Met wenke uit Landbouweekblad en 'n paar "eie planne" behaal 'n "spesialis-kalfgrootmaker" ongekende sukses.
"Daar's net één manier om kalwers groot te maak. Dis die regte manier - soos ek uit Landbouweekblad geleer het. "
Die man wat só praat is 'n boer wie se heeltydse taak dit is om elke jaar genoeg vervangingsverse vir 'n melkkudde van nagenoeg 160 koeie in melk te voorsien. Trouens, 'n mens kan tereg sê kalfgrootmaak is as't ware sy spesialis-vakgebied. Boonop huiwer hy nie om sy ervaring met medeboere te bespreek nie.
Dié man is mnr. Eugene Beyleveld van Rietfontein, Potchefstroom, en die melkery aan wie hy verse verskaf, is die J.C. Pienaar-boerdery op die plaas Rooipoortjie, 20 km verder op pad Potchefstroom toe.
Beyleveld vertel hy het in 1988 vir sy pa met dieselfde naam, 'n prokureur van beroep, begin help het om 'n Jersey-melkery te bedryf. Wyle Beyleveld sr. het 'n voorliefde vir lees gehad. Daarby het hy die gewoonte gehad om elke artikel in Landbouweekblad oor onderwerpe wat sy belangstelling geprikkel het, netjies uit te haal en volgens onderwerpe te liasseer. Dit beslaan al etlike volumes en sluit in artikels oor melkboerdery in die algemeen, kalfgrootmaak, skaapboerdery, voer en voermaakprosesse, natuurlike veld- en aangeplante weidings, grassoorte, vleisbeeste, en nog talle meer.
Vir Beyleveld was en is hierdie unieke "naslaanbiblioteek" uiters waardevol. "Ja, nuwe inligting en planne is belangrik. Maar ek hou veral daarvan om uit ander ouens se suksesse én foute te leer. Ek vind dit stimulerend en spaar 'skoolgeld'. Elke stukkie raad wat werk, is waardevol. En Landbouweekblad se artikels het dit, "sê hy.
Sedert 1988 het hy elke moontlike proses of stelsel getoets om kalwers groot te maak - van individuele hokkies met hortjiesvloere onderdak tot buite op weidings waar die kalwers vry rondloop.
Hieruit en aan die hand van ander melkboere se ervarings het hy ontdek daar is net één manier van doen: Die regte manier, naamlik volvoerrantsoene vanaf geboorte tot op die ouderdom van sewe maande.
Bygesê, elke bek vol voer moet 'n gebalanseerde rantsoen wees wat voorsien in al die behoeftes wat die diere in enige spesifieke stadium van ontwikkeling nodig het - van spoorelemente tot proteïen- en energiebehoeftes.
Hiermee word volgehou tot die natuurlike speenouderdom van sewe maande. Daarna word hulle verskuif na weidings en/of hooi plus aanvullings van 'n gebalanseerde konsentraat een keer per dag. Hiermee word volgehou tot op die ouderdom van 24 maande. Wanneer die verse 12 maande tot 15 maande oud is, word almal geïnsemineer sodat hulle hul plek in die melkstal kan inneem wanneer hulle 24 maande tot 28 maande oud is, sê Beyleveld.
Uiteraard verg so 'n stelsel vingerpuntbestuur. En juis daarom is die grootmaak van kalwers inderdaad 'n spesialiteit. Groepe verse word byvoorbeeld elke maand geweeg vir die berekening van aangepaste rantsoene.
Boonop word elke vers van die begin af elke drie maande individueel geweeg om haar groei te monitor. Volgens Beyleveld help dit om swak groeiers betyds uit die stelsel te verwyder, want dis duur om 'n vers groot te maak.
Tot voor die begin van die huidige kalftyd het dit sowat R5 000 gekos om 'n verskalf groot te maak. Vrektes wat teen verliese afgeskryf moet word, of verse wat wel kalf maar as swak melkers ná die eerste 100 dae in die stal uitgeskot moet word, verhoog die koste tot net meer as R6 000 per vervangingsvers in effektiewe produksie.
"'n Mens moet ook onthou wanneer jy verse by iemand anders koop, kan jy uitsoek. Wanneer jy hulle self grootmaak, kry jy hulle 'voetstoots' - sonder uitsoek. Verse wat in die stal nie die pyp rook nie, byvoorbeeld weens uierprobleme, verhaal darem in slagwaarde 'n deel van hul grootmaakkoste," sê hy.
Die melkery gebruik Holsteins en Jerseys. Laasgenoemde verteenwoordig sowat 'n derde van die kudde en is ietwat goedkoper om groot te maak vanweë hul kleiner raamgrootte.
Beyleveld maan egter dat 'n mens versigtig moet wees om verse nie so te voer dat hulle te vinnig groei nie. Hy gee vir 'n vers wat die " boek" sê sy moet kry. Vir enigiets meer moet sy haar behoeftes toon, soos wanneer sy byvoorbeeld te vet word.
Dikwels gaan dit om regstellings in die balans tussen proteïen en energie van die rantsoen na gelang van die groep se reaksie en die tyd van die jaar. Hy bereken self die samestelling van die rantsoene en gebruik geen hoendermis nie. Hy verkies om nie mieliereste en swak ruvoer vir verse jonger as sewe maande te voer nie.
In beginsel gaan die grootmaak van verse daarom om fisiologiese grootte met geslagsrypheid op 12 tot 13 maande ouderdom te balanseer. Dit is die ouderdom waarop wanneer sy kunsmatig geïnsemineer moet word. Dis maklik om 'n vers te voer dat sy 1 kg en selfs meer per dag swaarder word, terwyl sy langer as gewoonlik moet wag om geslagsryp te raak. In dié tyd raak sy gewoonlik so vet dat sy in elk geval sukkel om beset te raak, verduidelik hy.
Die ideale groei is volgens hom 800 g per dag oor die hele groeifase vir Holsteins en tussen 600 g en 700 g per dag vir Jerseys. 'n Groot deel van die geheim is gereelde weegsessies en aanpassings van rantsoene - verkieslik weekliks, maar nie met langer tussenposes as 'n maand nie.
Op 'n keer het hy byvoorbeeld geprobeer om die kalwers op voersorghumweiding groot te maak. Oor drie maande het hulle geen gewigstoename getoon nie. Die rede: Te hoë voginhoud en te min voedingstowwe. Veral op enige vorm van weiding is gereelde monitering uiters belangrik.
"Dis makliker om konstante groei te handhaaf as wat dit is om groei sporadies te stimuleer, soos voor dektyd, " sê hy. Dieselfde nougesette prosedure geld vir die handhawing van 'n goeie gesondheidsprogram. Dit sluit veral in ent en doseer op die regte tye. Hy is besig om die hele stelsel op 'n "koeihorlosie" soos dié vir teling te konstrueer.
Ter verduideliking van sy samewerkingsooreenkoms met J.C. Pienaar-boerdery, sê Beyleveld dat Pienaar sy Jerseys huurmelk, terwyl laasgenoemde Beyleveld se grond huur en hom 'n salaris betaal vir die grootmaak van die verse. Met 160 koeie in melk beteken dit dat sowat 80 verse elke jaar aan die melkery verskaf moet word, wat genoeg ruimte vir vervanging laat. Dit beteken daar moet altyd minstens 160 verse in die grootmaakprogram wees.
Die kudde is egter steeds in 'n boufase na 'n mikpunt van 300 koeie in die stal. Dit beteken 300 verse in die grootmaakprogram sodat daar elke jaar sowat 150 diere verkoop kan word.
Wat teelmateriaal betref, sê Beyleveld hulle gebruik 'n impak-bul 'n jaar lank - een vir die Holsteins en een vir die Jerseys. 'n Bepaalde bul teel nooit goeie verse uit elke koei in die kudde nie, maar normaalweg altyd 'n aantal verse wat goed presteer. Dis hoe die genetika werk. Aan die een kant kan 'n goeie bul 'n topvers uit 'n swak koei teel. En ewe maklik 'n nikswerd-vers uit 'n topkoei.
Deur uitsluitlik 'n beproefde KI-bul by al die koeie te gebruik, haal 'n mens darem 'n skotige deel uit die waag. Jy kry minstens 'n seleksie van 'n meer betekenisvolle aantal diere wat genetiese vordering toon ten opsigte van jou teeldoelwitte en waarop sinvol voortgebou kan word, sê hy.
Hulle gebruik net KI by al die vroulike diere. Betroubare bulle wat by plaaslike toestande aangepas is, word gebruik.
Die klem lê op bulle wat goeie uiers teel. Daarmee bedoel hy nie hoë melkproduksie nie, maar 'n funksioneel doeltreffende koei met 'n uier wat lank hou. Hul norm by bulseleksie is dus eerstens 'n goeie uierbul; dan volg goeie hoewe vir hul klipperige omgewing, goeie bene en dan melk. By die Jerseys waar Beretta-bloed byvoorbeeld volop is, word, waar moontlik, goeie onverwante bloedlyne vir kruisteling gesoek.
Landbouweekblad, 05 Oktober 2007