|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Die besluit van die naasoudste landbouskool in Suid-Afrika om by die nasionale Merinoram-nageslagtoetsprojek betrokke te raak, is nie net vir die leerlinge van groot waarde nie. Die skool se eie kudde het reeds só verbeter dat daar deesdae al met die gevestigde manne in die bedryf saamgepraat kan word.
Toe die Merino-ontwikkelingskomitee die Landbouskool Marlow, naby Cradock, 'n paar jaar gelede genader het om sy kudde vir Merinoram-nageslagtoetse beskikbaar te stel, het die skoolbestuur dadelik die voordele ingesien wat dié projek vir die skool se eie kudde sou meebring.
Dié besluit het nie net die plaasbestuurder van die skool met 'n breë glimlag gelaat nie. Ook die skoolbestuur het meer gemoedsrus aangesien die verhoogde inkomste uit wol help om die geldlaai vol te hou. Die skool het verlede jaar 27 bale wol gelewer.
Mnr. Basie Claasen, afdelingsbestuurder van BKB deur wie die skool sy skeersel bemark, sê daar was die afgelope jare 'n merkbare afname in die gemiddelde veseldeursnee van die Marlow-skeersel. "As 'n mens kyk na die tipe wol wat deur die skool gelewer word, is dit duidelik dat hulle heeltemal in die kol is met hul benadering en vergelyk hul skeersel ook baie goed met die bestes van die omgewing."
Toe die skool sy skeersel in November 2002 bemark het, was die gemiddelde veseldeursnee van die skeersel 20,3 mikron, met 'n skoonopbrengs van 69,5 %. Die gemiddelde veseldeursnee van die wissellammers se wol was 17,9 mikron. "Dié verskil dui op die feit dat die skeersel fyner neig."
Die hoogste prys vir Marlow se BFH-tipe wol was R69,70/kg (vetwol).
Mnr. Charl Naudé, plaasbestuurder van Marlow, sê hoewel 'n stoetery nie 'n voorvereiste is om aan die nageslagtoetsprojek deel te neem nie, het hulle nietemin besluit om 'n stoetery te registreer. Dié kudde het sy oorsprong uit die Merinostoetery van 'n oudleerling, mnr. Andrew Jordaan van Spekboomberg in die distrik Cradock.
Die ramnageslagtoets behels dat Merino-stoeterye in die streek jaarliks genooi word om 'n aantal voortreflike ramme vir die projek te nomineer. Net nege van die allerbeste ramme word gekies en vir een dag aan die skool beskikbaar gestel. Elke deelnemer wie se ram gekeur word, betaal R1 000 vir dié voorreg.
Nadat saad van die betrokke ramme getap is, word die ooie deur 'n veearts laparoskopies geïnsemineer.
Vyftig ooie vanaf tweetand-ouderdom word ewekansig afgetel en elke groep word met die saad van 'n ander ram geïnsemineer.
As kontrole wys die Merino-ontwikkelingskomitee jaarliks ook twee Goue Meriete-ramme aan waarvan die nageslag in dieselfde toestande geëvalueer sal word. Só word waardevolle genetiese koppelings met ander nageslagtoetsprojekte verseker.
Wanneer die lammers vyf maande later aankom, word elke lam se geboortedatum, die status (een- of meerling) en geslag aangeteken. Die lammers word ná 30 dae en weer ná 100 dae geweeg, wanneer hulle gespeen word.
Twee oorplaatjies word ná geboorte in elke lam se oor geplaas om hul identiteit te verseker. Dit is as voorsorg indien een van die oorplaatjies dalk uitval.
àl die lammers loop 'n jaar lank in dieselfde voedings- en omgewingstoestande om hul groei en liggaamsgewig te evalueer. Wolmonsters word van die hele nageslag geneem om die veseldeursnee, skoonopbrengs en stapellengte te bepaal. Alle inligting word sentraal deur die Landbounavorsingsraad (LNR) verwerk en bewaar. 'n Volledige BLUP-ontleding (vadermodel) word dan gedoen om verwagte liniêre nageslagverskille te voorspel.
Indien minder as 50 % van die geïnsemineerde ooie lammers speen, sal die betrokke ram aan die toets onttrek word. Tot dusver was dit egter nog nie nodig nie aangesien die speenpersentasie meer as 80 % beloop.
Mnr. Naudé sê die feit dat die nageslag die skool se eiendom is, het reeds tot 'n groot verbetering in die kudde gelei. 'n Sprekende voorbeeld van dié welslae is dat dit ál moeiliker raak om deesdae swakker ooie te vind wat as tipiese prulle aan die leerlinge gewys kan word.
Ramlammers wat nie die toets slaag nie, word geslag. Die beste 15 ramme word jaarliks op die Cradockse veldramveiling wat op Marlow aangebied word, van die hand gesit. Verlede jaar se gemiddelde prys was R1 000 stuk. Die pryse behoort vanjaar egter aansienlik hoër te wees.
Mnr. Zis Ferreira, departementshoof (landbou) op Marlow, sê die inligting wat uit die projek verkry word, word in die klaskamer gebruik, maar dit het ook wyer waarde. Die skool hou elke jaar 'n inligtingsdag waarop die nageslag van die verskillende ramme afsonderlik in kraaltjies vertoon en ook met die nageslag van die Goue Meriete-kontroleram vergelyk kan word.
Mnr. Jacobus le Roux, rasdirekteur van Merino SA, meen Marlow se betrokkenheid by die projek bied aan leerlinge 'n unieke geleentheid om van jongs af praktiese opleiding in teling en prestasietoetsing te kry.
Deelname aan die projek stel die skool eweneens in staat om sy eie Merinovaars met dié van ander stoeterye te vergelyk. Dit hou ook groot finansiële voordele vir Marlow in omdat die skool nie jaarliks ramme hoef by te koop nie.
Die kuddeverbetering wat met dié projek tot voordeel van Marlow bewerkstellig is, het reeds aansienlike dividende in die vorm van 'n uitstekende skeersel en diere met 'n hoë reproduksievermoë gelewer.
Volgens mnr. Le Roux is bykans 12 000 nageslagrekords van meer as 400 vaars reeds sedert 1986 landwyd deur Merino SA ingesamel. Altesame 243 vaars het al Goue Meriete-status verwerf.
Die kinders by die skool ontvang reeds vanaf graad 8 praktiese opleiding in wol- en bokhaarklassering.
Mnr. Ferreira is trots daarop dat die Marlow reeds jare lank die rekord hou as die landbouskool met die hoogste slaagsyfer (meer as 80 %) vir die verwerwing van die Springbokkop-klassertifikaat wat deur die Nasionale Wolkwekersvereniging toegeken word.
Die skool se deelname aan die nageslagtoetse is net 'n verdere stap in die rigting om uiteindelik 'n stoetery te ontwikkel wat met die beste in die land vergelyk sal kan word.
Kweker van kampioene
Wanneer die naam Marlow van agter na voor gelees
word, spel dit die woord Wolram. Dit is dus heel gepas dat daar na die leerlinge
in dié skool (nagenoeg 230 van hulle en nét seuns) as "wolrammetjies" verwys
word.
Maar, soos iemand al by geleentheid opgemerk het, is Marlow se rammetjies eintlik stoetmateriaal waarop 'n mens trots kan wees. Van die land se voorste boere, landboukundiges, -wetenskaplikes en 'n handvol sportmanne wat nasionale kleure verwerf het, tel onder die oudleerlinge.
Mnr. Hennie Olivier, hoof van die landbouskool, wat sowat 10 km buite Cradock geleë is, sê die skool het in 1931 sy deure geopen as 'n landbouvakskool met nege leerlinge en vyf onderwysers. Dit is vernoem na ene dr. Marlow wat aan die begin van die vorige eeu opmetings vir die Spoorweë gedoen het.
Die plaas beslaan 3 300 ha, waarvan 200 ha onder die Visrivier-besproeiingskema ingelys is. Onder die diere wat aangehou word, is sowat 500 Merino's, 200 Dorpers, 350 Angorabokke, 40 Herefordbeeste en 'n aantal varke en pluim- vee.
Die skool het ook 'n puik Holsteinkudde van 100 koeie. Jogurt en gegeurde melkdrankies wat die afgelope jare by die skool vervaardig word, is deesdae op die ontbyt-spyskaart van die voorste gastehuise en hotels in die provinsie.
Benewens die veevertakking val die klem ook op gewas- en groenteverbouing. Die lusern en mielies wat op die plaas geproduseer word, word hoofsaaklik aangewend as voer in diererantsoene vir eie gebruik op die plaas.
Mnr. Olivier sê Marlow (dit is een van net drie landbouskole in die Oos-Kaap) se onderwysers word hoofsaaklik deur die plaaslike departement van onderwys betaal. Die skoolgeld beloop tans R280 per maand en die koshuisgeld R1 400 per kwartaal. Die plaas word vir sy eie rekening bestuur en die wins wat gemaak word, word in 'n spesiale fonds gestort.
Groot klem word op die praktiese opleiding van leerlinge geplaas. Benewens drie middae elke week waarin die kinders 'n uur lank praktiese werk doen, word ook jaarliks 'n praktiese week aangebied. Gedurende die week word kursusse aangebied in onder meer kunsmatige inseminasie, Boerbokbeoordeling, trekkerhantering en sweiswerk.
Leerlinge wat nie by sport en ander buitemuurse bedrywighede betrokke is nie, sit graag ná skool hand by om die plaasbestuurder met die versorging van die kudde te help.
Die skool lok leerlinge van oor die hele land. Hoewel die skool groot klem op landbou-onderrig plaas, kan leerlinge wat nie noodwendig in boerdery belangstel nie, ook 'n suiwer akademiese rigting, soos by enige ander skool in die land, volg. Die voordeel is egter dat hulle die gees en karakter van 'n tipiese landelike skool kan ervaar.
Mnr. Olivier sê in die afwesigheid van verpligte militêre diens in Suid-Afrika kan ouers wat hul kinders hierheen stuur die gemoedsrus hê dat dit inderdaad 'n kweekskool is waar leerlinge tot volwassenheid gelei word. "Die seuns wat hulle skoolloopbaan hiér voltooi, is ware manne en het nie 'n jammergat-houding nie."
Gevra hoe hulle dit reggekry het om Marlow 'n eksklusiewe seunskool te hou, antwoord mnr. Olivier saaklik dat dit 'n aspek is wat nie onderhandelbaar is nie. Dan merk hy met 'n vonkel in die oog op dat meisies hulle waarskynlik ook nie juis tuis sal voel in 'n skool waar dit tradisie is om nog kaalbas in die Visrivier te swem nie.
Waarskynlik een van die grootste bates van Marlow is die wyse waarop oudleerlinge wat hulle stempel as boere afgedruk het, die skool met raad en daad bystaan. Baie van die teelmateriaal op die plaas is deur van dié oudleerlinge geskenk of teen 'n billike prys aan die skool verkoop.
Wat sport betref, blink Marlow ook uit. Die eerste rugbyspan presteer besonder goed en tel onder die beste 20 skolerugbyspanne in die land.
Leerlinge ontvang tennisonderrig by die bekende Cradock-tennisakademie. Die krieketspan is geleidelik besig om naam te maak. Die wêreldspiesgooikampioen, Marius Corbett, is 'n produk van dié skool.
Mnr. Olivier kan gebel word by tel. 048 881 3121.
14 Februarie 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24