|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Die manier waarop sommige stoettelers bulle toets en vir veilings voorberei, word soms deur kommersiële telers gekritiseer. Hierdie studiegroep se antwoord is om aangepaste veldbulle te lewer.
Die kritiek teen sommige stoettelers is dat hulle bulle in ander toestande toets as dié waarin die bulle uiteindelik deur kommersiële telers gebruik gaan word. Veldbulklubs kan 'n groot bydrae lewer in die verskaffing van bulle wat by kommersiële telers se toestande aangepas is en 'n nageslag sal lewer wat in sulke toestande kan presteer.
Dít is die aanspraak van die Pro-Veld- Bonsmaragroep van Vryburg. Dié veldbulklub en teelgroep se lede beywer hulle daarvoor om bulle wat vir die veld aangepas is vir hulself te teel en aan die mark beskikbaar te stel. Hulle beweeg dus nader aan die basiese dinge, met 'n sterk klem op aangepaste diere en prestasietoetsing op die veld.
Landbouweekblad het een van die groep se gereelde saamtrekke bygewoon. Dit is gehou op die plaas Tipperary van mnr. Wessel van Wyk (Bogermie-boerdery), die lid wat in beheer van die bulle se veldtoets is. Daar het die telers, onder leiding van hul voorsitter, mnr. Marius Ferreira (Molopo Bonsmaras), vertel hoe die proses van seleksie en die veldtoets werk en hoekom hulle oortuig is sulke toetse is die antwoord waarna veral kommersiële beestelers soek.
Die ander lede van die groep is mnre. Aubrey Niehaus (Fokus Bonsmaras), Frans Malan (Avoca), Johan Dormehl (Bloubuffel-landgoed), Kevin Smithers (Jordaansrust-plase), Kobus en Phillip Poggenpoel (Poggenpoel Bonsmaras), Flip Coetzee (Erfdeel-boerdery), Owen Taute (B.I. Walker Apteek Bonsmaras), Pieter de Bruin (De Bruin Bonsmaras) en Wynand Bester (Wilso Bonsmaras). Elkeen het 'n bepaalde funksie in die klub. Hulle kom minstens tweemaandeliks byeen en kontak mekaar tussendeur oor gemeenskaplike sake.
Volgens hulle stel dr. Japie van der Westhuizen van die Landbounavorsingsraad dit só: Die verskil in omgewingsmanipulering tussen sekere stoetkuddes en 'n gemiddelde kudde, veral met voerinset, is deel van die geregverdigde kritiek. Die meting van eienskappe moet dus so ver moontlik geskied in die omgewingstoestande waarin die nageslag van teeldiere moet presteer.
Ferreira sê hierby kan gevoeg word dat stoettelers perspektief oor hul teeldoelwitte en primêre mark moet behou. Hy meen stoettelers se teeldoelwit moet by uitstek wees om die nasionale kudde van die ras waarmee hulle boer, te verbeter en, breër beskou, om 'n bydrae tot die verbetering van die gehalte van die land se veestapel te lewer.
Die vraag "wat kan 'n mens as verbetering beskou?" moet beantwoord word aan die hand van die doel waarvoor die betrokke ras gebruik word en die omgewing waarin dit gebruik word.
Kommersiële telers gebruik moederlynrasse hoofsaaklik vir die produksie van speenkalwers in ekstensiewe boerderystelsels. Aangesien hierdie telers die belangrikste kopers van stoetdiere van moederlynrasse is, moet die stoettelers hul teeldoelwitte daarop rig om teelmateriaal beskikbaar te stel wat vir ekstensiewe toestande aangepas is.
Hoë groeisyfers en voeromsetting in kraaltoestande, byvoorbeeld, is belangrik in intensiewe stelsels, maar dit word gewoonlik met beeste met 'n groter raam verbind. Dié beeste vaar nie noodwendig goed in strawwe ekstensiewe toestande nie.
"Hiermee beweer ons nie dat groei en voeromsetting nie belangrik is nie. Wat egter van groter praktiese belang vir die kommersiële teler is, is groei wat vanaf die veld behaal word. Dit is 'n maatstaf vir aangepastheid en die vermoë om swak voerbronne in vleis om te skakel," sê Ferreira.
Wetenskaplikes wys daarop dat aanpasbaarheid en vrugbaarheid hand aan hand loop en dat diere wat nie in hul omgewing aangepas is nie, ook nie na wens sal presteer nie. Uit 'n ekonomiese oogpunt is vrugbaarheid vir die kommersiële boer vyf keer belangriker as groeipotensiaal en tien keer belangriker as karkaseienskappe.
Aangepastheid en vrugbaarheid is dus van primêre belang en ander eienskappe, soos groei en voeromsetting, van sekondêre belang.
Die volgende aspekte is reeds met navorsing bewys:
Die lede is dit eens dat kommersiële telers se kritiek nie ongegrond is nie. Trouens, dit strook met wat navorsing reeds telkens bewys het. Nogtans kom die probleem steeds voor en behaal bulle met 'n beter kondisie die hoogste pryse op veilings. Gevolglik duik klagtes steeds op dat 'n duur bul meer in 'n voerbak belang stel as in die koeie en dat só 'n bul "uitmekaar val" as hy op die veld tussen die koeie loop.
Die groep meen kommersiële telers moet die kuns aanleer om skraler bulle van 'n goeie gehalte uit te ken en hulle nie deur die voedingstatus laat beïndruk nie. Stoettelers moet op hul beurt die uitdaging aanvaar om bulle beskikbaar te stel wat in staat is om in kommersiële telers se boerderystelsels (meestal ekstensiewe toestande) te presteer en 'n nageslag te produseer wat in sulke toestande sal presteer.
Telers moet ook voortdurend teen uiterstes waak as dit by die seleksie van teelbulle kom. Selfs eienskappe wat gewoonlik as hoogs gewens beskou word, soos goeie bespiering en groei, sal probleme veroorsaak as dit oormatig beklemtoon word.
Te veel klem op bespiering sal onder meer tot verlaagde vrugbaarheid, melkproduksie, rumenkapasiteit en skrotumomvang lei. Dit sal ook die vermoë om maklik te kalf, benadeel en in die algemeen tot minder funksionele vroulike diere lei.
Te veel klem op groei sal weer tot 'n hoë geboortegewig, probleme om te kalf, groter rame en in die algemeen minder aangepaste diere lei.
Dit is hoekom wyle prof. Jan Bonsma, vader van die Bonsmararas, gesê het die natuur duld nie uiterstes nie.
Op sy beurt bepleit mnr. Danie Bosman, voorheen van die Landbounavorsingsraad, 'n terugkeer tot die basiese beginsels. Hy wys daarop dat die produksie-omgewing en die bees se funksionele doeltreffendheid die eerste aspekte is wat by seleksie oorweeg moet word.
Dit is waar die veldbulklub se waarde lê, want hulle lewer die regte bulle, meen die lede. Volgens hulle speel die natuur (reën en die veld) die belangrikste rol in hul boerderye. Daarom moet hul beeste in balans met die omgewing wees.
"Ons boer mos op die veld, nie in 'n kraal nie. Dit geld vir die koeie én die bulle."
Hulle erken hulle het in die begin ook laatrypdiere vir hul veldtoetse ingeskryf, maar dié diere kon nie die mas opkom nie. Diere wat té vroeg ryp is, vaar ook nie goed nie, aangesien hulle te vroeg ophou groei. Mettertyd het hulle geleer mediumraamdiere wat goed by veldtoestande aangepas is, vaar die beste.
Die jaarlikse inname het mettertyd gegroei. Vanjaar se inname bestaan uit 114 bulletjies, wat geselekteer is uit sowat 500 bulkalwers wat in die somer gebore is.
Hierdie bulle word vir drie maande op die veld aangepas (vanaf 1 Julie). Die amp-telike toets begin sodra dit ná die winter begin reën en dit duur ses maande. Die bulle ontvang net 'n kommersiële lek op die veld.
Ná die afsluiting van die toets word die bulle wat die groeitoets geslaag het, aan 'n meting van liggaamsmates en 'n visuele keuring deur twee senior keurders van die beestelersgenootskap onderwerp.
Die sowat 50 % van die bulle wat die strawwe toets en keuring suksesvol deurstaan, oorwinter dan op die veld.
Vanaf September word hulle op die veld voorberei vir die jaarlikse veldbulveiling op Kokomeng, naby Tosca, in die laaste week van Oktober. 'n Aanteelveiling vind in die derde week van Februarie op Vryburg plaas.
Die klub het ook met 'n somergroep begin vir kalwers wat in die winter gebore word. Hulle speen hierdie bulle tussen 15 Desember en 15 Januarie. Hulle kry net twee weke tyd om op die veld aan te pas. Hul toetstydperk is dus ook korter (net 140 dae) as die wintergroep s'n .
Die lede sê die betreklik hoë persentasiebulle wat nie die eerste toets slaag nie, is 'n aanduiding van hoe straf die toets is. Hulle meen egter namate die aangepastheid in hul eie kuddes verbeter (danksy die gebruik van veldgetoetste bulle), sal die slaagsyfer verhoog.
Aangesien die toets in toestande uitgevoer word wat soortgelyk is aan dié waarin boere met hul kommersiële kuddes boer, is Pro-Veld se bulle aangepas, fiks en gereed om dadelik te werk.
Die lede meen die feit dat hulle 'n groot aantal bulle saam toets (pleks van elkeen sy eie paar bulle), dra tot groter geloofwaardigheid by.
Die groep koop jaarliks op die veiling een of meer van die bulle wat die beste gepresteer het terug en sirkuleer hom onder die lede. Sodoende word die eienskappe wat aangepastheid en gehardheid verseker, in die lede se kuddes vasgelê.
Die waarde van hierdie praktyk is reeds bewys in die ongeveer agt jaar wat die groep bestaan. Hulle sien dit in die soort speenkalf wat nou in die toets beland. Waar die bulletjies eers 'n mengelmoes van rankerige diere, ponietipes en vroeg- en laatrypdiere was, is die meeste nou mediumraambulle. Die kuddes word dus meer eenvormig.
Die groep ondervind 'n groeiende vraag na veldbulle.
Uit die hoë persentasie kopers wat meer as een keer by hulle koop, lyk dit vir hulle of die voordele van veldaangepaste bulle nou behoorlik inslag vind. Waar die kopers ook eers meestal uit die Molopo-gebied gekom het, kom hulle nou van oral in die land.
Hoewel die klub net nuwe lede met Bonsmaras toelaat, is hulle altyd bereid om vir telers van ander rasse raad te gee.
25 Augustus 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24