|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Hy is waarskynlik die enigste wolboer in Namibië. Dié boer skryf sy sukses in 'n tradisioneel Karakoel-wêreld toe aan aangepaste diere en 'n bestuurstelsel wat op wolskaapboerdery toegespits word.
Die grootste rede waarom mnr. Willem Knouwds welslae behaal met sy skaapboerdery in 'n tradisioneel Karakoelskaapomgewing, is dat hy sy hele bestuurstelsel aangepas het om met wolskape te boer en aangepaste diere gebruik.
Hy boer op die plaas Rotterdam van net meer as 11 000 hektaar in die klipperige omgewing van Helmeringhausen in Namibië. Die plaas is nie na die bekende Nederlandse stad genoem nie, maar toe sy ma se mense dit in die 1940' betrek het, was daar 'n klein dammetjie wat volgens die mense net genoeg was om rotte mee water te gee.
Knouwds is vandag waarskynlik die enigste wolboer wat in Namibië oor is. Hy meen die feit dat hy sy bestuur totaal aangepas het vir die wolskaapboerdery en dat hy aangepaste diere gebruik wat met vleisproduksie hul man kan staan en daarby nog 'n wolinkomste gee, bring vir hom welslae.
Sy pa het hom na die hoër landbouskool op Tweespruit in die Vrystaat gestuur waar hy met wolskape kennis gemaak en baie van hulle geleer het.
Maar toe hy in 1977 gaan boer, was dit 'n Karakoelplaas waarop pelse geproduseer is van 'n kudde van sowat 2 400 ooie.
Maar op daardie tyd het die pelspryse begin tuimel. In 1977 was die gemiddelde prys R21/pels en teen November daardie jaar het dit tot R14/pels gedaal. Daarna het dit effens herstel tot R16/pels, maar in 1981 het dit tot onder die R10/pels geval.
Benewens die Karakoele het hy nog 'n klompie Dorpers gehad, maar hy moes besluit waarmee hy die Karakoele gaan vervang. Met sy ondervinding van wolskape het hy besef daarmee kan hy ook, soos met die Karakoele, twee produkte bemark, naamlik wol en vleis. En in 1981 het hy sy eerste twee Letelle-ramme by Mannetjies Roux, oud-Springbok-rugbyspeler van Victoria-Wes, gekoop.
Toe het hy begin om sy Karakoele te verminder. Vir elke twee ooie wat hy verkoop het, kon hy een Letelle-ooi koop. Vandag boer hy met sowat 1 600 ooie, wat meebring dat daar gewoonlik sowat 2 400 skape op sy plaas is.
Hy het uit die staanspoor by wolboere in die Karoo en ander wolstreke gaan kers opsteek en sy hele bestuurstelsel aangepas. Vandag gebruik hy 'n vaste lam- en skeertyd.
Die ramme word in April en Mei by die ooie gesit (een ram per 50 ooie), die eerste week in Augustus word die skape geskeer en die ooie lam in September en Oktober met kort wol.
In goeie jare laat hy sowat een derde van die ooie in die reëntyd lam, sodat hy die vleismark deur die jaar kan benut. Die gemiddelde lampersentasie wissel van 120 tot 130.
Op 'n tyd het probleemdiere sowat 10 % van sy wolskaaplammers en tot 50 % van die Van Rooy-skaaplammers wat in bergkampe geloop het, gevang. Toe het hy sy hele plaas met 'n elektriese heining beveilig en sedertdien het dié skade feitlik verdwyn.
Hy moet weliswaar somtyds nog bekamping toepas, maar dit is deesdae baie makliker en daarby het die eerste sowat 100 ekstra lammers wat hy kon bemark, vir die elektrifisering van die heining betaal.
Hy gebruik sonpanele (drie kragbronne) met batterystelsels om die buiteheining en langs die deurpad wat sowat 75 km lank is, te bedien.
Al die ramlammers én die ooilammers wat nie as vervangingsooitjies in die kudde opgeneem word nie, word bemark wanneer hulle sowat 6 maande oud is en gemiddeld 17 kg tot 18 kg uitslag.
Dié lammers behaal gewoonlik dieselfde grade as die vleisskaaplammers wat in die gebied bemark word. Verlede jaar is 98 % van sy lammers as A2- en A3-karkasse gegradeer en 71 % daarvan was geskik vir uitvoer.
Ál die skape word elke jaar geskeer en nie een lam word bemark sonder dat hy geskeer is nie. Hy kry gemiddeld sowat 1,5 kg wol van die lammers af, wat 'n ekstra inkomste van R49 per lam beteken.
Die ooie gee elk gemiddeld 4 kg wol van 18 mikron tot 19,5 mikron. Die lammerwol is tot 16,5 mikron dik.
Skeerders uit Namaland word gebruik en hy het van sy eie werkers ook opgelei. Hulle skeer gemiddeld 50 tot 60 skape per skeerder per dag. Die wol is tot dusver in Kaapstad bemark, maar dié gerief word nou gesluit en die wol moet voortaan Port Elizabeth toe. Hy sorg self vir al die permitte.
Knouwds se woltjek (deesdae teen gemiddeld R26/kg vir al die wol) was nog nooit minder as R100 000 per jaar nie. As hy sy somme maak, wys dit dat hy beter daaraan toe is as 'n boer wat net vleislammers bemark en dat hy, nes Karakoelboere, ook ekstra geld met sy lammers verdien. Al verskil is dat Karakoelboere die lammers vroeër van die veld kan haal, wat meebring dat hy effens meer ooie kan aanhou.
Daarby kry hy feitlik dieselfde vir sy skaapvelle as wat Dorperboere kry. 'n Kortgeskeerde, gesoute vel haal op die plaas gemiddeld R9/vel, met wol van 'n medium-lengte haal dit gemiddeld R13,50/vel en met lang wol kry hy gemiddeld R18/vel.
Baie van die velle met medium- en lang wol aan word verwerk in medisinale produkte en pantoffels. Hy meen as 'n mens dié mark reg ontgin, kan jy nóg meer vir die velle kry.
Knouwds sê aanvanklik was die wolskape wat in Namibië gebruik is, van wisselende gehalte en het kenners aan die boere voorgeskryf dat hulle nie te groot ooie moet gebruik nie. In 1992 se rampdroogte het hy op sy plaas ondervind dat die groter ooie die beste oorleef het. Ná die droogte het hy net sowat 700 ooie oorgehad.
Volgens 'n ooreenkoms kry hy elke jaar ramme van mnr. Willie du Toit, 'n bekende teler van Rietfontein, De Aar, en mik hy daarna om sy ooie gemiddeld 65 kg lewend te laat weeg. Daar word deurentyd geselekteer vir swaarder diere met 'n goeie groeitempo.
In die proses word woleienskappe nie agterweë gelaat nie en ramme met 'n duidelike kartel in die wol en 'n uitstekende bouvorm word gebruik.
Hy ondervind min aanpassingsprobleme met dié skape. As hy skape koop, word 'n skaap op sy plaas geslag, die pensmis met water gemeng en word die nuwe skape daarmee gedoseer.
Sy ooie lam in die veld in "veilige" kampe waar die risiko van skade weens roofdiere laag is. Kort ná die lammers aangekom het, word die skape so min moontlik versteur om te keer dat lammers afdwaal.
Wanneer die lammers ses tot agt weke oud is, word hulle gemerk en die ramlammers gekastreer. Hulle word gespeen wanneer hulle sowat 25 kg weeg. Dan word die ooie weggevat en 'n paar ou ooie word by die lammers ingesit. Sowat 20 % van die ooie word jaarliks met die beste jong ooitjies vervang.
Die ooilammers loop afsonderlik totdat hulle op die ouderdom van 12 tot 13 maande klaar gewissel het en dan word ramme by hulle gesit.
Die weistelsel pas by die klimaat aan, maar hy poog om elke jaar een derde van die plaas 'n volle groeiseisoen te laat rus (gewoonlik dié deel van die plaas waar dit goed gereën het).
Omdat die klimaat so wisselvallig is, het hy nie 'n vaste, geykte stelsel nie, maar probeer om buigsaamheid te handhaaf. Die kampe is gemiddeld 500 hektaar groot en hy probeer om die diere in die kampe elke twee tot drie maande te skuif. Hy gebruik die goeie weigewasse as aanduiders wanneer die diere moet skuif.
Hy beoog om sy kudde uit te bou tot sowat 1 800 ooie sodat hy elke jaar sowat 2 600 diere het om te skeer. Sy plaas kan sowat 2 700 kleinvee-eenhede dra, maar hy moet ook voorsiening maak vir die wild wat voorkom.
Landbouweekblad, 27 Julie 2007.
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24