'n Sonarstelsel wat in Nieu-Seeland ontwikkel is om die ekonomies voordelige karkaseienskappe van lewende diere te bepaal en die voortreflikste diere in 'n kudde te identifiseer, is pas in Suid-Afrika bekendgestel. Veeboere wat dit reeds op die proef gestel het, is gaande oor die eenvoud van dié stelsel en die snelle kuddeverbetering wat dit teweeg kan bring. Nie almal stem egter saam met hierdie siening nie.
Waar die mens nie inmeng nie, het die natuur sy eie manier om die swakste diere uit te skot. Ook gesoute veeboere het voor die koms van nuwerwetse hulpmiddels oor die vermoë beskik om meerderwaardige diere te identifiseer.
Dit was hierdie waarneming wat mnr. Ian Walsh (60), 'n Nieu-Seelander, aangespoor het om toerusting te ontwikkel om die geheime van moeder natuur te ontrafel. Hy het reeds op die ouderdom van 19 jaar met skape en beeste in die omgewing van die Waitomo-meer op die Noord-Eiland begin boer.
Dit het hom veral gekwel dat talle veekundiges en selfs wetenskaplikes met wie hy in aanraking gekom het hulle meer met die fynere punte van vee bemoei het, maar min aandag gegee het aan die eienskappe wat die meeste geld in 'n boer se sak behoort te sit.
"Ek kon nie begryp dat die prys van vee wat vir slagdoeleindes bemark word bloot op grond van die gewig en gradering van die diere en nie ook op grond van die gehalte en bouvorm van die karkas wat verbruikers verkies, bereken word nie."
Soos in Suid-Afrika, grond die meeste voerkrale in Nieu-Seeland en Australië die prys van speenkalwers op lewende gewig. Min boere ontvang 'n premie vir diere wat 'n gunstiger voeromsettingsverhouding het of vir vee met 'n gesogte karkas.
Omdat Walsh sy kennis van teling hoofsaaklik deur fyn waarneming en selfstudie opgedoen het (hy was nie op universiteit nie), het hy besluit om vooraanstaande kundiges te nader om 'n manier te vind om die ideale karkas by lewende diere te identifiseer. Dié kundiges het onder meer genetici, weidingkundiges, internasionale rooivleisbemarkers en verwerkers ingesluit.
Ten einde die optimale verhouding tussen die persentasie been, vet en vleis in elke karkas te bepaal en om vas te stel of daar 'n korrelasie tussen goeie oogspierontwikkeling en 'n voortreflike karkas was, het die wetenskaplikes duisende bees-, skaap- en varkkarkasse by slagplase in Nieu-Seeland en Australië gedissekteer om dié verhoudings te bepaal. Uit hierdie navorsing is die Falkirk-indeksstelsel (FIS) en 'n draagbare sonarmasjien ontwikkel waarmee die meting gedoen kan word.
Met die draagbare skandeerder word die dikte van die oogspier en die hoeveelheid vet wat dit bedek op die twaalfde rib en op die kruis gemeet. Die resultate van die gemete diere word rekenkundig met behulp van die FIS-formule verwerk. Die samestelling van dié formule is die intellektuele eiendom van die Falkirk Wetenskaplike Stigting en kan dus nie bekend gemaak word nie. Die kliënt kry 'n uitdruk waarop die vee van die beste na die swakste presteerder gerangskik is.
Hoewel 'n mens die meting op enige ouderdom kan doen, is dit wenslik om dit twee maande ná die dier gespeen is, te doen om die invloed van die inname van moedersmelk uit te skakel. In die geval van stoetramme en -ooie kan jy 'n tweede lesing voor paartyd laat neem. Voortreflike diere wat in 'n teelprogram gebruik kan word, word dus reeds op 'n vroeë ouderdom geïdentifiseer.
Walsh sê stoettelers en kommersiële boere kan die FIS-stelsel ewe suksesvol benut. Eersgenoemde sal waarskynlik ál hul diere skandeer, terwyl kommersiële boere eers 'n sekere persentasie ooie met ooglopende prulfoute subjektief kan uitskot en dan die res, na gelang van hoeveel geld hulle hieraan wil bestee, lukraak sal laat skandeer.
Walsh maak daarop aanspraak dat die diere met die beste indekse nie net die doeltreffendste voeromsetters sal wees nie, maar ook dié wat die vrugbaarste is en die beste weerstand teen parasiete behoort te bied.
Oor die moontlikheid dat 'n onvrugbare dier met 'n uitstekende bouvorm 'n buitengewone goeie indeks sal oplewer, sê hy die stelsel behoort dit te ondervang. "In die geval van 'n vet, maar onvrugbare dier sal die been-, vet- en vleisverhouding nie na wens wees nie. Só 'n dier sal, nadat die formule toegepas is, uitgewys word."
Die stelsel maak nie vir die verskillende bees-, skaap- en varkrasse voorsiening nie. Die doel is bloot om die voortreflikste diere binne elke ras te identifiseer. "Boere hoef hulle dus nie meer tot kruisteling te wend nie, aangesien dit nou moontlik is om die beste diere binne elke ras met die stelsel te identifiseer.
"Waar die mens nie inmeng nie, het die natuur sy eie manier om die swakste diere uit te skot. Die Falkirk-stelsel, wat oor 20 jaar ontwikkel is, is 'n wetenskaplike instrument om dieselfde eindresultaat te bereik," sê Walsh.
Mnr. Lionel de la Harpe van die plaas Grassdale, Graaff-Reinet, deur wie se toedoen Walsh na Suid-Afrika gekom het, sê hy kon nie sy oë glo oor die verskil in sy kudde nadat dit volgens die Falkirk-indeks geklassifiseer is nie. "As getroue ondersteuners van die Dohne-Merino- en BLUP-metingstelsel het ons reeds oor goeie inligting beskik, veral wat die gehalte van die wol en die reproduksievermoë van die vee betref, maar ons het nie genoeg oor die gehalte van die karkas geweet nie."
Hy sê daar moet in gedagte gehou word dat die karkas (vleisgedeelte) tans meer as 70% van die inkomste uit 'n wolskaap lewer. "Sommige ramme met uitstekende BLUP-resultate het laag op die Falkirk-indeks gelê. Ek gaan hierdie ramme beslis nou uitskot."
Nieteenstaande die uiteenlopende resultate wil De la Harpe met BLUP-metings voortgaan. "Ek sien die Falkirk-stelsel as 'n uitstekende hulpmiddel om die bestaande seleksiestelsels aan te vul en nog vinniger teelvordering te maak. Die eienskappe wat deur die Falkirk-stelsel gemeet word, is ook redelik hoog oorerflik."
De la Harpe meen dat die stelsel nie deur almal met dieselfde geesdrif bejeën sal word nie, aangesien boere in Suid-Afrika nog bloot op grond van die gewig van diere en nie vir die gehalte van die karkas vergoed word nie. "Sake is egter besig om te verander. Verbruikers raak meer gesofistikeerd en dring op gehalte aan. Die Falkirk-stelsel kan 'n nuttige instrument word in die hande van daardie boere wat self by die bemarking van hul vee betrokke wil raak en 'n pryspremie vir 'n karkas van 'n beter gehalte wil beding."
Aangesien die meting taamlik duur is, meen hy telers en kommersiële boere sal aanvanklik net hul jong ramme en ooie laat toets. Namate hulle egter die voordele sien wat dit inhou, sal hulle meer diere laat meet.
Nadat hy gesien het watter waarde boere in Australië en Nieu-Seeland uit die stelsel geput het, is hy oortuig dat dit die koste regverdig. "Selfs al koop ek die beste ram, is ek oortuig dat ek nie dieselfde vordering gaan maak as wat ek nou gaan kry nie."
By skape beloop die toetskoste R28 per skaap waar minder as 400 skape gemeet word en R20 per skaap vir groepe van meer as 800. By beeste is die toetskoste vir minder as 55 diere R55 stuk en vir meer as 150 beeste R40 stuk.
Sommige het voorbehoude
Die Falkirk-stelsel het die wolbedryf behoorlik aan die gons. Tydens Merino SA se jaarlikse byeenkoms op Middelburg (Oos-Kaap) het dit uiteenlopende reaksie onder die wolindoenas uitgelok. Hieronder is die menings van 'n paar manne.
Dr. Daan Poggenpoel van Calvinia: "Nee wat, die aannames klink vir my oordrewe. Daar is ander metodes om groei en reproduksie te bepaal, soos die Merino-plan en BLUP. Ek sal maar eerder daarby hou."
Mnr. Geoff Kingwill van Murraysburg: "Die beginsel van die Falkirk-stelsel maak sin, naamlik om die oogspier te meet en daarvolgens sekere afleidings te maak. Dit is egter net 'n gedeelte van die verhaal. Ek glo nie alle eienskappe van 'n dier kan só bepaal word nie. Ek betwyfel byvoorbeeld die korrelasie tussen die Falkirk-indeks en reproduksie. Laasgenoemde is dié belangrikste ekonomiese eienskap in enige kudde. Ek wil nie die hele stelsel afskiet nie, maar vir my is dit beslis nie die alfa en omega van teling nie. Dit kan hoogstens 'n bykomende hulpmiddel vir telers wees."
Dr. Buks Olivier, Kleinveeprestasietoetsskema: "Die meting van vleiseienskappe is belangrik vir die kleinveebedryf. Deur die oogspier te meet, kan die vleisopbrengs in 'n groot mate voorspel word. As 'n mens egter net vir laasgenoemde selekteer, kan daar weer ander probleme opduik, soos diere wat minder gehard is en swak reproduseer. Die Falkirk-stelsel meet nie noodwendig goeie groei nie. Dit kan 'n uitstekende hulpmiddel in die totale verbetering van 'n ras wees, maar moet beslis nie in isolasie toegepas word nie. Meer data is nodig om die stelsel werklik te beoordeel. Suid-Afrika se toestande verskil hemelsbreed van dié in Nieu-Seeland. Daarby is die Falkirk-stelsel taamlik duur."
Mnr. Henry McNaughton van Houdconstant, Graaff-Reinet: "Ek kan niks fout vind daarmee nie. Hou in gedagte dat 70 % van 'n Merinoboer se inkomste uit vleis kom. Hoewel ek 'n toegewyde Merinoboer is wat ook ander wetenskaplike hulpmiddels inspan om kuddeverbetering te bewerkstellig, wil ek die Falkirk-stelsel ook 'n billike kans gee. Ek het vanjaar ál my jong ramme laat toets en wil volgende jaar ook die jong ooitjies laat toets. Ek sal graag die stelsel op langer termyn wil evalueer om te bepaal watter voordele dit vir die boerdery gaan inhou."
7 Oktober 2005