|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Ná onlangse opmerkings oor die wolbedryf in die meningsrubriek in Landbouweekblad het 'n leier in dié bedryf ingestem om te gesels oor wat hom kwel, en hoe hy graag die wolbedryf wil bevorder.
Steeds omgeellie oor die opmerkings wat 'n week vantevore ná afloop van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) sekongres in die Baai deur Manie in sy rubriek gemaak is ("En só bly die papsak ons koggel", LBW, 16 Junie), kapittel mnr. Petrus de Wet, voorsitter van die NWKV vir Manie van Landbouweekblad waar ons in die Wimpy op Queenstown om 'n koppie koffie sit en gesels. (sien kassie).
"Wie is Manie om sulke goed te skryf? Wat het hy teen die NWKV om sulke stellings te maak en agterdog te skep wat die hele bedryf kan skaad? Ek is lus en breek elke been in sy lyf," merk hy steeds verontwaardig op.
Ná 'n bietjie oorreding en hy eers afgekoel het, stem hy in om sy visie oor hoe hy die wolbedryf vorentoe wil neem, te skets.
"Daar is 'n prysverskil tussen Suid-Afrikaanse en Australiese wol. Op die jongste Wolforum het die kopers dit hoog en laag ontken. Ná 'n lang geredekawel en statistiek wat ek aan hulle voorgehou het, het een koper uiteindelik erken dat Suid-Afrikaanse wolpryse 5% laer as dié van Australië is.
"Die rede vir die prysverskil is dat Australië se wolbedryf kantore in Italië, Frank-ryk, Engeland en China het waar amptenare uitsluitlik die gebruik van daardie land se wol bevorder. Ons skeersel word dus aan 'n vorm van 'intimidasie' blootgestel. Daardie amptenare probeer verwerkers oortuig dat Australiese wol minder swart vesel bevat en dat dit beter verwerk en drapeer as ander lande se wol."
De Wet benadruk dat Suid-Afrikaanse boere 'n internasionale prys vir hul wol verwag en daar geen rede is waarom hulle met 'n prys wat laer as dié van Australië s'n is, tevrede moet wees nie. "Ongelukkig het wolkopers in Suid-Afrika 'n kommersiële belang by die saak, en sal dit nie maklik wees om dit reg te stel nie."
Hy is ingenome met die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO) se projek om wol op 'n toetsgrondslag internasionaal te bevorder. As dit suksesvol is, sal die projek uitgebrei word. Indien nie, sal geld nie verder daaraan bestee word nie. "Die feit dat Woolworths ná die Overberg-projek 58% meer wolklere in hul winkels verkoop het, is 'n goeie voorbeeld van hoe die IWTO se toetsprojek op soortgelyke wyse suksesvol kan wees met die program wat hulle in Amerika geloods het. Na dié sukses het Woolworths reeds besluit om vanjaar 100 ton wol te verwerk."
Volgens De Wet gaan daar in die komende seisoen 'n projek aangevoor word om Suid-Afrikaanse wol as 't ware van deur tot deur in die buiteland by kambolmakers te bemark. Dit sal in samewerking met die nege wolkopers in die land gedoen word. Hy sê die Suid-Afrikaanse skeersel het bepaalde eienskappe wat opnuut onder die aandag van verwerkers gebring behoort te word. Daar word vertrou dat dit tot groter mededinging in die Suid-Afrikaanse wolbeurs sal lei.
Hy sê geld sal hiervoor nodig wees en dat 'n bemarker aangestel sal moet word om sake te koördineer. 'n Besprekingsdokument met die nodige motivering word nou opgestel en sal in November voor die Wolforum dien. Die besonderhede daarvan sal deur middel van werksessies en per e-pos aan belanghebbendes voorgelê word.
Wat hom betref, behoort die NWKV beheer oor só 'n projek uit te oefen omdat die organisasie onpartydig is. "Daar gaan ook opnuut 'n poging aangewend word om wolbewustheid by verbruikers in Suid-Afrika te verhoog. Woolworths het hom reeds hiertoe verbind en Mohair Promotions het die NWKV ook in dié verband genader.
"Ons besef die rendement hierop sal nie so goed soos in die buiteland wees nie, maar wolboere het op die NWKV-kongres hiervoor gevra, en dit is wat ons vir hulle gaan gee."
De Wet benadruk dat hy nie in die bedryf is om sy eie belange te dien nie. Hy erken dat hy miskien baie naïef is en ook daarom dikwels gekritiseer word. "Ek is dalk nie 'n internasionale bemarker nie, en dryf die saak meer op intuïsie as ondervinding. Ál wat ek weet, is dat die geld wat hiervoor benodig word, werklik kleingeld is gemeet aan die grootte van die bedryf. Dit is noodsaaklik dat die land se skeersel weer sy regmatige plek in die wêreld kry."
Hy is in noue voeling met verskeie produsente-organisasies in Australië en het die ini-siatief geneem om te verseker dat gereelde gesprekke tussen wolleiers van die twee lande plaasvind. "Ongelukkig is die spelreëls in die wolbedryf besig om voortdurend te verander. Daar is egter 'n nuwe entoesiasme in die bedryf waarneembaar en 'n wil om 'n beter bedeling vir almal te skep. Ál wat regtig nodig is, is dat wolpryse styg."
Gaan hy Landbouweekblad op die volgende kongres verbied soos hy die redakteur gedreig het na aanleiding van Manie se rubriek? "Ja, as Manie nie sy feite regkry nie. My voorganger het my teen jul tydskrif gewaarsku."
Eers wanneer hy gevra word om vir 'n foto te poseer, breek daar 'n glimlag deur....
Hieroor verskil Petrus van Manie
Die opmerking van Manie in sy rubriek in die uitgawe van 16 Junie - dat mnr. Petrus de Wet en sy ondervoorsitter, mnr. Harry Prinsloo, meen die afgelope NWKV-kongres was die beste in jare omdat hulle gekry het wat hulle kom vra het, naamlik groot geld vir wolbevordering - is net deels waar.
"Dit is nie net ons twee nie, maar ook ál die afgevaardigdes wat só gevoel het," beklemtoon mnr. Petrus de Wet, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV).
"Toe ek die redakteur van Landbouweekblad hierop gewys het, het hy geantwoord dat Manie met woorde speel. 'n Maand gelede, ná die Noord-Kaapse kongres, is dieselfde snert oor die aanstelling van 'n sogenaamde wolambassadeur kwytgeraak.
"Manie skryf dat die ou manne op die kongres gemeen het dat niks nuut op vanjaar se kongres gesê is wat nie al vyftien jaar gelede herkou is nie.
"Waar het die ou manne se besluite die wolbedryf gebring? Die besluit om die Internasionale Wolsekretariaat (IWS) te verlaat en Suid-Afrika se aandeel aan die Wolmerk prys te gee, beteken vandag 'n potensiële verlies van R48 miljoen per jaar vir die bedryf."
De Wet kla oor Manie se sinspeling dat wolboere nie regstreeks tot wolbevordering bydra nie. "Die 2c/kg wat kopers nou tot die Internasionale Woltekstielor-ganisasie (IWTO) se toetsbevorderings-aksie bydra, word teen die wolprys verdiskonteer. Indirek betaal wolboere dus reeds daarvoor. Mnr. Phillip Stucken, een van die wolkopers, het dit al erken. Dieselfde geld die instansies wat die NWKV borg. Hulle verreken dit netweer in die prys van hul produkte.
"Wie het vir Manie gesê dat ek en Harry New York toe wil gaan? Daar was net drie mense wat hiervan geweet het. Ek het 'n behoefte om te boer. Ek skuur nie net gat en hou vakansie wanneer ek op wolsake in die buiteland is nie."
De Wet sê die feit dat Manie geskryf het dat Voermol en Intervet "glo" 'n besoek aan die IWS geborg het, skep die indruk dat dit in die stilligheid gedoen is. "Ons het 'n ooreenkoms met die betrokke maatskappye dat hulle in ruil hiervoor spreekbeurte op wolgeleenthede kry."
Dit was ook 'n oordrywing dat bykans die helfte van die kongres se tyd aan "commercials" en oorhandigings bestee is. "Dit kon in totaal slegs twee uit die nege uur gewees het, waarvan net 30 minute aan eersgenoemde afgestaan is," benadruk de Wet.
21 Julie 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24