|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Die bestryding van Clostridium-verwante siektes moet op voorkoming fokus, want dié siektes het so 'n vinnige verloop dat daar nie tyd is om dit te diagnoseer en te behandel nie. Die bakterieë wat dié siektes veroorsaak, kom in die omgewing voor en kan nie uitgeroei word nie.
Siektes wat deur Clostridium-bakterieë veroorsaak word, is verantwoordelik vir groot verliese by beeste. Clostridium-bakterieë kom wydverspreid in die omgewing en ook in die dermkanale van diere en mense voor. Almal veroorsaak nie siektes nie. Party is betrokke by die bederf van voedsel en die verrotting van karkasse.
Die bekendste Clostridium-verwante siektes is sponssiekte, lamsiekte, klem-in-die-kaak en besmettings by kalwers en volwasse beeste wat skielike vrektes kan veroorsaak.
Die sindroom wat as sponssiekte bekend staan, is die gangreneuse besmetting van die spiere. Verskillende Clostridium-bakterieë kan sponssiekte veroorsaak, maar C. chauvoei is die mees algemene oorsaak daarvan. Ander organismes is C. septicum, C. novyi en C. sordelli.
Sponssiekte kom meestal by jong beeste voor, van ná speentyd af tot op die ouderdom van vyf jaar. Die organismes dring die beeste se spiere in die vorm van spore (die rustende vorm van bakterieë) in en bly rustend tot toestande in die spierweefsel voordelig is vir spoorgroei.
Dit is nog onbekend wat spoorontkieming stimuleer. Die ontkiemde spore skei 'n toksien af wat die spierweefsel begin doodmaak. Die toksien wat in die spiere geproduseer word, versprei in die liggaam en veroorsaak uiteindelik dat die dier vrek. Dit is gewoonlik die groot spiere van die agterkwart wat aangetas word. Met die sogenaamde "hartslag-sponssiekte" kan die hart ook aangetas word. Sponssiekte van die tong en die diafragma kom ook voor.
Beeste met sponssiekte van die skeletspiere toon styfheid en ongemak, maar hierdie vroeë stadium word selde raakgesien. In die meeste gevalle word die siekte eers opgelet wanneer dooie beeste gekry word. Kenmerkend van beeste wat hieraan gevrek het, is die opswel van die karkas as gevolg van gasproduksie in die spiere en vinnige verrotting.
Tydens 'n nadoodse ondersoek wys die betrokke spiere 'n donkerrooi tot swart kleur as hulle oopgesny word. Daar is ook 'n kenmerkende bottersuur-reuk by gevalle waar C. chauvoei betrokke is. Die spierletsels van sponssiekte kan partykeer met dié van slangbyt verwar word.
Die diagnose van sponssiekte word nadoods bevestig met die neem van bakteriese monsters van die betrokke spierweefsel. Die mees ekonomiese en doeltreffendste bestryding is inenting met 'n multikomponent Clostridium-entstof.
Vrektes weens sponssiekte kan ook met dié weens miltsiekte verwar word. As daar rede is om miltsiekte te vermoed, moet 'n bloedsmeer eers deur 'n veearts bestudeer word voordat enigsins aan die karkas gesny word.
Skielike vrektes by kalwers, wat verswerings (ulserasies) in die melkpens by na-doodse ondersoeke wys, is al geassosieer met C. perfringens tipe A. Ander faktore kan saam met die organisme die voorkoms van die toestand verhaas.
Hoewel C. perfringens tipe A-organismes wel in Clostridium-entstowwe ingesluit word, waarborg vervaardigers nie dat die entstowwe beskerming teen hierdie sindroom sal bied nie.
Pasgebore kalfies kan nekrotiese enteritis as gevolg van C. perfringens tipe C opdoen. Tekens daarvan is depressie, swakheid en bloederige diarree. Nadoodse ondersoeke sal bloeding en nekrose van die derm wys.
C. perfringens tipe D, die oorsaak van bloednier by skape, kan 'n oorvreet-sindroom by kalwers veroorsaak. Dié toestand kom min voor. By dooie kalfies sal nadoodse ondersoeke nierbeskadiging en brein-edeem wys.
As hierdie toestande gediagnoseer word, kan multikomponent Clostridium-entstowwe wat C. perfringens-organismes bevat, vir die bestryding daarvan gebruik word.
C. perfringens tipe A is moontlik ook die oorsaak van die sindroom "rooiderm" wat by voerkraalbeeste in Suid-Afrika voorkom. Soortgelyke toestande kom ook in Amerika voor.
Dié siekte is akuut en word gekenmerk deur 'n verlies aan eetlus, 'n geswelde buik, bloeding in die derms en vinnige vrektes. Die inname van hoëkonsentraat-rantsoene of rantsoene met 'n lae ruvoerinhoud is faktore wat die siekte kan aanhelp. Die siekte kan nie suksesvol behandel word nie, maar kan bestry word met die regte voedingspraktyke, soos om die rantsoen se gehalte en die hoeveelheid deurlopend dieselfde te hou en waterinname ná voedselinname te beperk.
C. perfringens tipe A word by sekere multikomponent-entstowwe ingesluit omdat die organisme wondbesmettings kan veroorsaak - die sogenaamde gas-gangreen wat ook by mense voorkom.
Lamsiekte
C. botulinum-bakterieë kom wydverspreid in die omgewing voor. Die bakterieë produseer 'n kragtige toksien wat verantwoordelik is vir die kliniese simptome van lamsiekte. Dié toestand kom voor in twee spesifieke toestande, naamlik op droë winterveldweiding en in stelsels waar voer opgeberg word.
Tydens die laat somer en winter begin veldgras se fosfaatvlakke daal. Om hul fosfaatvlakke aan te vul, vreet beeste ou bene en skilpaddoppe. Só neem hulle die lamsiekte-toksien in wat op die bene en doppe gevorm het.
Voer kan besmet raak met die lamsiekte-toksien as rotte, voëls of selfs katte tussen die opgebergde voer vrek. Hoendermis is ook 'n bron van die lamsiekte-toksien.
Lamsiekte-simptome begin binne twee tot ses dae sigbaar word nadat beeste die toksien ingeneem het. Die eerste tekens wat waargeneem word, is swakheid van veral die agterbene. Die ander spiere wat betrek word, is die kou- en slukspiere. Die onvermoë om te sluk, veroorsaak 'n aanhoudende gekwyl. Pogings om die diere met middels per mond te doseer, sal gangreneuse longonsteking veroorsaak.
Soos die toestand vorder, word die voorkwart ook swak en sal 'n dier gaan lê met die kop teen die sy. Uiteindelik word die asemhalingspiere aangetas en die dier sal vrek. Nadoodse ondersoeke wys niks wat kenmerkend is nie en dit kan slegs bevestig word met die isolasie van die toksien uit die derms.
Behandeling met lamsiekte-antiserum kan gedoen word, maar dit is duur en is selde baie suksesvol, tensy die gevalle in die vroeë stadia vasgevat word. Die mees ekonomiese bestrydingsmaatreël is die voorkomende inenting met 'n lamsiekte-entstof.
Die aanvulling van fosfaat deur middel van lekke sal verhoed dat die beeste bene vreet en hul prestasie op veld verbeter.
Die diagnose van lamsiekte word gebaseer op die simptome, maar dié toestand kan verwar word met diplodia-vergiftiging ('n swam wat op mielies groei), "krimpsiekte"-vergiftiging, hondsdolheid en drie-dae-stywesiekte.
Klem-in-die-kaak
Hoewel beeste nie maklik vatbaar is vir Clostridium tetani, die bakterium wat klem-in-die-kaak veroorsaak, nie, word tog gevalle gesien wanneer 'n chirurgiese ingreep gedoen word, soos as beeste onthoring word.
C. tetani is volop in die mis van alle diere en beland maklik in wonde, veral in onhigiëniese toestande. Dié bakterium groei welig in diep wonde en produseer 'n kragtige toksien wat die senuweestelsel van die dier sal affekteer. Aanvanklik toon beeste styfheid van die bene, wat ver van die lyf gehou word, asook uitsakking van die derde ooglid, hardlywigheid en depressie.
Later ontwikkel hulle spastiese (rukkerige) verlamming. Uiteindelik vrek hulle as gevolg van die verlamming van die asemhalingspiere. Behandeling met antibiotika is gewoonlik te laat omdat die toksien al klaar geproduseer is wanneer simptome gewaar word. Die gebruik van klem-in-die-kaak-antiserum is gewoonlik ook nie baie doeltreffend in gevorderde gevalle nie.
Beeste is minder vatbaar as byvoorbeeld perde en word nie oor die algemeen daarteen ingeënt nie. Die siekte kan voorkom word met goeie higiëne as beeste onthoring of hoewe gesny word, of by 'n ander chirurgiese ingreep. Steriele instrumente moet gebruik word en wonde moet deeglik ontsmet word.
Dié toestand kan vroeg in die verloop daarvan verwar word met hoef-inflammasie en vergiftiging deur sekere plantsoorte, en later met gevalle van hartwater.
Dr. Hunter is die tegniese bestuurder van Afrivet Business Management.
Hanteer entstowwe reg
Geïnaktiveerde entstowwe word vir die bestryding van Clostridium-verwante siektes gebruik. Daar is sekere riglyne wat gevolg moet word by die gebruik van hierdie produkte.
Geïnaktiveerde entstowwe is gewoonlik stabieler as lewende entstowwe, maar moet nogtans in 'n yskas teen temperature van 2 °C tot 8 °C gehou word. Dit moet nooit gevries word nie. As entstof per ongeluk vries, moet dit weggegooi word.
Entstowwe wat op koöperasie-toonbanke uitgestal word of wat sonder verkoeling agter op bakkies vir lang afstande vervoer word, moet nie gekoop word nie.
Geïnaktiveerde entstowwe bevat gewoonlik 'n bevorderingsmiddel wat uitsak wanneer die bottels staan. Die entstof moet dus vóór gebruik baie deeglik geskud word.
Entstowwe moet liefs nie weer opgeberg word nadat dit oopgemaak is nie, want dit kan tydens die inspuitproses besmet word. Die besmetting van die entstof sal die entstof se inentingsvermoë aantas en kan absesse by ingeënte diere veroorsaak.
Geïnaktiveerde entstowwe gee selde goeie immuniteit met 'n enkele toediening. Die diere moet ten minste twee keer ingeënt word, met 'n tussenpose van 'n maand tussen die inentings. Daarna is een inenting per jaar gewoonlik voldoende.
Die inenting moet betyds voor die blootstellingstyd gedoen word.
Die ideale tyd vir die eerste inenting van diere teen die meeste Clostridium-verwante siektes is speenouderdom.
As 'n boer hoendermis aan sy beeste wil voer, moet hy twee weke ná die tweede inenting die mis vir die eerste keer gee.
Anders as lewende entstowwe sal geïnaktiveerde entstowwe nie deur die toediening van antibiotika benadeel word nie.
Soos met alle entstowwe moet goeie naald- en spuithigiëne toegepas word. Naalde en spuite moet vir minstens 15 minute lank in kokende water gehou word.
Die sterilisering van naalde met alkohol of ontsmettingsmiddels is nie wenslik nie.
Besmette naalde of spuite kan absesse by die spuitplek of selfs bloedvergiftiging veroorsaak, wat noodlottig kan wees.
9 Julie 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24