|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Die wildbedryf in die Wes-Kaap is aansienlik groter as wat verwag is, en dit groei vinnig. Dit is die bevinding van 'n wetenskaplike opname van die wildbedryf in dié provinsie.
Niemand kon nog met sekerheid sê wat die presiese omvang van die wildbedryf in die Wes-Kaap is nie. Die taak is toe opgedra aan me. Sanet Briel, landbou-ekonoom en wildnavorser van die Departement van Landbou op Elsenburg.
Haar verslag is pas bekend gemaak. Dit bevestig die vermoedens. Die provinsie steek kragdadig sy kleim af as 'n gerekende kommersiële wildboerderygebied ten spyte van sterk pogings om dit aan bande te lê met die omstrede biodiversiteits- en translokasie-konsepwette wat die beweging van wild tussen gebiede beperk.
Met die Briel-verslag bekend het die eerste skote reeds geklap in die stryd tussen ekoloë en ekonome. Albei kante is oortuig hul motiewe is edel.
Plaasname verraai dat allerhande soorte wild eens in die Wes-Kaap voorgekom het. Maar lankal nie meer nie. En dit is hoe die owerheid dit wil hou. Maar boere met visie en planne laat hulle nie sommer stuit nie. Die opname toon dat die provinsie nou amptelik 115 wildboere het.
Moontlik is daar vele meer, sê Briel, want hierdie mense is net die wildboere waarvan die Departement van Landbou weet. In elk geval is die amptelike getal aansienlik meer as wat verwag was. Dit dui op 'n verrassende skerp toename in wildboerderybedrywighede in die provinsie in onlangse tye. In die afgelope tien jaar alleen het 56 % van die wildplase ontstaan.
Altesame 55 % van die respondente is by ekotoerisme betrokke. Biltong- en trofeejag word deur onderskeidelik 44 % en 38 %van die wildboere toegelaat. Sowat 41 % verkoop hul wild lewend. Vleisverkope en ander inkomste uit wild maak slegs 'n geringe deel van hul wildboerdery uit.
Volgens Briel is 'n groot verskeidenheid wild suksesvol in die Wes-Kaap hervestig. Daar is selfs plase wat met die Vyf Grotes spog. Op enkele plase is van die skaarser wildsoorte te sien.
Met springbokke, duikers, steenbokke, gemsbokke, elande, koedoes, trouens, omtrent al die bekendste boksoorte word algemeen geboer. Daar is vele ander soorte ook, sê sy.
Uit die opname blyk dat 37 % van die respondente uitsluitlik met wild boer. 'n Verdere 35 % hou wild én kommersiële vee aan, terwyl 28 % wild saam met ander boerderyvertakkings bedryf.
Die opname het ook getoon dat die wildbedryf 'n groot skepper van nuwe werksgeleenthede is. Volgens die boere wat aan die opname meegedoen het, het 929 mense tydens die opname permanent of tydelik in die wildbedryf gewerk.
Volgens haar is daar feitlik geen navorsing oor wild as 'n boerderybedryfstak in die Wes-Kaap nie. Die opname kan dus gesien word as 'n eerste poging om dié tekortkoming reg te stel. Met die omvang van die bedryf nou bekend, kan die behoeftes van wildboere, hul wild en veld nou beter bepaal en navorsingsprojekte daarvolgens aangepak word.
Die bydrae van die wildbedryf tot die ekonomie van die Wes-Kaap kan danksy die opname nou ook beter bepaal word.
Wildboerdery in die Wes-Kaap is sterk toerisme-gedrewe. Wildboere in die provinsie wil munt slaan uit die groot getalle toeriste wat die Kaap en die Tuinroete besoek. Die doelwit is om hulle bykans al die inheemse wild in 'n malaria-vrye omgewing te wys, sê Briel.
Mnr. William Gertenbach, hoof van diereproduksie in die Wes-Kaap, sê talle kommersiële boere in Suid-Afrika skakel na wildboerdery oor. Hoewel dit omstrede is, moet dit erken en die nodige aanpassings gemaak word sodat die landboubedryf daarby kan aanpas.
Volgens hom het wildboerdery om verskeie redes landwyd 'n uiters gesogte landboubedryf geword. Dit groei jaarliks teen 6 %.
Die meeste van die 28 000 wildboerderye in Suid-Afrika word op plase van kleiner as 8 000 hektaar bedryf. Die bestuur van dié plase het heeltemal ander uitdagings as byvoorbeeld die bestuur van 'n instansie soos die Krugerwildtuin.
Gertenbach sê uit sy gesprekke met wildboere het hy gou agtergekom daar is diepliggende probleme wat die toekoms van die bedryf erg kortwiek. Dit is hoekom hy besonder opgewonde is oor die opname wat Briel onder wildboere in die Wes-Kaap gemaak het. Die inligting is noodsaaklik vir die beplanning van navorsing en steun aan wildboere.
Hoewel tersaaklike inligting vir die bos- en grasveldstreke van die noordelike provinsies beskikbaar is, ondervind die wildbedryf in die Wes-Kaap 'n groot gebrek aan inligting op plaasvlak.
Dit sluit in inligting soos volhoubare wildladings, watter wild die geskikste vir bepaalde omstandighede is en in watter kombinasies hulle aangehou moet word. Met die inligting in die Briel-opname nou tot hul beskikking kan voorkeure bepaal word, wat die Departement van Landbou in 'n beter posisie sal plaas om saam met wildboere planne te beraam om die wildbedryf te ondersteun.
"Dit was vir my nog altyd uiters belangrik dat mense moet besef dat die navorsingskomponent van die Departement van Landbou nie 'n regulatoriese funksie het nie," sê Gertenbach. "Dit is nié ons werk om mense aan te spreek nie. Ons is daar om boere te ondersteun.
"Dieselfde geld ook in die besonder voorheen benadeelde gemeenskappe. Dit moet onthou word dat daardie mense dalk vir regeringsgeld in aanmerking kom om sodoende by wildboerdery betrokke te raak. Ook hulle sal kennis nodig hê wat nog grootliks vir die Wes-Kaap ontoereikend is of heeltemal ontbreek."
Oor waar Elsenburg met wildboerdery staan, sê Gertenbach dat hy op deurlopende gesprekvoering vertrou. Wanneer 'n mens enigiets evalueer, is dit nodig om eerste op die risiko's te let wat daaraan verbonde kan wees. In die wildbedryf word juis oor risiko's verskil. Daar is steeds baie onbeantwoorde vrae.
"By die Departement van Landbou is al gesê baie van die bestaande weidingsnavorsing sal hersien moet word weens die besliste verskuiwings in klimaatstoestande. In sy geheel beskou, kom alles net op een ding neer - 'n geweldige tekort aan vermoë. Daarmee bedoel ek te min mense om navorsing te doen. Ook ons behoefte aan voorligters is uiters kritiek."
Boonop sal die departement in die toekoms ook die tegniese aspekte van wildboerdery met sakevernuf moet aanvul, dit wil sê die vermoë om 'n besigheid te bedryf. Wetenskaplikes gaan reeds lank van die standpunt uit dat die boer se hooftaak nie is om die natuur te bewaar nie.
Party doen dit wel en sommige behaal groot sukses daarmee danksy hul liefde vir die natuur. Nietemin bly die kernfunksie om 'n wildboerdery só te bedryf dat die boer geld daaruit kan maak. Waarom anders sal hy hom dan met die bedryf bemoei? vra Gertenbach.
Boere met min tevrede
Wildboere vra niks besonders nie, net om toegelaat te word om wild as 'n volwaardige landboupraktyk te beoefen soos wat die geval met ander bedryfstakke op plase die geval is. Laat vaar al die onnodige permitte en ander beperkings en bied boere die geleentheid om hulself te reguleer en ekonomies met wild te boer.
Dit is die pleidooi van mnr. Louis van Rensburg, voorsitter van die Suid-Kaapse Wildboere-organisasie, sommer namens al die ander wildboere in die land ook. Volgens hom is daar geen rede om wildboere op 'n spesiale wyse te reguleer nie. Hulle is verantwoordelike bewaringsboere wat 'n bestaan uit wildboerdery probeer maak, tesame met die nou reeds aansienlike aantal mense wat in hul diens is. Wildboere wil hierdie nuwelingbedryf vir die Wes-Kaap op 'n ekonomiese grondslag bedryf. As dit slaag, sal dit verdere beleggings daarin regverdig.
(Wildboere staan onder die beheer van die Departement van Natuurbewaring, terwyl hulle meen dat die Departement van Landbou hul natuurlike tuiste is. Hoewel laasgenoemde departement geen regulatoriese rol vervul nie, is dit sy taak om in die navorsings- en voorligtingsbehoeftes van boere te voorsien. Veral in die Wes-Kaap bestaan daar nie so 'n diens vir wildboere nie - iets wat waarskynlik sal verander ná die bekendmaking van die Briel-verslag.)
Van Rensburg sê die Wes-Kaapse departement van natuurbewaring het sedert September 2003 eensydig die translokasiebeleid wat vir die ou Kaapprovinsie gegeld en uitstekend gewerk het, verander. Verskeie soorte wild wat in die Wes-Kaap toegelaat is, is nou taboe. Die departement skuil agter die Biodiversiteitswet van 2006 (wat in 2003 nog nie van krag was nie) en pas regulasies toe wat nog nie deur die minister afgekondig is nie.
"Sedert September 2003 het ons talle vergaderings gehou en ondernemings is aan ons gegee dat wildboere deel sal wees van die opstel van die nuwe regulasies, maar daarvan het niks gekom nie."
Hy sê wildboere koop landbougrond, omhein dit, koop wild en boer daarmee op die grond, skep werk deur normaalweg meer mense in diens te neem as wat op die plaas gewerk het, doen opleiding, bring buitelandse valuta die land in deur jagters en toerisme, produseer wildsvleis, vermeerder die wildbevolking, plaas baie grond terug onder natuurlike gebruik en herwin die plantegroei.
"Wat maak ons dan nou so sinister dat ons nie op landbougrond (soos ons bure met lewende hawe) kan boer solank ons voldoen aan die omheinings- en veeartsenyvereistes en inheemse Suid Afrikaanse wild aanhou nie?
"Ten einde wildboerdery in die Wes-Kaap (en Suid-Afrika) deurlopend ekonomies te kan bedryf, moet ons toegelaat word om self permitte vir die vervoer en verkoop van wild te kan uitreik soos ons gemagtig is vir ons beeste, skape en volstruise.
"Wildboerdery moet onder die Departement van Landbou resorteer soos die Artikel 7-komitee van die Landboubemarkingsraad twee maande gelede by die minister aanbeveel het. Dit moet beskou word as 'n gewone landbou-aktiwiteit, wat dit inderdaad is."
Dié kaart kan help
Die eerste omvattende plantegroeikaart van die Klein-Karoo is onlangs voltooi deur mnr. Jan Vlok, omgewingsadviseur en plant-ekoloog van George. Die kaart kom as 'n groot hulp vir veral voornemende wildboere in daardie deel van die Wes-Kaap. Daarvolgens kan toekomstige grondgebruikspatrone nou beter bepaal word.
Altesame 369 plantegroeitipes word aangetoon.
Voorts dui dit onder meer onversteurde veld, gedeeltelik omvormde, asook onherstelbaar beskadigde en ernstig oorbeweide veld aan.
'n Voornemende (wild)boer kan dus danksy die kaart 'n duidelike beeld kry van die grond- en veldtoestande en watter tipes vee en wild daar sal aard. Die kaart is by www.elsenburg.com beskikbaar.
Landbouweekblad, 27 Julie 2007.
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24