|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
In die afwesigheid van misdaad, soos veediefstal, en hoë pryse vir lams- en skaapvleis, is veeboerdery in Australië oënskynlik veel makliker as in Suid-Afrika. Kom dit egter by die gehalte van vee, hoef plaaslike veeboere nie 'n tree vir hul Australiese eweknieë terug te staan nie. Só sê 'n bekende wolboer wat Australië onlangs besoek het.
Hoewel skaapvleisboerdery in Australië tot in die vroeë 1990's nie juis 'n goeie keuse was nie en die kleinveeboere hulle meer op wolproduksie toegespits het, het sake sedertdien omgekeer. Talle boere in Australië verdien tans meer uit hul skaapvleis as uit wol.
Dít was een van die waarnemings van mnr. Claude Cloete van Carlton in die distrik Dordrecht, wat saam met 'n groep ander boere uit die omgewing 'n uitgebreide besoek aan 34 medium- en sterkwolstoeterye in Nieu-Suid-Wallis, Victoria en Suid-Australië gebring het.
"Toe bykans 19 miljoen skape 15 jaar gelede in Australië van kant gemaak moes word, het dié land se regering ingegryp en uitstekende uitvoermarkte vir lams- en skaapvleis in Amerika, Asië en China ontgin. Dit het meegebring dat boere tans A$90 tot A$120 per skaap op dié markte ontvang."
Mnr. Cloete sê hy is meegedeel dat die Australiese regering se benadering nie is om boere finansieel by te staan nie, maar eerder die weg te baan en 'n omgewing te skep waarbinne besigheid gedoen kan word en die landbou kan gedy. Hy meen omdat wol tradisioneel 'n belangrike rol in Australië gespeel het, het boere daar nog nie, soos in Suid-Afrika, 'n goeie balans tussen wol en vleis, soos in die moderne Suid-Afrikaanse Merino, gevind nie.
"Die gevolg is dat die vrugbaarheid van die Australiese Merino's swak is, met 'n gemiddelde lampersentasie van 60 tot 80. Dit is nie naastenby so goed soos dié wat op baie plase in Suid-Afrika ervaar word nie."
In teenstelling hiermee is die gehalte van hul wol uitstekend en word gemiddeld 7 kg tot 8 kg wol per skaap geskeer vergeleke met die 4 kg tot 5 kg in Suid-Afrika.
Mnr. Cloete meen die intensiewe toestande waarin die Australiërs boer deur feitlik elke hektaar grond onder aangeplante weidings vestig, bied uitstekende geleenthede vir die uitbreiding van 'n ras soos die Dohne-Merino. "Die Aussies behoort dit ernstig te oorweeg om meer Suid-Afrikaanse Merinoteelmateriaal in te voer ongelukkig was die boere wat ons teëgekom het, te trots om dit te erken," sê hy.
Die feit dat die Amerikaners 'n lam verkies met 'n karkasgewig van 25 kg tot 30 kg het daartoe gelei dat hulle met nuwe oë na die SA Vleismerino kyk. "Ons het dié ras op verskeie plase opgemerk."
Wat die groep veral beïndruk het, is die voortreflike wyse waarop Australiese boere tydbestuur toepas. "Ons sit en woer-woer op ons plase en bestee te veel tyd aan sake wat nie noodwendig 'n bydrae tot hoër plaasinkomste lewer nie. Hierteenoor pak Australiërs van meet af aan sake wetenskaplik aan en het oorgenoeg tyd om te ontspan en saam met hul gesinne deur te bring."
Hoewel Australiërs 'n statutêre heffing van 2 % op die bruto waarde van hul skeersel betaal, mor baie boere wat hulle raakgeloop het, daaroor. Mnr. Cloete sê die Ausies stem egter elke tweede jaar oor die bedrag wat vir dié doel afgestaan moet word.
Hy meen wolmakelaars in Suid-Afrika kan by die Australiërs leer. "Makelaars daar werk saam in die belang van boere en ding nie, soos hier in Suid-Afrika met mekaar mee nie. Selfs op die gebied van wolhantering en- bemarking deel hulle dikwels dieselfde geriewe om bemarkingskoste vir hul klante so laag moontlik te hou."
Mnr. Cloete en die ander boere het saam in Australië 'n ram vir R60 000 aangeskaf. Volgens hom het die ram 'n besonder sagte gesig en hy toon nie die geringste teken van donker pigment nie. Die ram het uitstende mediumwol met 'n baie duidelike karteling. "Wol van dié gehalte is nie plaaslik beskikbaar nie."
Hy sê die groep besef dat die koop van 'n ram in die vreemde 'n skoot in die donker bly, maar hulle is vol vertroue dat die ram goed by hul vee sal aanpas. Die ram bly egter in Australië en hulle voer net die semen in.
Mnr. Cloete wil hom beywer vir nouer samewerking op die gebied van Merinoteling tussen die twee lande omdat die ras se getalle wêreldwyd afneem. Wat die vrugbaarheid van die Merino betref, is mnr. Cloete oortuig dat Suid-Afrika hulle ligjare voor is.
"Dit is net jammer dat die Australiërs, wat dít betref, 'n eiland-mentaliteit het en nie bereid is om na die uitstekende teelmateriaal in Suid-Afrika te kyk nie."
Geen klakouse nie
Mnr. Claude Cloete sê dit was opvallend dat die Australiërs ondanks 'n ernstige droogte nie daaroor kla nie. "Nêrens het ons boere teëgekom wat gejaag of gestres lyk nie."
Net soos in Suid-Afrika sukkel die Aussies ál meer met 'n goeie werkmag op plase. Daar is feitlik geen jong mense wat bereid is om op plase te werk nie. Hulle verkies eerder die stadsliggies. Die plaaswerk word hoofsaaklik deur lede van die gesin behartig van oupa en ouma tot die pa, ma en groter kinders wat nog op die plase is. Die boere sê dit raak al hoe moeiliker om skeerspanne te kry.
Mnr. Cloete sê die grootste droogte in menseheugenis in Australië het tot gevolg dat hulle lammeroes met 40 % verminder en ooigetalle met 5 % afgeneem het. Feitlik alle hamels is verkoop. Volgens 'n beraming is 50 miljoen ooie vanjaar in Australië gepaar. Sowat 60 % hiervan is met vleisrasskape in 'n terminale kruising gepaar sodat boere hul kontantvloeiposisie ná twee droë jare kan verbeter. "Dit beteken dat daar volgende jaar nóg minder wol in die wêreld beskikbaar gaan wees."
Hy meen die tekort aan skaap- en beesvleis sal voordelig wees vir Suid-Afrika. "Ons Regering behoort die geleentheid aan te gryp om, terwyl daar 'n vakuum is, te help om nuwe markte vir Suid-Afrikaans geproduseerde vleis in die buiteland te beding."
'n Ander faktor wat veeboerdery in Australië strem, is die grootskaalse omskakeling na gewasverbouing. Op een van die plase wat besoek is, was daar 40 jaar gelede nog 28 000 skape, met 400 ha onder besproeiing om kos vir die diere te kweek. Vandag is daar op dieselfde plaas net 14 000 skape terwyl op 4 000 ha rys verbou word.
"Iemand het opgemerk dat wanneer 'n boer in Australië eers die reuk van dieseldampe kry, hy beswaarlik weer na die reuk van 'n skaapkraal sal hunker."
Die groep was beïndruk met die nuwe wolprodukte wat deur Australië op die mark geplaas word. Een van die gewilde kledingstukke is jannas (jeans) met 'n 18 %-wolinhoud. Hulle het ook masjienwasbare manspakke gesien wat uit 'n mengsel van 60 % wol en 40 % poliëster bestaan.
14 November 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24