|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Hansie, moontlik die oudste skaap in die land, het Saterdagoggend die tydelike met die ewige verwissel en nooit eers sy oomblik van glorie in ‘n bekende Sondagkoerant beleef nie.
“Een-en-twingtig jaar, vyf maande en sewentien dae,” rammel Hansie se bedroefde eienaar, mnr. George du Toit van Greyton, die skaap se rype ouderdom af.
“O hel, ek is niks lekker nie,” is hoe Du Toit sy hartseer verwoord het.
Rapport het berig dat Hansie moontlik die oudtste skaap in die wêreld kan wees, maar toe die koerant Sondag verskyn, was Du Toit besig om vir Hansie “onder die koeltebome in die hoek van my erf” te begrawe.
Was amper soos mens
“Hy lê nou lekker daar, en ons sal vir hom soms blomme op sy graf sit . . . hy was mos amper soos ‘n mens.” Du Toit het Hansie destyds by ‘n boer, mnr. Hans Bester, gekry. Hansie was een van sewe hanslammers, maar die enigste een wat oorleef het.
Du Toit sê Hansie was in sy jeug by tye lekker baldadig en hoewel die skaap gek was daaroor om met kinders te speel, het dit soms maar rof gegaan. “Hy was so ougat. Hy het van die begin af nie geneuk met melk nie, maar sommer begin vreet. Hy was groot vir sy ouderdom.”
Hansie “het enige ding gevreet” en is elke dag ‘n bakkie vrugte gevoer. Du Toit sê hy was lief vir piesangs en het soms ook lekkergoed gevreet.
“Hy was hondmak en partykeer sommer lekker stout. Hy het jou mooi laat verstaan as jy vir hom te min kos gegee het. Hy het laas week nog hier in die huis rondgestap.”
Hansie se lang lewe
Du Toit meen die geheim vir Hansie se lang lewe was dat “hy nie op rowwe terrein gewoon het nie, en pal rondom ons was. Hy het altyd so langs my kom staan, dan druk hy sy kop so teen my.”
Hansie het die afgelope tyd met die gewone oumens-skete gesukkel. Hy is onder meer vir artritis behandel en Du Toit moes hom drie keer per dag optel omdat hy gesukkel het om self op te staan.
“Almal het met my geneuk ek moet hom laat uitsit, maar ek het gesê die Here sal hom vat wanneer dit tyd is. En ek het mos tyd om hom op te pas!”
Du Toit sê Hansie se dood is deur niks veroorsaak nie, maar die ouderdom het die oorhand gekry.
Volgens Guinness World Records was Lucky van Lake Bolac in Australië die oudste skaap. Lucky het egter in 2009 op 23 jaar, 6 maande en 28 dae gevrek. Sover bekend wil dit voorkom asof Hansie die mees senior skaap in Suid-Afrika was.
20 Desember 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
George, ek lees die oorsee heen in Kanada en dit bring ver herinneringe terug van Parys/Koppies se dae en lammers grootmaak. Wat 'n belewenis en niemand anders kan verstaan wat dit beteken as hulle na sowele jare weggeneem word nie. Sterkte in die dae wat voorle.
Ag dis pragtig. Ek het 'n ooi persent gekry wat toe so mak geword het en later nadat sy 17 jaar by my was haar laaste 2 ling lamme gekry het. Stokblind en vrot van die rumatiek het ek haar elke aand met 'n perdekombers toegegooi tot sy nie meer kon staan nie en toe is sy uitgesit.
Baie hartseer dat die skapie nou gesterf het, hoop hy word erken vir die oudste skaap in S.A. Ek sou ook nie dit oor my gekry het om hom uit te sit nie, ek is te lief vir diere. Rus in vrede jy sal gemis word
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)