Hoë voerpryse het 'n groot invloed op die melkbedryf.
Die onlangse stygings in graanpryse het gelei tot die laagste prysratio tussen melk en voer in tien jaar en dit veroorsaak kommer, sê die MPO.
Mieliepryse het van Julie verlede jaartot Julie vanjaar met 43% gestyg, terwyl sojabone in dieselfde tyd 58% duurder geword het. Dít het daartoe gelei dat dieprysratio tussen melk en voer tot sy laagste vlak in 10 jaar gedaal het, sê die
Melkprodusente-organisasie (MPO).
“Die onlangse stygings in graanpryse lei tot ernstige kommer onder
melkprodusente,” lui ’n verklaring. Die organisasie meen dat graanpryse nie in hierdie seisoen gaan daal nie, en dat ontydige melkprysverlagings deur melkverwerkers en -kopers meebring dat boere nie ’n volhoubare inkomste kan verdien nie.
ProduksieVolgens die organisasie was melkproduksie tydens Julie die jaar 3,7% hoër as gedurende Julie verlede jaar. Die totale melkproduksie tydens die eerste sewe maande van die jaar is 4,2% hoër as vir die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
In ooreenkoms met dié neiging dui syfers aan dat die vraag na alle suiwelprodukte tot en met Maart vanjaar skerp toegeneem het. “Kleinhandelpryse was ook hoër as in die vorige tydperk.”
Die organisasie meen dat verskeie faktore produksie gedurende die res van die jaar kan benadeel. Die pryse van brandstof, kunsmis en masjinerie het aansienlik gestyg. Die MPO sê sy plaasproduksie koste-indeks het tydens Januarie 2011 en Januarie 2012 met 155 gestyg, en sedertdien het die prys van graan skerp geklim.
Produksiegroei vir vanjaar kan moontlik deur dié situasie saam met laer internasionale produsentepryse en die
droogte in Amerika gekniehalter word.