|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Dié stoetboer is só ingenome met die welslae wat hy behaal - dansky die inligting op landbou.com - dat hy ‘n Dorperram geskenk het vir ‘n kompetisie op die webwerf en in Landbouweekblad. (Meer oor kompetisie hieronder.)
Landbou.com is vir Charl Saunderson van die Nooitgedacht-stoetery in die distrik Kenhardt ’n rigsnoer wat hy daagliks tot die sukses van sy Dorperstoetery benut. Hy volg ’n stel gebinde artkels uit Landbouweekblad se webwerf oor die veebedryf slaafs na, met gunstige gevolge.
Mnre. Charl Saunderson senior en junior is nie net pa en seun nie, maar ook goeie vriende wat hul liefde vir die Karoo en Dorpers saam uitleef. Saam stel hulle doelwitte en bepaal die seleksiebeleid van hulle stoet. Vir die Saundersons is die doelwit funksioneel aangepaste Dorpers met ’n bogemiddelde groei-indeks wat aan al die rasstandaarde voldoen en oor ’n bogemiddelde groei-indeks beskik, want dit kom vir hulle op gehalte en optimale wins neer. Met ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 132 mm selekteer hulle vir ooie wat lammers op die veld goed kan grootmaak.
In 2006 het Saunderson junior ’n boeredag bygewoon wat deur dr. Jasper Coetzee van Voermol aangebied is. Hier het hy besef as sportlui, soos Roger Federer en Ernie Els, hoogs suksesvol in hulle onderskeie sportsoorte van afrigters gebruik maak om hulle toppotensiaal te bereik en te behou, hoekom nie hy nie? Daar is soveel kennis, navorsing en kundigheid beskikbaar wat hy kan benut om na ‘n volgende vlak van winsgewende skaapboerdery te gaan. Foute in die landbou is net te duur en die winsmarge te klein om onnodige skoolgeld te betaal.
Coetzee het hom aan die wêreld van Landbou.com bekend gestel. Die webwerf huisves ook die kundigheid van dr. Faffa Malan, dieregesondheidskonsultant en dr. Willie Smith, voedingskundige van Animalia wat betrokke was by die ontwikkeling van Multimin.
Seleksiemodel
Malan het hom met die ontwikkeling van ’n seleksiemodel vir die verhoging van die vrugbaarheid van sy kudde gehelp. Smith lewer sedertdien bydraes ten opsigte van spoorelemente en evalueer die uitslae van lewermonsters. Coetzee se bydrae behels onder meer voeding en meer bepaald die aanvulling van tekorte om die ooie in ’n optimale staat van produksie te plaas.
Klik hier om na foto's te kyk.
“Ons handhaaf sekerlik van die strengste seleksiemetodes in die skaapbedryf en ons kan met eerlikheid sê dat ons elke ooi die beste moontlike kans gee om optimaal te reproduseer. Indien sy nie hiervan gebruik maak nie, ondersteun ons graag die vleisbedryf.”
Saunderson sê die inligting wat dié kundiges op die webblad van Landbou.com beskikbaar stel, is vir hom van onskatbare waarde. Kyk na Vra die kundiges, elders op die webwerf.
“Ek glo enige onderneming se plafon word deur die kundigheid van sy bestuur bepaal. Derhalwe moes ek groei of die groei van my boerdery inboet,” sê hy.
Hy het hom toegespits op onderwerpe oor vrugbaarheid en die optimale produksie by skape, oor koggelramme, prikkelvoeding, spoorelemente, skaapskaduwees en ram- en ooigesondheid, byvoorbeeld brucella en ensotiese aborsie. Hy het die relevante artikels op uitgedruk en in boekvorm gebind vir die gebruik as opleidingsmateriaal vir hom en sy werkers.
Bemagtig werkers
Kundige plaasbestuur is vir hom belangrik, maar eweneens dat sy personeel die belang daarvan besef. “My ervaring is dat elkeen die rede, waarde en gevolge van opdragte verstaan en dit juis daarom tot op die letter uitvoer. Die bemagtiging van werkers vind voordurend plaas, en besprekings word gereeld gehou oor die inligting wat op Landbou.com beskikbaar gestel word.”
Saunderson glo ook in meer formele opleiding en laat hulle jaarliks die Dorpertelersgenootskap se kursusse vir juniors en seniors bywoon.
Nooitgedacht se lampersentasie was in die tydperk vóór Landbou.com (Desember 2006) 111%. Die daaropvolgende jaar is afgesluit met 135%. In 2008 het die lampersentasie gestyg tot 140,48%, terwyl 2009 afgesluit is met 154,5%.
“Neem in ag dat genetiese vordering ten opsigte van vrugbaarheid van ongeveer 2% per jaar realisties is. Die res moet toegeskryf word aan die uitskot van nie- en laag produserende ooie (te danke aan dr. Faffa), prikkelvoeding, koggelramme, skaapskaduwees en skandering (te danke aan dr. Jasper) die aanvulling van spoorelemente (te danke aan dr. Willie) en personeel wat kalm werk met diere en die regte goed reg doen. Mnr. Francois Theron, van KLK, soek ook telkens met skandering die ooie met probleme uit vir slagting. Die ooie waaroor hy twyfel, word aangeteken en by lamtyd word hulle heroorweeg.
In die Nooitgedacht-stoet word voortdurende seleksie toegepas sodat, nie net ou ooie nie, maar veral swak produseerders voortdurend vir uitskot uitgewys word. So word ooie wat nie lam nie of ongereeld lam, geïdentifiseer en geslag. In die praktyk word ooilammers op Nooitgedacht soos volg gekeur: Eerstens word hulle massa op ouderdom drie maande en daarna op ses maande geneem.
Eerste keuring
Slegs ooie wat op hierdie tydstip ’n indeks van 95% of beter het, slaag die eerste keuring as moontlike vervangingsooie, aangesien speenmassa en na-speense massatoename volgens navorsing onderskeidelik 33% en 71% oordraagbaar is.
“Die weeg op drie maande is vir ons ’n aanduiding van die lam se groei, maar meer nog hoe goed die moeder van die lam is. Die weeg op ses maande sê vir ons hoe goed die lam op haar eie kon groei, aangesien dit naspeense ontwikkeling is,” sê Saunderson.
Op ouderdom tien maande gaan die ooie deur die tweede keuring, naamlik die meting teenoor die rasstandaard. Ooie wat die keuring slaag en 80% van volwasse gewig bereik het, word kunsmatig bevrug. Alle ooie op Nooitgedacht word kunsmatig bevrug om optimaal korrektief of progressief gepaar te word, maar ook vir optimale bestuur. Saunderson doen die kunsmatige inseminasie self, maar die laparoskopiese bevrugting en embrio-oorplantings word aan die veeartse van Ramsem oorgelaat.
Die finale keuring vind plaas wanneer dié jong ooie se eerste lammers gemerk word. Die maatstaf is vrugbaarheid en moederskap, dit wil sê die ooi moes nie net natuurlik geboorte geskenk het nie, maar ook die lam goed kon versorg.
Om optimale lampersentasie te verseker, word ooie ses weke voor KI voorberei deur inentings en dosering. Ooie word ook nou met die hand-en-oog-metode uitgehaal vir paring met ‘n spesifieke ram. As gevolg van deeglike rekordhouding, kan Saunderson sien van watter ram of bloedlyn ‘n betrokke ooi in die verlede die beste lammers geproduseer het. Stambome word vergelyk om inteling te voorkom, die paringslys word opgestel en die ooi kry ‘n spesifieke kleurplaatjie om te identifiseer met watter ram sy gedek gaan word. “Ons gebruik net ramme of saad van ramme wat ’n wesenlike positiewe invloed op die ras gemaak het en uit bepaalde bloedlyne kom.” Goeie teelmateriaal verseker die gehalte van die lammer-oes en die optimale bestuur van elke ooi verseker die grootte daarvan.
Voldoende skaduwee
Alle hantering van ooie moet ses weke voor paring voltooi wees, anders word die besettingsyfer negatief beïnvloed. Die ooie word in ‘n oorlê-kamp gejaag en en elk met 250g Maxiwol per dag geprikkel. Voldoende skaduwee word voorsien om hittestres tot die minimum te beperk.
Ramme word, soos die ooie, geënt en gedoseer, behalwe dat hulle ook 3 maal per week koringkiemolie kry om optimale saad gehaltete verseker. Die ramme se semen word ook getoets aangesien KI ’n te duur proses is om swak saad te gebruik.
Paringgroepe word gevorm soos wat lammers gespeen en ooie vir KI beskikbaar raak, asook jong ooie wat 10 maande en 56 kg bereik. Ooie wat ses weke nadat die opvolg ram uitgehaal is, nie dragtig skandeer nie, word gemerk, aangeteken en dan in die nuwe paringstrop geplaas vir ‘n finale kans. Sou hierdie ooie weer oorslaan, word hulle as slagdiere bemark.
Saunderson probeer elke 6 weke ‘n trop te paar om sodoende ramme deur die jaar beskikbaar te hê vir kopers, veilings en veldramprojekte. Die lam seisoene is kort, aangesien elke paringstrop binne 34 dae klaar lam om die bestuur te vergemaklik. Só word interlamtydperke verkort en word daar verseker dat elke ooi gemiddeld 4 lam-kanse elke drie jaar het.
Ramlammers word op 3 maande of 30 kg gespeen. Dorpers is baie vroeg geslagsryp en dit moet reg bestuur word, om besetting van ooie deur ramlammers te voorkom. By speen word die ramlammers in ‘n voerkamp gesit om hulle deur die speenskok te help. Ná 30 dae word hulle in ‘n jong ram-trop in die veld opgeneem. Die ooilammers word langer by die moeders gelos en word eers op 4 maande weggevat. Hulle oorbrug die speenskok ook 30 dae lank in ‘n voerkamp.
Positiewe groeikurwe
Volgens die navorsing van Landbou.com se adviseurs is die jong ooie wat nooit gewig verloor het nie, of altyd in ‘n positiewe groeikurwe gevolg het, vrugbaarder en derhalwe word jong ooie goed versorg. Hulle word dan uitgeplaas na ‘n jong ooi-trop totdat hulle voorberei word vir paring.
Alle uitskot-lammers word bemark sodra hulle gradering reg is en so swaar as moontlik is.
“Landbou.com en sy span kundiges het ‘n onontbeerlike bydrae gelewer om ons lampersentasie, in die laaste vier jaar, met 43% te verhoog en u sal opmerk dat ek nie Boland Bank vir ’n enkele bykomende hektaar weiding bedank het nie. Dieselfde plaas, dieselfde reënval, dieselfde ras, maar plus Landbou.com! Tot hede het ek ook nie ’n rekening van Landbou.com of enige van die adviseurs ontvang nie. Inteendeel, ons het behalwe die wonderlike advies en leiding ook vriende gemaak wat voortdurend nuwe gedagtes, navorsing en ervarings met ons deel,” sê Saunderson.
“Ons weet dat ons nog nie naby die Dorper se volle potensiaal, wat vrugbaarheid en bouvorm betref, gekom het nie en sien dus uit na interessante tye saam met Landbou.com. Dit maak nie saak met watter ras jy boer nie, boer net met dit wat reg is en maak net die regtes meer. Grond word onnodig gebruik om die swak en ongereelde produseerders aan te hou, wat net jou lampersentasie en wins verniel. Optimale bestuur stel ons in staat om streng te selekteer, aangesien ons alles moontlik gedoen het om optimale produksie te verseker. Seleksie is nie net gefokus op die skep van gehalte in ons eie stoet nie, maar om ons kliente van ramme, ooie, semen en embrio’s te voorsien wat hulle op ’n winspad sal plaas.”
Kontakbesonderhede: Charl Saunderson by 082 4146 146, epos charl@dorpers.co.za of besoek die webblad by www.dorpers.co.za
Wen ‘n Dorper-stoetram
Saunderson het ‘n uitsoek-Dorperram geskenk vir ‘n kompetisie in Landbouweekblad en op landbou.com. ‘n Gelukkige leser kan dié ram self gaan uitsoek en huis toe neem. Stuur slegs ‘n SMS om in aanmerking vir die prys te kom.
Reëls vir deelname:
1) Slegs mense wat in Suid-Afrika boer, kan vir die kompetisie inskryf.
2) Deelnemers moet ‘n SMS stuur om vir die prys in aanmerking te kom.
3) Die kompetisievraag is: Wat is die veearts se van wat Vra vir Faffa op landbou.com aanbied? SMS die antwoord aan 37503. Elke SMS kos 50 sent.
4) Die wenner moet die ram op die plaas Nooitgedacht, Kenhardt, in die Noord-Kaap, gaan uitsoek en afhaal. Die reëlings daarvoor moet tussen die wenner en die ramteler getref word. Die wenner moet sy eie versekering vir die ram reël.
5) Die wenner moet die ram binne ‘n redelike tyd gaan uitsoek en afhaal.
6) Die skenker sal ‘n groep van vyf ramme in die prysklas van R5 000 elk beskikbaar stel, waaruit die wenner een ram moet kies.
7) Die naam van die wenner sal op 21 Mei 2010 datum getrek word en landbou.com sal die wenner kopntak en in kennis stel. Dit sal ook in Landbouweekblad en op landbou.com gepubliseer word.
8) Landbouweekblad en landbou.com sal geen korrespondensie oor die kompetisie voer nie.
3 Mei 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Ek het 'n Witkop Dorper ram en wil graag ooie vir hom aankoop en ek soek eintlik graag dohne merino's ek boer in die noordwes provinsie enige inligting waar ek dohne merino's wat hier sal aanpas kan kry.
Ek het al ooie van bossieveld (De Aar) na grasveld (Pietersburg) gebring. Dit is maar 'n groot aanpassing. Ek sal eerder bosveldaangepaste ooie koop op een van die veilings naby jou.
Kan ek skape van Kakamas in Pretoria boer
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)