Menu
 

THEUNS BOTHA (landbou@mweb.co.za)
15 Februarie 2006

829 keer gelees | 0 kommentaar

Die Oos-Kaap se Meestersuiwelboer ken as 't ware elke Jerseykoei in sy kudde by die naam.


Die Oos-Kaap se Meestersuiwelboer is baie erg oor sy melkery en ken as 't ware elke Jerseykoei in sy kudde by die naam. Ná talle prestasies in die skouring het hy getoon dat hy ook in die stal sy man teen die beste in die Oos-Kaap kan staan. Landbouweekblad het by hom en sy tweelingseuns op Blanco gaan kuier.

"Man, nou gaan jy die sout van die aarde ontmoet," sê 'n buurman toe hy die pad na Avondrood beduie. Ná 'n rukkie se wag by die plaas se ingang swaai 'n wit sekuriteitshek geluidloos oop. 'n Grondpaadjie met blombeddings aan weerskante lei na die borriegeel opstal met sy groen dak.

Die eerste wat opval, is die netjies versorgde grasperk wat nie 'n aks afsteek by die groen setperke van 'n gholflandgoed in die omgewing nie. Met die stilhou op die werf kom 'n jong boerboel en ouerige foksterriër blaffend aangestorm.

O genade, vandag word ek lewend opgevreet, dink ek, en bly versigtig in die motor sit. "Nee, hulle sal jou nie gaffel nie. Hulle kom jou net verwelkom," verseker 'n vriendelike mev. Ina van Rensburg wat by die deur uitkom en my hartlik nader wuif.

In die kantoor, waar ons gaan sit, vertel die rye blink bekers op 'n tafeltjie in die hoek die verhaal van talle skouprestasies. 'n Pragtige kleurfoto teen die muur van Avondrood JBD Trieks, wat op die strand geneem is, vang die oog. Volgens die foto se byskrif was sy in 1999 die SA kampioenkoei.

'n Rukkie later sluit Ina se man, Niekie, hom by ons aan. Netjies aangetrek, lyk hy jare jonger, as die 57 op sy kerfstok.

"Toe ek in 1968 saam met my pa, Stander, kom boer het, was daar op Avondrood net 'Outeniekwa-specials' waarby 'n Afrikanerbul gebruik is. Pa was nie seker of ons eerder met vleisbeeste moes boer of 'n melkery begin nie. Ek het gemeen 'n melkery is 'n beter keuse omdat dit darem 'n maandelikse inkomste verseker en die hele plaas net 105 ha groot was," onthou Van Rensburg die beginjare.

'n Goeie Jerseybul van mnr. Neil Robertson van George is aangeskaf. Om vinniger teeltvordering te maak, is saad van Taurus vir kunsmatige inseminasie op die kudde bekom. Pa Stander was aanvanklik baie skepties oor die KI.

Binne 'n paar jaar het die 45 koeie tot 120 vermeerder. Toe van Rensburg se tweelingseuns, Nico en Jaco, hulle in 1995 by die boerdery aansluit, is 'n buurplaas van 95 ha bygekoop. Die familie wat in 'n trust boer, het tans sowat 600 Jerseys, waarvan 280 koeie in laktasie is.

Vanweë die skuins helling (Avondrood lê aan die voet van die Outeniekwaberge) kan hulle net 113 ha aangeplante weidings, waarvan 55 ha onder permanente besproeiing is, vir die melkbeeste in die somer benut. Die somerweiding bestaan uit grasklawers, meerjarige raaigras en kikoejoe.

Nagenoeg 25 ha eenjarige raaigras en sowat 15 ha mielies (vir kuilvoer teen 3,5 kg/DM/koei), word geplant om vir die winter voorsiening te maak. Droë lusern (1,5 kg/koei) word gekoop. Die lakterende koeie kry gemiddeld elkeen van 6,5 kg tot 7 kg kragvoer tydens melktyd in die stal.

Die koeie word volgens hul produksie in verskillende kleurspanne ingedeel. Die hoogste produseerders (rooi span) kry 8,5 kg tot 9 kg kragvoer. Die tweede span (geel) kry 6,5 kg tot 7 kg en die blou span, wat die einde van hul laktasie bereik het, kry net 3 kg kragvoer.

Word die produksiesyfers van die kudde op Avondrood beoordeel, is dit duidelik waarom dié familie vanjaar met die louere in die Landbounavorsingsraad se kompetisie vir die Meestersuiwelboer in die Oos-Kaap weggeloop het.

Danksy uitmuntende teelmateriaal, 'n uitsonderlike "spyskaart" en goeie beweidingspraktyke is daar koeie wat tot 7 974 kg melk per laktasie, met 'n verstommende 4,58 % bottervet en 3,94 % proteïen, lewer. Die gemiddelde produksie vir die kudde as geheel is 6 078 kg melk (4,79 % BV en 3,67 % proteïen).

Met 'n tussenkalfperiode van net 382 dae en langlewendheid van tot nege laktasies, troon die Avondrood-kudde kop en skouers bó die land se gemiddelde vir dié ras uit.

Hoewel die syfers vir die kudde boekdele spreek, is dit eers wanneer foto's van die kudde geneem word dat die Van Rensburgs se ware liefde vir hul diere na vore kom. Hulle ken elke koei by die naam.

Beroemde KI-vaars, soos Action, Rocket, Blair, Lancelot, Jack, Max, Sultan en Future, het hul merk in die kudde gelaat. Ook die name van moederlyne, soos Lester, Berretta, Malcolm, Line en Capital, duik op. Met die goed aangehegte uiers en ferm spene is dit te verstane waarom die Avond-rood-kudde koeie het wat al meer as nege jaar oud is en meer as 65 000 kg melk in hul leeftyd geproduseer het.

Om sy koeie se aptyt te prikkel, bewei hulle stroke van sowat 15 meter op 'n slag. Voordat die diere die weiding skoon vreet, word hulle na die volgende strook verskuif. Die koeie word tot drie keer per dag verskuif. In die oggend sal hulle die Midmar-raaigras bewei, in die middag word hulle na die grasklawerweiding oorgeskuif en oornag op die kikoejoe-raaigrasweiding gelaat.

Wanneer later by die huis tee gedrink en aan Ina se Hertzoggies weggelê word, vertel Van Rensburg met trots watter bydrae sy tweelingseuns tot die boerdery lewer. "Nico is in beheer van die beeste en die melkery. Op skool het hy reeds elke bees se naam geken. Jaco is weer meganies aangelê en die ingenieur wat sorg dat alles wat breek, gou reggemaak word. Hy is ook vir die weidings en die klein kalwers se grootmaak verantwoordelik."

"En", merk Ina op, "Niekie is die man ágter die stuur van sake in die kantoor. Hy bring ure agter die rekenaar deur om die finansiële bestuur en aantekeninge van die boerdery haarfyn te beplan."

Van Rensburg sê ofskoon die deelname aan skoue harde werk is, hy die gelaaide atmosfeer baie geniet wanneer die diere in die ring beoordeel word. "Die mooiste is om wanneer jy die aand so teen tienuur tussen jou koeie by die waterkrip sit, te hoor hoe hulle drink. Boonop is skoue 'n goeie advertensie vir enige teler."

Oor wat hy meen hom vanjaar die wenner in die kompetisie gemaak het, is van Rensburg beskeie. "Ek weet regtig nie wat die beoordelaars alles in ag geneem het nie. Ons het net gedoen wat ons meen goed is. Eintlik is dit maar net genade van Bo en opregte belangstelling in jou diere."

Die son begin watertrek, en ek moet aanstaltes maak. Van Rensburg stap saam na die motor. "Daar is nie groot fout met die melkbedryf in die land nie. As jy vir jou diere sorg, sal hulle ook vir jou sorg. My redenasie is dat solank elke koei genoeg kos kry, sy ook die melkemmers sal vol maak. As jy konserwatief boer, en nie maklik skuld maak nie, kan jy kop bo water hou. Vir my was die bedryf nog net goed en ons is drie families wat daaruit 'n bestaan kan maak."

Met 'n marge bó die gespesifiseerde koste van R9 900/ha per jaar is dit duidelik waarom hy nie een van dié is wat maklik oor melkpryse mor nie. En, die grond wat hy vir sy seuns bygekoop het binne 10 jaar, pleks van 15 jaar, kon afbetaal.

Teling, voeding, bestuur die geheim
Op Avondrood gaan teling, goeie voeding en bestuur hand aan hand. Net semen van bulle met puik persentasies ten opsigte van vaste stowwe, melk en uiers word vir die kudde gekeur. By die vroulike diere val die klem op 'n goeie bouvorm, goed aangehegte uiers, sterk kloue en bene.

Verse met 'n gewig van 240 kg en wat 14 tot 15 maande oud is, word in die somer kunsmatig geïnsemineer. In die winter moet hulle minstens 250 kg weeg voor inseminasie.

Kalwers word op die ouderdom van twee maande gespeen. Ná geboorte kry hulle bies en volmelk vir 'n week voordat hulle op melksurrogaat oorgeplaas word. Kalf-korrelrantsoene en hooi word tot op die ouderdom van drie maande verskaf.

Die kalwers word hierna in groepies in kampies op weidings uitgeplaas waar hulle gemiddeld 2 kg kragvoer per dag asook hooi ontvang. Hulle gaan veld toe wanneer hulle een jaar oud is totdat hulle reg is om geïnsemineer te word.

Droë koeie word 'n maand voor kalwing op die weidings uitgeplaas en ontvang 'n mineraallek. Hulle kry elk sowat 2 kg kragvoer wat met 'n kommersiële droëkoeimeel gemeng word. Voorsorg moet ook teen rooiwater, galsiekte en melkkoors getref word.

Hoewel die koeie deur die jaar kalf, word gepoog om die meeste kalwers in die lente te laat aankom om die goeie voeding wat dan beskikbaar is, te benut.

Omdat die grond betreklik suur is, moet landboukalk van tyd tot tyd toegedien word om 'n pH van 5,2 tot 5,5 te handhaaf. Die status van die weiding word gereeld gemonitor en fosfaat en kalium word twee keer per jaar toegedien. As bobemesting word KAN na behoefte teen 100 kg/ha tot 150 kg/ha toegedien.

Dít maak die kudde uitsonderlik
'nSenior navorser by die Landbounavorsingsraad (LNR) se Diereverbeteringsinstituut in Port Elizabeth, mnr. Francois du Toit, sê die kuddes wat vir die LNR kompetisie vir die Oos-Kaap se Meestersuiwelboer van die jaar in aanmerking gekom het, is op grond van reproduksie en prestasietoetsdata gekies.

Verskillende formules is vir die verskillende rasse ingestel. Die formule neem die aantal laktasies wat in die toetsjaar voltooi is, die gemiddelde melkproduksie, die persentasie bottervet en proteïen asook die tussenkalfperiode in ag.

Daar word binne die ras vir elke kudde 'n randwaarde-indeks bereken. "Gevolglik word 'n Holsteinkudde se randwaarde-indeks nie met die randwaarde-indeks van 'n Jerseykudde vergelyk nie."

Die ses afdelings waarin elk van die sewe finaliste in die kompetisie beoordeel is, was teeltvordering en teelbeleid; voedings- en weidingsbestuur; kudde-beoordeling; finansiële bestuur en melkwinning en stalhigiëne.

Die Avondrood-kudde van mnre. Niekie van Rensburg en Seuns is eerste in die afdelings genetiese sordering en teelbeleid asook voedings- en weidingsbestuur geplaas. Hulle was ook die wenner in 'n afdeling waarin die suiwelboerdery op die plaas in die algemeen beoordeel was, sê Du Toit.

17 Februarie 2006

Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 15/04/14 22/04/14 %
Beesvleis A2/A3 3446c 3452c down 0.2
Speenkalf (lewend) 1719c 1726c down 0.4
Skaapvleis A2/A3 4709c 4730c down 0.4
Varkvleis (gem. prys) 2132c 2119c down -0.6
Braaikuikens 1721c 1729c down 0.5

Aandele