|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Ofskoon wolpryse vanjaar waarskynlik nie so skerp as verlede jaar gaan styg nie, behoort die mark sy huidige goeie vlak te handhaaf.
Dit kan selfs verder verbeter, veral as die rand teenoor buitelandse geldeenhede verswak. Dit is die siening van mnr. Paul Lynch, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Wol- en Bokhaarkopersvereniging (Sawamba).
“Die afgelope seisoen was uitsonderlik – vir pryse om met 66% in een jaar te verbeter, is iets wat seker nie weer in my lewe sal gebeur nie. Wat my veral optimisties stem, is dat die reeds verwerkte voorrade vinnig afneem, terwyl vetwolvoorrade ook skaars is. Dit kan meebring dat die mark op mediumtermyn met nóg 6% kan styg.
“Voor boere egter té opgewonde raak, moet rekening gehou word met die sentiment van die Europese verbruiker. Enige gunstige ekonomiese nuus uit Europa kan die mark ondersteun. Maar in Italië, wat normaalweg die aandrywer vir fynwol van hoë gehalte is, lyk sake aan die ekonomiese front nie goed nie. Dít is die hoofrede waarom die prys van superfynwol onder druk bly,” maan Lynch.
Bemarking
Ekovriendelik In die afwesigheid van bemarkingsveldtogte vir wol, soos in die dae van die Internasionale Wolsekretariaat (IWS), meen hy dat die vraag na wol deur die ekovriendelikheid van die vesel aangedryf word.
“Die groot gesprek, of dit nou oor geboue, voertuie, kos of vesel is, draai deesdae oor hernieubaarheid. Dit gaan daaroor of produkte volhoubaar en sonder nadelige gevolge vir die omgewing geproduseer kan word. Wol voldoen aan hierdie vereiste.”
Hy meen nie wol is reeds in ’n nismark nie. Dit gaan eerder daaroor dat die vesel eienskappe het waarvoor die gesofi stikeerde verbruiker bereid is om te betaal. “Wol is in die mode, dit is ‘groen’ en hernieubaar.” Met die uitstekende vleis- en wolpryse meen hy nie dat wolboere enigiets het om oor te mor nie.
“Die ou wat nou vir jou sê hy maak nie goeie geld in die bedryf nie, hoort nie daar nie.” Hoewel die voorkoms van slenkdalkoors wolproduksie nadelig geraak het en die skeersel tot 3% minder kan wees, meen Lynch die ergste is nou agter die rug.
Produksie
“Die huidige goeie pryse behoort wolproduksie te stimuleer. Ek is nietemin bekommerd dat kruisteling, ondanks die goeie wolpryse, ook aan die toeneem is. Ons kry ál meer SA Vleismerino- tipe wol. Dit hou die gevaar in dat al hoe meer gekleurde vesel in die wol voorkom, wat nie goed is vir die naam van die land se skeersel nie.”
Wat ook goed is vir die bedryf, is dat die verbod op die uitvoer van Suid-Afrikaanse vetwol na China opgehef is. Wol uit Lesotho moet egter steeds voor uitvoer na China plaaslik verwerk word.
Groot hoeveelhede daarvan vind intussen hul weg na Indië. Lynch meen die skeerselwaarde sal aan die einde van die 2011/’12-seisoen die eerste keer die R2 miljard-kerf verbysteek. Plaaslike verwerking speel steeds ’n belangrike rol.
“My raad is dat boere hul kudde suiwer hou en poog om wol met ’n goeie lengte te produseer. Doen hulle dit, sal hulle met uitstekende pryse beloon word omdat die vraag na wol dekades gelede laas so goed was soos nou,” sê Lynch.
9 Januarie 2012
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
olyfolie en suiker uitvoere van SA na midde ooste en china ens.
vind dit tans plaas?
louwrens
hello ek wil graag meer weet oor die uitvoer van suiker na die ooste en midde oosterse lande? vind dit plaas van suid afrika?
asook gebottelde olyfolie daardie kant toe?
dankie
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)