|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Die Kaapse Ryperd, wat meer as twee eeue lank die
vernaamste vervoermiddel in Suid-Afrika was, galop weer oor die groen velde van
KwaZulu-Natal. ANDRIES GOUWS het gaan kyk na dié interessante teelprojek wat die
afgelope paar jaar gestalte gekry het.
Goeie vordering word gemaak met 'n teelprojek wat daarop gemik is om die Kaapse Ryperd, met ál sy unieke sigbare en onsigbare eienskappe, te laat herleef en weer as ry- en werkperd op plase te vestig.
Om dié doel te bereik het 'n paar perdetelers 'n klub gestig sodat die beste beskikbare diere geteel kan word sonder dat die proses deur mensgestelde grense belemmer word.
Die oogmerk is om 'n veelsydige ry- en werkperd te teel met 'n rekord van die dier se voorgeslag. Geen perd het egter geboortereg op die naam Kaapse Ryperd nie. Net diere wat ná intensiewe evaluasie geskik geag word, kan dié trotse naam dra.
Die Kaapse Ryperd is 'n afstammeling van die oorspronklike Kaapse Perd wat wêreldwyd bekendheid verwerf het vir sy uithouvermoë en waagmoed as ryperd in oorloë in Suid-Afrika en oorsee.
Dr. Frans van der Merwe, bekende perdekenner wat deesdae op Kleinmond woon, sê sedert 1652 tot in die 1870's het die Kaapse Perd uit Javaanse ponies, Persiese Arabierperde, Suid-Amerikaanse en Spaanse Andalusiese perde ontstaan. Dié perde is later met Engelse volbloed- en Arabierperde versterk. Hieruit het die bekende SA Boerperd, Nooitgedachter en Basoeto-ponie ontwikkel.
In die ontwikkeling van die perde, en mettertyd die verskillende rasse wat van die Kaapse Perd afstam, het klemverskuiwings voorgekom wat van die eienskappe van die oorspronklike perde verwater en selfs verlore laat gaan het.
Mnr. David du Plessis van Swartberg naby Kokstad, onthou uit sy kinderdae hoe die ryperde van daardie tyd gelyk het. As Karoo-kind het hy in die hartland van dié perde grootgeword en toe hy begin boer het, het hy van dié Hantamperde in die hande gekry. Volgens wat hy kan onthou, was hulle toe die naaste aan die ideale ryperd waaroor sy voormense gepraat het.
As begaafde teler en mettertyd weens 'n groot behoefte aan goeie ryperde om veediefstal op die Lesotho-grens te bekamp, het hy ryperde geteel met die eienskappe wat hul boereruiters te vlugvoetig vir die Engelse magte gemaak het. In dié proses het hy ook van die bekende Cloete-perde gebruik.
Mettertyd het dit egter al hoe moeiliker geraak om hingste te kry om sy vordering vol te hou.
Sowat ses jaar gelede, op soek na 'n goeie Cloete-hings, het sy paaie dié van mnr. Hennie Ahlers van Dirleton, Alldays, toe voorsitter van die Nooitgedachter-telersgenootskap, gekruis. Net hierna, en danksy die inisiatief van wyle dr. Piet Rossouw, dosent aan die Pretoriase Technikon wat destyds 'n omvattende perdhanteringskursus aangebied het, is prof. Van der Merwe, mnre. P.W. Kruger, Wannie Scribante en Eben Karsten betrek en is die Kaapse Ryperdtelersklub gestig.
Die oogmerk is nie om 'n nuwe ras te ontwikkel nie, maar onder die vlerke van SA Stamboek ruimte te skep vir die eienaars van erkende nasate van die ou Kaapse Ryperd om beskikbare hingste en merries oor en weer te gebruik, sonder die belemmering van mensgemaakte beperkings binne die grondwette van rasgenootskappe. Die nageslag kan by SA Stamboek aangeteken word met die oog op die bewaring van unieke en waardevolle teelmateriaal.
Mnr. Du Plessis sê dié perde is 'n nalatenskap wat niemand vir homself kan toe-eien nie. "Dit is volksbesit, want dit is kosbaar en met 'n doel geteel om 'n behoefte te vervul."
Suid-Afrika is 'n harde land met uiterste klimaatstoestande. Om 'n perd te teel wat in al dié toestande kan presteer, vereis dat 'n mens 'n duidelike doel voor oë het en deurlopend evalueer of jy nog op die regte pad is.
Dié proses vereis absolute eerlikheid waarin sentiment geen rol mag speel nie. Daar is nie plek vir vetgevoerde perde wat gepamperlang word nie, want dit belemmer 'n mens se waarneming.
"Ons oogmerk is om weer die ware ryperd te laat herleef. Dit help dus nie jy streef na 'n ideaal, maar bereik dit nie. Dit help nie die perd lyk mooi, maar onder die saal ontbreek moedigheid, uithouvermoë en rygerief nie.
"Die evaluering begin by die vul. As hy skop, sku is en sy kop wegsteek, tel dit teen hom. As jong perde geleer word, kom hul karakter na vore. Daar is lui, flukse, skelm, eerlike, moedige, balhorige, moedswillige, hooggesnaarde en doodeenvoudig slegte perde.
"In ons projek selekteer ons dus vir wat ons sien, asook vir daardie verborge eienskappe wat na vore kom as die perd 'n saal op sy rug het. In dié proses soek ons ook die mense wat met sulke perde doenig is, diere wat ál die eienskappe het en 'n rekord van sy voorgeslag. Die ontwikkeling moet nie deur mensgemaakte grense gestrem word nie," sê mnr. Du Plessis.
Alles wat hulle van die eerste dag waarneem, word aangeteken sodat diere wat bruikbare vullens teel, geïdentifiseer kan word om hul teeldoelwit te bereik.
In dié proses is dit moeilik om altyd eerlik te wees, sê mnr. Du Plessis. Dit is gewoonlik makliker om 'n mooi dier, wat weliswaar groot tekortkominge het, te verdedig en in die stoetery aan te hou.
Hy sê die Nooitgedachter, SA Boerperd en Basoeto-ponie is almal die nageslag van die Kaapse Ryperd. Hulle het net verskillende afdraaipaaie van die hoofteelroete geneem, wat nie noodwendig verkeerd is of was nie.
"àl dié perde het sekere eienskappe en 'n mens moet net besluit watter eienskappe jy gaan gebruik en beklemtoon om jou teeldoelwit te bereik. Ek het besluit om die afdraaipaaie te vermy.
"As 'n mens 'n perd moet help vul, voer in die stal moet gee en in die winter moet pamperlang, gaan van die eienskappe verlore. Jy kry perde wat skrik vir alles, wat bang is vir vreemde voorwerpe. Sulke eienskappe is taboe," sê hy.
Deur jarelange seleksie het talle van die eienskappe van die Kaapse Ryperd verwater geraak of totaal verlore gegaan. Die oogmerk is om dié diere te soek wat nog dié eienskappe het, en noukeurig en deurdag met hulle te teel.
Die vernaamste eienskappe waarna gesoek word, is die volgende:
Die perd moet lief wees vir mense en met jou saamwerk. Jy moet nie sukkel om hom te vang as jy wil gaan ry nie.
Vasvoetigheid is noodsaaklik. As 'n boer in die veld ry, moet hy na sy vee en weiding kyk. Die perd moet self die struikelblokke en gate sien, dit mistrap en nie struikel nie.
Die ruiter en die perd moet die rit geniet.
Die perd moet kalm en rustig wees. As die dier te hooggesnaar is, veg die ruiter die hele tyd om hom in bedwang te hou.
Waagmoed is noodsaaklik. Die dier moet vir niks terugdeins nie.
'n Ryperd sonder stamina beteken min vir 'n boer. Die floukoppe trek met 'n vaart weg, maar hou nie lank nie. Die dier moet heeldag kan werk en die ruiter saans nog huis toe bring.
Die perd moet fluks wees. Dit moet nie nodig wees om die dier die hele dag aan te por nie. Hy moet kalm, doelgerig en moedig sy werk doen.
Eerlikheid is ook noodsaaklik. 'n Skelm perd betrek jou en jy kan nooit ontspan nie.
Dié eienskappe is nie sigbaar as 'n mens net na 'n perd kyk nie. Die dier kan op die oog af volgens bouvorm 'n kampioen wees, maar ook ál die swak eienskappe besit wat hom as werkdier onbruikbaar maak.
Van die sigbare eienskappe wat gesoek word, is onder meer (volgens die ouer garde) dat alles rond moet wees, behalwe die voorkop. Mnr. Du Plessis sê hulle wil graag 'n mooi kamnek hê met 'n oop sprong van rib. Die perd se dyspiere moet dik binne en buite wees. Dit moet ook 'n vol lendestuk met goeie bespiering oral en 'n effens lang stuitjie hê.
Die agterpoot moet ver oor die voorpoot se spoor trap, die hoewe moet ivooragtig wees en die vorm van 'n muilhoef hê.
Die Kaapse Ryperd het ál dié eienskappe gehad, maar as nie voortdurend daarvoor geselekteer word nie, gaan sommiges verlore.
Mnr. Du Plessis het elke dag sowat 35 perde onder die saal wat vee oppas en dikwels die Drakensberge moet in op soek na gesteelde vee. Dié perde ry gemiddeld 3 000 km per jaar en daar is nie plek vir lyfwegstekers nie. Net die perde met waagmoed en stamina, met ware murg in hul pype, maak dit in die strawwe toestande.
Die Kaapse Ryperdtelersklub
Die oogmerk van die Kaapse Ryperdtelersklub, wat in 2001 gestig is, is om 'n lewende monument wat deur die hele Suid-Afrika en in die buiteland sigbaar sal wees, vir die beroemde Kaapse Perd van die 18de en 19de eeu staan te maak.
Dit wil hy bereik deur in die huidige toestande, waar rigiede mensgemaakte strukture dit verhoed, oor perderasgrense heen voort te gaan met die teling en bevordering van prestasiegetoetste nakomelinge van die Kaapse Perd.
Dit gaan gedoen word saam met SA Stamboek, wat die nageslag sal aanteken en die evaluasieprogram namens die lede en volgens die klub se voorwaardes sal administreer.
Vyftien van die klub se perde is by die Voortrekkermonument in Pretoria waar besoekers op hulle kan ry. Die oogmerk is om die perde bekend te stel en te bemark.
Vir die teelprojek word 'n unieke kerngroepie van 25 Hantam-merries wat mnr. David du Plessis deur die jare geteel het, saam met merries van mnre. Hennie Ahlers en P.W. Kruger gebruik. Top-hingste, wat 'n verbetering kan teweegbring, word gekoop of gehuur.
Die klublede besluit saam watter hings en merries gebruik moet word. Mnr. Du Plessis evalueer die nageslag van geboorte af. Diere met prulfoute word uitgeskakel.
Op sowat 30 maande word die perde geleer deur twee bekwame ruiters, mnre. Isak Swart en Andries Januarie. Hulle lewer ná elke rit kommentaar en dié word aangeteken. Dié proses duur weke.
Met die finale beoordeling van diere wat verder in die projek gebruik gaan word, kom ál die lede bymekaar en ry mnre. Du Plessis, Kruger en Karsten die perde. Die ruiters ruil om sodat almal op ál die perde ry. Die beste diere vir die teelprojek word dan uitgesoek.
Perde wat nie in die teelprojek opgeneem word nie, word by die Voortrekkermonument gebruik, as geleerde ryperde verkoop of op die plaas as werkperde gebruik.
Mnr. Hennie Ahlers, voormalige voorsitter van die Nooitgedachter-telersgenootskap, sê hy is oortuig hulle het met dié klub die regte rigting ingeslaan. Dit skep die geleentheid om die beste teelmateriaal aan ál die lede van die klub beskikbaar te stel sodat vinniger met teling gevorder kan word.
Die klub maak dit moontlik om die genepoel te vergroot, wat nie tans binne genootskappe gedoen kan word nie. Daarby kan prestasietoetsing sinvoller gedoen word, omdat ál die perde in dieselfde toestande presteer.
Mnr. Kruger sê as hy voortgegaan het soos in die verlede, sou sy vul-oes baie swakker gewees het as nou. Daarby kry hy die geleentheid om ondervinding op te doen deur saam met kenners te kan besluit oor en te werk vir eienskappe wat nie met die blote oog sigbaar is nie.
Mnr. Scribante sê sy oë het oopgegaan toe hy mnr. Du Plessis se perde gesien het. Toe het hy besef daar is ander perde ook en dat daar 'n wesentlike tekort aan goeie hingste is. Dit het hom laat besef om te vorder, is dit noodsaaklik om die beperkings van mensgemaakte reëls af te skud.
Mnr. Karsten bedryf die projek by die Voortrekkermonument, waar hy nie net ritte nie, maar ook opleiding en afrigting aanbied vir mense wat perde nie ken nie.
Mnr. Du Plessis sê dit is noodsaaklik dat die jong telers goeie teeldiere kry. Hulle moet kennis opdoen wat verlore kan gaan en terselfdertyd help om die lewende monument vir die legendariese Kaapse Ryperd in stand te hou.
10
Januarie 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24