Speenkalfpryse kan teen Desember vanjaar sowat R28 per kilogram bereik, en volgende jaar gaan dit moeilik wees om rondom R15 per kilogram vir beesvleis te kry.
“Die prys het tot sowat R15,30 per kilogram gedaal, en volgens ons modelle kan dit volgende jaar die R15-merk of selfs R14,80 per kilogram bereik,” aldus mnr.
Ernst Janovsky, hoof van
Absa Agribesigheid.
Dié situasie is volgens Janovsky die gevolg van stygende graanpryse wat tot die verkleining van kuddes sal lei, asook gebrekkige weiding weens die droë toestande. “Ons verwag dat die vleisprys gaan afkom vir sowat ’n jaar en ’n half, maar daarna gaan die prys weer styg, want minder vleis gaan weens kleinder kuddes beskikbaar wees.”
Laer pryse gaan wel nie noodwendig na verbruikers deurgegee word nie, meen Janovsky.
PluimveebedryfJanovsky het ook nie goeie nuus vir die
pluimveebedryf wat tans enorme prysdruk ervaar nie. Hy sê die regulasies wat nou oorweeg word oor die hoeveelheid soutwater-oplossing wat in hoender ingespuit mag word, verklein die gaping in die prys tussen bevrore hoender en vars hoender. “Dit het gelei tot ’n groot ooraanbod van bevrore hoender wat tans in vrieskaste lê en pryse afdruk.”
Hy sê dié situasie kan lei tot ’n groot afname in produksie, en net groot rolspelers sal dit oorleef. “ ’n Groot ‘shake out’ is vir die bedryf op pad.”
MielieproduksieDie druk wat mielievoorrade tans weens die
droogte in Amerika en die groeiende vraag na die gewas ervaar, kan volgende jaar lei tot ’n
mielieprys van R3 500 per ton.
“So, ons kan in die komende seisoen mielie-aanplantings van hoekpaal tot hoekpaal verwag,” voorspel Janovsky. Hy verwag dat aanplantings ’n tawwe weerstoestande gaan ervaar, veral omdat grondvogvlakke laag is.
Dié situasie en hoë pryse gaan tot die druk op veebedrywe bydra, aldus Janovsky.
Tans is koring een van die min gewasse in die wêreld waarvan daar ’n oorskot is, en Janovsky verwag dat plaaslike koringpryse in die komende jaar tussen R2 800 per ton en R3 000 per ton kan wissel. Hy meen dit is interessant as ’n mens na die ooraanbod kyk, dat die prys van brood tans styg.
Verder meen Janovsky die land het ’n reuse-potensiaal vir sojaboon-aanplantings, en hy verwag dat dié gewas se prys rondom R5 000 per ton kan wissel.