Min mense weet wat ‘n herkouer is, minder weet wat binne die maag van ‘n herkouer gebeur.
Dr. Francois de Villiers, ‘n veearts, het by ‘n Nguni-inligtingsdag op die plaas Droërug buite Malmesbury, meer lig rondom dié onderwerp gegee.
Herkouers is diere met 4 voormae genaamd retikulum of netpens, rumen of grootpens, omasum of blaarpens en abomasums of melkpens, wat dieselfde maag is wat enkelmaag-diere en die mens het.
Herkouers wei en vreet vir 4 tot 8 ure per dag en herkou omtrent 8 ure ‘n dag. Die proses behels dat plantmateriaal afgebreek word om die oppervlakte waarop die bakterieë kan werk te vergroot. Volumes speeksel word dan afgeskei en koolsuur- en metaangas word verwyder.
Die grootpens van die herkouer se funksie is die van ‘n fermentasietenk wat plantmateriaal gebruik om vlugtige vetsure, metaangas, koolsuurgas en ammoniak te produseer. Wat in die grootpens gebeur is onder meer die afbreek van sellulose en hemisellulose, die afbreek van suikers, die vervaardiging van proteïene, afbreek van vette en die vervaardiging van vitamienes deur die bakterieë.
Suurpens
De Villiers sê Suurpens vind plaas wanneer die pH in die rumen onder 6 daal. Die rumen vul met water en al die protozoa en meeste bakterieë vrek. Die rumenwand word beskadig en die rumen staak sy mengbewegings.
Die dier se liggaam dehidreer en die baie vog in die derms veroorsaak erge diarree. Bakerieë beweeg deur die beskadigde rumenwand en veroorsaak absesse in die lewer en longe. Histamien word vrygestel wat aanleiding gee tot laminitis. Tiaminase word geproduseer wat Vitamien B1 afbreek en aanleiding gee tot breinskade.
Behandeling vir Suurpens
Leon Kruger, ‘n tegnoloog van die Landbou Navorsingsraad, skryf in sy blog oor die behandeling van Suurpens:
Onttrek aangetaste skape of bokke dadelik vanaf konsentraat voeding en voorsien slegs lang hooi en water. Meer ernstige gevalle moet eerder deur ’n veearts behandel word indien moontlik. Tyd is egter van belang en die volgende noodbehandeling kan toegedien word.
Laat die dier regop tussen twee bale lê om opblaas te verhoed.
Doseer natrium bikarbonaat (koeksoda) of kommersiele teensuur poeier opgelos in water om die suurgehalte in die rumen te neutraliseer. Indien die dier semi komatoos is moet die mengsel met ’n maagbuis ingegee word. Spuit vitamien B1 om breinskade te voorkom.
Doseer Vitamiene en elektroliete om dehidrasie teen te werk. Indien die skaap of bok nie wil drink nie sal water daagliks met ’n maagbuis ingegee moet word totdat dit weer self drink.
Indien die dier so oorvreet is aan mielies dat die rumen “verstop” is, mag dit nodig wees om die rumen chirurgies leeg te maak, maar die waarde van die dier moet in so geval in berekening gebring word. Sulke gevalle kan geidentifiseer word deurdat die rumen kliphard voel wanneer dit bevoel word.
Behandel buikpyn simptomaties in ernstige gevalle.
Doseer ‘n rumen stimulant om die werking van die rumen te normaliseer. Voorsien slegs ruvoer as kos, totdat mis weer korrelvormig is
27 Augustus 2010
Kommentaar
Iets interessant oor herkouers
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)