Steve Maresch is ’n beesvleis- connoisseur, eienaar van The Local Grill steak-restaurante in Johannesburg en die meesterbrein agter die Ultimate Beef Challenge wat op 23 en 24 September 2012 by die Birchwood-hotel in Johannesburg gehou word.
Besoek www.ultimatebeef.co.za vir meer inligting oor wat alles daar gaan gebeur. Steve antwoord ons vinnige vrae:
Die beste ding van beesvleis?Dat daar elke dag van die week ’n ander snit is om te geniet.
Wat is jou gunstelingmanier om steak gaar te maak?Gaargemaak op eikehoutstawe wat met Cabernet Sauvignon deurweek is.
Jou gunstelingsnit om mee te kook?Riboogskyf.
En om te eet?Ek kan nie regtig een uitsonder nie. As iemand dít vir my vra, antwoord ek altyd net: Beesvleis. Want ek glo, soos met baie ander oomblikke in die lewe, bepaal ons bui ook waarvoor ons op ’n spesifieke tyd lus is om te eet.
Maar, ja, ek is lief vir ’n goeie riboogskyf, partykeer ’n lendeskyf met ’n lekker sous of eier (in die Portugese styl). In die winter klop niks ’n heerlike beesvleisbredie, potpastei of bobotie nie. En op ’n Maandagaand, tuis saam met my familie – spaghetti bolognaise met beesmaalvleis!
Beesvleis smaak die beste as jy dit geniet saam met . . .?Bier, kola, rooiwyn of whisky – nie noodwendig in daardie volgorde nie!
Kyk hier na 'n onderhoud met Maresch en die Springbok-rugbyspeler Mahlatse "Chiliboy" Ralepelle.