Hoe stel boer drakrag vas?

 

'n Vraag oor drakrag en hoe 'n mens dit vasstel, het vir nuttige skrywes en wenke op die gespreksforum gesorg.

Andre skryf:

Net 'n vinnige vraag aangaande drakrag - en aanvaar asb. dat ek 'n leek is.

Hierdie naweek praat ek en skoonpa en hy vra bietjie uit oor hoe groot die plaas is en die drakrag, ens. Kom ons se die plaas is 1 000ha en die dragkrag is 10ha/GVE (net om die somme maklik te maak). Beteken dit dat ek onder geen omstandighede meer as 100 GVE op die plaas kan aanhou? Kom ons neem aan dat ek glad nie voer nie - net lekke - en dat dit alles natuurlike weiding is.

My gevoel was altyd dat ek wel meer as die aanvaarde drakrag kan dra as ek bv. van kampe gebruik maak, bv:

1 000 ha met 10 kampe van 100ha elk.

As ek 200 GVE het en ek laat loop hulle vir 20 dae in elke kamp. Dan rus elke kamp mos 200 dae (eintlik 180) voor hy weer gevreet word!? Is dit nie goed genoeg nie? Is dit nie goed genoeg om dan te se die plaas van 1 000 ha kan 200 GVE dra?

Ek aanvaar daar is verskriklik baie faktore, soos die feit dat jy op enige tyd meer as net een kamp gaan nodig hê (speenkalwers, verse, bulle, ens.) en dat sekere kampe 'n beter drakrag het as ander en seker jare sal beter wees as ander. Jy sal ook natuurlik moet seker maak dat jy nie jaar ná jaar dieselfde kamp/e in dieselfde seisoen vreet nie.

Bloot teoreties:. is bg. sommetjie min of meer reg of sit ek die pot heel mis?

Louis Hauman skryf:

Nee jy is verkeerd - as ons van drakrag praat dan aanvaar ons dat jy binne redelike perke reeds kampe en waters het sodat die diere nie te ver hoef te loop nie en dat hulle geskuif kan word dat die weiding weer kan rus. Al waarmee jy die drakrag, soos ons dit definieer, hoër kan maak, is deur besproeiing, of inplant van beter weiding, deur ontbossing (produseer meer van dit wat die dier wat jy wil produseer vreet - in die geval gras) of addisionele voeding. In laasgenoemde geval is dit nie die weiding se drakrag wat verbeter nie, maar kom dit uit 'n sak of krip.

As ons die drakrag aandui op 10 Ha/GVE dan neem ons ook in ag dat indringerbos reeds onder beheer is, anders kan die drakrag baie swakker wees as wat jy sou verwag (ek gebruik dit weer as voorbeeld - as jy met koedoes boer sal die bos dalk drakrag verbeter).

Georg skryf:

Louis,

Gaan tog nou nog daardie klein treetjie, stap af van die ouderwetse begrip GVE/ha en noem dit kg per ha. Dan kan enige leek sy eie somme maak.

Dawid Reyneke skryf:

Dis maar dieselfde George. GVE/Kg as wat ons praat van rand en sent.

100 rand = 10 000 sent.

1 GVE = 450 kg

1 KVE = 50 kg

1 NVE = 220 kg (Nguni Vee-eenheid)

Lukas skryf:

Dit is die eerste keer dat ek met die begrip van kg/ha te doen kry. Dit is `n baie praktiese manier om dit te stel, maar aan die einde van die dag moet jy tog eindig by die weidae, so die antwoord behoort dieselfde te wees, maak nie saak of jy kg of GVE gebruik, of mis ek iets iewers?

Die belangrikste is dat jy die som maak.

Georg skryf:

Nee, ons gebruik ook nie weidae nie, want enige stuk veld dra nie dieselfde nie. Ons bereken kg per hektaar bestokking. Om dit te bereken is daar 'n paar metodes. Die mees akkurate een is om pyltjies dwars deur 'n kamp te gooi en dan 'n sirkel om die punt te sny en weeg. Ek self doen dit meer op die gemaklike manier, waar ek die sy-lengtes van 'n vierkant wat genoeg kos vir een bees vir een dag bied, bepaal. Dit gee vir jou 'n vierkantmeter oppervlakte wat weer deur 'n hektaar gedeel word. Nadat dit gedoen is weet jy hoeveel bees se kos jy besit. Nou deel jy dit deur die aantal dae wat jy op die uiterste moet wag vir die volgende reenseisoen. By my is dit gewoonlik binne 300 dae, by ander boere kan dit b.v. 400 dae wees. As jy nou jou beeste elke jaar op dieselfde datum weeg, kan jy bepaal hoeveel kg jy geproduseer het oor die jaar. Dan weet jy wat jou kg per hektaar produksie is.

'n Ander manier om laasgenoemde te bereken is om die GDT van elke bees oor die periode te bereken. Dit behoort op dieselfde neer te kom.

Louis Hauman skryf:

Die eenvoudige rede waarom ek nie op Kg/Ha werk nie vir ander mense as myself nie, is omdat die Departement drakrag norme in Ha/GVE gee en nie in Kg/Ha nie. Maar met die beginsel het ek geen fout te vind nie.

Pieter Marx skryf:

Die korrelasie tussen KG/ha en GVE/ha en KVE/ha is nie heeltemal vergelykbaar in terme van die definisie nie. Die Department Landbou het al die jare, by ons hier in die sentrale Vrystaat se grasvlaktes, 6ha/GVE aanbeveel of voorgeskryf as die norm. Dit was ook algemeen bekend dat een GVE is gelyk aan ses KVE. Boere wat prakties hiermee werk, sal vir jou kan sê dat 'n skaap/ha prakties uitvoerbaar is by ons,maar 7ha/GVE is dalk baie nader aan die norm.

Die probleem is dat met kg/ha en GVE/ha of KVE/ha is daar 'n botsing tussen die katogorie van GVE en KVE al klaar. 'n KVE word bepaal teen ongeveer 50kg en 'n GVE teen ongeveer 450kg. Dit gee vir jou 'n verhouding van 1:9 wat ooglopend nie korrek is nie.

Wat my aanbetref is GVE en KVE nie vergelykbaar nie. Tussen rasse bly dit ook 'n probleem by beeste en skape. Tussen skaaprasse argumentsonthalwe kry jy die selektiewe vreters, gulsige vreters en fynvreter. Daarom werk net sekere rasse op lusern, byvoorbeeld Merino's maar nie Vleismerino's nie.

Selfs met droë voer sal die voerkraal mense aan jou rasvergelykings kan toon as verskillend ten opsigte van inname en groei. So byvoorbeeld is die Hoëveld se grasvlaktes uitstekend in die nat somermaande maar baie laag in voedingswaarde gedurende die winter.

Dan het ons nog nie eens die vergelyking getref tussen soet en suurveld nie. Karooveld en bossieveld daarenteen staan weer in 'n heel ander kategorie. Dus is KG/ha net so 'n gebrekkige aanduiding van die feite wat hier probeer staaf word. Die uniekheid van ras en self binne dieselfde ras asook eksterne faktore, soos die omgewing, bring ons terug by die feit dat die eindresultaat is gelyk aan die omgewing (waarvan voeding die grootste is maar ook klimaat en seisoen en ligging) plus genetika.

Bogenoemde, naamlik KG/ha,GVE/ha en KVE/ha is slegs vae aanduidings maar wie van dit 'n absolute norm wil maak, gaan volgens my totaal onwetenskaplik om met die feite.

Mark Hume skryf:

Georg, GVE is presies dit waarvoor jy vra. Volgens die Meisner Omrekeningstabel was 1GVE = sowat 780 pond of so-iets ( daar sal egter lede wees wat ons kan reg help as dit verkeerd is).

Die res van die tabel is 'n basiese berekening volgens bg.
Louis se verwysing na hoe droër hoe langer die herstel periode het betrekking.

Die natuur het baie teenstrydighede bv. in dor streke kan plante binne dae blom en saad skiet na reën.

Die kies van 'n stelsel is 'n "horses for courses" beleid, met waarneming is die "regte" stelsel om jou!
Amie Aucamp, nou van NWKV, sal onmiddelik vir jou bewys dat dit wenslik is om een weiperiode
oor te slaan as jy bv. "Valleibosveld" met bokke benut. Die broosheid van die omgewing speel ook 'n
groot rol. Wees versigtig as jy afwyk van almal om jou "pioneers get shot at". Die kies van die verkeerde stelsel kan jou die plaas kos!

31 Maart 2009

4