|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
'n Unieke projek waarin die Anatoliese skaaphond vir die eerste
keer in Suid-Afrika aktief en op 'n georganiseerde wyse in die stryd teen
probleemdiere ingespan gaan word, het pas begin.
Probleemdiere bly 'n kleinveeboer se nagmerrie en daar is talle metodes in omloop waarmee boere dié probleem probeer bekamp. 'n Waghondstelsel met Anatoliese skaaphonde, wat reeds in die buiteland beproef is, het onlangs onder Suid-Afrikaanse boere begin posvat.
'n Navorsingsprojek om die doeltreffendheid van dié honde te evalueer, is by die Landbou-ontwikkelingsinstituut Grootfontein by Middelburg in Oos-Kaap, van stapel gestuur.
Die projekkoördineerder, mnr. Cyril Stannard van die instituut, het op die jaarlikse kongres van die Noord-Kaapse NWKV aan skaapboere verduidelik hoe die waghondstelsel vir vee presies werk.
Hy sê vir die behoorlike evaluaring van die impak van die verskillende metodes om ongediertes te bestry, moet betroubare inligting van boere gekry word oor die omvang van die skade wat hulle as gevolg van probleemdiere ly. Sulke inligting moet bygehou word om enigsins van waarde te wees. As inligting van oor die hele land heen beskikbaar is, kan dit in die toekoms 'n nuttige databasis wees om die stand van sake te evalueer en gebruik word om optrede teen probleemdiere te beplan.
Die projek bestaan uit twee afdelings, naamlik 'n opname oor alle verliese as gevolg van probleemdiere, en veral die evaluering van waghondstelsels vir vee.
Wat die projek oor waghondstelsels vir vee besonders maak, is die feit dat hoofsaaklik Anatoliese skaaphonde gebruik word. Dié honde, wat oorspronklik in Turkye geteel is en oor eeue heen as 'n waghond vir vee daar gebruik is, is taamlik onbekend in Suid-Afrika.
Mnr. Stannard sê die doel van die projek is om 'n databasis op te bou wat die omvang van veeverliese van 'n groot aantal individuele boere op hul plase sal bepaal. Nadat 'n boer al 'n tyd lank deel van die projek is, en hy sou besluit om 'n ander metode toe te pas om probleemdiere te bestry, word die impak daarvan outomaties deur middel van 'n maandelikse vraelys in die databasis opgeneem.
Boere sal ook uit dié databasis kan bepaal wat die doeltreffendste bekampingsmaatreël in hul omgewing is.
Mnr. Stannard sê ná 'n jaar se deelname sal boere wat belangstel, gehelp word om van die Anatoliese skaaphonde in die hande te kry wat beskikbaar word uit die waghond-vir-vee-projek. Die hondjies sal op die ouderdom van ses weke teen 'n spesiale prys aan deelnemende boere beskikbaar gestel word.
Dit verhoed deelnemers egter nie om intussen solank na die waghondstelsel oor te skakel deur honde by ander telers in Suid-Afrika te koop nie. Die hondjies word op 'n voorgeskrewe manier saam met die kleinvee op die plaas grootgemaak en só word 'n hegte band tussen die vee en die honde gesmee. Die honde beskerm dan hul hele lewe lank die trop teen probleemdiere.
Mnr. Stannard sê Anatoliese skaaphonde is oor eeue heen geteel om in moeilike toestande en in uiterste temperature te oorleef. Mettertyd is net die sterkstes geselekteer sodat die diere wat vandag beskikbaar is, die beste is wat geteel kan word.
Reuns is van 73 cm tot 86 cm hoog en weeg van 50 kg tot 73 kg, terwyl tewe 70 cm tot 91 cm hoog word en 40 kg tot 55 kg weeg. Die kleur van die diere wissel baie, maar hulle is meestal roomkleurig, met wit-en-swart gesigte.
Die honde is hardwerkend en sal enigiets doen om vee, hul base of dié se eiendom - selfs ook diere soos perde, volstruise, bokke en hoenders - te beskerm. Hulle ontwikkel egter stadig en is gewoonlik teen agt maande gereed om vee op te pas. Die opleiding begin op die ouderdom van vyf weke, wanneer hulle gespeen en by lammers geplaas word. Namate die hondjies groei, moet die lammers waarmee hulle geleer word, ook groter wees.
Mnr. Stannard sê dit gebeur soms dat van die jonger hondjies van die lammers jaag, of selfs probeer byt, maar daar is spesifieke metodes waarmee hulle dié gedrag afgeleer word. Die honde word egter nooit geslaan nie, want hulle sien dit as aggressie en sal dit met teen-aggressie beantwoord.
Anatoliese skaaphonde is gewoonlik liefdevol teenoor kinders, en as hulle saam met ander soorte honde grootword, sal hulle ook in vrede met hulle saamleef solank die ander honde nie met die veetrop lol nie.
'n Spesiale voedingsprogram is beskikbaar vir die ontwikkeling van die hondjies. Verder vreet hulle gewone hondepille uit 'n selfvoerder, maar as die boer wil, kan die honde ook daagliks mieliepap en melk kry. Hulle drink saam met die vee water.
Mnr. Stannard sê ál wat van 'n deelnemende boer verwag word, is om minstens 'n tyd lank aan die projek deel te neem. Die boer word ook van volledige inligting voorsien oor hoe die honde volgens die voorgeskrewe manier grootgemaak moet word. Voorts moet die boer bereid wees om te help wanneer die hond op die ouderdom van ses maande, agt maande en twaalf maande deur die projekleier en/of veldbeampte geevalueer word. Daarna sal die hond net een keer per jaar geëvalueer word, sê hy.
Mnr. Stannard sê organisasies wat betrokke wil raak of wat wil help, kan veldbeamptes beskikbaar stel in die kleinveeproduksiegebiede en hul name aan hom gee om dit in die databasis op te neem. 'n Opnamebundel word ook saamgestel vir elke boer wat aan die projek deelneem. Dit word maandeliks namens hom ingevul met behulp van 'n telefoonoproep.
Boere en ander belangstellendes kan mnr. Stannard bel by tel. 049 842 1113.
18 April 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24