Dorpers in die subtrope

 
Vier Dorper-embrio's. Foto: DANIE COETZEE
Vier Dorper-embrio's. Foto: DANIE COETZEE

Ek wonder wat daardie manne vandag sou sê? Hulle wat so gespook het om die Dorper te teel vir die harde, ongenaakbare dele van Suid-Afrika. Onder andere S.W. Bosman, D.J. Engela, my grootoom, dr. Jan Ebersohn, en nog vele.

Grootfontein se Karooveld en Koopmansfontein se Kalahari, so ver verwyder van die malse, groen subtrope. Die kliprante en dorre klimaat, onvergelykbaar met die humiditeit en diep grond van die plaaslike omgewing (in Paraguay). Die Dorper behoort eintlik glad nie hier te aard nie, maar die teendeel is besig om duidelik na vore te kom, in hierdie sutropiese hoë reënvalgebied.

Dié week is hier geskiedenis gemaak met die inplant van die eerste Dorper-embrio's uit Suid-Afrika. Vir vier skaapboere van die omgewing, het ná ’n burokratiese stryd en baie uitgawes, die groot dag eindelik aangebreek. In die kuddes van Bernardo Cueppens (36 ooie), Hugo Schaffrath (36 ooie), en die oud-Suid-Afrikaners, Nicol Spangenberg (36 ooie) en die familie Brits van Caaguazu (50 ooie) was die ontvanger-ooie gereed. Hoofsaaklik Santa Inéz-ooie, bekend vir hulle goeie moedereienskappe.

Rotasiebasis
Twee jaar gelede het hierdie telers, vier geregistreerde ramme en’n klompie stoetooie vanaf Brasilië ingevoer. Die ramme is op ‘n rotasiebasis tussen hulle gebruik. Daar is dus’n kern van Dorpertipe-ooie en ’n klompie suiwer Dorpers. Hierdie proeflopie was voldoende bewys dat daar ‘n groot vraag en toekoms vir die Dorper is en is daar besluit op die invoer van embrio's uit Suid-Afrika.

Embrio's is verskaf deur Ramsem in Bloemfontein, onder leiding van dr. Johan Steyn en sy span, wat ook die beplanning vooraf behartig het.

Embrio's afkomstig uit die stoeterye van die volgende telers is gebruik: Andries en Leon van Niekerk, Hilton Spangenberg, Ben Grobler, Charl Saunderson en Leroy en Mickey Phillips. Verskeie bloedlyne is gebruik, sodat daar in die toekoms ramme uitgeruil kan word en inteling dus só voorkom word. Die oorplantings was in die bekwame hande van dr. Arthur Fischer Neto. ‘n Deskundige in Suid-Amerika op dié gebied, van Uruguaiana in die suide van Brasilië Ta Annie Brits en Jaco se skape is hoofsaaklik op aangeplane Tifton 85, ook bekend as Bermuda grass, wat ´n baster kweek is. Cynodon dactylon spp.

Klik hier om na foto’s te kyk.

Die skape van Nicol word op Aruana-gras aangehou, Panicum maximum aruana. Ongelukkig kan die beste gras in dié deel, Brachiaria brizantha, nie vir die skaap gebruik word nie, aangesien dit in die lente besmet word deur ‘n swam wat die skape aan iets soortgelyk as geeldikkop laat ly.

Groot geesdrif
Daar is groot geesdrif onder die telers vir hierdie nuwe rigting wat ingeslaan is. Tant Annie Brits, met haar onblusbare entoesiasme en liefde vir haar skape, is ‘n voorbeeld vir baie, wanneer dit by toewyding kom. Bygestaan deur haar seun Jaco, wat die dryfveer agter hierdie hele operasie was, maak hulle ‘n suksesvolle span uit.

Nicol Spangenberg, redelik nuut op die gebied van skaapboerdery, word reeds bygestaan deur sy elfjarige dogter, Sandra, wat baie belangstelling in die skaapboerdery toon. Besoek gerus hulle webblad by www.dorper.com.py

Binne afsienbare tyd gaan die Dorper die grootste ras in Paraguay word.

* Danie Coetzee boer in Paraguay. Lees sy blog op landbou.com.

23 Februarie 2010
 

4.333335
 
 

Kommentaar

dirk spaargaren 

dis goed as dorpers in subtrope n vastrap kry,want in die karoo maak hy dit nie meer nie.veral nie die stoetdorper met sy kort beentjies nie.hier word ramme met n fiets[om tot by die ooi te kom]en n baksteen[om bo-op die ooi te kom]aangetref.die moderne dorper is letterlik in die grond in geteel.aan die dorper telers--los die skoue en begin prestasie toets in alle erns.ek boer al 25jr met die langer been, groter raam ekstensiewe kommersieele dorper

Onbekende besoeker Dorperskaaptelersgenootskap SA 

Ons harte swel van trots! Die SADTG ondersteun hierdie
projekte waar ons kan en Jaco kom binnekort 'n spesiale
dorperkursus doen in SA Charlotte Milne Rasdirekteur

piet joubert 

Dit is nou maar een maal so die SAfrikaner bly maar n pioneer op alle gebiede Jaco/Annie ons is trots op julle voorspoed en sukses word julle toegewens

Le Roux 

Doet so voort Nig Annie. Jy doen jou Le Roux-voorsate eer aan. Jou Pa was ook 'n voorvatter!

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.