|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Spanwerk is die geheim van sy suksesvolle melkboerdery. Sonder sy toegewyde span werkers en die raad van konsultante sou sy boerdery nie op 'n vlak gewees het om die titel van Meestersuiwelboer te wen nie, sê mnr. Jacques Moll van Moll's Hoop Jerseys, Ficksburg.
Die melkery is deel van 'n familieboerdery waar Jacques ook na die Boran-stoetery, Merino-kudde en die voerkraal omsien, terwyl sy broer Xavier verantwoordelik is vir die saaiboerdery en voermaak-proses en hul pa, ook Jacques, die finale besluite neem.
Jacques jr. sê melkproduksie is die belangrikste faktor in enige melkboerdery. Daarom is dit die belangrikste eienskap waarvoor hy selekteer. Sy doelwit is om 'n ideale koei te teel wat 7 500 kg melk oor305 dae kan lewer met bottervet van 5 % en proteïen van 4 %.
Met sy gemiddelde daaglikse produksie van 25 liter per koei (met bottervet van5,04 % en proteïen van 3,78 %) is dit duidelik dat hy baie naby aan sy doelwit met sy kudde is.
Hy selekteer bulle vanoor die hele wêreld en geen bul onder 'n betroubaarheid-syfer van 80 % is aanvaarbaar nie. Wanneer dié bulle geïdentifiseer is, word die keuse verder verfyn deur die seleksie van diere met 'n gunstige teeleffek op bogemiddelde melkproduksie en op vastestowwe, soos proteïen en bottervet.
Alle bulle moet ook 'n hoë tipe-indeks hê om langslewendheid te bevorder en goeie uiereienskappe, soos vooruieraanhegting, agteruiterhoogte- en breedte, mediale ligamente en speenplasing. Goeie hoewe en bene is ook belangrik. Geen bul sonder beproefde syfers word in die kudde toegelaat nie.
Hy gebruik 'n maksimum van vier sorgvuldig geselekteerde bulle sodat die goeie teelmateriaal 'n gunstige impak op die kudde kan hê. Wanneer hy bulle kies, staan mnr. Poena van Niekerk, hoofbestuurder van Jersey SA, hom by. Moll ondersteun die Jersey SA-teelprogram op klein skaal.
Hy gebruik net sy eie verse. Net KI word gebruik - geen natuurlike dekking nie. Hy laat sy diere reg deur die jaar kalf en probeer om die verse dragtig te hê voordat hulle 15 maande oud is. Die verse word maandeliks geweeg. Sodra hulle 230 kg weeg, word hulle in die KI-groep geplaas en geïnsemineer sodra hulle die eerste keer op hitte kom.
BLUP-syfers word in ag geneem veral wanneer hy moet besluit oor die uitskot van koeie, maar 'n hoë produseerder sal nie op grond van BLUP-syfers in die slag bly nie. Vir Moll is die grootste waarde van BLUP-teelwaardes om die vordering van sy kudde te beoordeel.
Sonder goeie voeding sal 'n melkboer ook nie goeie produksie kry nie. Daarom is dit belangrik dat sy diere net voer van die heel beste gehalte en van die heel beste bronne kry.
Alle melkbeeste kry 'n totaal gemengde rantsoen wat op die plaas gemeng word. Mnr. C.M. Kotze van Afgri formuleer die rantsoen vir elk van die groepe, naamlik junior produseerders bo 20 l/dag, senior produseerders bo 'n sekere minimuml/dag, lae produseerders, droë koeie, die opstoom-groep van diere 21 dae voordat hulle kalf en die versgroepe waar diere volgens hul ouderdom en dragtigheidstatus ingedeel word.
Die rantsoen vir produserende koeie bestaan uit water, melassemeel, mieliemeel, katoensaad, lusern, koringstrooi, mieliekuilvoer wat op die plaas gemaak word en 'n proteïenaanvulling.
Omdat voeding die grootste uitgawe is, word dit spesifiek baie deeglik gemonitor en die voorraad baie noukeurig beheer. Die wins bo voerkoste word elke dag bepaal. Om dit noukeurig te kan doen, word die voer elke dag presies reg gemeng en aangeteken sodat die wins bereken kan word. Die werkers wat daarmee werk, word baie deeglik opgelei.
Goeie melkproduksie word al by kalwers gevestig. Die kalf word net ná geboorte van die koei weggeneem. Dit verminder die stres op albei diere omdat daar nie 'n band vorm nie. Die belangrikste rede waarom hy die kalf wegneem, is egter sodat hy die hoeveelheid en gehalte kolostrum (biesmelk) wat die kalf inneem, kan bepaal.
Kolostrum van 'n goeie gehalte word gevries en ontdooi wanneer 'n verskalf gebore word. Elke verskalf kry net ná geboorte of so gou as moontlik daarná, 2 l tot 4 l kolostrum. Dié voeding word drie dae volgehou, waarna die kalf surrogaatmelk kry.
'n Verskalf se naelstring word onmiddellik ná geboorte ontsmet en die dier kry 'n vitamien A-aanvulling asook 'n inenting met 'n entstof wat haar teen E. coli enclostridium perfringens beskerm. Hoewel dit nie vir gebruik op kalwers geregistreer is nie, word baie sukses daarmee behaal.
Van die derde dag af kry die kalwers kalfaanvangskorrels en sodra die inname sowat 700 g/dag is, word een melkvoeding met 'n watervoeding vervang. Dan het die kalf ook deurlopend water beskikbaar. Ná een week word albei melkvoedings met water vervang wat teen dieselfde temperatuur as die melk gevoer word. Moll glo dit verminder stres.
In dié stadium word die kalf teen clostridium ingeënt.
Nadat die kalf gespeen is, kry sy 'n mengsel van aanvangskorrels en groeimeel waarin sy aan ruvoer in die vorm van fyngemaalde lusern blootgestel word.
Die kalwers word vir die hele melkvoeding tot drie weke ná speentyd in verskuifbare enkelhokkies gehou. Die volgende twee maande word hulle in kalfhokke met sowat sewe kalwers elk aangehou sodat hulle kan leer om te sosialiseer en vir hul plekke in die rangorde te sorg.
Vir die volgende stadium word die kalwers saam in groot groepe geplaas, naamlik die groeimeelgroep, die voor-KI-groep, die KI-groep en die groep vir dragtige verse.
Die voor-KI-groep word geweeg. Die groeimikpunt is minstens 600 g/dag. Op 'n gewig van 235 kg - verkieslik tussen12 maande en 14 maande - gaan die verse na die KI-groep. Die doelwit is dat die verse op 15 maande reeds ge-KI en dragtig gesertifiseer moet wees.
Vir Moll is aspekte soos eenvormigheid, bouvorm en die getal kalwers nie die alfa en omega van sy boerdery nie. Hy glo produksie is die belangrikste in 'n melkboerdery. Daarvoor is 'n lewenskragtige kudde van hoogs produserende diere nodig.
Hy het vir homself reëls gestel waarvolgens koeie in die kudde uitgeskot word. As 'n koei 'n tweede keer mastitis kry of haar produksie onder 20 l/dag daal en sy nie dragtig bevestig word nie, word sy uitgeskot. Dieselfde geld 'n dier waarvan die uier só verswak het dat sy persoonlike aandag in die melkstal nodig het.
In sy 12 punt-visgraat-oorswaaistal melk Moll 170 koeie twee keer per dag. In 'n melkery is kontantvloei die spil waarom die ganse finansiële beplanning draai. Hy beplan voortdurend. Sy besluite oor ontwikkeling hang onder meer van die kontantvloei af. Daarom word die kontantvloei by Moll's Hoop vier jaar vooruit beplan.
Sy vrou, Linda, wat die finansiële bestuur en adminis-trasie van die boerdery behartig, asook sy bankbestuurder en boekhouer, wat elke aspek van sy boerdery ken, staan hom hierin by.
Terselfdertyd kan hy ook nie sonder sy lojale werkerskorps klaar kom nie. Elkeen van die werkers is opgelei om sy werk so goed moontlik te doen. Hulle is deel van die besluitneming en word oor elke aspek van die boerdery op die hoogte gehou. Elkeen is verantwoordelik vir die take in 'n spesifieke afdeling.
Deur sy eie foute reg te stel, die werkers te motiveer, op hul sterkpunte te konsentreer en hulle aan te moedig, het hy 'n uiters gemotiveerde groep werkers.
Moll ruil ook graag inligting uit met ander Jersey-telers, mense wat soos 'n groot familie is en wat nie omgee om mekaar te help nie. Dit dien vir hom as 'n bron van stimulering en groei deur ook betrokke te wees by Jersey SA.
Hy som sy eie wenresep op deur te sê geen melkboer is nie die een of ander tyd moedeloos nie. Hy oorkom dit deur hulp buite homself te soek - heel eerste by die Here, by vriende en familie, 'n span konsultante sonder wie hy nie sou kon voortgaan nie en lojale werkers op wie hy kan staatmaak.
7 April 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24