Hoe vinniger 'n siekte by 'n perd gediagnoseer en behandel word, hoe beter is die dier se herstelkanse. Elke ruiter moet dus sy perd baie goed ken sodat hy dadelik enige afwyking van die normale kan raaksien.
Siekte is gewoonlik enige afwyking van dít wat as die normale aanvaar word. Dit is dus logies dat 'n ruiter eers moet weet wat normaal is voordat hy of sy 'n siekte kan herken. Die normale tekens van gesondheid kan drasties van perd tot perd verskil, want grootte, ras en temperament kan 'n invloed daarop hê.
'n Ruiter moet sy perde soos die palm van sy hand ken sodat enige afwyking van die normale raakgesien kan word. Hoe vinniger 'n siekte gediagnoseer en behandel word, hoe beter is die kanse op herstel.
'n Mens kan 'n perd monitor deur middel van die liggaamstemperatuur, die hart- of polsslag, die asemhalingstempo, die temperament en die eetgewoontes. 'n Perd se temperatuur word geneem deur 'n kliniese termometer met vaselien te smeer en vir ongeveer 'n minuut in die perd se rektum te plaas. Die perd se stert kan in een hand vasgehou word om te verhoed dat dit die termometer uitstamp en met die ander hand moet die termometer vasgehou word om te verhoed dat die perd dit uitdruk of intrek.
Die normale temperatuur vir 'n volwasse perd is 38 °C tot 39 °C. Enigiets bo dit is abnormaal. Liggaamstemperatuur kan styg op warm dae, gedurende oefening en by jong perde. 'n Temperatuur bo 39 °C dui koors aan. Dit kan moeilik wees om die termometer te lees oefen dus gerus 'n paar keer terwyl die perd gesond is. Onthou om altyd die termometer af te skud voor gebruik, aangesien die vorige lesing nog kan wys.
'n Hart- en polsslag is dieselfde, maar word op verskillende plekke geneem. 'n Stetoskoop is eintlik nodig om na die hart te luister, hoewel dit ook geneem kan word deur die palm van jou hand oor die perd se hart te plaas, reg bo die punt van die elmboog.
Die polsslag word geneem deur 'n vinger te plaas op die slagaar wat oor die onderkant van die onderkaak loop omtrent halfpad op met die kaak en die pols te tel. Dit is moeilik en verg oefening. Die polsslag kan ook aan die binnekant van, of net onder die elmbooggewrig geneem word, op die agterste radiale slagaar. 'n Derde plek waar die pols geneem kan word, is onder die stert naby aan die lyf by die koksigeale slagaar.
'n Normale polsslag vir 'n gesonde perd wat rus, is ongeveer 32 slae tot 40 slae per minuut. Enigiets vinniger as 60 slae per minuut by 'n perd wat rus, is abnormaal. Dit is normaal vir die pols om vinniger te wees gedurende skemer, opgewondenheid of oefening, en as die dier siek is, of in pyn verkeer. Die polsslag is ook gewoonlik vinniger by jong perde.
Die asemhalingstempo is hoe gereeld die dier asemhaal. Die normale asemhalingstempo by 'n gesonde perd wat rus, is ongeveer 8 asems tot 16 asems per minuut. Dit word geneem deur 'n hand op die flank te plaas, of deur net die styg en die val van die flanke dop te hou en te tel. Dit kan ook geneem word deur die neusgate dop te hou. Die asemhalingstempo moet altyd geneem word terwyl 'n perd rus.
'n Veearts sal nie gewoonlik 'n perd se temperament of eetgewoontes ken nie, behalwe as die perd vir 'n lang ruk onder sy toesig was. Dit hang dus van die eienaar af om hierdie inligting aan die veearts oor te dra. Die feit dat 'n perd wat altyd goed eet, skielik nie sy kos wil hê nie, of nie klaar eet nie, is gewoonlik die eerste teken van 'n probleem. As 'n perd wat gewoonlik lewendig of wakker is, skielik lusteloos en depressief voorkom, kan dit ook siekte aandui.
'n Loperige neus is gewoonlik 'n abnormale toestand, hoewel 'n klein hoeveelheid vog uit die een neusgat gedurende koue weer of ná oefening normaal is. 'n Klein hoeveelheid vuiligheid onder die neusgate is ook normaal.
'n Dun, waterige straaltjie uit die neusgate is abnormaal en kan 'n ligte asemhalingsinfeksie aandui. Gekleurde straaltjies en koors dui op siekte en 'n veearts moet ontbied word. Etterige, rooierige en vlokkierige straaltjies kan op iets ernstigs dui en 'n veearts moet beslis ontbied word.
Die oë van 'n gesonde perd is helder en blink. Tranerige oë kan 'n teken van siekte wees, maar as daar nie koors of ander tekens van siekte is nie, kan dit net 'n infeksie, 'n stofallergie of vliegirritasie wees. Daar moet altyd seker gemaak word dat daar geen vreemde voorwerpe in die oog is wat infeksie kon veroorsaak het nie.
'n Gesonde perd het 'n blink, gladde vel wat los, soepel en maklik beweegbaar is. 'n Dowwe, growwe vel kort olie en kan dui op wurms of swak gesondheid. Hare wat uitval, skilfers of droogheid dui op parasiete of tekorte in die rantsoen.
'n Perd sal warm sweet ná harde werk, maar koue sweet is as gevolg van senuagtigheid of pynlike toestande. 'n Perd wat pyn het, sal kol-kol in sweet uitslaan.
Die nasale membraan, die ooglid en die lipmembraan is gewoonlik pienkerig van kleur en vogtig. Gelerige of vaal membrane kan bloedarmoede of geelsug aandui. Rooi membrane kan 'n infeksie of vergiftiging aandui. Blou membrane kan 'n hart- of asemhalingsprobleem aandui. Enige verandering van kleur is dus abnormaal.
Neusbloeding kan deur vinnige, harde werk veroorsaak word, veral by resiesperde of poloperde. Hierdie bloeding kan van enige plek in die asemhalingstelsel af kom, maar meestal van die longe af. Enige perd kan 'n bietjie neusbloeding ondervind uit een neusgat, veral ná baie harde werk, of op baie warm dae.
Wanneer dit gereeld gebeur en bloed uit albei neusgate kom, kan dit 'n ernstiger probleem aandui. Bloeding kan veroorsaak word deur abnormale druk aan die bokant van die longe in weefsel wat reeds deur inflammasie beskadig is tydens 'n virale asemhalingsinfeksie.
'n Normale hoes by 'n perd is sterk en hard, en vind gewoonlik plaas wanneer 'n perd sy keel probeer skoonmaak van kos of water wat nie heeltemal afgesluk is nie. 'n Perd kan hoes as gevolg van 'n stowwerige arena, kamp, kos of stal. Abnormale hoesery sluit in 'n nat hoes, 'n droë hoes, 'n aanhoudende hoes en 'n swak hoes. 'n Aanhoudende hoes kan permanente skade aan die longe aanrig en moet aan 'n veearts gerapporteer word.
'n Gesonde perd mis ongeveer sewe tot tien maal elke dag, met 'n totaal van 12 kg tot 17 kg mis. Hierdie mis moet groenerig tot bruinerig wees, met 'n sagte, maar ferm vorm wat losbars sodra dit op die grond val.
Harde mis kan aandui dat die perd se voeding té droog, té hard of onverteerbaar is, of ook dat die perd gedehidreer is. Waterige mis dui op lakserende voeding, senuagtigheid, moegheid of té harde werk. Indien bloed in die mis waargeneem word, kan dit op inflammasie in die spysverteringstelsel dui en 'n veearts moet ontbied word.
Groot hoeveelhede volgraan of groot stukke graan in die mis kan aandui dat die perd nie sy kos ordentlik kou nie, of dat hy 'n spysverteringskwaal het. Daar moet na só 'n perd se tande gekyk word om seker te maak die tande is nie te lank nie, of dat die tande nie dalk skerp punte het nie. Indien wel, moet die perd se tande gevyl word.
Elke perd het sy eie drinkgewoontes en enige afwyking hiervan kan op siektes dui. Die hoeveelheid water wat 'n perd drink, hang af van sy grootte en die hoeveelheid droë kos wat geëet word. 'n Normale perd sal ongeveer 2 liter tot 5 liter water drink per 1 kg droë kos wat ingeneem is.
'n Perd wat baie min water drink, kan dalk nierprobleme hê. Perde urineer gewoonlik vyf tot agt keer per dag. Die urine het 'n geel kleur en 'n wolkerige tekstuur. Dit kan egter van perd tot perd verskil. Kyk dus gerus na jou eie perd se urine om seker te maak wat die kleur normaalweg is.
Oefening, waterinname en kos kan 'n invloed hê en gereelde urinering is nie noodwendig 'n teken van infeksie nie. Let eerder op na 'n drastiese kleurverandering, wat dan aan 'n veearts gerapporteer moet word. Urienweginfeksies kan lei tot pynlike, gereelde urinering.
Mense wat lief is vir perde, moet nooit die vroeë tekens van siektes ignoreer nie, want 'n ernstige siekte kan dikwels genees word as dit vroeg genoeg raakgesien en gekeer word.
15 Oktober 2004