In ’n poging om ’n goedkoop vervanging vir mielies in voer te vind, het ’n melkboer van Indiana, Amerika, op ’n goeie aanbod vir strooilekkers wat oor roomys gegooi word, afgekom. Mnr. Mike Yoder sê sy melkkoeie geniet deesdae kleurvolle voer, wat koekies, jelliewurms, malvalekkers, die graankos Fruit Loops, lemoenskil en gedroogde bessies insluit.
Veeboere in Amerika voer hul beeste glo basies enigiets wat as vervanging vir die stylselagtige, soet inhoud van mielies gevind kan word: “Enigiets wat die prys van voer kan afbring,” sê Yoder volgens ’n berig op News24.com.
Sjokolade vir koeie?
Sjokolade is van tyd tot tyd ook op die spyskaart. Mnr. Hansen Mueller, verbonde aan Grain from Omaha, bemark saam met hawer en grondboontjiebotter-korrels ook sjokolade. Hy sê dit kom uiteindelik neer op die vet, suiker en energie wat in die voer voorkom.
Dié alternatiewe vir mielies word deur makelaars in Amerika bemark sedert die prys van mielies en sojabone weens die droogte die hoogte ingeskiet het. Voorrade van dié gewasse is in party dele van die land só beperk dat niks daarvan teen enige prys beskikbaar is nie.
Die “neweprodukte” wat vir diere gevoer word, beteken tans vir party kopers besparings van 10% tot 50%. Amerika se mielie-oes gaan na verwagting vanjaar die kleinste in ses jaar wees.
Bron: News24.com