Deur DANIE COETZEE
4 Junie 2012
1776
keer gelees |
kommentaar
Kanola in die stad. Foto: DANIE COETZEE
Danie Coetzee het die skaapmelkery van Pierre en Dany Jauzion naby Toulouse, Frankryk besoek. Hy vertel van dié ervaring.
Die Franse is gou om te vertel dat hulle 365 soorte kaas produseer, een vir elke dag. Bees-, skaap- en bokmelk word gebruik. Ek was bevoorreg om op ’n onlangse besoek aan Toulouse ook die skaapmelkery van Pierre en Dany Jauzion te besoek. Hulle melk 300 Lacaune-skape op 48 ha, sowat 80 km uit Toulouse in die omgewing van die dorpie Venés.
Omgewingsvriendelike boerdery
’n Dubbeldoel-melk- en skaapstal is onlangs in gebruik geneem. Behalwe geriewe vir die melk van die skape en vir voer- en oorwinteringsgeriewe, is die stal se dak voorsien van sonpanele wat aan hulle elektrisiteit verskaf. As daar oortollige krag is, word dit in die netwerk ingevoer en word die Jauzions daarvoor vergoed.
Die egpaar doen ál die werk self. Die melkery duur 'n uur soggens en saans. Hooi word opgeberg vir die winter, wanneer die skape lang tye onderdak moet wees. Wanneer weiding beskikbaar is, word die ooie toegelaat om twee uur lank op grasklawerweidings te wei.
Hulle word verder binnenshuis gevoer. Voer word gesny en met ’n selflaai-en-ontlaaiwa gelaai en dan in die skuur afgelaai. ’n Apparaat wat aan ’n balk teen die dak beweeg, word gebruik om die voer op vervoerbande te laai wat dit in die krippe pak.
Gesonde omgewing
Die skuur word vier tot vyf keer per jaar skoongemaak en die materiaal word gebruik om die lande of weidings te bemes, geen ander kunsmis word gebruik nie. Volgens Pierre is dit ’n baie gesonde omgewing en word die skape slegs een keer per jaar gedoseer.
Hulle is tevrede met 'n opbrengs van 300 liter melk gedurende die ses maande wat die skape gemelk word. Hulle maak nie self kaas nie, maar ’n koöperasie maak Roquefortkaas, wat in grotte in die omgewing gehou word, wat die ideale temperatuur het.
Die prys van grond wissel tussen 6 000 euros en 7 000 euros per hektaar. Die drakrag is tussen 7 en 8 kleinvee-eenhede (KVE) per hektaar. Volgens Pierre is ’n ekonomiese eenheid, wanneer slegs met vleisskape geboer word, ’n boerdery met 600 ooie wat ’n gesin sal onderhou. Die minimum loon is 1 100 euros per maand, waarby nog ongeveer 25% gevoeg word vir dinge soos medies. Die loon is ongeveer 9 euro per uur as los werk gedoen moet word.
Opvallend
’n Paar dinge wat opgeval het: Die kleinste plaaspaadjie is geteer. Gedurende die drie weke, wat redelik nat was, het ons een voertuig gesien wat effens met modder besmeer was. Daar is baie min bakkies te sien. Boere gebruik heelwat afleweringwaens. Die reënval kom nie in donderbuie voor nie, baie skuins hellings word geploeg.
In die voorstede word oop persele bewerk en met kontantgewasse, soos groente, koring, voer en kanola beplant. In die voorstad Seilh, is daar ’n melkery langs ’n baie besige hoofpad. Padgebruikers is baie geduldig, want hierdie paaie word deur die boere met hul werktuie gebruik.
Plase is taamlik klein, so groot soos wat die gesin kan behartig. Daar is min groot plase, omdat arbeid so duur is. Groter trekkers en ander masjienerie het wel daartoe bygedra dat plase groter geword het, omdat die werk vinniger afgehandel kan word.
Boeregasvryheid is oral maar dieselfde. Ná ’n koppie tradisionele Franse koffie nooi die gasvrou ons om weer ’n draai te maak wanneer ons dalk weer eendag in die omgewing is. Ongelukkig is my Frans van so ’n aard dat ek nie vir haar kan sê dat ons sonder ’n tolk, nie werklik sal kan kuier nie, maar merci!