|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) was die afgelope tyd in die kollig weens klagte oor probleme met entstowwe asook vanweë 'n klop op die skouer oor sakevernuf onder leiding van die maatskappy se besturende direkteur.
Die OBP het nou die eerste keer in baie jare geld om aan navorsing, uitbreiding en opgradering te bestee. Vroeër, toe dit nog ten volle 'n staatsinstelling was, is tot R3 miljoen per lot entstof weggegooi omdat die rakleeftyd verstreke was, sê mnr. Willie Botha, nasionale verkoopbestuurder van die OBP.
Sedert 1994 is die OBP in sterk mededinging met oop markte. Hy produseer sedert 2000, met privatisering, ingevolge markriglyne volgens vraag. "Ons maak kleiner lotte entstowwe, maar meer gereeld.
"Ekonomiese sakebeginsels vereis dat ons nie meer kan produseer soos in die verlede en groot voorrade aanhou wat weggegooi moet word nie."
Botha het by navraag gereageer op klagte die afgelope tyd dat daar soms 'n tekort of totale gebrek aan sekere diere-entstowwe is en dat entstowwe nie altyd na wens presteer nie.
"Boere kan self heelwat aan die probleem doen deur vroegtydig entstowwe te bestel.
"Ons kan nie meer massas entstowwe beskikbaar hê nie. Ons werk op 'n verkoopgeskiedenis van die afgelope drie jaar en probeer so na moontlik aan dié syfers produseer. As die vraag buite dié driejaargrense val, gáán daar nie genoeg voorraad van noodsaaklike entstowwe beskikbaar wees nie. Boere moenie wag totdat siektes uitbreek en dan diere wil inent nie. Hulle is nie ingestel op voorbehoedende (immuniserings-) programme nie," sê hy.
Die OBP is egter nou besig om voorraadvlakke te verhoog om in die groter vraag te voorsien.
'n Ander probleem is dat insek-oorgedraagde siektes seisoenaal voorkom met gevolglik 'n seisoenale produksieprogram. Seisoene word egter deur weerstoestande beïnvloed.
"Ons maak entstowwe vir die spitstyd van die siekte, maar dié spitstyd kan skuif na gelang van die weer. Ons kan dit nie voorspel nie, wat 'n tekort kan laat ontstaan. Die wisselvallige beskikbaarheid van ingevoerde entstowwe gooi ons beplanning omver, want as ingevoerde entstof nie beskikbaar is nie, styg ons verkope bo verwagting.
"Entstowwe se verpakking en verspreiding wat nie na wens verloop nie, veroorsaak ook probleme. Dié kwessies kry nou aandag om te keer dat soortgelyke situasies ontstaan."
Botha sê die OBP "soek klagte" oor die gehalte van entstowwe. Die instansie is op die punt om ISO 9000-gehaltesertifisering te verkry, maar werk reeds daarvolgens met streng standaarde vir gehaltebeheer. "As ons nie van probleme weet nie, kan dit nie ondersoek en getoets word nie."
Die OBP bêre monsters van elke lot entstowwe in ideale toestande. Hy kan toets of skade plaasgevind het en waardeur die skade moontlik veroorsaak is.
Daar is verskeie faktore wat die gehalte van entstowwe beïnvloed. Dit is uiters belangrik dat entstof reg gehanteer word.
"Boere moet onthou dat sekere siektes verskeie stamme het. 'n Verskeidenheid stamme kan pasteurella veroorsaak. Nie al dié stamme kan in die entstof opgeneem word nie. Net stamme wat in die entstof is, sal immuniteit in die dier opwek.
"Kruisbeskerming tussen stamme is beperk. Bloutong het 15 stamme. Daarom word die entstof in drie botteltjies met verskillende stamsamestellings gemaak. As die entstof nie volgens voorskrif toegedien word nie, sal dit nie doeltreffend wees nie.
"Waar boere probleme ondervind, kan ons veldproewe doen en 'n entstof maak vir die spesifieke stam van die siekte wat op die plaas voorkom."
Die dosis entstof wat toegedien word, kan ook 'n probleem wees.
"Die immuunstelsel het 'n minimum dosis entstof nodig om teenliggaampies te produseer, wat deur 'n sekere hoeveelheid antigeen geprikkel word. Moenie 150 skape spuit met 'n hoeveelheid wat vir 100 bedoel is en dan sê die entstof werk nie," sê Botha.
Dooie entstof moet vier weke tot ses weke ná die eerste inspuiting met 'n aanspoor-inspuiting aangevul word om genoeg teenliggaampies op te bou.
Die hantering van die entstof is belangrik. Die OBP het toetse gedoen waarin vasgestel is dat die temperatuur in die kattebak van 'n voertuig in die son binne twee uur tot 56 °C kan styg, wat uiters skadelik vir entstof is.
"Entstowwe is sensitiewe produkte wat met sorg gehanteer moet word. Lewende entstof hou byvoorbeeld net 1 tot 2 uur nadat dit met water opgelos is."
Hy sê die OBP se entstowwe staan nie agteruit vir enige ingevoerde produkte nie. "Al ons entstowwe word streng volgens die standaarde van die Internasionale Organisasie vir Dieregesondheid vervaardig, met die voordeel dat dit plaaslik vervaardig is vir toestande wat hier geld."
Die OBP maak 48 verskillende entstowwe, sommige waarvan hy die alleenvervaardiger ter wêreld is, soos driedae-stywesiekte, perdesiekte, bloutong, knopvelsiekte en slenkdalkoors.
Die maatskappy se verkope het wêreldwyd met ongeveer 80 % gegroei sedert 2000. Sowat 20 lande word deur die OBP van entstof voorsien.
Botswana, Namibië, Zimbabwe en Mosambiek koop bykans al hul entstowwe by die OBP. Entstowwe word ook uitgevoer na lande in die Europese Unie (EU), Marokko, Tunisië, Mauritanië, Zambië, Tanzanië, die Midde-Ooste en Suid-Amerika.
Die OBP het samewerkingsooreenkomste met verskeie lande om entstowwe daar te toets en 'n reeks entstowwe op kommersiële vlak aan dié lande te verskaf.
In Saoedi-Arabië word die OBP se lamsiekte-entstof verskaf aan die grootste melkplaas ter wêreld met 28 000 koeie.
"Om voor te bly, verg voortdurende opgradering en vernuwing omdat die tegnologie verander en winste kan nou in die maatskappy teruggeploeg word.
"Die fabrieksaanleg word verbeter en nuwe toerusting geïnstalleer. Die OBP het onlangs sowat R15 miljoen bestee om die modernste proefdiersentrum in die land op te rig."
Botha verklaar onomwonde dat die OBP enige siektebedreiging in die land die hoof kan bied.
27 Mei 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24