|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Een aspek wat optimale produksie en reproduksie van herkouers benadeel en
wat gruwelik onderskat word, is 'n tekort aan spoorelemente. Deur die
spoorelement-status te optimaliseer, kan wins beduidend opgestoot word.
Volgens prof. Dennis Herd van die A & M Universiteit, Texas, is die uitwendige simptome van 'n bees wat aan 'n akute kopertekort lei baie dieselfde as dié van 'n bees wat teen 'n erge graad met inwendige parasiete besmet is. Die bees bly kroes en maer alhoewel dit gedoseer is.
Selfs in moderne tye soos vandag is optimale spoorelementstatus by herkouers nie maklik om te verwesenlik nie. Dit is beslis steeds 'n wesenlike probleem by herkouers, sê dr. Willie Smith van Somerset-Wes, 'n direkteur van Animalia, 'n maatskappy wat inspuitbare spoorelemente vir herkouers vervaardig. Dr. Smith is ook wyd bekend as 'n kenner op die gebied van veevoere in Suid-Afrika.
Hy sê spoorelemente se uiters belangrike rol vir die natuurlike weerstand en reproduksiedoeltreffendheid van herkouers word grootliks onderskat. Daar moet geprobeer word om te alle tye die spoorelementstatus van melkbeeste voor kritieke tye soos wanneer hulle opdroog, kalftyd en paring (KI) te optimaliseer. Dit geld ook vir kalf- of lamtyd by vleisbeeste, skape en bokke.
'n Optimale spoorelementstatus sal baie help om uierinfeksies te voorkom wanneer koeie opdroog, om infeksies en mastitis tydens kalftyd en kort ná kalftyd te voorkom, om 'n pasgebore kalf of lam se lewenskragtigheid te verseker, asook om doeltreffender besetting met paring te verseker wat byvoorbeeld nie geresorbeer of geaborteer sal word nie.
Wetenskaplikes praat al minder van spoorelementtekorte. Hy meen die rede is dat veeboere, voedingskundiges en veeartse wat boere moet inlig, dit nie meer kan bekostig dat 'n nie-optimale spoorelementstatus in 'n kliniese tekort ontwikkel nie. Die kliniese simptome van 'n spoorelementtekort word eers gesien wanneer produksie en reproduksie van plaasdiere reeds baie gedaal het (Sien grafiek 1).
Dr. Smith sê onomwonde die regstelling van sulke tekorte is nie meer aanvaarbaar nie. Op elke plaas moet 'n praktiese program om spoorelemente aan te vul, in plek wees om die spoorelementstatus van melkkoeie, vleisbeeste, skape en bokke te optimaliseer - veral kort voor kritieke tye soos wanneer die diere kalf, lam en paar.
Optimale spoorelementstatus is egter 'n biologiese doelwit wat waarskynlik nooit 100 % vervolmaak sal kan word nie. Daar kan dus slegs geprobeer word om dit so optimaal as moontlik te kry. In tabel 1 kan gesien word hoe funksies wat van spoorelemente afhanklik is, ook in Amerika - waar kundigheid op 'n baie hoë vlak is - 'n groot probleem in melkkuddes is. Dit raak ook reproduksie en melkproduksie nadelig.
Dit is ook uit tabel 1 duidelik dat doeltreffender spoorelementfunksies - wat net met 'n beter spoorelementstatus verkry kan word - tot minder probleme lei by koeie wat pas gekalf het en beter melkprodusie en reproduksie tot gevolg het.
Dr. Michael F. Hutjens van die Universiteit van Illinois, 'n wêreldkenner op die gebied van melkbeesvoeding, meen dat melkkoeie in die algemeen kalf terwyl hul spoorelementstatus nie optimaal is nie, omdat die aanvulling van spoorelemente van melkkoeie veral in die vroeë droë periode baie afgeskeep word.
Vleisbeeste en skape of bokke het ook dikwels 'n
spoorelementstatus wat nie optimaal is nie, as gevolg van redes soos die
volgende:
In Suid-Afrika word dikwels te veel voerkalk en te veel swael in lekke ingesluit, wat die absorpsie van belangrike spoorelemente soos sink, mangaan, koper en seleen onderdruk. Hoewel swael 'n belangrike mineraal vir diereproduksie is, is te veel daarvan nadelig.
Die spoorelementstatus van herkouers kan op die volgende maniere geoptimaliseer word:
* Spoorelemente kan optimaal aan die diere gevoer word deur middel van voer, aanvullings en/of lekke.
Drie tot vier weke voor 'n kritieke tyd (kalf- of lamtyd, paring en KI) kan belangrike spoorelemente vir weerstand en reproduksiedoeltreffendheid, naamlik sink, mangaan, koper en seleen deur middel van inspuitings toegedien word.
Dr. Smith sê by melkbeeste moet vitamiene A en E altyd saam met sink en seleen ingespuit word om die voordele van die sinergisme tussen vitamien A en sink, asook tussen vitamien E en seleen tot voordeel van die koeie te benut. By vleisbeeste en skape kan vitamiene A en E ook saam met sink en seleen ingespuit word wanneer hulle voor kritieke tye in 'n nie-optimale kondisie is, of as hulle aan die einde van 'n droë periode, byvoorbeeld die Vrystaatse- en Transvaalse winter, moet lam of kalf. Beeste en skape se vitamiene A- en E-status is aan die einde van 'n lang droë periode gewoonlik baie swak omdat droë veldweiding nie vitamiene A en E bevat nie.
Veeboere moet saam met veevoer- of lekmaatskappye seker maak dat hulle diere deurlopend 'n korrekte en gebalanseerde spoorelementmengsel ontvang. Tensy bewese ystertekorte bestaan, kan yster uit die mengsel gelaat word omdat Suid-Afrikaanse water, natuurlike weiveld en ander veevoergrondstowwe gewoonlik ryk is daaraan. Voorts kan die ander 6 noodsaaklike spoorelemente - sink, mangaan, koper, seleen, jodium en kobalt - in 'n gebalanseerde mengsel volgens aanbevelings gegee word.
Alle ander inligting, soos die spoorelementgeskiedenis van 'n streek, veldontledings, waterontledings, lewerontledings en bloedontledings, kan deur kundiges geëvalueer word om 'n spoorelementmengsel so akkuraat moontlik vir 'n spesifieke streek te formuleer, meen Dr. Smith.
Prof. Dennis Herd van Texas se A & M Universiteit, is bekommerd dat die nie-optimale spoorelementstatus van die bes bestuurde vleisbeeskuddes in Amerika wel produksie baie meer beperk as wat algemeen aanvaar word.
Spoorelemente moet belangriker geag word in aanvullingsprogramme vir herkouers en ingesluit word omdat dit 'n groot bydrae tot doeltreffender produksie en reproduksie kan maak, glo hy.
Boere moet ook saam met die veevoer- en lekmaatskappy verseker dat voere en lekke wat gebruik word, voldoende - maar nie te veel nie - swael en kalsium (voerkalk) bevat. Voerkalk is die goedkoopste grondstof in veevoere en word dikwels misbruik.
'n Kalsium tot fosfor verhouding van 1:1 in lekke is voldoende en sal verseker dat diere nie onnodige kasium inkry wat die absorpsie en benutting van spoorelemente belemmer nie.
'n Tweede aanvullende inspuiting met spoorelemente voor kalf- of lamtyd en voor paring (KI) is belangrik om moontlike wanbalanse in die voeraanvulling reg te stel en te verseker dat die rantsoen se spoorelementstatus in kritiese tye reg is.
Om al die probleme van spoorelemente deur lekke en voere te korrigeer, moet boere vir skape inspuitbare sink, mangaan en seleen 3 tot 4 weke voor kalf- of lamtyd of paring (KI) onderhuids aanvul.
Ramme en bulle moet liefs 3 keer per jaar só aangevul word omdat spermatogenese meer as 100 dae duur én 'n deurlopende proses is wat altyd optimale spoorelementvoorsiening vereis.
Dr. Ken Mitchell, bekende veearts van Tulare in Kalifornië, het onlangs 'n studie van melkkoeie afgesluit. Tydens dié studie het hy die beginsel ondersoek van 'n tweede-been spoorelementaanvulling met onderhuidse inspuitings van sink, mangaan, koper en seleen 3 weke voor kalftyd en 3 weke voor KI. Dit is met die doel om melkkoeie se spoorelementstatus te verbeter vir `n gesonder kalftyd met minder infeksies en minder kanse op mastitis, en ook om doeltreffender besetting met KI te bewerkstellig.
Hy het gevind dat twee aanvullingsinspuitings die kanse op mastitis met 17 % verminder het en besetting betekenisvol verbeter het. Dit was veral die besetting van eerste- en tweedelaktasiekoeie wat baie beter was.
Tweedelaktasiekoeie - wat vir melkboere 'n kopseer is - het met die eerste inseminasie 30 % beter besetting gehad in vergelyking met die kontrolegroep wat nie dié inspuitings gehad het nie. Dr. Mitchell beraam die finansiële voordeel van die twee inspuitings só: 17 % minder mastitis lewer `n voordeel van $17 (R170) per melkkoei per jaar, en beter besettings kom neer op $33 (R330) per melkkoei per jaar. Dit kom neer op 'n jaarlikse voordeel van $50 (sowat R500) per melkkoei per jaar.
Volgens dr. Mitchell word beraam dat die totale koste van 'n kliniese mastitisgeval in Amerika $250 (sowat R2 500) is. In sy studie het 6,8 minder koeie per 100 in die groep wat met onderhuidse spoorelemente aangevul was kliniese mastitis gekry, as in die kontrolegroep wat nie onderhuidse aanvullings gekry het nie.
Om dit per melkkoei in die kudde uit te druk, word die 6,8 met $2,50 (R25) vermenigvuldig, wat 'n finale ekonomiese voordeel van $17 (R170) per melkkoei deurgee.
Hy het ook gevind dat die behandelde groep 'n 11 dae korter kalfinterval gehad het.In Amerika word beraam dat een dag korter in 'n kalfinterval $3 (R30) beteken. Die 11 dae korter interval beteken dus 'n ekonomiese voordeel van $33 (R330) per melkkoei in die kudde.
Volgens dr. Mitchell is dít slegs die reële ekonomiese voordeel, en sal elke melkboer weet dat as eerste- en tweedelaktasiekoeie vroeër én doeltreffender dragtig gekry kan word, dit oor 'n vyf tot tien jaar periode groot ekonomiese voordele in terme van genetiese vordering sal hê.
Skape is baie sensitief vir koper, en daar is 'n neiging om koper vir alle herkouers teen laer peile as wat benodig word, aan te vul. Hoewel veral vleisrastipes sensitief is vir koper, het hulle 'n besliste behoefte aan koper. Boere in areas (soos die kusstreke) wat bekend is vir kopertekorte kan wel hul skape se behoefte aan koper onderhuids met inspuitbare koper aanvul. Hiervoor moet 'n spesiale voorskrif van `n veearts gekry word.
Beeste, daarenteen, is egter baie minder sensitief vir `n kopertekort as skape, behalwe Jerseys, wat redelik sensitief daarvoor is. As Jerseys normale koperaanvullings deur hul voer ontvang, kan hulle een keer per jaar onderhuids 'n koperaanvulling kry - verkieslik drie weke voor kalftyd.
Ander beesrasse kan benewens die gewone koperaanvulling deur voer en lekke ook twee tot drie keer per jaar onderhuids `n aanvulling kry. Volgens prof. Herd van Texas het veral die Europese rasse soos die Simmentaler, Charolais en Limousin 'n groter behoefte aan koper as ander beesrasse en moet koper teen 150 % van die National Research Council se jongste aanbevelings aangevul word. Beeste het 'n besliste behoefte aan koper wat korrek aangevul moet word vir optimale produksie en reproduksie.
Hoe lyk Suid-Afrikaanse boere se eie spoorelementstatus?
Dit is baie belangrik dat boere nie net sal omsien na hul plaasdiere se spoorelementstatus nie, maar dat hulle met groot erns ook na hul eie spoorelementstatus, asook die spoorelementstatus van hulle families sal omsien.
Suid-Afrika is bekend as 'n land waar prostaatprobleme volop is. As mans hul dieet met sink en seleen sou aanvul, kan prostaatprobleme baie verminder word. Sink en seleen is baie belangrik vir natuurlike weerstand en dit kan ook help om die voorkoms van kanker en depressie te verminder. 'n Boer met 'n optimale spoorelementstatus sal, soos sy plaasdiere met 'n optimale spoorelementstatus, meer natuurlike weerstand hê en doeltreffender kan boer, meen dr. Smith.
| Die voorkoms van probleme by koeie wat pas gekalf het, en die impak daarvan op reproduksie en melkproduksie (Bron: Hoard's Dairyman, 1996) |
||||
| size=2>Siektetoestand | Gemiddelde voorkoms % |
Variasie % |
Invloed op reproduksie |
Invloed op melkprod. (l) |
| Abnormale gesondheidstatus |
37 |
20 - 82 |
Verlaag |
-3 |
|
Metritis |
21 |
11 - 36 |
Verlaag |
-3 tot -5 |
|
Infeksie van |
17 |
8 - 24 |
Verlaag |
-2 tot -5 |
|
Sistiese eierstokke |
12 |
3 - 29 |
Verlaag |
-2 tot -5 |
|
Vassit van nageboortes |
9 |
2 - 18 |
Verlaag |
-2 tot -4 |
|
Mastitis |
7 |
2 - 17 |
Verlaag |
-3 tot -5 |
|
Koeie wat moeilik kalf |
6 |
1 - 14 |
Verlaag |
-6 |
|
Anovulasie |
5 |
2 - 23 |
Verlaag |
- |
16 Augustus 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24