LOUW PRETORIUS
30 November 2005

1742 keer gelees | 0 kommentaar

Die staat en private sektor werk saam om 'n nuwe en meer gebruikersvriendelike melkaantekeningskema aan te bied.


Die staat en private sektor werk saam om 'n nuwe en meer gebruikersvriendelike melkaantekeningskema aan te bied. Dit is tot voordeel van boere met groot kuddes én van nuwe toetreders tot die bedryf.

Veeverbetering is die staat se verantwoordelikheid - so word algemeen aanvaar. Maar dit is 'n verantwoordelikheid wat nie alleen of in afsondering en sonder samewerking op grondvlak verwesenlik kan word nie. Amptelike melkaantekening is die hartklop van veeverbetering by melkboerdery, maar net 'n kwart van die land se melkkoeie is daarby betrokke.

Daarom dat 'n nuwe manier van samewerking met die oog op groter stukrag vir melkaantekening oor die afgelope paar jaar tussen die belangrikste deelgenote beding is.

"Met die dienste en struktuur van die Melkbesigheidsinligtingstelsel Ingelyf (bekend as Mbisi), met ál sy diensverskaffers as private vennote, het die Departement van Landbou sy deelgenootskap ten opsigte van amptelike melkaantekening herbevestig met die voorsiening van nog R4,5 miljoen vir die volgende twee jaar. Dit is om tien melkaantekenaars met salaris, voertuie en ander toerusting in die belangrikste melkproduksiegebiede aan te stel," sê mnr. Joël Mamabola, registrateur van veeverbetering.

Die melkaantekenaars word toegerus met genoeg internasionaal geakkrediteerde vervoerbare melkmeters om elke koei se melkproduksie te meet. Hulle neem die amptelike melkmonsters vir ontleding en stuur dit na die laboratorium - soos in die goeie ou tyd voor melkboere self die monsters geneem het.

"Dit is 'n nuwe diens wat dit vir veral die groter melkerye, waar monsterneming 'n probleem is, maklik kan maak om in die pakketvoordele van die skema te deel."

Spesifiek ten opsigte van melkaantekening het die staat en die private sektor 'n veelvoudige verantwoordelikheid met verskeie raakpunte. Volgens Mamabola is een daarvan die uitbou en instandhouding van die wêrelderkende, betroubare, nasionale databasis waaraan elke veeboer in Suid-Afrika behoort deel te neem. 'n Ander is 'n meer gebruikersvriendelike diens in die geval van groter kuddes. 'n Derde is die skep van 'n praktiese mentordiens wat die deure open vir beginners in die melkboerdery én die beginsels van veeverbetering.

Mnr. Schalk Greyling, bestuurder van Mbisi, sê die boer kan kies of hy monsters al om die vierde of negende week geneem wil hê. Hy sal net vir die melkaantekenaar se lopende koste, soos brandstof en verblyf, verantwoordelik wees.

Hy wys ook daarop dat drie van die eerste vyf melkaantekenaars nagraadse opleiding in die landbou het. 'n Landboudiploma is die minimum vereiste vir aanstelling. Ná indiensopleiding van hoogstens twee jaar waartydens elke aantekenaar aan 'n veldbeampte van die LNR toegewys is, sal hulle geplaas word waar hulle die beste gebruik kan word, hetsy by navorsing, voorligting of bemarking.

'n Nuwe span melkaantekenaars neem dan by hulle oor.

Dié samesnoering van kragte binne die staat se oorkoepelende benadering tot openbare en private vennootskappe het verder as grondslag dat elke deelgenoot hom verbind tot deelnemende verantwoordelikheid.

In die geval van amptelike melkaantekening maak dit nie net veeverbetering by melkdiere minstens meetbaar nie, dit is ook dringend nodig met die oog op voedselsekerheid - in Suid-Afrika, binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en selfs wyer, sê Greyling.

Mnr. Hennie Viljoen, Taurus se voorsitter, het op dié onderneming se jongste jaarvergadering gesê die nuutste behoeftes van die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf is minder koeie en stygende produksie per koei, groter kuddes, verskuiwing van volvoerrantsoene na weidings en die soeke na meer probleemvrye koeie. Groter kuddes stel egter ander vereistes vir rekordhouding en monsterneming. "Die jongste ontwikkelinge in verband met melkaantekening is juis die aansporing wat nodig is om nuwe krag, koers en groter deelname aan die skema in die hand te werk."

Gebruikersvriendelik
Sedert die stigting van Mbisi as 'n Artikel 21-maatskappy vier jaar gelede om orde in die melkbedryf ten opsigte van amptelike melkaantekening te bewerkstellig, het 'n gebruikersvriendelike volledige diens die lig gesien. Die belangrikste behoefte was om die nodige ontledings so vinnig en kostedoeltreffend moontlik gedoen te kry.

Die meer as verdubbeling in die afgelope jaar van die aantal Herd Husbandry-verslae wat deur Mbisi per e-pos aan die betrokke boere of hul voedingraadgewers gestuur word, wys op die toenemende gebruik van die volle ontledingspakket. Dit sluit ook die meting van die bottervet, proteïen, laktose en melk-ureumstikstof in asook die bepaling van die somatiese seltelling.

Ander betrokkenes is die Landbounavorsingsraad (LNR) en die Melkprodusente-organisasie (MPO).

Bykans elf jaar het verloop sedert die Departement van Landbou die verantwoordelikheid vir veeverbetering aan die LNR oorgedra het, sê dr. Japie van der Westhuizen, groepleier: diere-aantekening en -verbetering by die LNR en bestuurder van Intergis.

"Hierdie oorskakeling was in der waarheid 'n proses wat uiteindelik gelei het tot groter samewerking op verskeie vlakke. Só lewer die skemas 'n openbare diens op grondvlak. Die resultate daarvan word in Intergis verwerk en as 'n nasionale bate opgeberg, terwyl dít weer die padwysers word vir verdere groei en vordering in die breë bedryf." Die staat se nuwe bydrae tot melkaantekening is die resultaat van 'n diensvlakooreenkoms tussen die LNR en die Departement van Landbou.

Prestasietoetsing vir vleisbeeste is tans grootliks beperk tot die stoeterybedryf. By melkaantekening is die helfte van die deelnemende koeie stoetdiere en die res kom uit kommersiële kuddes. In totaal is sowat 25 % of 115 000 van die melkkoeie in die land by melkaantekening ingeskakel. Dit skok 'n mens wanneer jy besef dat van dié groot genetiese melkpotensiaal in die land met unieke eise ten opsigte van hittestres, byvoorbeeld, hoogstens net 'n kwart identifiseerbaar is.

Ten opsigte van teelwaardenavorsing is 'n derde been van die staat, die Departement van Handel en Nywerheid, betrek, sê Van der Westhuizen. Teelwaardenavorsing word in 'n handelsvennootskap tussen die LNR, Taurus en Mbisi bedryf en is op grond daarvan geregtig op 'n rand-vir-rand-bydrae van die departement.

'n Belangrike voorwaarde by dié ooreenkoms is dat 'n deel van die bydrae vir opleiding aangewend word. Nagraadse studente van onder meer die universiteite van Limpopo, Venda en Noordwes word daardeur bevoordeel. Hierdie studente ontvang hul studieleiding by navorsers van die LNR.

Ook vir die MPO is dit uiters belangrik om navorsing gefinansier te kry. Daarom dat dié organisasie van sy produsentelede se kant R200 000 elke jaar aan Mbisi oorbetaal as hulp met die bedryf van die melkaantekeningskema. "Produksie moet gemeet word omdat dit die primêre inligtingsbron vir enige suiwelnavorsing is."

Uit dié fonds kry Mbisi elke jaar R1,50 vir elke koei van 'n MPO-lid vir elke nuwe laktasie wat sy binne die amptelike skema begin.

Amptelike melkaantekening, en veral korrekte syfers, is voorts die fondament vir teelwaardes vir elke koei in die kudde. Trouens, dit identifiseer 'n boer se aangepaste diere, hetsy as moederlyn vir die teel van aangepaste bulle of koeifamilies vir die teel van vervangingsverse. Gekombineer met uitstekende ingevoerde teelmateriaal kan aangepaste koeifamilies bydra tot die ontwikkeling van eg Suid-Afrikaanse teelmateriaal wat dus beter in die plaaslike, Afrika- en selfs die Arabiese mark kan produseer wanneer dit warmer as 25 °C raak, meen Greyling.

Boere meen dit werk
Melkboere se reaksie op die nuwe benadering tot melkaantekening is hoofsaaklik gunstig. Terselfdertyd is daar verskillende sieninge, veral weens die verskil in melkstelsels, soos 'n tipiese volvoerstelsel op die Hoëveld vergeleke met 'n groepvoedingstelsel op aangeplante weiding by Alexandria in die Oos-Kaap. By eersgenoemde lê die klem op die hoeveelheid melk per koei en by laasgenoemde gaan dit oor hoeveelheid melk per hektaar.

Die egpaar David en Alvera Crookes van Copperleigh, Standerton, het 'n Holstein-stoetery van 250 vroulike diere met 125 tot 150 koeie in melk in 'n volvoerstelsel. Ou en jong koeie word afsonderlik gevoer en verder in groepe van tot 50 elk verdeel op grond van hul produksie. Elke groep se voer word afsonderlik in groot maat gemeng en die bestanddele elektronies volgens 'n rekenaarprogram afgeweeg. Dieselfde geld die uitplaas van die daaglikse rantsoen per aantal koeie of groep.

Melkaantekening in dié kudde word daagliks gedoen en amptelik elke vyfde week. Akkuraatheidshalwe sou Crookes laasgenoemde graag met korter siklusse wou gebruik vir die uitsluitlike rede dat dit bestuur vergemaklik. Mbisi se verslae, bekend as Herd Husbandry-verslae, wat hulle vinnig per e-pos ná elke monsterneming bereik, is volgens hom "inderdaad die enigste werklike kuddekennis waarvolgens hy sy bestuursbesluite kan neem."

Inligting in dié verslae dek ál die ekonomies belangrike aspekte en skakel vroegtydig die gevaarligte aan ten opsigte van dieregesondheid sodat voorkomende optrede verliese tot die minimum kan beperk. Só het 81 % van hul koeie in melk met die jongste toets 'n somatiese seltelling van laer as 250 000 gehad - baie naby die ideaal.

'n Ander aspek wat volgens Crookes betekenisvolle verliese kortvat, is die inligting oor melkureumstikstof. Dit is 'n aanduiding van die proteïen-energiebalans in die voeding. Albei is duur komponente. Wanbalanse van dié aard benadeel ook vrugbaarheid en kan dus vroegtydig reggestel word.

Deels weens sy voerstelsel probeer hy om die meeste van sy koeie in die winter te laat kalf om hittestres in die somer tydens die spitsmelkproduksie te beperk. Hoë temperature saam met hoë lugvog plaas ook 'n demper op die besetting.

"Uiteraard is die beste melkkoei op elke plaas dié een wat die beste aangepas is." Daarom is melkaantekeningverslae 'n belangrike hulpmiddel by seleksie. Hy gebruik net die beste teelmateriaal wat in die wêreld beskikbaar is vir korrektiewe parings met aangepaste koeie uit basies ses gevestigde en beproefde koeifamilies wat sedert die 1970's ontwikkel word.

Dié kudde, waarvan 43 % jong koeie is, beklee landwyd die vierde plek op die rasgenootskap se lys vir teelwaardes. Die gemiddelde aantal laktasies in die kudde is 2,6 vergeleke met 2,2 in Suid-Afrika en 1,8 in Amerika. Hy gebruik geen beessomatotropien (BST) in sy kudde nie. (BST is 'n beeshormoon wat melkproduksie met tot 15 % kan opstoot.)

Mnr. Simon Matthews van Glen-Dye, Alexandria, ondervoorsitter van die MPO in die Oos-Kaap en direkteur van Taurus, verteenwoordig die ander kant van die spektrum. Hy melk gemiddeld 580 SA Holsteins deur die jaar. Die voerbron is 210 ha kikoejoe, aangevul met hooi en 'n gebalanseerde rantsoen suiwelmeel teen sowat 6,5 kg koei per dag of nagenoeg 2 ton kragvoer per koei per laktasie.

Kragvoer word as groepvoeding in die stal tydens melktyd gegee en daar is net twee koeigroepe - dié in vroeë laktasie kry 'n bietjie meer meel as die res. Die enigste variasie in die voeding is tussen 10 % en 15 % ru-proteïen in die rantsoen na gelang van die gehalte van die weiding.

Die weiding se produksie is van sowat 820 mm reën per jaar afhanklik. Die weiding word vier keer per jaar bemes. Een ton KAN (28 % stikstof) word per hektaar per jaar toegedien.

'n Derde van die kudde kalf in Maart en April en die res van Julie tot September sodat produksie met die groei van die weidings saamval.

Volgens Matthews het dié plaas reeds sy potensiaal van 20 000 liter melk per hektaar oorskry. Dit verteenwoordig laktasies van tussen 6 500 liter en 7 000 liter teen relatief lae risikovlakke ten opsigte van dieregesondheid en duur bykomende voeding in skraps tye ter wille van individuele rekords. Só 'n basiese voerstelsel lewer wel laer spitsproduksies, maar met 'n platter produksiekurwe oor 'n langer tyd en steeds 16 liter tot 18 liter per dag op 300 dae. Sulke koeie begin hul volgende laktasie in 'n beter kondisie, terwyl met hul vrugbaarheid niks skort nie.

Hy neem al om die negende week monsters vir melkaantekening.

"Die nuwe benadering tot melkaantekening haal die rompslomp uit die skema en veral vir groot kuddes op weidings is vyf sessies per jaar genoeg. Melkaantekenaars doen die werk en die koste vir die boer word tot die minimum beperk. Dit behoort vir die eienaars van groot kuddes wat hulle in die verlede weens rompslomp aan die skema onttrek het nuwe stof tot nadenke te wees. Buitendien, weidingsboere het mos al geleer dat hulle beter weet waartoe hul weidings in staat is omdat hulle dit kan meet," sê Matthews.

Elke boer bepaal self sy benadering ten opsigte van teelmateriaal. Die strewe is egter altyd aangepaste diere. In alle gevalle is die strewe aangepaste diere. Seleksie vir aanpasbaarheid of enige ander eienskap kan egter net slaag of vorder as variasie in die genepoel beskikbaar is. En uiteindelik is dit net meting wat variasie werklik kan identifiseer. Watter kant toe 'n mens dus ook al beur, dít bly die grondwet vir teelvordering.

2 Desember 2005

Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 12/06/13 19/06/13 %
Beesvleis A2/A3 2771c 2774c down 0.1
Speenkalf (lewend) 1440c 1432c down -0.6
Skaapvleis A2/A3 4249c 4300c down 1.2
Varkvleis (gem. prys) 1784c 1792c down 0.4
Braaikuikens 1506c 1506c down 0

Aandele

Pricecheck Flights