Streng optrede is op die NWKV se jaarkongres in die Baai gevra teen die enkele boere in Suid-Afrika wat Mules se operasie op hulle skape toepas. Omdat hulle optrede die hele Suid-Afrikaanse wolskeersel benadeel, is gevra dat hulle wol nie meer op die veilings aangebied sal word nie.
Mnr. Geoff Kingwill, voorsitter van Cape Wools, het gesê ofskoon die land se wol en skeerselvoorbereiding as die beste in die wêreld beskou word, van die grootste kleinhandelaars aandring dat hulle slegs wolklere sal bemark indien dit gesertifiseer kan word dat dit van skape kom wat nie dié operasie ondergaan het nie.
'n Wolkoper, mnr. Paul Lynch, wou weet of dit nie beter sal wees om die geld wat op die bevordering van wol bestee word eerder aan te wend om daardie boere wat hulle aan dié praktyk skuldig maak eerder uit die stelsel te kry, of 'n manier te vind dat hulle wol afsonderlike op 'n veiling verkoop sal word. "Ons ontvang al meer navrae vanuit die buiteland van kopers wat daarop aandring om slegs Mulesvrye wol aan te koop. Dit sal ons taak as kopers soveel vergemaklik om die skeersel te bemark as ons met oortuiging kan sê dat die hele Suid-Afrikaanse skeersel Mulesvry is."
Mnr. Petrus de Wet, NWKV-voorsitter, het gesê die NWKV is bewus dat daar steeds 'n paar boere is wat dit doen. Hy het gevra dat die name van daardie boere aan hom verskaf sal word sodat hy in persoonlike gesprekke met hulle kan tree om die gevaar wat hulle optrede te verduidelik. "Dit is ongelukkig nie iets wat weggesteek kan word nie - wanneer die skape op 'n vendusie kom kan daar maklik gesien word watter skape aan die operasie onderwerp was."
9 Junie 2009