|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
'n Indrukwekkende opteelprogram oor
tien jaar met suiwer Drakensbergerbulle op 'n roesemoes van bykans 3 000
kruisraskoeie in Swaziland is halfpad. En elke jaar word teikenprestasies bereik
op pad na die bestuurder se ideaal, naamlik die beste vleisproduserende kudde in
Suider-Afrika.
Hierdie is nie 'n droomverhaal nie. Inteendeel, dis 'n voorbeeld van doelgerigte strewe aan die kant van die onderneming Dalcrue Agricultural Holdings, besturende arm van ál die landbouvertakkinge in Swaziland van die ontwikkelingsmaatskappy, Tibiyo Taka Ngwane (TTN).
Die welslae van dié vleisbeesprojek is die gevolg van die toegewydheid van die Swazi's en die voorligting en tegniese hulp van die Drakensbergertelergenootskap in die persoon van mnr. John Roos, president van die genootskap.
Die onderneming se vleisbeesboerdery word op tien plase op altesaam 20 000 ha bedryf. Daar is sowat 6 200 beeste in die kudde, waarvan 2 700 teelkoeie is. Daar word net op natuurlike veld geboer, waarvan sowat 'n derde soetveld en die res gemengde veld is. Die drakrag is in die omgewing van 4 ha/GVE.
Mnr. Liphi Nzibande, bestuurder van die vleisbeesboerdery, sê sy eerste ervaring met Drakensbergers was toe hy 12 jaar lank as veekundige tegniese bestuurder in beheer by die IYSIS, 'n groot voerkraal in die land, was. Hy het bevind dat die ras goed in die voerkraal groei - en ook vinniger as ander kruisings. Boonop word die diere twee jaar oud voordat hulle wissel.
Dit is volgens hom aangepaste diere met 'n hoë vrugbaarheid. Hulle kalf gereeld en het baie melk - vir 'n kalf én huisgebruik. "Die plaaslike bevolking wil nie vet en duur vleis hê nie. En omdat dit goedkoper is om die Drakensbergers op die veld af te rond, is sulke diere ideaal vir binnelandse verbruik," sê mnr. Nzibande.
Hierbenewens is die Drakensbergerbulle ook gewild in die buurland Mosambiek, waar aangepaste diere uit 'n hartwater, rooiwater en galsiektegebied verkies word. Voorts toon inligting van die LNRDiereverbeteringsintituut (LNRDVI) by Irene dat vrektes tot op speenouderdom by die Drakensberger 52 % minder is vergeleke met 'n aantal ander rasse.
Toe mnr. Nzibande in 1996 bestuurder by Dalcrue se vleisbeesboerdery geword het, kon hy dus met oortuiging sy bestuur oorreed om 'n konstruktiewe opteelskema met Drakensbergers te begin. Daar was in daardie stadium 'n aantal suiwer Drakensbergers in die kudde as gevolg van bestaande boerderye wat vroeër teen goeie vergoeding deur TTN oorgeneem is.
In 1997 het mnr. Nzibande die beoogde Drakensbergerteelprojek met mnr. Roos bespreek. Dit is gevolg deur 'n aanbod van tegniese voorligting deur die genootskap. Met die eerste gesamentlike evaluering van die kudde deur mnre. Nzibande en Roos is die volgende knelpunte geïdentifiseer:
* 'n Gebrek aan eenvormigheid van aangepaste diere in die kruiskoeikudde met 'n allegaartjie van bloedvermenging.
* Die persentasie onproduktiewe diere in die kudde was veels te hoog.
* 'n Ernstige behoefte aan funksionele infrastruktuur en doeltreffende bestuur. Daar was byvoorbeeld geen stelsel van rekordhouding nie.
In die lig hiervan het mnr. Nzibande 'n aksieplan ten opsigte van die koeikudde in werking begin stel deur alle substandaardbulle uit te skot. Dié wat behou is, is vir geslagsiektes getoets en uit die koeikuddes verwyder. 'n Dekseisoen is ingestel om met die optimale produksieseisoen van die veld saam te val. Onproduktiewe diere is genadeloos uitgeskot. Die natuurlike weidings op die plase was ook onderbenut en daar is dus begin om osse en uitskotverse op die veld af te rond.
Aanvanklik kon 100 Drakensbergerkoeie vir opname in hulpstamboek A gekeur word. Dié koeie is gebruik om suiwer bulle te teel wat in die opteelprojek van die gemengde koeikudde en vir kommunale gebruik aangewend kon word. Altesame 58 suiwer Drakensbergerbulle het in 1997 bygekom.
Die projek vorder goed. Jong diere wat byvoorbeeld vanjaar gepaar word, is almal half- en kwart-Drakensbergerkruisings. Hul kalwers sal die eerste wees wat ten opsigte van die kommersiële kudde sewe-agtste Drakensbergers sal wees en wat aanvanklik as die ideaal gestel is, naamlik 'n moederlyn van aangepaste inheemse diere met baie melk in die hele kudde.
Dit is bereik deur die Drakensbergerkoeitrop in twee groepe te deel. Die eerste is top-Drakensbergerkoeie waaruit suiwer bulle geteel word vir gebruik in die tweede groep en verkoop aan kommunale boere. Net rasegte Drakensbergerbulle word in dié groep gebruik. Die tweede groep koeie word gebruik vir die teel van vervangingsverse in die kommersiële kudde. Daar is nou sowat 300 suiwer geteelde Drakensberger-koeie en 150 kalwers in die kudde.
Van die begin af is die projek deur opleiding gerugsteun. Mnr. Nzibande het toegesien dat die plaasvoormanne kwalifikasies verwerf in weidings- en kuddebestuur gegrond op goeie rekordhouding. Werksessies word gereeld vir plaaspersoneel aangebied oor aspekte soos bestuur en administrasie saam met tegniese opleiding. Die telersgenootskap bied basiese keurders- en dieresorgkursusse vir die personeel aan en reël ook vir bestuursgroepe besoeke aan plase in die Republiek.
Die infrastruktuur is in 'n groot mate reeds aangepas. Die plase word onder die nuwe bestuur in kampe van 150 ha tot 200 ha verdeel. Sowat 75 % van dié taak is afgehandel. Die gemiddelde kuddegrootte is 200 tot 300 diere per trop en die arbeid word aangewend teen 75 grootvee-eenhede per veewagter. Vanaf 1999 tot nou is byvoorbeeld R92 000 net aan watervoorsiening in elke kamp bestee. Die hanteringsgeriewe is opgeknap en elke plaas het 'n dip en 'n beesskaal. Alle diere word voor paartyd geweeg en weer wanneer die kalwers gespeen word. Die speengewig word noukeurig aangeteken.
Voorts word 'n doeltreffende gesondheidsprogram met die samewerking van 'n veearts gevolg. Dit sluit in 'n volledige inentingsprogram en die jaarlikse toets van bulle vir vrugbaarheid en geslagsiektes.
Mnr. Roos evalueer ál die bulle van alle rasse vóór en ná elke dekseisoen. Hy kyk na die kondisietelling, standaard van voortreflikheid, raamgrootte en rypheidstipe (vroeg of laat ryp). Pruldiere word uitgeskot. Hierdie inligting word deur die genootskap gebruik om die regte soort vir die toestande te identifiseer. "Dit is reeds duidelik dat die medium- tot vroegryp- en die medium- tot kleinraamtipes die gewenste diere is.
"Dit is terselfdertyd 'n goeie toets vir die diensbaarheid van die Drakensbergerbulle. Die eerstes wat gekoop is, is nou tien jaar oud en word vervang omdat hulle kondisie gedurende die dekseisoen verloor," sê hy. Bosindringing is nog 'n probleem op van die plase en daarom word net 25 koeie per bul gebruik.
Die projek is middel verlede jaar op uitnodiging van Dalcrue deur dr. Alastair Paterson, veekundige konsultant van Veeboere in KwaZulu-Natal, geëvalueer. Hy was veral beïndruk met die ras se aanpasbaarheid en produksie by die Swazilandse laeveldklimaat waar die gemiddelde reënval wissel van 450 mm in die soetveldgebied en 700 mm in die gebied met gemengde veld.
Twee aspekte moet in gedagte gehou word wanneer 'n mens die prestasies van hierdie projek oor die afgelope vyf jaar beoordeel:
* Die klimaat is waarskynlik die belangrikste. 1997 was 'n goeie jaar met 'n nat winter; 1998 was 'n goeie jaar; in 1999 was die lentereën laat en in 2000 het dit die hele seisoen bogemiddeld gereën. Dit is gevolg deur twee droë jare, 2001 en 2002.
* Die ander is die feit dat ná drie kalfseisoene sowat 66 % van die totale kudde reeds in die voordeel van Drakensberger-bloed deel.
Produksiesyfers vir vanjaar se speenseisoen ná min reën toon dat op tien van die plase waar met beeste geboer word, die Drakensbergers se gemiddelde koeigewig 433 kg was, met 'n gemidddelde speengewig van 204 kg of 47 % op die ouderdom van agt maande van die veld af. In die 2002-kalfseisoen was die dragtigheid 88 %.
10 Januarie 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24