserende werking. Dit laat beeste in die winter meer gras vreet. Terselfdertyd kry die diere gratis natuurlike voedingstowwe.
Mnr. Hasie Haasbroek van die plaas Friesland, Vryburg, het sowat twee seisoene gelede begin om turksvyblaaie fyn te kap en aan sy Bonsmara-stoetdiere te voer. Dit is 'n praktyk wat hy as kind by 'n Kalahariboer gesien het. Dié boer se beeste was elke jaar ná die winter in dieselfde kondisie as diere wat duur winterlekke gekry het.
Binne drie dae nadat hy die gekapte turksvye die eerste keer vir sy diere gevoer het, het hulle spontaan meer begin wei. Dit was 'n aanduiding dat die turksvye die diere se voer-deurvloei verbeter deur die spysvertering vinniger te maak. "Hulle kon dus meer gras inneem. Die mis lyk soos somermis."
Sedertdien word geen winterlekke meer gegee nie. Die enigste byvoeding wat die diere kry, is dieselfde fosfaatlek wat hulle gewoonlik in die somer kry.
Omdat gras se voedingswaarde in die winter laag is, help die turksvyblaaie se natuurlike voedingstowwe, hoewel dit min is, die diere ook om hul kondisie deur die winter te behou.
Volgens 'n ontleding wat in 1968 deur die Departement van Landbou gedoen is, bestaan 'n turksvyblad uit sowat 90 % vog en 10 % droëmateriaal. Die voedingstowwe is 4 % ruproteïen, 1,4 % kalsium, 0,2 % fosfor, 0,1 % natrium en 65 % totaal verteerbare vastestowwe.
Haasbroek gee genoeg gekapte turksvyblaaie sodat elke dier sowat 2 kg saam met die gewone voer inkry. Die turksvye word net gegee as die natuurlike weiding weens droogte of in die winter min raak. In sy gebied kom min ryp voor en die gras bly tot diep in die winter groen. In 2003 is 'n ernstige droogte ervaar en het hy tot later in die jaar as gewoonlik met dié praktyk volgehou.
Enige turksvykultivar is geskik vir gebruik, is sy ervaring. Tog verkies hy dié kultivars wat teen cochenille bestand is. Plante word bespuit wanneer cochenille voorkom. Sedert hy twee jaar gelede met die praktyk begin het, is altesaam 8 ha turksvye van verskillende kultivars geplant.
Die turksvye word in die najaar - van Maart tot Mei - geplant wanneer genoeg vog beskikbaar is. Hy het gevind die plante vat die maklikste wanneer die blaaie op die sy geplant word. 'n Voor word met 'n ploeg gemaak en die blaaie in die omgekeerde sooi geplant en vasgetrap.
'n Blad wat afgesny is om geplant te word, word so twee weke kans gegee om te verlep en vir die snywond om af te droog. Dit verhinder dat die blad vrot wanneer dit geplant word.
Om besmetting met cochenille te voorkom, word die blaaie in 'n kunsmissak geplaas en met die cochenille-gifstof bespuit.
Cactoblastis kom ook sporadies voor. Wanneer 'n besmette plant bespeur word, word die hele plant tot by die wurmpie afgesny. Dit loop daarna weer uit.
Die blaaie word só gespasieer dat maklik met 'n wa tussen die rye gery kan word. Dit vergemaklik die snyproses. Die rye is 4 meter uit mekaar en die spasiëring van die blaaie in die ry sowat 3 meter. Dit is 'n baie arbeidsintensiewe proses en werkers wat die blaaie afsny, dra leer-sweishandskoene teen die dorings.
Die turksvye word op 'n hoogte van sowat 1,5 meter afgesny. Haasbroek het bevind dit is die beste hoogte vir goeie hergroei die blaaie groei binne 'n seisoen weer terug. As dit te kort gesny word - op sowat 1 m - duur dit langer om weer dieselfde hoeveelheid blaaie te ontwikkel.
Wanneer die plant korrek gesnoei word, ontwikkel heelwat meer nuwe blaaie waar die vorige blad afgesny is.
Die turksvye is ekonomiese voer vir beeste. In die winter van 2003 is 600 beeste daarmee gevoer en die 8 ha is nie naasteby opgebruik nie.
Die beeste kry drie maal per week - Maandag, Woensdag en Vrydag - die gekapte turksvyblaaie. As aanvulling werk dit goed, maar dit is nie voldoende om beeste as enigste voeding aan die gang te hou nie.
Dis 'n uitstekende hulpmiddel om die beeste meer droëmateriaal te laat vreet. Haasbroek se diere behou hul kondisie in winters en droogte met dié ou, beproefde gebruik.
8 Julie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24