|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Die NWKV se hulp om wolproduksie in agtergeblewe gebiede te bevorder, lewer al aansienlike dividende. Die vraag na dié diens het só toegeneem dat bykomende personeel nou aangestel moet word.
As die geskiedenis oor die heropbou van Suid-Afrika die dag geskryf word, sal die NWKV se aandeel om voorheen benadeelde kleinveeboere te bemagtig, waarskynlik onder een van die groot suksesverhale tel. Trouens, daar gaan byna nie 'n geleentheid verby waar veral landboupolitici dit nie aanprys as die perfekte model vir bemagtiging van opkomende boere nie.
Oor dié pluimpies is dr. Arno Moore, hoofbestuurder van die NWKV, beskeie. Hy beklemtoon dat dit 'n spanpoging is en dat die NWKV bloot die werktuig is om wolboere te bemagtig. Omdat Cape Wools net beperkte geld uit die Woltrust vir dié doel beskikbaar kan stel, moes noodgedwonge op eksterne bronne wat ook die ideale nastreef, gereken word.
Die poging was suksesvol. Vir elke rand wat die NWKV van Cape Wools (namens wie hy die diens lewer) ontvang, is in die afgelope jaar 'n bykomende R5 uit ander bronne verkry. Met dié geld tot die beskikking van munisipale owerhede en provinsiale departemente van landbou om plaaslike infrastruktuur op te knap, is verskeie skeerhuise en diptenks opgerig asook opleiding verskaf.
Die Oos-Kaapse en Vrystaatse departemente van landbou verleen finansiële steun vir die verbetering van kuddes, die oprigting van heinings en die handhawing van dieregesondheid.
Ook skenkerlande raak al hoe meer geneë om geld deur 'n organisasie soos die NWKV, met 'n bewese rekord vir opleiding en ontwikkeling, te kanaliseer.
Die behoefte aan dié diens het só toegeneem dat onderhandelinge om agt produksie-adviseurs deur die Oos-Kaapse departement van landbou na die NWKV te sekondeer, 'n gevorderde stadium bereik het. Skenkersgeld deur die Britse regering sal die werkskapitaal vir die personeel verskaf.
Moore is veral in sy skik met die vordering met die bemarking van die skeersel.
Talle boere het hul inkomste uit wol veelvoudig verhoog. Nagenoeg 200 gemeenskappe bestaande uit 6 000 wolboere met 'n beraamde 3 miljoen wolskape is reeds bevoordeel.
Die ramprojek wat verlede jaar bekend gestel is en waardeur 3 200 goeie ramme per jaar aan boere beskikbaar gestel word in ruil vir hul minderwaardige ramme, het ook ongekende belangstelling uitgelok. Die Landbou-ontwikkelingsinstituut Grootfontein en die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Veld en Weiding is betrokke by groepteelskemas om te verseker dat aangepaste veldramme beskikbaar gestel word.
Wat Moore veral verbly, is die manier waarop boere wat lid van die NWKV is, hulle die afgelope vyf jaar hier georganiseer het. Gereelde saamtrekke, wat deur meer as 200 boere op 'n keer bygewoon word, vind deur die jaar plaas.
9 Januarie 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24