|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Die gedagte dat die
Suid-Afrikaanse perdespringsport- en dressuurspan oor 'n dekade of twee
met perde uit 'n plaaslik geteelde ras aan die Olimpiese Spele kan
deelneem, is glad nie so vergesog nie.
Suid-Afrika het die potensiaal én teelmateriaal om 'n sportperd te teel wat op die hoogste vlak met die beste perde in die wêreld kan meeding, meen twee voorste plaaslike telers.
Mnre. Hans de Leeuw van die IDL-stoetery, buite Wellington in die Wes-Kaap, en Manie Hancke van die Carel Hancke-stoetery, tussen Bethal en Standerton, reken 'n kruising tussen Europese Warmbloedperde en SA Boerperde kan vullens lewer met alle eienskappe wat 'n goeie sportperd moet hê, naamlik goeie bouvorm, hoogte én temperament.
"'n Mens wil 'n atletiese perd hê wat gebalanseerd is, wat houding het, intelligent is en gewillig is om te werk," sê mnr. De Leeuw.
"Die SA Boerperd het 'n fantastiese temperament. Hy's besonder intelligent en het baie goeie beweging. Hy leer ook vinnig. Hy kort net hoogte," sê mnr. Hancke.
Vir mnre. De Leeuw en Hancke, asook die noordelike Boerperdtelers wat in hul entoesiasme en droom deel, gaan dié kruising egter nie by blote bespiegeling en wensdenkery bly nie.
Hakahana Atilla, 'n Hannoveraanse hings in die IDL-stoetery, en een van Suid-Afrika se bekendste ingevoerde Warmbloedperde, het in November 'n twintigtal top SA Boerperdmerries van verskillende telers by die Carel Hancke-stoetery in Mpumalanga gedek. As alles volgens plan verloop, behoort die eerste vullens in Oktober aan te kom.
Met dié kruising onderweg, wil hulle ook een van Atilla se dogters met Carel Hanke Soldaat, mnr. Hancke se kampioen-Boerperdhings, dek.
Dit sal waarskynlik nie die eerste Warmbloed-Boerperd-kruising wees nie, maar mnr. Hancke sê dat dit beslis die eerste keer is dat perde van dié gehalte op formele wyse gekruis word.
Om 'n behoorlike impak op die perderuiter-afdelings in internasionale kompetisies te maak, sal dit volgens mnr. Hancke vir Suid-Afrika belangrik wees om met Suid-Afrikaanse perde deel te neem, en daarin lê 'n groot deel van die potensiaal van die kruising.
"Ons probeer om 'n nuwe sportperd vir Suid-Afrika te teel. Die SA Boerperdmense moet besluit wat om dié nuwe perd te noem. Dit sal nie 'n rasperd wees nie, en sal aan enige sport kan deelneem," sê mnr. De Leeuw. Volgens hom is dit 'n poging om 'n nuwe sportperd vir veral kinders en vroue beskikbaar te stel.
"Ons wil die bedryf versterk en goeie perde beskikbaar stel. Warmbloedperde is te duur vir die gemiddelde perdry-entoesias," sê hy.
Me. Gonda Betrix, Springbokruiter en wenner van nasionale en internasionale ruiterkompetisies tussen 1957 en 1995, en deesdae afrigter en beoordelaar, sê 'n mens sal moet wag en kyk wat die resultaat van dié kruising is. Tog glo sy daar is 'n groot mark vir sportperde wat plaaslik geteel is.
Prof. Frans van der Merwe, bekende landboukundige en skrywer van Ken ons Perderasse en Perde van die Anglo Boere-oorlog, bestempel dié kruising as 'n "lofwaardige poging".
"Die motivering en doelstellings is kerngesond, solank die hele projek net nie inbreuk maak op die integriteit van die SA Boerperd of Warmbloed as afsonderlike rasse nie. Ek sien dit as 'n poging om die bestaande markbehoefte te bevredig met 'n spesifieke produk wat homself in die skouspring-, en dressuur-arenas, en op die driefasebaan moet - en sal - bewys. Dit behoort egter nie verder gebruik te word om 'n nuwe ras te ontwikkel nie."
Die telers se optimisme word gerugsteun deur die perde se bloedlyne en hulle en hul nageslag se prestasies.
Atilla, 'n internasionale A-graad-springperd, is in 1983 uit Duitsland ingevoer deur Tosca en Robin Vorster, van die Hakahana-stoetery naby Hartbeespoortdam. Sy vaar, Akzent II, het in Europa op Grand Prix-vlak deelgeneem, en sy nageslag blink uit in Europese kompetisies.
Ook in Atilla se bloedlyn is die hings Ferdinand (1944 - 1967) wat deur die Britse Hannoveraanse Perdetelersvereniging (British Hanoverian Horse Society) beskryf word as ''moontlik die wêreld se bekendste voortbringer van springperde - haas sonder gelyke in die mate waartoe hy sy moed, selfvertroue en springvermoë aan sy nageslag oorgedra het".
In Suid-Afrika word Atilla se goeie temperament, buitengewone beweging en springvermoë reeds deur sy nageslag voortgedra. Een van hulle is Hakahana Alaric, die enigste Suid-Afrikaans geteelde dressuur-Warmbloed wat nog "terug" Duitsland toe uitgevoer is, en deesdae op Medium- en Prix St. George-vlak daar deelneem. In Suid-Afrika presteer Hakahana Allegro en Hakahana Alexa op die hoogste vlak.
'n Mens is dus nie verbaas dat mnr. De Leeuw "sien" dat Atilla die stamvaar van sportperde in Suid-Afrika kan word nie.
Seker een van die eerste perde van Boerperd-oorsprong wat in springkompetisies bekendheid verwerf het, is Gunga Din, die perd waarmee me. Betrix in 1958 'n rekordhoogte van 1,7 m op die Randse Skou gespring het.
"Gunga Din was maar 15,2 hand hoog. Dis waarom ek dink daar is potensiaal in die kruising," sê mnr. De Leeuw. Gunga Din was bepaald nie 'n frats nie, want heelparty Boerperde presteer gereeld op nasionale kompetisies in Suid-Afrika.
Carel Hancke Soldaat en Carel Hancke Nobel is onderskeidelik in 2002 as die Suid-Afrikaanse grootkampioen-Boerperdhings en -merrie (universeel) aangewys. Nobel is een van die Boerperdmerries wat deur Atilla gedek is. Die junior grootkampioen-merrie kom ook uit die Carel Hancke-stal.
Carel Hancke Soldaat, wat op sy dag grootkampioen-hings op die Randse Skou was, was vanjaar tweede op die Suid-Afrikaanse Derby-vertoonruiter-kampioenskap en is die huidige Suid-Afrikaanse Boerperd-kampioen in die driekamp.
Ook ten opsigte van bouvorm behoort die Carel Hancke-Boerperde 'n goeie bydrae te lewer. Carel Hancke Geepad (1987, 1991) en Carel Hancke Soldaat (1997) het die interraskampioenskap by die Pretoria-skou gewen. Nobel is tweede geplaas onder die beste vyf.
Daarbenewens het SA Boerperde hulle op die hoogste vlak in uithouritte bewys. Die hings, Carel Hancke Blok, het die Transvaal-uithourit oor 160 km in 1998 en 2001 gewen. In 1998 het hy ook Suid-Afrika se langste uithourit - die 210 km-rit by Leniesdeel - gewen. Hy is deur 'n Nieu-Seelandse beoordelaar en afrigter bestempel as 'n perd waarby min ander kan kers vashou. Dié beoordelaar het hom ook geprys vir sy gewilligheid en vasberadenheid. Blok behoort aan en word gery deur mnr. Willem Janson.
Dat mnr. Hancke by die projek betrokke is, is geen toeval nie. Sy oupa was immers die legendariese Hendrik Hancke, 'n voorste Boerperdteler ten tye van die Anglo-Boereoorlog. Volgens mnr. Hancke junior, die vierde geslag Hancke op die plaas, was daar in sy oupa se tyd 700 teelmerries op die plaas. Deesdae is daar 150.
Hy meen die grootste potensiaal van die kruising is dat dit die Boerperd hoogte gaan gee. "Boerperde vaar goed in ope kompetisies, maar as ons internasionaal wil deelneem, moet ons hoër perde kry.
"Boerperde het ook waagmoed. Hulle sal enigiets probeer. Hulle is goeie, veelsydige perde. Hulle is geskik vir ryskole, plesierritte, uithouritte, maar ook vir spring en dressuur," sê mnr. Hancke.
Volgens mnr. De Leeuw sal Atilla na verwagting sy uitstekende bloedlyn (Warmbloedperde het hulle reeds op die hoogste vlak in spring- en dressuurafdelings bewys), hoogte en goeie temperament bydra. Sy sterk beenstruktuur sal die Boerperd s'n komplementeer, terwyl sy goeie beweging - Atilla se vaar, Akzent II, was 'n Grand Prix-dressuurperd - die natuurlike beweging van die Boerperd sal verbeter. Atilla sal verder die Boerperdvoorkoms verfyn.
Die belangrikste teelfaktor wat die Boerperde kan bydra, is, volgens hom, temperament. "As 'n perd nie die regte bouvorm het nie, kan dit nie beweeg of spring nie. Dit is ook belangrik, maar temperament is die belangrikste. Die perd móét gefokus bly," sê mnr. De Leeuw.
"Boerperde is geharde perde met 'n groot uithouvermoë. Hulle kan in die veld oorleef en nog tot 'n hoë ouderdom presteer. Hulle laat hulle nie deur muskiete en muggies afskrik nie en is geteel om die kwaaiste uitdagings van Afrika die hoof te bied."
Hoewel die vullens binne ses weke ná geboorte reeds 'n aanduiding kan gee van hoe suksesvol die kruising was, en die ware toets eers ná vier jaar sal kom (wanneer die perde aan spring- en dressuurkompetisies begin deelneem), is mnr. Hancke oortuig dat dié kruising goeie resultate gaan lewer.
Wat die toekoms betref, sal die vullens fyn dopgehou word. Deur die lynteel-metode wil hulle die bloedlyn versterk en verseker dat karakter en temperament aanhoudend bygeteel word, sê mnr. De Leeuw. Hy meen die sportperde sal soos soetkoek verkoop. Hy kry immers daagliks navrae van veral vroue wat mooi, mak perde vir dressuur soek.
Ras kom van ver
af
Hannoveraanse Warmbloedperde is
aanvanklik geteel as ry- en trekperde vir militêre, vervoer- en
boerderydoeleindes. Hul oorsprong kan teruggespeur word tot 1735, toe 'n
staatstoetery by Celle (destyds in die onafhanklike staat Hannover en nou deel
van die verenigde Duitsland) gevestig is deur George II, keurvors van Hannover,
om perdeteling te bevorder.
Stamboekrekords word sedertdien gehou.
Ná die Eerste Wêreldoorlog het die ruitersport posgevat en die behoefte aan 'n ryperd met goeie beweging laat ontstaan. Toe perde op plase in die 1960's in onbruik verval het, het die vraag na perde gedaal. Tog het dit 'n voordelige uitwerking op die bedryf gehad. Net die beste teelmateriaal is behou en Hannoveraanse perde is uitsluitlik as ryperde geteel. Deesdae poog hulle om 'n perd te teel wat vanweë sy temperament, aard en rybaarheid geskik is vir enige perdrydissipline.
Bloedlyn deur natuur gebrei
Die SA Boerperd se geskiedenis gaan so ver terug as Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap in 1652 en kan in drie fases verdeel word. Vanaf 1652 tot min of meer 1780 het die Kaapse Perd (voorvader van die hedendaagse SA Boerperd) hoofsaaklik afgestam van Javaponies, Persiese Arabiere en Spaanse Andalusiërs. Ná die Britse besetting van die Kaap in 1795 het groot getalle Arabierhingste en Engelse Volbloedperde die bestaande perdestapel betekenisvol verbeter. Dit is hierdie aangepaste bloedlyne wat vanaf 1835 deur die Voortrekkers die binneland ingeneem is en waarvan die SA Boerperd afstam.
Dié perde was bekend vir hul uithouvermoë, intelligensie, vaste tred, dapperheid en gehardheid. Hoewel duisende perde gevrek het in 'n oorlog waarin hul stamina, gehardheid en beweeglikheid beproef en verfyn is, stam die huidige Boerperde uit die enkele teellyne wat die oorlog oorleef het.
11 Julie 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24