Nuwe lig op kalfprobleme

 

'n Klein bekkenopening van verse en koeie is die vernaamste rede waarom talle vleisbeesboere met kalftydprobleme sukkel. Daar is 'n maklike manier om dié probleem te beëindig.

Verkeerde raad vir die oplossing van kalwingsprobleme het die Suid-Afrikaanse vleisbeesbedryf miljoene rande se skade berokken omdat die skuld net voor die bul en die kalf se deur gelê is. Daar is nooit gekyk wat die koei se aandeel is en wat daaraan gedoen kan word nie.

Dr. Pieter van Zyl, 'n veearts van Heilbron, sê 'n deeglike ondersoek van 'n vers se bekken skakel die 10 % diere uit wat vir 80 % tot 90 % van die geboorteprobleme verantwoordelik is. Die probleem word dus grootliks opgelos.

Die ondersoek van verse se bekken voor hul eerste dekking is 'n eenmalige prosedure. Die doel daarvan is om moeilike kalwings te verminder, reproduksie te verbeter en die produksie en winsgewendheid van 'n kudde te verhoog.

Kalftydprobleme kos die boer geld. Die koei én die kalf kan vrek. Dit is 'n slegte ding in enige kudde en hy glo veeartse het ook vandag beter dinge om te doen as om van die een moeilike kalwing ná die ander te jaag.

"Die raad wat sowat 40 jaar lank verkondig is om bulle met 'n ligte geboortegewigte te gebruik en verse vir die laaste derde van hul dragtigheid te ondervoer, vang die boer in 'n bose kringloop vas iets wat die produktiwiteit van sy kudde dramaties knou. Deur te aanvaar dit is net die bul se skuld en daarop te konsentreer, word 'n ras se hele profiel verander, die produksie-eienskappe verloor en ál kleiner diere geteel."

Van Zyl sê een nag op pad huis toe, ná nog 'n keisersnee op 'n koei wat nie 'n kalf van 28 kg kon uitkry nie, het hy besef die meeste mense het 'n denkfout gemaak deur ál die skuld voor die bul en kalf se deur te lê.

Daarmee word geprobeer om die een fout met 'n ander fout reg te stel. Ongelukkig glo waarskynlik 99 % van die boere dit is reg. Navorsing in Amerika wys die geboortegewig van 'n bul het baie min invloed om moeilike geboorte by verse te voorkom.

Deur ál meer ligter kalwers te teel, ontstaan verskeie nadele. "Lig by geboorte is gewoonlik lig teen speentyd, op 12 maande, op l8 maande én die res van die dier se lewe.

"Die vers wat lig is met geboorte is kleiner, haar bekken is kleiner en as met haar geteel word moet 'n bul met 'n nog ligter geboortegewig gebruik word.

"Diere wat met geboorte lig is (alle soorte én binne rasse) se kans om te vrek is 20 % hoër as dié wat swaarder is."
Die ironie is dat dié benadering die kalwingsprobleme in 'n kudde nie altyd oplos nie.

Sowat 4 % tot 16 % van die kalwers wat aankom, is binne 'n bepaalde ras moeilike kalwings. Dit is die gevolg van 'n wanverhouding tussen die grootte van die koei se bekken en die grootte van haar kalf. Dit is hoekom ál die koeie wat deur dieselfde bul gedek is, nie kalwingsprobleme het nie.

Sowat 80 % tot 90 % van die vroulike diere gee normaal geboorte, maar die bul word nog altyd verkwalik vir die 10 % tot 20 % probleemkalwings.

Die kalf én die koei het 'n aandeel in die probleem. Die kalf kan te groot wees as gevolg van dubbelbespiering, maar die koei kan moontlik 'n abnormale bekkenvorm (byvoorbeeld V-vormig) hê, iets wat net so 'n geldige oorsaak kan wees.
'n Abnormale ligging van die kalf, met die pote of kop gedraai, kan ook 'n oorsaak wees, maar hy is oortuig 80 % van die kalwers draai omdat hulle nie in die bekkenholte kan inkom nie.

Die dratyd verskil met tot 15 dae. Omdat die kalf tydens die laaste derde van die dragtigheidstydperk die vinnigste groei (tot 0,5 kg/dag), het dit 'n betekenisvolle uitwerking op die geboortegewig. Die vers wat 15 dae langer loop se kalf kan dus maklik 5 kg swaarder wees.

Hierdie is 'n genetiese eienskap van bulle. In België word bulle volgens dratyd geselekteer en nie hul geboortegewig nie. Daarteenoor is die ligte geboortegewig (ver onder die rasgemiddeld) van bulle gewoonlik nie 'n genetiese eienskap nie, maar die gevolg van 'n wanaangepaste moeder.

Só word dié swak eienskap van die koei, wat onder meer voedingsgewys nie die mas kon opkom nie, geselekteer en teel die boer minderwaardige diere. Rasgenootskappe en boere wat dié beleid vir drie geslagte volg, se bulle teel 'n nageslag met swak speengewigte.

Deur bulle met 'n ligte geboortegewig te gebruik, word net die helfte van die probleem reggestel. Dit is ook nie betroubaar nie, is gewoonlik nie oorerfbaar nie en is sonder twyfel ekonomies nadelig.

Hy glo minstens 50 % van die probleem lê by koeie waarvan die bekkenopening te klein is. Hy het begin deur die bekkenopening met 'n skuifliniaal te meet soos dit in die buiteland gedoen word.

Omdat hy nie konstant akkurate lesings kon kry nie, het hy begin om die metings met sy hand te doen. Hy het die hele bekken ondersoek, want hy het die idee gekry dat dit nie net die oppervlakte van die bekken (hoogte maal breedte) is wat belangrik is nie eerder dat die hele konstruksie daarvan bepaal of 'n kalf daar kan deurkom. Dit kan hy beter met sy hand vasstel, het hy bevind.

Hy probeer nie voorspel watter verse nie kan kalf nie of om een boer se verse met 'n ander s'n te vergelyk nie. Hy wil die 10 % van die verse met die kleinste bekkenopeninge identifiseer en uit die kudde kry, want hy glo hulle is verantwoordelik vir 80 % tot 90 % van die moeilike kalwings.

Van Zyl sê die telers van party rasse het diere met 'n pragtige gelyk rug geteel en in dié proses het die stertwortel ook 'n hindernis in die kalwingsproses geword omdat die kalf se kop daarteen vassteek.

By feitlik ál die rasse word die sitbeenwydte met die oog van agter af beoordeel en party het so oulik geraak dat hulle dit meet. Maar dit help alles niks as die dier dáár wyd is en die bekkenopening binne nou is nie. Die sitbene vorm die vloer van die bekkenopening en speel nie só 'n groot rol nie.

Hy verkies om die hele bekken te beoordeel en dan te besluit of die vers by die bul kan kom, want dit maak nie ekonomiese sin om 'n dier dragtig te kry wat nie kan kalf nie.

Dié bekkenondersoek is dan net die helfte van die prosedure. Wanneer hy dié ondersoek sowat 'n maand voor dektyd doen, ondersoek hy die baarmoeder en eierstokke en ken 'n punt aan die vers toe wat regstreeks korreleer met haar kans om dragtig te raak. In dié proses kan hy die laatryp-kandidate identifiseer en uitskot.

Verse wat geselekteer word om by die bul te kom, se gewig moet minstens 65 % wees van die gemiddelde gewig van die volwasse koeie in die kudde en moet ook 'n kondisiepunt van 3 tot 3,5 hê, anders gaan die besetting swak wees.

Daarby moet die eierstokke van die verse 85 % aktief wees. As verse nie aan dié vereistes voldoen nie, is dit lonender om die dekseisoen uit te stel of om meer voer te gee.

Hy raai boere aan om die kudde in drie voedingsgroepe te verdeel: Vervangingsverse, dragtige eerstekalfverse en maer koeie en dragtige koeie in 'n goeie kondisie. Só kan die diere hulself beter in hul eie groep handhaaf.

Dit is raadsaam om sowat een en 'n half maal soveel verse as wat vir vervanging nodig is, te selekteer sodat dié wat uiteindelik nie inpas nie, uitgeskot kan word.

Die verse moet sowat twee maande voor die dekseisoen in twee groepe verdeel word. Die ligter groep moet gevoer word sodat hulle eenvormig kan wees en op 14 maande tot 16 maande minstens 65 % van die gemiddelde volwasse gewig van die kudde weeg.

"Beplan die dekseisoen van die verse sodat dit sowat 20 dae voor die dekseisoen van die koeie begin. Die verse het dan 'n langer tyd om beset te raak.

"Selekteer 'n bul met 'n ligte geboortegewig, maar wat goed gegroei het. As dié stelsel vir drie of vyf jaar doelgerig toegepas word, kan 'n eenvormige kudde gebou word en 'n geslaagde produksieplan gestalte kry."

Voorkom ondervoeding

Die doelbewuste ondervoeding van verse in die laaste fase van dragtigheid om kalwingsprobleme op te los, is waarskynlik dié raad wat die plaaslike vleisbeesbedryf die grootste skade berokken het.

Dr. Pieter van Zyl, 'n veearts van Heilbron, sê dit gee weliswaar 'n lae geboortegewig, maar voorkom nie moeilike kalwings nie, want 'n vers se bekken groei liniêr 0,31 kubieke sentimeter per dag met optimale voeding. "As die vers ondervoer word, sit 'n mens met 'n kleiner kalf én 'n koei met 'n kleiner bekken, wat permanent geknou is".

Kalwers met 'n ligte geboortegewig weens die ondervoeding van die ma, is lig met speen, op 12 maande, op 18 maande en is immuungestrem wat tot vrektes van 10 % tot 20 % lei.

Daardie koei raak moeiliker of glad nie weer beset nie. As sy beset raak, is dit laat en gee sy die volgende jaar weer 'n ligte kalf. "Die boer verloor heelpad", sê Van Zyl.

Bulle wat uit verhongerde verse geteel is, skep die indruk dat hulle 'n ligte geboortegewig het, maar dan is dit nie 'n genetiese eienskap nie. Só 'n bul kan steeds swaar kalwers gee.

Navorsing wat met skape gedoen is, en dit geld waarskynlik beeste ook, wys dat gebrekkige voeding vyf tot ses maande voor die dekseisoen lei tot 'n vertraagde eerste bronstigheid en sulke diere is vir die res van hul lewe minder vrugbaar.

As verse vroeg by die bul gesit word, moet hulle goed (maar nie oorvoer nie) gevoer word. Hulle moet minstens die gewig van die kalf plus dié van die vloeistof en vliese optel. Dit is 50 kg tot 70 kg in geval van groot rasse in die laaste 100 dae van dragtigheid, sê Van Zyl.

16 April 2004

0