|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Lede van die Dorpertelersgenootskap het ’n kookpot van onmin op ’n buitengewone vergadering op De Aar getrotseer.
Beskuldigings van ’n eensydige, outokratiese bestuurstyl, persoonlike vendettas en dat die Dorpertelersgenootskap van Suid-Afrika soos ’n geheime organisasie bedryf word, het daartoe gelei dat mnr. Gideon Vivier, voorsitter van die genootskap, sy pos kwyt is. Hy is uitgestem ná ’n mosie van wantroue teen hom ingedien is. Hy bly egter aan as een van die agt raadslede.
Mnr. Hendrik van Zyl van Loeriesfontein, voorheen ondervoorsitter, neem nou die leisels tot die volgende jaarvergadering in Julie aanstaande jaar. Hy sê dit is die eerste keer die afgelope 60 jaar dat ’n mosie van wantroue teen ’n voorsitter ingedien is. Mnr. Dries Wiese van Loxton is tot ondervoorsitter verkies.
Mnr. Francois Botha van die Vrystaat het ná die vergadering uit die raad bedank. Sy pos sal na verwagting tot die volgende vergadering vakant bly.
Mnr. Albert van Niekerk, lewenslange ere-ondervoorsitter van die genootskap, sê ten spyte van die slegte toon van die vergadering vertrou hy dat die gesindheid onder die lede sal verbeter.
Mosie van wantroue
Die mosie van wantroue teen Vivier is deur mnr. De Wet van Wyk, ’n voormalige voorsitter van die Bosveld-klub, ingedien.
Sy sekondant, mnr. Charl Weideman, het dit beklemtoon dat die mosie nie daarop gerig is om iemand te stenig of om koppe te laat rol nie, maar dit is gedoen in belang van die gladde hantering van Dorpersake en weens ’n bestuurstyl wat onaanvaarbaar is.
In sy motivering het Van Wyk gesê niemand is belangriker as die bedryf nie. Benewens die mosie van wantroue is mosies oor die toepassing van die Dorper 21-stelsel (die ras se stelsel om prestasie mee te toets) bespreek, asook veranderinge aan die genootskap se identifikasiestelsel, die aflê van die beoordelaarseksamen, regsoptrede teen die genootskap en die opskorting van die dienste van inspekteurs.
’n Deel van die Bosveld-klub se frustrasie gaan oor die toepassing van die Dorper 21-stelsel. Die klub se mosie daaroor is nie op die vorige jaarvergadering aangehoor nie. Van Wyk meen dat die stelsel deur sommiges as ’n maatreël tot hul eie voordeel aangewend word.
Mnr. Ben van der Westhuizen van Adelaide het gevra of die huidige stand van sake in die bedryf nie die gevolg is van ’n verouderde stelsel waarvolgens mense in posisies vasgemessel word nie. Hy is ’n voorstander daarvan dat elke klub in die raad verteenwoordig word.
Genootskap se veilingsreëlings
’n Versoek van ’n groep Oos-Kaapse lede en van die Dorperland-klub van die Noord-Kaap om die genootskap se veilingsreëls te wysig, is aanvaar. Daarvolgens bly die deelname aan die Dorper 21-stelsel vrywillig vir alle veilings onder beskerming van die genootskap en nie verpligtend, soos dit vanaf volgende jaar sou geld nie.
Mnr. Charl Saunderson van Kenhardt het die stelsel aanbeveel en gesê dit kan die ras verbeter. Hy het egter ’n beroep gedoen dat diegene wat wel aan die skema deelneem, dit korrek en met integriteit toepas sodat foutiewe gegewens nie die ras se data verwring nie. Hy sê markkragte moet toegelaat word om sy loop te neem sodat telers wat aan die skema deelneem, voordeel daaruit kan trek.
’n Lang bespreking oor voorgestelde veranderings aan die genootskap se identifikasiestelsel het gevolg. Die besluit om die verpligte toepassing van die Dorper 21-stelsel te herroep, het egter praktiese probleme laat ontstaan en die voorstelle is met ’n meerderheid afgestem.
Die telers se ontevredenheid en bewerings van magsmisbruik het ook verband gehou met die aflê van die eksamen vir beoordelaars. ’n Groep van 28 beswaarmakers van die Oos-Kaapse en die Dorperland-klub het die genootskap amptelik versoek om te verduidelik hoekom slegs een beoordelaar uit ’n groep van nege ’n onlangse eksamen geslaag het.
Mnr. Ben Grobbelaar van die Dorperstoetery Woelewater, Petrusburg, sê al kry ’n kandidaat volpunte in die eksamen, sal sy lot nogtans deur ’n paar “uitverkorenes” bepaal word.
Persoonlike vendettas
Bewerings oor persoonlike vendettas in die Dorperbedryf het weer na vore gekom in die bespreking oor die genootskap se betrokkenheid by ’n regsgeding tussen mnre. Peet Cilliers, Leroy en Mickey Phillips en die raad.
Die saak het ontstaan ná ontevredenheid oor die keuring van skape vir ’n veiling wat in September verlede jaar deur die drie telers op Upington gehou is en wat volgens die erkenning van prof. Pieter Stadler, ’n raadslid, verkeerd deur die raad behartig is.
Die genootskap moes tot dusver prokureurskoste van R47 836 en ’n advokaat se konsultasiefooi van R8 000 opdok en moet nog ongetakseerde regskoste van R82 000 betaal. Dié inligting is op versoek aan lede verskaf ter verduideliking van die besonderhede van die verloop van die saak.
Mnr. Leroy Phillips sê omdat daar bykans geen foute aan sy en Mickey se skape gevind is nie, maar sowat 30 foute aan Cilliers s’n, was ’n aanduiding dat hulle die geringste kans gebruik het om op laasgenoemde te pik.
Bewerings is ook gemaak van teenstrydige optrede deur die raad ná ’n geskil oor die keuring van diere vir die genootskap se veiling in Bloemfontein waar nie ’n herevalueringsinspeksie gelas is nie. “Ons vra gelykberegtiging sodat alle lede oor dieselfde kam geskeer word,” het mnr. Mickey Phillips gesê.
Heraanstelling van inspekteurs
Bewerings is ook gemaak oor ondeurdagte besluite oor die heraanstelling van inspekteurs. Die aanstelling het daartoe gelei dat die raad vier gesoute inspekteurs met ’n gesamentlike ondervinding van bykans 90 jaar afgedank het.
Een van die vier, mnr. John Dell, is intussen weer deur bemiddeling van die Kommissie vir Mediasie en Arbitrasie in sy pos herstel, terwyl daar ’n geskil tussen mnr. Raymond Read van die Bosveld-klub en die raad oor sy afdanking was.
Die raad het op sy vergadering ná die verrigtinge egter besluit om die vier inspekteurs, mnre. Dell, André Niewenhuys, Read en Andries van Niekerk, weer aan te stel.
(Die artikel het verskyn in Landbouweekblad van 10 Desember 2010)
6 Desember 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Voorwaar laat in die dag as georganiseerde landbou op so 'n vlak funksioneer, terwyl daar baie ernstige probleme, wat eendrag vra, die hoof gebied moet word.
Dit is tragies om te lees van die onmin tussen dorpertelers terwyl daar na my mening te min aandag aan die regte goed gegee word. Vir hoe lank nog moet ons op veilings "fotos" koop terwyl ons "kilogramme" vleis per hektaar verkoop .Volgens my is die dorper bedryf lank reeds gekaap en ver van ware wetenskaplike teling verwyder !
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)