Vroulike diere toon hul vrugbaarheid en pronk as't ware met hul reproduktiewe eienskappe. Boere kan dus maklik die reproduksievermoë van hul verse en koeie op sigwaarde bepaal en bestuur mits hulle weet waarna en hoe om te kyk.
Vir die doeltreffende bestuur van reproduksie of vrugbaarheid by vleisbeeste het 'n mens dikwels hulp nodig, hetsy 'n veekundige, veearts en dikwels selfs gesofistikeerde ontledingsdienste. Dit geld veral ten opsigte van bulle. By koeie en verse is dit 'n ander scenario. 'n Mens kan 'n vroulike dier se vrugbaarheid relatief maklik aan haar "lyftaal" eien. En dis nie eers moeilik om jou waarneming te oefen nie, sé mnr. Hennie Snyman van die maatskappy Paradigm Landboukundige Adviseurs op Parys.
Hy het by 'n inligtingsdag van die Riemland-Bonsmaragroep op Heilbron oor die reproduksiedoeltreffendheid van vleisraskoeie gepraat. Mnr. Michiel de Jager, veekundige van Lichtenburg, het die reproduksiedoeltreffendheid van vleisrasbulle onder die loep geneem. 'n Volledige artikel daaroor verskyn in die volgende uitgawe van Landbouweekblad. Goeie reproduksiebestuur plaas altyd die klem op die koei wat op die plaas agterbly. Sy's die plaas se "fabriek" wat elke jaar 'n kalf op die grond moet kry: 'n Lewende kalf wat goed groei om met speentyd (op nagenoeg sewe maande) sowat 50 % van sy ma se gewig te bereik. Uiteraard is weeg en rekords die betroubaarste manier om die koring uit die kaf te haal.
Maar 'n dier se "lyftaal" verklik tog baie. Die belangrikste: 'n Vroulike dier lyk soos 'n vroulike dier. 'n Mens sien dit eintlik al by verse. Die oomblik wanneer jy twyfel oor die mate van vroulikheid wat 'n vers of koei toon, plaas dit klaar 'n vraagteken oor so 'n dier se vrugbaarheid.
Vroulikheid word weerspieël in 'n fyn kopvorm en 'n plat, "droë" nek met 'n opvallend goed gedefinieerde diep gleuf agter en tussen die onderkaak en die nek-aansluiting. By 'n dikker, ronder nek raak dié gleuf vol en lyk die dier osagtig - gewoonlik die eerste teken van lae vrugbaarheid.
Dan is daar die verskil tussen mooi en mooi - die buurman s'n en die bankbestuurder s'n. Vir die buurman is 'n koei mooi wanneer sy in 'n pragtige goeie kondisie is van baie naby 'n kondisietelling van 3 plus. Dus 'n vet koei waarvan die heupe met vet aangepak is. So-ook die sitbene, die blad en 'n borsbeen wat meer na 'n vark se ham lyk.
Snyman sê 'n beesboer behoort te gril vir só 'n koei. Dit sê nie noodwendig sy gaan nooit kalf nie, maar sy gaan dikwels oorslaan of het al in die verlede. Daarteen verkies die bankbestuurder die kalffabrieke.
Nie maer nie, maar lenig en vol soos 'n dier in die opboufase vir afronding en sonder enige vorm van vetaanpakking. Dis die koeie wat klokslag baie naby elke 365 dae kalf en die kalf goed grootmaak. Die norm is dat 'n koei deur haar lewe altyd net twee kalwers minder grootgemaak het as haar ouderdom in jare.
Só 'n koei (in dié geval Bonsmara) het byvoorbeeld 'n heeltemal droë borsstuk met 'n prominente keelvelvou onder om die borsstuk. Die eerste teken dat 'n Bonsmarakoei te vet is of oorgeslaan het om te kalf, is dat die keelvel aan die voorpunt van die borsbeen doodloop en nie om die vloer van die borsstuk tot verby die voorbene strek nie.
Die koei wat Snyman as voorbeeld voorgehou het, was 13 jaar oud met 11 kalwers, 'n reproduksie-indeks van 110 en 'n tussenkalfperiode (TKP) van 378 dae, vergeleke met die land se gemiddelde van 450 dae - en dít net in kuddes waarvan rekord gehou word, sê Snyman.
Hy het ook boere se aandag gevestig op dié koei se lang stert waarvan die punt van die kwas feitlik die grond raak. Die mense van ouds het gesê 'n koei met 'n lang stert gee baie melk. In werklikheid is 'n lang stert deel van die dier se aanpassingsmeganisme om bosluise en vlieë van die lyf af te hou. Hoe langer die stert dus, hoe beter aangepas.
Die klem lê egter nie op die lang stert nie, maar op aanpasbaarheid. Mense wat vir boere dragtigheidsondersoeke doen kan dus gerus maar die gebruik stopsit om diere wat nie dragtig is nie se stertkwaste kort te sny. Benewens dat hulle die dier se aanpasbaarheid verfomfaai, weet die meeste boere buitendien al om nie op 'n veiling 'n koei met 'n stomp stertkwas te koop nie - afgesien vir slag, natuurlik.
Maar eers wanneer 'n mens 'n voorbeeld van elk van voorgenoemde verskillende twee soorte diere saam in dieselfde ring sien, besef jy die enorme waarde van visuele beoordeling ten opsigte van vrugbaarheid - veral by vroulike diere. Met oefening kan dié vermoë maklik onder die knie kom. Dis terloops ook een van die redes waarom Bonsmaratelers nie aan mededingende skoue deelneem nie, verduidelik Snyman.
'n Ander voorbeeld van onvrugbare vroulike diere wat eintlik al by speenouderdom identifiseerbaar is, is daardie uitstaande mooi vers wat smeek om 'n visuele punt van 8,0 tot 9,0 (8,5) uit 'n moontlike 9,0. Ongelooflik goeie breedte agter; bespiering waaroor almal gaande is, straal uit die kalf met 'n baie goed ontwikkelde voorarm en spierdefinisie in die agterkwarte - 'n prentjie van 'n speenkalf. Maar net vir slag. Nie vir teel nie, want sy kan kwalik teel. Sy toon 'n opsigtelike klein vulva en geen tekens van uierontwikkeling nie.
Dít is volgens Snyman 'n goeie voorbeeld van die tipe slaggat ten opsigte van vrugbaarheid waarvoor 'n mens moet lig loop as jou teeldoelwit byvoorbeeld die produksie van speenkalwers is.
Dis byna dieselfde soos in die geval van 'n tweeling waarvan die een 'n bul- en die ander 'n verskalf is. Die kans is 95 % dat só 'n vers nooit beset sal raak nie omdat die manlike hormone wat die bul in die baarmoeder afskei, die ontwikkeling van die vers van koers af druk.
Dis ook waarom wyle prof. Jan Bonsma 'n kleintjie dood had aan goeters soos eiselspoelings. Die hormonale masjienerie van 'n dier is só sensitief delikaat dat 'n mens nie daarmee neuk nie, sou sy siening wees.
Snyman het voorts daarop gewys dat 'n koei wat jaar ná jaar net bulkalwers produseer se bouvorm totaal verskil van een wat net verskalwers of minstens die geslagte om die helfte produseer.
Hy het weer die eerste koei met 11 kalwers aangehaal as 'n voorbeeld van een wat baie naby 'n gelyke aantal bul- en verskalwers gehad het. Die eienaar het dit bevestig.
As tien van die 11 kalwers bulle sou gewees het, sou sy anders gelyk het. Sy sou effens osagtig in die kop gewees het en diep in die voorlyf - dus tekens van onvrugbaarheid.
Sy sou egter nie vetaanpakking aan die borsstuk, op die heupe en sitbene gehad het nie. " 'n Mens kan dus selfs fyner onderskei, want hoewel sy tekens van onvrugbaarheid sou toon, is die afwesigheid van vetaanpakking 'n aanduiding dat sy wel vrugbaar is, maar meer bul- as verskalwers geproduseer het," sê Snyman.
26 Augustus 2005