Peperduur geel blesbok verander van kleur

Deur Jan Bezuidenhout
18 Februarie 2015
ʹn Geel blesbokram wat onlangs teen R400 000 gekoop is, het sedertdien van kleur verander en lyk nou soos ʹn doodgewone blesbok.

ʹn Geel blesbokram wat verlede Oktober teen R400 000 in die Suid-Vrystaat gekoop is, het binne drie maande van kleur verander. Dit lyk nou nes ʹn gewone blesbok. Volgens die nuwe eienaar, mnr. Maarten Kruger van Palmietfontein, Potchefstroom, is dié bok nou slegs sowat R2 000 werd.

Kruger probeer vasstel hoekom dié kleurverandering gebeur het. Hy sê dit het moontlik te make met die voeding van die betrokke bok, of ‘n kopertekort op die plaas waarvandaan die bok kom. Hy meen egter as dié ram ‘n ware geel ram was, sou hy waarskynlik nie só van kleur verander het nie. Toe die bok in Noordwes aankom, het sy voeding aanmerklik verbeter en toe het sy ware kleur ná drie maande na vore gekom, meen Kruger.

(Foto’s hieronder: Die foto links is van die geel blesbok op die verkoper se plaas en regs is die geel blesbok soos dit in Januarie te Potchefstroom gelyk het. Foto’s verskaf)

bokke-saamgesmelt

Sekere wildsoorte met skaars kleure is die afgelope tyd teen astronomiese bedrae geld verkoop, wat baie kommentaar ontlok. Is dit normaal dat wild wat na ander omgewings verskuif word, van kleur kan verander? Volgens ʹn veearts is dit ʹn verskynsel waarmee meer as een koper deesdae te doene kry, en baie geld is ter sprake.

Kruger het voorheen geel blesbok-ooie by ʹn verkoper in Bethlehem gekoop, maar dié ooie se kleur hou. “Dit kan wees dat hierdie ram wat ek gekoop het, nie ‘n skoon geel ram was nie, maar bv. ‘n F2-ram.”

Landbou.com het aan Kruger gevra hoekom hy nie die verkoper gevra het om die bok om te ruil nie. Kruger sê hy het deur ʹn agent gewerk. Toe hy met die agent oor die kleurverandering gepraat het, is hy aangeraai om die verkoper self te kontak. Hy wou nie met die koper self kontak maak nie, want hy het gedink hulle sou nie “regkom” nie, sê Kruger.

Kruger se penarie is deur die bekende veearts dr. Faffa Malan verduidelik aan dr. Jacques O’Dell, van die fakulteit Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is ʹn wildveearts in die afdeling wildgesondheid van die departement produksiedierestudies. (Sien O’Dell se skrywe heel onder aan die artikel.)

Landbou.com het hieroor ook by ʹn prokureur, wat self boer, kers opgesteek. Mnr. Butch van Blerk, direkteur van Bill Tolken Hendrikse Ingelyf in Bellville, sê as bewerings oor kleurveranderings in die wildbedryf iets te make het met menslike hantering, en dit blyk dat die dier se kleur nie eg is nie en die egtheid van die kleur nie deur die verkoper bewys kan word nie, kan dit ‘n bedrieglike wanvoorstelling wees. Die koper kan dan sy geld terugeis.

Van Blerk sê as enige wildboer werklik bereid is om ‘n spel te speel met ongewone kleure, is dit werklik roekeloos.

Kruger sê hy het ook al gewonder of die gebied waar dié bok geloop het, nie van nature laag is aan koper (Cu) nie. “Daar is nogal baie geel bokke wat uit daardie geweste kom. As dit die geval was, dan kan ʹn mens verstaan hoekom die bok daar heeltyd geel was. Weer eens glo ek dat ‘n boer wat sy hele lewe in dié omgewing woon, van só ʹn situasie bewus moes wees.

“Ek dink die probleem in die wildbedryf is dat daar tans geen beheer, kontrole en standaarde is nie. Dit is die rede waarom soveel agente en spekulante dit reggekry het om in te klim en geld te maak. As jy met van die agente praat, ken hulle nie eers die bokke wat hulle verkoop nie.”

Wildkopers moet aangeraai word om wild slegs te koop by gevestigde boere. Agente en spekulante se verwysings moet aangevra word. Het die wildbedryf byvoorbeeld ʹn databasis van geakkrediteerde agente soos in die eiendomsbedryf? vra Kruger.

Die enigste oplossing is om die moederskap en vaderskap van ʹn bok te kan bewys.

Wat sê die verkoper van die bok?
Die verkoper van die bok sê Kruger het twee of drie weke vóór die transaksie twee bekende wildboere gevra om na die spesifieke bok te gaan kyk. Kruger was tevrede met hul opinies oor die geel blesbokram.

Met Kruger se besoek in Oktober het ʹn veearts die bok waarin Kruger belang gestel het, met ‘n verdowingspyl geskiet. Kruger kon die bok toe van nader bekyk, saam met die veearts. “Kruger het die keuse gehad om die bok te weier as hy nie tevrede was nie. Niemand het hom gedwing om die bok te laai nie. Die beginsel in die wildbedryf is: As die verdoofde bok op die koper se lorrie gelaai word en wakker gemaak word, gaan eienaarskap oor na die koper. Dan is die transaksie afgehandel.”

Die verkoper sê hy het het Kruger op 10 Desember 2014 gebel om te verneem of hy tevrede was, en Kruger het instemmend geantwoord.

Op die vraag van Landbou.com oor die prys van R400 000 vir die geel blesbok, was die verkoper se antwoord: “Geel blesbokke verkoop vir tot R900 000 stuk. Dit is dus moontlik dat hy dalk vir meer as R400 000 op ʹn veiling verkoop sou kon word.”

Die verkoper sê ook dat DNS-toetse nog nie bestaan om tussen gewone blesbokke, geel blesbokke en saalrug blesbokke te onderskei nie. Daar word bloot op sig onderskei en hulle word daarvolgens geprys.

Aangaande die kleurverandering sê die verkoper dat hy geen beheer oor voeding, klimaat en hormoonveranderings het nie. “Is dit nie maar dieselfde as wanneer ek ʹn nuwe swartwitpensbul koop en ses maande later begin een horing skeef groei nie? Ek kan mos nie die bok daaroor gaan teruggee nie. Die risiko het myne geword toe ek die bok gekoop het,” sê hy.

Wil ram deur seisoen monitor:
Dr. Johan Steyl van die fakulteit van veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria is ook deur Kruger oor die geval genader. Steyl skryf: “Ek het na gelang van jou geval dit met verskeie mense bespreek, en die konsensus is dat seisoen- en hormonale vlak-wisseling waarskynlik dié verskynsel tot gevolg het. Dit kom ook baie algemeen voor onder blesbokramme en baie mense begin dieselfde ‘probleem’ aanmeld. Jy gaan waarskynlik ‘n baie dramatiese verandering sien in die winter. Ek vermoed dit is dalk ‘n fisiologiese verskynsel en nie patologies nie, maar om sekerheid te hê, moet ons die bok deur ‘n volle seisoen volg.”

 * Wildlife Ranching of South Africa (WRSA)
Nadat dié artikel en die foto’s aan dr. Peter Oberem, voorsitter van Wildlife Ranching of South Africa (WRSA), voorgelê is, was sy kommentaar: “Dit is ʹn hartseer dag as gevalle soos hierdie die briljante bedryf waarin ons is, skade aanrig. Ek kan nie kant kies nie, want ek het nie al die feite voor my nie en ek het ook nie al twee partye se kante van die gebeure aangehoor nie.

“Maar, indien ʹn hof sou bevind dat enige lid van WRSA onwettig opgetree het, sal WRSA sanksies teen daardie lid instel en so ʹn lid se lidmaatskap kanselleer. Na my mening kan ʹn klag van bedrog gelê word, gesien die waarde van die transaksie. Die polisie sal dan verplig wees om te vervolg as die aanklaer voel daar is genoeg bewyse om ‘n skuldigbevinding te kry.”

Wat veroorsaak dat  ‘n geel blesbok in ‘n gewone blesbok verander?
Geel blesbokke se gewildheid en waarde het in die laaste paar jaar ongelooflik gegroei. Desondanks weet ons bitter min van hulle genetiese mutasie af, sê dr. Jacques O’Dell van die fakulteit Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is ʹn wildveearts in die afdeling wildgesondheid van die departement produksiedierestudies.

O’Dell se mening is gevra oor die blesbok-geval. Hy sê volgens telers is die tipiese geel blesbok se boude, sye en skouers gras-geel en heelwat ligter as in ‘n gewone blesbok s’n, waar dit donkerbruin is. ’n Geel blesbok se rug (saal) en streep bo die pens kan ook effe ligter, maar steeds bruin, wees. Die twee bokke lyk verder baie dieselfde. (Sien sy beskrywing op foto hieronder.)

geel-blesbok.jpg-o'dell.jpg--600
“Die kleur van die stert is een kenmerk waaroor alle telers nie saamstem nie. Sommige meen ‘n wit en geel stert onderskei ‘n ware geel blesbok van ’n gewone blesbok wat swart in die stert het. Ander vermoed geel bokke met swart sterte is sogenaamde “splits”.

“Die saalrug-blesbok lyk baie soos die geel blesbok, maar die kleure het meer kontras; donker bruin saal en streep. Boude, sye en skouers wit soos die bles. Die feit dat die bok baie soos die geel blesbok lyk en dat daar baie kleurskakerings van die geel bok bestaan, dui aan dat die betrokke gene ingewikkeld is. Die geen wat ‘n swart rooibok bepaal, is egter simpel resessief. Dit beteken ‘n enkele geen is verantwoordelik vir die mutasie en die bok sal niks anders as net rooi of swart wees nie.

“In die geval van die geel geen (of eintlik saalrug) by blesbokke is daar heelwaarskynlik ʹn aantal gene betrokke. As die betrokke gene afwesig is in ‘n bok sal hy normaal vertoon. Indien ‘n bok dus net één van die betrokke gene het, sal hy amper soos die tipiese geel blesbok lyk, maar met ‘n swart stert. Meer as een mutasie lei dan tot ‘n tipiese geel blesbok. Indien ál die gene betrokke is, en hulle in die korrekte dominansie is, dan sal die eindresultaat ‘n saalrug blesbok wees.

“Daar bestaan ook die moontlikheid dat ál drie die genoemde kleurvariante geheel en al onverwant is en dat die geen-mutasies mekaar nie kan beinvloed nie.

“Niemand weet dit egter nie en dit kan slegs bewys word indien genetiese toetse ontwikkel word. Daar is planne om dié gene te identifiseer, maar dit sal nie binnekort beskikbaar wees nie. Die aandag is tans op die saalrug-rooibok, die goue gemsbok en die goue wildebees.”

Wat veroorsaak dit?
O’Dell sê as ‘n blesbok weens genetiese mutasie geel is, is dit onmoontlik dat die bok kan verkleur en soos ’n gewone blesbok kan lyk. Dit is wel moontlik vir ‘n bok se hare om te verkleur, veral as die ligter kleur ontstaan weens onderliggende probleme, soos voedingstekorte of parasiete, of selfs weens omgewingsfaktore, soos habitat en seisoen.

“’n Bok se kleur verskil minimaal van seisoen tot seisoen. Wild (en vee) se pels word gedurende koue wintermaande langer en dikker. Soms is hierdie wollerige pels ook ligter as die somerpels. Wildsbokke se pels kan dus donkerder en blinker wees in die somer.

“Habitat speel ’n klein rol. Weiding kan haarkleur beïnvloed deurdat optimale weiding die bok se beste kleure sal uitbring. Swak veld wat oorbewei is, met baie parasiete, sal die kleur beïnvloed. Inwendige parasiete ding met ’n bok mee om voedingstowwe en spoorelemente. Bokke met hoë ladings parasiete kan ’n verlaagde vlak van die spoorelement koper hê. Koper speel ʹn redelike groot rol in haarkleur. Diere met ʹn kopertekort is gewoonlik vaal en lig teenoor ‘n gesonde dier.

“As al die betrokke faktore tegelykertyd ʹn rol speel, kan ’n bok se kleur drasties verander. ‘n Bok met baie inwendige parasiete wat aan die einde van die winter in ‘n koue gebied op swak, oorbeweide veld gevang is, kan dalk baie van kleur verander as dit ontwurm, met spoorelemente ingespuit en na optimale veld in ‘n warmer area verskuif word. Die bok sal donkerder word en oor die algemeen ʹn blinker, gesonder voorkoms hê as vantevore,” skryf O’Dell ten slotte.


Kommentaar

Kommentaar (38) “Peperduur geel blesbok verander van kleur

  1. Stellie
    Stellie

    Dalk begin hierdie toring wat hulle so hard aan bou nou tuimel

  2. Daan
    Daan

    Hoe lekker lag ek nou!!

    En mense dink hulle is slim?

    Shame

  3. Len B
    Len B

    Ruil daai bok so gou moontlik om.
    Dis die regte ding om te doen.
    Voordat die storie skade doen….

  4. erica roos
    erica roos

    Voorwaar, ons middelklas mense kon die outjies nie bekostig, een van die dae is hulle volop, wou se dis te goed om waar te wees, hierdie verkope van eksotiese diere, dit kan nie te lank aanhou en dat net sekere ouens voordeel daaruit trek

  5. erichsen
    erichsen

    Stellie as jy so praat van n toring is dit uit onkunde dat jy so stelling maak
    En dit skep n nuwe mark vir eg geel bokke wat n hoe prys gaan veroorsaak

  6. Pj
    Pj

    As jy nie in die wildbedryf is of dit verstaan nie Stellie. Moet dan nie kommentaar lewer uit jou onkunde nie

    Groete

  7. mkruger
    mkruger

    Erichsen. Jammer maar as jy so kundig is. Hoe identifiseer ‘n mens ‘n ware geel blesbok as die geleerde mense nog nie eens weet hoe sy genetiese samestelling lyk nie. Ek dink Stellie is miskien reg want mense gaan twee keer dink voor hulle die bedryf inklim wat tot gevolg gaan he dat daar minder kopers is, pryse val… ens ens…

  8. Carel vd Merwe
    Carel vd Merwe

    Ons weet tog almal dat kleurverwante eksotiese wild n kunsmatige bedryf is. Wat is die verskil tussen dit wat waarde dryf in kleurafwykings en die vrot melk van die voormalige kubuskoning. Albei word deur persepsies en “geldgierigheid gedryf. Daar is niks neer fout nie, behalwe dat daar n ooraanbod van bokvleis oor n paar jaar gaan wees en die agterosse groot geld gaan verloor.

  9. Willie
    Willie

    Word wakker,baie wat in wild bele gaan brand.Telers wat agter teel diere sit,wie is die kopers,telers?????WAAR Is MNR BILTONG! MNR SLAGTER MNR VERWERKER.Hulle is op geen wild veiling.Gaan na n bees veiling en jy gaan hulle daar kry(slagter ,biltong en verwerker.

  10. Annoniem
    Annoniem

    Nee die toring tuimel nie manne, en hulle hou hul ook nie slim nie. Die dinge gebeur, elke sport het sy beserings en verliese gaan gelei word hier en daar. Die gene is nog so onbekend, dat dit soos in die geval n koper tekort was wat n kleur verandering veroorsaak wat dit van n geel blesbok emulate.

    So leer mens, ek self het ook n geel blesbok gekoop wat verkleur het na normaal, ons vat ons pakslae en leer daaruit, maar maak steeds baie lekker geld en die verlies word so vinnig deur die winste geabsorbeer.

    Julle manne wat so glo die toring gaan val, gaan oor tien jaar steeds op die kant sit en kyk hoe lekker boer ons.

  11. Phillip Mostert - Gamevest Thabazimbi
    Phillip Mostert - Gamevest Thabazimbi

    Geagte Mnr Kruger en Mnr Jan Bezuidenhout (Landbouweekblad)

    Ek vind die spesifieke verskynsel van kleur verandering baie interessant en ek glo nie die stellings van sekere mense, dat regstappe teen ‘n mede boer en verkoper noodwendig die regte .advies is nie, tensy daar sekerheid is dat die verkoper inderdaad bedrieglik was.

    My opinie is dat jy inderdaad betrokke is by ‘n baie interessante verskynsel is, en dat dit inderdaad ‘n verskynsel is wat die bedryf baie kan bevoordeel indien mens wetenskaplik kan bepaal wat werlik die verandering teweeg gebring het.

    Die voorstelle van verskeie geleerdes dat U inderdaad hierdie bok saam met hulle vir ‘n volle seisoen moet monitor is seer sekerlik die regte advies. Die advies kan moontlik lei tot groot voordeel van die bedryf indien hier unieke nuwe feite deur navorsing en waarneming te vore kan kom.

    Dit los egter nie U probleem op dat U ‘n klomp geld betaal het vir ‘n bok wat nou heelwaarskynlik U vir ‘n volle teelseisoen uit die mark uit gaan hou finansieel nie. My objektiewe advies in die verband is dat U en die verkoper hoort hande te vat as vennote in ‘n unieke navorsingsprojek om te bepaal wat hierdie verskynsel veroorsaak het?

    Ek neem aan dat julle beide by wyse van bloed of DNA toetse 100% sekerheid het dat dit dieselfde duer is?

    Indien wel, is ‘n samewerkingsooreenkoms tussen U en die verkoper seer seker tog die wesenlike oplossing omrede dit tot julle en tot die bedryf in sy geheel se belang is dat julle wel wetenskaplik agter die kap van die byl kom? Vir enige verkoper in die bedryf ongeag die agent, behoort sy reputasie in die bedryf en toekomstige verkope van sy diere net so belangrik te wees.

    In die lig dink ek dat enige beskuldigings (indien daar geen ongeruimthede was nie) tussen enige van die partye behoort begrawe te word, ten einde by die antwoord van hierdie raaisel uit te kom. Dit hoort ook nie in die lig van goeie boerdery beginsels in so ‘n geval net U eie uitdaging te wees nie, maar net soveel die verantwokrdelikheid van ‘n etiese verkoper te wees.

    Derhalwe dink ek, julle behoort saam hande te vat en ‘n oplossing en strategie te vind hoe julle saam by die antwoorde uit kan kom, en dat julle intussen op een of ander ooreenkoms uitkom sodat jy nie alleen ‘n suiwer verlies in die gesig staar nie. Vir enige bonafide boer is sy reputasie as teler uiters belangrik en glo ek dat in die gees van goeie gesindheid tussen kopers en verkopers, daar altyd oplossings gevind kan word tot almal se voordeel. Veral in die lig van ‘n unieke voorval soos die waar daar nie op die oogaf ‘n antwoord is nie, en waar dit klink (sonder dat ek nattuurlik al die feite het nie) niemand opsetlik die ander wou skade doen nie.

    Doen moeite as boere en kom by die feite en waarheid uit wat hierdie verandering veroorsaak het en bky uit die howe uit – dis tot julle eie voordeel en die bedryf kan by julle alby baie baat indien julle kan uitvind wat werklik gebeur het.

    Mnr Kruger, indien U sonder twyfel kan bewys dat dit dieselfde bok in beide fotos is, en die verkoper steeds sy rug op jou draai en nie sy hulp en samewerking tot ‘n oplossing wil gee nie, dan bied ek U gerus ons hulp aan.

    Gamevest besit verskeie Geel Blesbok teel projekte onder andere van laasjaar se WRSA Rekords – Roland (Geelblesbok ram) en die 2014 SA Rekord Wit Saalrug Blesbok – TOPDECK van R7,8m.

    Die bedryf is uiters gesond en daar is baie etiese teelers wat graag mede telers sal help, veral waar waar unieke verskynsels in die natuur antwoorde nodig het.

    Ek hoor graag van julle en glo julle sal regkom. Indien nie, staan my uitnodiging.

  12. Jacques Malan
    Jacques Malan

    Ek boer self met onder andere Geel Blesbokke. Dr Johan Steyl se waarneming is 100% korrek. Ek vind dit self so op my plaas. Ek het eers ook nie geweet wat aangaan nie want ek kon nie glo dat dit dieselde ram by die trop is nie. Net toe ek die ram wou vervang met ‘n beter ram, het sy kleure weer verander en lyk hy nou feitlik 100% reg. Ek vind dat sommige ramme baie minder of glad nie van kleur verander nie. Baie dankie vir die artikel. Hoe meer ingelig mense kan wees oor wildboerdery en kleurvariasies, hoe beter!

  13. voorvel
    voorvel

    Wiel draai…
    Wie laaste lag, lag die lekkerste

  14. Willie
    Willie

    Word wakker manne,julle wat met skaars wild wil teel?Wie is elke keer op die wild veilings,alles behalwre die regte persone!!!
    Wie is die verkopers en wie is die kopers,telers,telers,telersen telers?Telers dit is nie aanvraag aanbod wat die pryse bepaal nie ,telers dit is julle wat die pryse op jaag.Waar is die slagter,waar is die troefee jagter.Beesveiling is daardie persone Slagter, teler en beesboer teenwoordig,en n verwysingspunt, waarde van die slagprys,Mielies verwysingspunt safex, meulenaar ,meel op die rak.
    Die verhouding tussen wild telers en wild om geslag te word maak nie sin. 100% is almal telers.Die arm man wat R400000 vir n bok betaal ,se kleur het terug verander,die bok is nou net R2000 werd.As julle bedryf so goed is waar is die waarborg vir daardie klient.Ek Hoop daar kom n ondersoek in diepte.Die geld kom nie uit die wild bedryf maar uit ryk sake manne se sakke.
    Word wakker manne,julle gaan brand.
    Willie

  15. Marius du Preez
    Marius du Preez

    Hier is baie slim manne met baie om te sê, maar op die ou einde is dit net nog ‘n bewys dat die wild bedryf tans ‘n klugspul is….

  16. Johan
    Johan

    Ek stem saam met Willie se komentaar hier.

    Die bubble gaan bars! ek kan nie sien wie die eindgebruiker van die duur wild gaan wees nie. Ek kan bees karkas koop teen R50 p/kg en my eie biltong maak. Ek gaan beslis nie teen veel meer as dit jag nie. Daar word deesdae meer “eksotiese” wild per week geteel as wat daar jagters gebore/gemaak/gevorm word. Ons gaan oor so 4 of 5 jaar lekker jag aan die oor aanbod van eksotiese wild wat absuluut geen waarde gaan he nie.

  17. l.loots
    l.loots

    Hierdie piramiede skema het Adriaan Niewoud ook probeer. In die begin het almal in Garies se omgewing en almal wat vroeg ingeklim het baie geld gemaak . Net so met hierdie kleur mitasies. Die enigste groot dryfveer agter die wildsbedryf is biltong en trofeejag. As biltong vleis duurder as beesvleis word maak ons liewer beesbiltong en nie geelblesbok biltong van R 15000 per kg nie. Ek is al 30 jaar in trofeejabedryf en het nog nooit een navraag gehad vir n swartooibkram nie . Ek glo die einde is gelukkig in sig .

  18. wildboer, gewese bees en saaiboer
    wildboer, gewese bees en saaiboer

    Lee emmers maak die meeste geraas,

    dis jammer mense kan nie die wat in die bedryf is verder sterkte toewens oor mense n sukses maak van n nuwe bedryf, en ander wat sekerlik nie die moed of geld het om in te klim, probeer om die beste bedryf in die wereld sleg te praat , snaaks genoeg niemand wat ek ken wat met wild boer, praat die bedryf sleg nie, net die buite standers wat sien hoe boere in die bedryf fantastiese opbrengste kry en miljoeners word binne 3 jaar, so terwyl die bedryf ook negatiewe publisiteit kry, hou die rekords net aan spat, kry jou feite reg voor jy se die kamma bubble gaan bars!!!!

    ek was n bees en saai boer en het in 2011 stadig begin met die wild en nou boer ek net wild en koop meer as ooit omdat ek die bedryf beter verstaan.

    kyk wat se risiko hou ander boerderye vir jou in , die speenkalf prys kan en het al met 40% geval in n paar maande die mielie prys het al geval tot onder R2000 p/t en dan praat ek nie eers van as jy n mis oes slaan nie a.g.v droogte wat ons tans ervaar

    vir my was dit n rand en sent som en om konserwatief en realisties op te tree,

    As jy geld het om te bele en meeste van die spesies gee opbrengste van 40% -100% per jaar (dan praat ek nie van die 400% wat jy maak met die duur spesies nie)en al val die prys met 50% in n jaar dan maak jy nogsteeds 20%-50%, waar klop jy dit?????

    P.S. BAIE GELUK AAN SOETVELDE FARMS MET HULLE NUWE AANKOOP VAN DIE ROOIGEMSBOK

  19. sekelbos
    sekelbos

    Oorsese jagters is oor die algemeen nie bereid om veel meer te betaal vir kleurvariante nie. Hulle is egter bereid om vir langhorings te betaal. Soos ek dit sien sal n wildboer nie verkeerd gaan om te teel en aan te koop vir lang horing bokke nie. Die kleur storie gaan na my mening n beperkte leeftyd he . Buffels sal ook altyd n goeie belegging wees, oorsese ryk jagters jag graag n mooi groot buffelbul. Biltong jagters is ook ongelukkig bederf, wil nie vir die werklike waarde betaal van organiese geproduseerde wild. My pennie in die pot!!!

  20. Anoniem
    Anoniem

    Ek het die voorreg gehad om n klompie jare in die Sentraal Karoo te bly. Wat opmerklik was, was die grootte van die swart springbokke. Hulle was altyd kleiner, swakker en nie rerig noemenswaardige trofee horings gehad nie. Rowland Ward toekenning is n standaard van voortreflikheid wat daar gestel is om n jagter en bok te eer wat spesiale uitstaande horing groei het. Ek dink wildboere moet hou by die geneties sterk en groter diere. Die praktyk wat wildboere gebruik om n geel, wit, koper, goue kleur vas te teel in n bloedlyn is volgens my verkeerd. Die swart bokke van die Karoo het kleiner en kleiner geword as gevolg van die inteling. Dit het die uitskot geword wat gejag word vir biltong jagters en die ou wat met n kleiner begroting graag n bok of 2 wil skiet. Skielik verander die mark en die swart bokke is meer gesog, meer in aanvraag en hulle word verder ingeteel deur vaders op dogters te gebruik en broers op dogters te gebruik om die kleur variasie in die nageslag te hou. Dit is nie hoe die natuurlike proses van voortplanting van wild verloop het voor daar mensgemaakte heinings en teerpaaie en skeidings tussen troppe wild gekom het nie. Ek hoop bowenal dat indien n wildteler dit gaan vervolmaak om n suiwer onverwante kudde bymekaar te sit en doelgerigte teeldoelwitte en stambome aanteken, dat hy steeds sy prys betaal word vir sy kennis, harde werk en jare se toewyding wat hy aan die dag gele het.

  21. Frikkie
    Frikkie

    Mnr die Wildboer,
    Gelukkig is daar tans aandele en fondse van finansiele instellings wat ook teen 40% groei.
    Ek bele eerder daarin en kan die vordering daagliks monitor, as wat ek ‘n bokkie koop en hy vrek van piep of skok..
    Die vraag en aanbod van die skaars wild bedryf, sal in binnekort ‘n plato bereik. Dan is die gort gaar vir baie manne..

  22. Fritz Eloff
    Fritz Eloff

    Mag alle abnormale kleur wild oornag verander in doodgewone wild!

  23. Thean Geldenhuys
    Thean Geldenhuys

    Ek het op 11 Desember 2014 ‘n jong geel ooi van kamp verskuif. Die ooi is op dieselfde plaas slegs 500 meter verder in ‘n ander kamp met dieselfde weiding heen geskuif. Ek het fotos geneem toe ons haar geskuif het. Sy was baie lig onder met ‘n mooi donker rug. Middel Januarie het dieselfde ooi ook soos Maarten Kruger se bok verander. Die verandering is byna identies aan joune Maarten. As ek nie geweet het dis dieselfde bok nie sou ek dit nie geglo het nie. Dis ons eie bokke en by navraag van kenners verneem ek ook soos Jacques Malan dat die ooi waarskynlik weer lig van kleur sal word. Ek monitor die situasie en neem fotos. Die bok kom uit ‘n trop mooi geel ooie asook geel splitooie en ‘n geel ram.

  24. Giel
    Giel

    Kan ek nou maar daai half geel blesbok gaan skiet? R2000 klink nog klein biki hoog vir blesbok jag, maar eks bereid om dit te betaal. Lekke biltongtjie daai!

  25. mkruger
    mkruger

    Thean, ek neem tans elke maand fotos van die bok. Miskien kan jy dit ook doen dan kan ons dit vir dr O’Dell stuur na ‘n jaar. Jou situasie gooi alle teorie tot nou toe omver. Het jy die bok gepyl en behandel vir inwendige parasiete of iets anders laat spuit soos minirale/vitamines toe jy haar geskuif het ?

  26. butch
    butch

    Ek stem saam met een kommentator hieronder dat dit wenslik is dat die partye hier handevat en mekaar probeer help met die oplossing van die probleem .
    Die stelling egter dat: “Die beginsel in die wildbedryf is: As die verdoofde bok op die koper se lorrie gelaai word en wakker gemaak word, gaan eienaarskap oor na die koper. Dan is die transaksie afgehandel.”; is hoegenaamd nie korrek en akkuraat nie. Dit is wel die gemeentelike posise wat die oorgang van eiendomsreg betref, maar selfs in gemereg het die Koper steeds sterk remedies wat betref verskeie vorme van wanvoorstelling wat tot teruggawe van die gelewerde saak kan lei. Dan Tree die Verbruikersbeskermingswet nog verder in wat die koper die bevoegdheid gee om die produk binne ‘n periode van ses maande terug te gee aan die Verkoper. Die Verkoper het geen seggenskap oor die Koper se besluit in hierdie verband nie en is weens die wet gebind daaraan. “ ‘n Verkoper moet kan bewys dat sy produk EG is. Indien hy nie kan, loop hy die risikos hier na verwys om die produk terug te vat en AL die koper se kostes opgeloop, asook skade gely, terug te betaal. Dis hoegenaamd nie ‘n geval van “laai die bok op die trok , en dis verder die Koper se probleem nie”.

  27. Thean
    Thean

    Ja Maarten die bok is gepeil met verskuiwing en was gesond, maar ons het maar die normale goed gespuit. Kyroligo, antibiotika en Dectomax as standaard praktyk. Ek sal so maak met die fotos.

  28. Lot
    Lot

    Die laaste keer wat boere saamgestaan(stem) het was toe hulle op pad na St Helena oor die kant van die skip opgegooi het .Gun elke ou sy bedryf man !

  29. Pierre van Niekerk
    Pierre van Niekerk

    Die Wildbedryf het vir my soos die Parlement se opening n paar dae geledegeword. ‘n Hartseer oomblik. Elke plaas wat ek besoek en of bosluise doen, kom teleurstellend die verdeeldheid oor die etiek van die handel wat in wildbedryf plaasvind, op een of ander manier uit.

    Verdeeldheid en verdagmaking. Stories en ongelowige transaksies. Klieks en clans en mafia-agtige beskuldigings van verhandeling, twyfelagtige genetika, inteling en wie weet wat als is die gesprekke van die dag.

    Dit is seker ongewild om dit te sê, maar my beskeie waarheid is dat slim bemarkingsstories met genetiese afwykings en bes moontlik verswakte genetika geldseine uitgestuur wat onkundige mense se ogies net dollars laat sien het.

    Hierdie storie is net een wat gepubliseer is. Daar is werklik vele van dit en sal seker vorendag kom nou. Is so sleg om dit te beleef, of om iemand te beleef wat se drome en liefde aan skerwe lê om deel van ons wildbedryf, en hy is verneuk. Is net so walglik om iemand te beleef wat uit sy maag uit lag omdat hy “goeie besigheid” gedoen het.

    Ek wens WRSA nou die beste en sterk leierskap vorentoe om die verdagmakery te heel. Om die bedryf se etiek te herstel want ek dink ons sit op n tydbom.

    In hierdie heelmaakproses is daar net een waarheid, en dit is te vinde binne die verwysingsraamwerk van die Biologie. Nie omdat so en so regtig beter of die beste dier het nie, of sy veilings so en so is nie, maar die Biologie en wat in die Biologie die waarheid is. Nie sakemanne se ekonomiese doelwitte nie.

    Die werklike toekoms van wild binne die Wildbedryf sal in my opinie moet bewys dat dit binne die definisie van die etiek van die Biologie geskrywe word. Daar is kleiner mense wat prima, prima wild het maar nooit die pryse sal behaal wat die wat “name” het behaal nie. Almal weet dit is en word ‘n onhoudbare situasie. Dit gaan uiteindelik in ‘n verdeelde organisasie ontaard.

    Onthou ek skielik na die les wat Prof Ivan Horak my in 2000 uit sy kantoor uitgejaag het omdat ek nie hierdie begrip in terme van bosluise goed verstaan en gerespekteer het nie. Ek het laer as slangslym gevoel, soos n prima kakkerlak.

    Dit als gesê, wysheid, insig en behoudenheid van gees word WRSA toegewens om hierdie situasie te hanteer. Dit is dalk net ‘n goue geleentheid om als in oënskou te neem om die bedryf dubbelgoud te maak. Ongelukkig, sal baie harde en ongewilde besluite geneem moet word.

    Mag die wat iewers verloor het, tog iewers die grootmoedigheid vind om te help om die Wildbedryf te heel en nie ‘n Lost City met fiktiewe prag en praal nie.

  30. Randy Westraadt (Choice wildlife Group)
    Randy Westraadt (Choice wildlife Group)

    Ek is self n wildboer en ons het seker een vd beste troppe geel blesbokke in die land. Hierdie interessante en mooi bok is verskriklik gewild onder wildboere omdat hy eerstens esteties baie mooi is, hy pas in feitlik alle dele van Suid Afrika en Namibia aan, hy hoef nie agter 2,4m wildheinings geboer te word nie, sy manlike en vroulike diere is ewe veel werd en dan is hy nog n “kannie dood” bok wat nie maklik vatbaar is vir siektes is nie.

    Ons het verskeie troppe en ons vind dat veral in die somer maande dat van die geel bokke verdonker. Ons kry dit van die “suiwer pedigree” een tot die F 3 en 4s. Ons word, grond en weiding is getoets en alle nodige mineral aanvullings is in plek en dit gebeur nog steeds. in die winter word hul amper speirwit. Daar is wel sekeres wat regdeur of wit bly en ander donker……redes onbekend vir my!

    Ek dink in die geval is daar geen vuilspel betrokke nie maar meer n kwessie van onkunde tussen die partye. Die koper het soos ek verstaan hierdie bok gekoop op aanbeveling van “ervare” wildboere en hy het self na die bok kom kyk en selfs tydens die vangs was die koper teenwoordig. Hy het nogsteeds die bok aanvaar en gelaai.

    Die koper het tot op die laaste die reg gehad om te onttrek uit die transaksie wat hy toe nie uitgeoefen het nie. Die verkoper kon ook dalk nie bewus gewees het dat geel bokke wel verkleur. Hierdie is die oorsaak dat wild te maklik verhandel kan word deur agente. Daar is agente wat nooit eers n hul skoene op n plaas gesit het maar hul maak miljoene deur net oproepe te maak. Dan vind daar verkope plaas met fotos en iewers as daar onmin is speel die agent onskuldig

    My raad aan die kopers………doen navorsing oor die dier wat jy wil koop, vra raad, kyk self en vrae soveel moontlik vrae. Bepaal wie vir wat en wanneer verantwoordelik is. Jy word nie gedwing om die dier te koop….die geld is joune tot jy tevrede is met die bok. Moenie oorhaastig koop nie

    My raad aan die verkopers…….dring aan by agente om met koper self te praat. As jy eerbaar is kry die agent nogsteeds sy kommissie. Probeer die koper raad gee oor sy aankope asof dit jy is wat die bok koop. Wees altyd 100% eerlik met ouderdom, nageslag, horing lengtes en as jy bewyse het van lg gee dit aan die koper. Jy wil tog he hy moet ander kopers verwys en self ook weer kom koop.
    As jy as verkoper sien die bok voldoen nie aan die koper se behoeftes moenie n “sale force” nie. Verwys hom of help hom soek. So wen jy n vriend en n mede wildboer. Ken jou wild.

    Publieke forums is nie die plek om hierdie wasgoed te was want dit veroorsaak dat afgunstige mense wat nie wild het of boer nie om oningeligte opinies te gee en ons bedryf te beswadder. Daar is mense soos vd lede in SA JAGTERS wat eintlik ons vriende is wat nou laer trek teenoor die wildboer en sulke openbare forums versterk hulle net in hulle kwaad. Staan bymekaar want grondeienaar kry nie net politieke slae nie maar ook publieke houe van oningeligtes.

    Ek glo die bok sal Julie weer mooi lyk!

    Ek hoop almal kry vrede uit die kwessie en leer lesse. Pleks los die baklei en bid vir reen

    Randy Westraadt 0824941897

  31. mkruger
    mkruger

    Randy, dankie vir jou terugvoer.
    As jy van mening is dat die tipe van forum nie bedoel is vir die aanspreek van die situasies nie, watter forum stel jy voor daarvoor gebruik word. Al wat ek wil se is dat uit ‘n huwelik kan mens dit leer: As jy probleme onder die mat invee, gaan die huwelik een of ander stadium inmekaar stort. Inteendeel alles in die samelewing werk so. As jy dit nie aanspreek nie, spreek dit, dit self op die ou end aan…

    Ek het die gesprekvoering baie positief en leersaam gevind.
    Eerstens het ons die kommentare van die mense wat baie negatief is oor oa die piramide skema.
    Die groep glo ek kan in twee opgedeel word.
    Die wat werklik gewetensbeswate het en die wat negatief is omrede hulle self wil toetree en nie seker is of die finansies het nie.
    Ja die is ‘n piramide skema nes enige ander projek wat mens aanvat.
    Hoeveel mense het bv woonstelontwikkeling aangedurf en geld gemaak.
    Daar is egter baie laat toetreders wat nie geld gemaak het met hulle eenhede wat hulle ontwikkel het nie en nog sit daarmee…
    Dieselfde gaan hier gebeur.
    Die oomblik as die teelmateriaal versadig is dan gaan die pryse daal en dan sal jagondernemers dit kan bekostig om bv ‘n blesbok jagpakket beskikbaar te stel waar mens teen ‘n redelike prys bv al die beskikbare blesbok variasies as trofee kan skiet.

    Tweedens het ons die mense wat werklik goeie positiewe kommetare gelewer het en ek glo baie lig op die onderwerp gewerp het.
    Uit Butch se laaste kommentaar sien mens duidelik dat die mense wat geglo het dat as die bok gelaai is, is die probleme die koper sin, verkeerd is met die siening.
    Ek glo kopers en verkopers sal toekomstig baie geruster voel.
    Miskien nie die verkopers wat agendas gehad het nie.
    Verder is die ‘n probleem wat tot groot wildsboere mee sit.
    Hoekom hulle dit egter tot nou toe ‘n geheim gehou het weet ek nie.
    Miskien is dit omdat daar nie ‘n forum vir hulle was om dit te bespreek nie.

    In die derde plek sit ons met die wildsboere en agente, waarvan ‘n paar my gebel het, wat baie ongelukkig was oor die artikel.
    Hoekom hulle ongelukkig was kan mens maar net oor bespiegel.
    Of soos die ou gesede se: Die waarheid maak seer.

    Wie weet miskien word die slim manne so geprikkel deur die artikel en kommentare dat hulle, hulle ondersoeke herprioritiseer en die geel blesbok situasie gouer aandag geniet as wat beplan was.

  32. Randy Westraadt
    Randy Westraadt

    Beste mkruger

    Daar is nie fout met enige poging tot problem oplossing nie. Ek stel my eie mening en ek sou dit direk met koper aangevat het totdat ek n wesentlike bevredigende antwoord/oplossing gekry het. Ek dink nie wildboere het iets om weg te steek nie. Goeie diere gaan altyd n goeie prys gaan.

    Met u besluit om self in die sogenaamde piramiede skema in te klim het u seker ook gewens om n geldjie te verdien. U het toe gou besef dat wild boerdery nie net n geldmaak storie is nie , maak nie saak wat die kleur is nie. Swart rooibokke, geel blesbokke en sables kalfies word net so lekker gevang deur die jakkalse, Die wildboere moet bietjie op die forum vertel hoeveel miljoene le in verliese van wild.

    Elke geval van probleme mbt tot wildverskynsels is belangrik en ons almal leer uit elke nuwe situasie. Ek wil niks ander die mat invee ek wil net he dat ons die regte besem gebruik om vuilgoed mee op te vee. In die geval is WRSA ons forum waar die meeste kennis saam gevind sal word en tussen die lede van WRSA sal u tot goeie raad toegang he en hoe om u problem verder te hanteer.

    Jy gaan tog nie n tandarts vra om jou knieprobleme op te los en ook nie n varkboer vra om jou bees siektes op te los nie.

    soos reeds deur baie skrywers genome is…..ons gehelp sal word ons daar genoeg hulp beskikbaar. Verder verstaan ek u bitterheid maar omdat u bok velkleur het maak die bedryf nie skelm nie en dit is ook nie die bewys van piramiede skemas nie.

    Ek het verlede jaar 3 swart rooibokke, 1 goue wildebeest, 1 konings wildebeest en 2 geelblesbokke met kliente gejag so lyk my die eindmark is besig om te groei so ek sal aanbeveel dat ons nog baie teel.

    Groete Randy

  33. mkruger
    mkruger

    Randy, ek is jammer as jy my kommentaar nie mooi verstaan het nie.
    Ek is geensins bitter nie en ek het nie gese die bedryf is vol skelms nie.
    Jou versoek dat mens dit eerder om WRSA se forum moet aanspreek laat mens eerder dink daar is iets wat weggesteek moet word – Ek se nie dit is die geval nie.
    Soos duidelik in die artikel gestel is die doel om uit te vind wat die probleem is en wat dit veroorsaak en hoe dit verhoed kan word.
    As ek bitter was glo ek daar sou ‘n hele paar prokereurs maar te gewillig gewees het om my te help.

    MAAR ek is seker daar is net soveel skelms in die bedryf soos daar in enige ander bedryf is.
    As jy mooi lees sal jy sien dat ek se dat alle pogings om geld te maak, of jy nou eiendom ontwikkel of wild boer, tot ‘n mate ‘n piramide skema is.
    Die mense wat eerste die geleentheid sien en inklim maak geld.
    Die mense wat later inkom gaan miskien nie soveel geld maak nie maar hulle gaan ook nie noodwendig alles verloor nie.
    Jammer as my verduideliking hierbo nie duidelik genoeg was nie.
    Persoonlik loop ek al vir amper 20 jaar ‘n paadjie saam met Landbouweekblad en omdat ek wildsboerdery maar net as nog ‘n boerdery vertakking sien verkies ek om die forum te gebruik.
    Miskien sal WRSA net baat deur beter bande met Landbouweekblad te he ?

  34. sean
    sean

    Ek vind die situasie nogal baie interesant , en is ook in die blesbok bedryf . Een voorstelling wat ek wil maak is om eerder jou geel blesbokke in die middel van winter in te koop as hulle kleur nie op sy beste behoort te wees . Wees ook baie versigtig met watter agente jy werk !

  35. butch
    butch

    Maarten – met die verwysing na sekere agente wat jou gebel het en aangedui het dat hul “baie ongelukkig is oor die artikel” wil ek graag ‘n klein waarskuwing aan kopers rig – enigiemand wat nie bereid is om sy eie pot se deksel op te lig en binne-in te kyk (selfondersoek te doen ) – moet kopers so ver as moontlik van wegbly – dis die tipiese reaksie van iemand wat nie weet wat in sy werk aangaan en wil kla as die koper nou nie tevrede is – terloops bind die Verbruikersbeskermingswet die agent netso en in dieselfde mate as die verkoper – dis ‘n baie oningeligte uitspraak om aan te dui dat hy “baie ongelukkig is oor ‘n artikel” – dis juis ‘n duidelike aanduiding dat “alles nie in orde is nie ” !

  36. anoniem
    anoniem

    Het iemand die moontlikheid oorweeg dat die bok met n verf / chemikalies opsetlik verkleur is? Dit sou verklaar hoekom die bok so spoedig weer terug verkleur het na sy oorspronklike kleur?

    • Jan Bezuidenhout

      Anoniem, Volgens die koper was dit glad nie die geval nie, en daardie moontlikheid is nie oorweeg nie.
      Groete

  37. Jacques
    Jacques

    Ek het nou almal se opinies gelees en glo hierdie Wild ding is nie volhoubaar nie. Ek ken eintlik net een reel en dit is dat daar nie n maklike manier is om ryk te raak soos party dit laat klink nie. Die resep vir sukses is harde werk……en nogmals werk.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels