Deur DANIE COETZEE
4 Junie 2012

1776 keer gelees | 2 kommentaar

Danie Coetzee het die skaapmelkery van Pierre en Dany Jauzion naby Toulouse, Frankryk besoek. Hy vertel van dié ervaring.


Die Franse is gou om te vertel dat hulle 365 soorte kaas produseer, een vir elke dag. Bees-, skaap- en bokmelk word gebruik. Ek was bevoorreg om op ’n onlangse besoek aan Toulouse ook die skaapmelkery van Pierre en Dany Jauzion te besoek. Hulle melk 300 Lacaune-skape op 48 ha, sowat 80 km uit Toulouse in die omgewing van die dorpie Venés.

Omgewingsvriendelike boerdery
’n Dubbeldoel-melk- en skaapstal is onlangs in gebruik geneem. Behalwe geriewe vir die melk van die skape en vir voer- en oorwinteringsgeriewe, is die stal se dak voorsien van sonpanele wat aan hulle elektrisiteit verskaf. As daar oortollige krag is, word dit in die netwerk ingevoer en word die Jauzions daarvoor vergoed.

Die egpaar doen ál die werk self. Die melkery duur 'n uur soggens en saans. Hooi word opgeberg vir die winter, wanneer die skape lang tye onderdak moet wees. Wanneer weiding beskikbaar is, word die ooie toegelaat om twee uur lank op grasklawerweidings te wei.

Hulle word verder binnenshuis gevoer. Voer word gesny en met ’n selflaai-en-ontlaaiwa gelaai en dan in die skuur afgelaai. ’n Apparaat wat aan ’n balk teen die dak beweeg, word gebruik om die voer op vervoerbande te laai wat dit in die krippe pak.

Gesonde omgewing
Die skuur word vier tot vyf keer per jaar skoongemaak en die materiaal word gebruik om die lande of weidings te bemes, geen ander kunsmis word gebruik nie. Volgens Pierre is dit ’n baie gesonde omgewing en word die skape slegs een keer per jaar gedoseer.

Hulle is tevrede met 'n opbrengs van 300 liter melk gedurende die ses maande wat die skape gemelk word. Hulle maak nie self kaas nie, maar ’n koöperasie maak Roquefortkaas, wat in grotte in die omgewing gehou word, wat die ideale temperatuur het.

Die prys van grond wissel tussen 6 000 euros en 7 000 euros per hektaar. Die drakrag is tussen 7 en 8 kleinvee-eenhede (KVE) per hektaar. Volgens Pierre is ’n ekonomiese eenheid, wanneer slegs met vleisskape geboer word, ’n boerdery met 600 ooie wat ’n gesin sal onderhou. Die minimum loon is 1 100 euros per maand, waarby nog ongeveer 25% gevoeg word vir dinge soos medies. Die loon  is ongeveer 9 euro per uur as los werk gedoen moet word.

Opvallend
’n Paar dinge wat opgeval het: Die kleinste plaaspaadjie is geteer. Gedurende die drie weke, wat redelik nat was, het ons een voertuig gesien wat effens met modder besmeer was. Daar is baie min bakkies te sien. Boere gebruik heelwat afleweringwaens. Die reënval kom nie in donderbuie voor nie, baie skuins hellings word geploeg.

In die voorstede word oop persele bewerk en met kontantgewasse, soos groente, koring, voer en kanola beplant. In die voorstad Seilh, is daar ’n melkery langs ’n baie besige hoofpad. Padgebruikers is baie geduldig, want hierdie paaie word deur die boere met hul werktuie gebruik.

Plase is taamlik klein, so groot soos wat die gesin kan behartig. Daar is min groot plase, omdat arbeid so duur is. Groter trekkers en ander masjienerie het wel daartoe bygedra dat plase groter geword het, omdat die werk vinniger afgehandel kan word.

Boeregasvryheid is oral maar dieselfde. Ná ’n koppie tradisionele Franse koffie nooi die gasvrou ons om weer ’n draai te maak wanneer ons dalk weer eendag in die omgewing is. Ongelukkig is my Frans van so ’n aard dat ek nie vir haar kan sê dat ons sonder ’n tolk, nie werklik sal kan kuier nie, maar merci!
Kommentaar
Slegs in Afrikaans


Elmarie van Aswegen

2012/06/08 06:50:16 PM

Ja, die suide van Frankryk het vele melkskaap plase en die meerderheid van hulle lewer melk aan verskillende ko-operasies in die dorpie Roquefort waar daar 5 verskillende soorte Roquefort kaas gemaak word. Ek was self by 'n paar skaapmelkerye, kaas fabrieke, insluitend Societe, wat Roquefort kaas maak asook 'n paar teelstasies in 2006. Ek het gehoop om van die Lacuane genetika te kan invoer na SA aangesien ons 'n groot probleem in SA het met melkskaap genetika. Kyk gerus na my webruimte vir meer inligting oor die gesondheidsvoordele van skaapmelk: www.sasheepdairy.co.za


thys hauptfleisch

2012/06/11 08:48:47 AM

Is die volgende korrek?: "Hulle melk 300 Lacaune-skape op 48 ha," EN "Hulle is tevrede met 'n opbrengs van 300 liter melk gedurende die ses maande wat die skape gemelk word." Kan ons annneem dat die opbengs 300 liter per skaap per ses maande is?

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 08/05/13 15/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2790c 2794c down 0.1
Speenkalf (lewend) 1594c 1583c down -0.7
Skaapvleis A2/A3 4328c 4374c down 1.1
Varkvleis (gem. prys) 1765c 1767c down 0.1
Braaikuikens 1478c 1483c down 0.3

Aandele

Pricecheck Flights