|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Goeie bestuur kan die meeste Clostridium-verwante siektes by skape aan bande lê. Dié siektes kan akute vrektes veroorsaak as die regte voorsorgmaatreëls nie toegepas word nie.
Clostridium-bakterieë is 'n breë groep bakterieë wat 'n groot verskeidenheid siektes by skape kan veroorsaak. Die bakterieë produseer toksiene wat verskillende stelsels van die ligaam aantas, naamlik die spiere (die sponssiekte-groep), die derms (enterotoksemie) en die senuwees.
Die bakterieë is wyd verspreid in die omgewing en kan nie vermy of uitgeroei word nie. Voorkoming deur inenting is dus onmisbaar.
In die dermgroep veroorsaak die bakterie Clostridium perfringens vier siektes (rooiderm, bloedpens, bloednier en nekrotiese enteritis) by kleinvee.
Rooiderm kom gewoonlik in Suid-Afrika voor by skape wat op lusern- of klawerweiding loop en nie ruvoer ontvang nie. Skape vrek vinnig en nadoodse ondersoeke wys bloedgevulde dunderms. Die oorsaak word toegeskryf aan uitermatige gasvorming wat verdraaiing van die derm veroorsaak.
Daar word vermoed dat C. perfringens tipe A die oorsaak kan wees, maar dit is al bewys dat die verskaffing van ruvoer aan skape op hierdie soorte weiding die siekte sal voorkom. C. perfringens tipe A word ingesluit by kombinasie-entstowwe, maar vervaardigers waarborg nie die voorkoming van rooiderm nie.
C. perfringens tipe A kan ook wonde besmet, met noodlottige gevolge.
Bloedpens word deur C. perfringens tipe B veroorsaak. Dié bakterie veroorsaak in bepaalde gebiede probleme by lammers. Die lammers ontwikkel binne 'n paar dae pyn, bloederige laksering en vrek dan vinnig binne die eerste week ná geboorte.
'n Nadoodse ondersoek sal dunderm-ulserasie en bloeding wys. Die behandeling van lammers met dié siekte is onsuksesvol en net die inenting van dragtige ooie sal die toestand voorkom.
Nekrotiese enteritis, wat deur C. perfringens tipe C veroorsaak word, is onbekend by skape in Suid-Afrika, maar die toestand is al by klein varkies gediagnoseer. Jong lammers ontwikkel 'n toestand wat soortgelyk aan bloedpens is. As die siekte gediagnoseer word, sal die gebruik van 'n entstof wat C. perfringens tipe B óf tipe C bevat, doeltreffend wees. Soos met die voorkoming van bloedpens, moet die ooie ingeënt word om die lammers te beskerm.
Bloednier (C. perfringens tipe D) is amper die belangrikste oorsaak van vrektes by skape in Suid-Afrika. Dit word ook oorvreetsiekte genoem omdat dit aangehelp word deur die verhoging van die voedingsvlak met die voer van goeie rantsoene, die verskuiwing na geil weiding of die ontwurming van erg besmette skape.
Bloednier kom gewoonlik voor by jong lammers van een jaar oud, maar kan by ouer skape voorkom wat nie geïmmuniseer is nie. Lammers vrek baie vinnig sonder om enige simptome te wys. Die nadoodse ondersoek wys niks wat kenmerkend is nie, behalwe dat die niere vinnig ontbind. Dit kan verwar word met siektes soos geilsiekte en pasteurellose. Daar moet ook in gedagte gehou word dat erg ontbinde karkasse pap niere sal wys.
Die inenting van skape is die enigste bekampingsmaatreël en kan by die lammers van ingeënte skape van die ouderdom van drie maande af gedoen word. Soos alle Clostridium-entstowwe moet inenting teen bloednier binne drie tot vier weke en daarna jaarliks herhaal word.
Die sponssiektegroep (sponssiekte, dikkop en baarmoedersponssiekte) by skape is meestal die resultaat van wondbesmetting of die indringing van weefsel wat beskadig is.
Die algemeenste oorsaak van sponssiekte by skape is C. chauvoei. Dié organisme kom in die grond voor en is gewoonlik teenwoordig in kampe, krale en selfs in die stof op klere en toerusting. Die algemeenste manier van indringing is deur skeerwonde, dit wil sê deur skeertoerusting.
Enkele dae nadat hulle geskeer is, sal die skape koors ontwikkel, asook depressie en mankheid wys. Die diere vrek baie vinnig ná die aanvang van die simptome. Nadoodse ondersoeke wys die spiere is geswel en swart verkleur. Dié diagnose kan bevestig word met die maak van smere wat in die laboratorium verkleur word met spesifieke kleurstof, of die isolasie van die bakterieë wat die toestand veroorsaak.
Dit kan moeilik wees om die spesifieke diagnose te doen, want die karkasse is partykeer erg ontbind. Die neem van monsters word bemoeilik weens die indringing van ander Clostridium-bakterieë. Twee ander organismes, C. novyi en C. septicum, kan soortgelyke toestande veroorsaak. Die inenting van skape is die enigste ekonomiese bekampingsmaatreël.
Dikkop (C. novyi) kom voor wanneer ramme baklei. Die C. novyi-bakterieë dring deur klein stukkende plekkies in die vel en begin in die beseerde weefsel groei. Dit lei tot erge swelling van die weefsel. As die ramme met antibiotika behandel word, kan hulle oorleef, maar dikwels vrek hulle van die toksiene wat geproduseer word.
Dié toestand kan verwar word met "kwakkeel" (parasietbesmetting), bloutong, plantvergiftiging en slangbyt. Dikkop kan met inenting bekamp word.
Ooie wat moeilik geboorte gee, veral as die lammers groot is, kan baarmoedersponssiekte (C. septicum) ontwikkel. As die organismes die baarmoeder indring deur klein wonde of snye, sal hulle welig groei in die beseerde weefsel. Die ooie vrek baie vinnig nadat hulle gelam het as gevolg van die toksien wat deur die bakterieë geproduseer word.
'n Ander toestand wat deur C. septicum veroorsaak kan word, is "braxy". Die bakterieë dring die melkpens in deur die inname van gevriesde weiding. Die bevrore weiding of selfs ysige drinkwater beskadig die slymvlies van die melkpens en die bakterieë vermenigvuldig dan. Die skape vrek vinnig. Nadoodse ondersoeke wys 'n erg aangetaste pens. Inenting sal die toestand voorkom.
Daar is ander Clostridium-bakterieë wat minder algemeen skielike vrektes of sponssiekte veroorsaak, soos C. sordelli wat in verskeie entstowwe ingesluit word. Clostridium haemolyticum is 'n organisme wat lewers wat deur lewerslak beskadig is, sekondêr besmet. Simptome is die rooi verkleuring van die urine, of "rooiwater". Dié toestand is nog nie in Suid-Afrika gediagnoseer nie, maar die organisme word in sommige ingevoerde entstowwe ingesluit.
Twee siektes in die senuweegroep wat vrektes by kleinvee kan veroorsaak, is klem-in-die-kaak (C. tetani) en lamsiekte(C. botulinum).
Die C. tetani-bakterie kom baie algemeen in die grond voor en wanneer die spore diep wonde besmet, sal hulle groei en 'n kragtige toksien afskei. Die mees algemene toestande vir klem-in-die-kaak is kastrasie of die afsit van sterte met rekkies. Die rekkie verstrengel die bloedtoevoer en skep die ideale toestande vir die ontkieming en groei van C. tetani-kieme.
Die toksien wat deur die bakterieë afgeskei word, is baie kragtig en veroorsaak spastiese verlamming wat meestal onomkeerbaar is. Die lammers versmoor weens die verlamming van die asemhalingspiere.
Die inenting van dragtige ooie sal die lammers optimale beskerming gee op 'n ouderdom van drie weke wanneer hulle met veiligheid gekastreer of hul sterte afgesit kan word.
Hoewel lamsiekte algemeen by beeste voorkom, kan skape ook lamsiekte kry. Die bakterieë wat dié siekte veroorsaak, groei byvoorbeeld op ou bene en produseer 'n kragtige gif wat verlamming veroorsaak as dit gevreet word. Die skape word styf, loop moeilik en gaan uiteindelik lê. Die tong word verlam en die slukrefleks werk nie meer nie as gevolg van die verlamming van die slukderm.
Vrektes tree vinnig in nadat skape gaan lê het. Daar is geen ekonomiese behandeling nie, want lamsiekte-antiserum werk net wanneer die siekte vroeg gediagnoseer word en dit gebeur selde.
Die inenting van skape op speenouderdom sal beskerming gee.
20 Augustus 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24