|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Met 'n streng dieet van net veld en klipsout dwarsdeur die jaar gee dié veldramklub die pas aan met die teel van aangepaste geldmakers.
Hoe strawwer die toestande waarin vee geselekteer word, hoe groter is die verskil tussen die beste en die swakste teeldiere. Terwyl dié beginsel algemeen in die wetenskap van stoetteling aanvaar word, word dit glad nie so algemeen in die praktyk weerspieël nie.
Vir die lede van die Suid-Vrystaatse Afrino-veldramklub by Bethulie is dié konvensionele wysheid egter die enkele faktor waarop hulle die heel sterkste steun om aangepaste diere te teel. Hul sukses is 'n bewys dat hulle in 'n era van stygende insetkoste en strawwer wordende klimaatstoestande op die regte pad is.
"Dit is juis in moeilike jare wat die koring die duidelikste van die kaf geskei word," sê mnr. Martiens le Roux, by wie die klub se evaluerings die afgelope agt jaar gedoen word.
Le Roux se plaas, Môreson, is noord van Bethulie en het 'n lae reënval en tipiese semi-Karoo-veld van soetgras en bossies.
Die klublede maak daarop aanspraak dat hul klub, sover bekend, die enigste is waar die toetsdiere geen byvoeding kry nie, ook nie 'n proteïen- en energie-lek in die winter nie. Die ramme word ook nie voor die jaarlikse klubveiling met voer afgerond nie. Hulle is dwarsdeur die jaar net op veld en klipsout aangewese. Dié beginsel geld al sedert die eerste inname tien jaar gelede.
Nóg 'n unieke meting wat die klub toepas, is kondisiepunt-tellings, wat elke sowat vyf weke gedoen word. Dié meting wys ramme uit wat in selfs die strafste veldtoestande steeds die vermoë het om kondisie te handhaaf. Hierdie vermoë is noodsaaklik vir optimum reproduksie in skape.
Mnr. Mark Frewen, 'n skaapboer en CMW-verteenwoordiger van die omgewing, het drie jaar gelede die kondisiepunt-evaluering begin doen. Die ramme word in 'n drukgang gejaag, en die vetlaag oor die lende, onder die blad en op die ribbes word met die hand geëvalueer - soortgelyk aan wanneer skape vir bemarking in verskillende grade geëvalueer word.
Die plan is om nou 'n ultraklank-skandeerder te kry om die vetlaag akkurater te meet.
Elke ram word met elke meetslag twee keer geëvalueer.
Die punt-spektrum wissel van 0 vir 'n brandmaer skaap tot 6 vir 'n oorvet dier. Die hoogste punt wat nog tot dusver toegeken is, was 5.
Meting begin teen einde April, twee maande ná die aanvang van die jaarlikse toets, om te verseker dat omgewingsverskille tussen die ramme wat ingeneem is teen daardie tyd behoorlik uitgeskakel is. 'n Maand voordat die diere begin wissel (omstreeks Oktober) word die meting stopgesit omdat wissel so 'n groot invloed op 'n dier se kondisie het, en dus onakkurate data kan veroorsaak.
"Reproduksie is wat 'n boer laat oorleef," sê Frewen. "Diere in 'n goeie kondisie gaan reproduseer, 'n korter tussenlamperiode hê, en vetlammers produseer wat van die veld af bemark kan word."
Frewen sê hy neem die omgewingstoestande in ag wanneer hy die punte toeken, en bepaal eers 'n gemiddelde basis wat hierop gegrond is. In strawwer toestande sal hy byvoorbeeld minder streng punte toeken.
Die kondisiepunt-tellings toon 'n duidelike neiging dat 'n ram vir die duur van die toetsperiode bo- of ondergemiddeld in 'n groep bly.
Frewen vind ook dat daar in die algemeen 'n groot verskil in kondisiepunt-tellings tussen ramme in 'n jaargroep is, ongeag of dit 'n goeie jaar is of nie. Vanjaar (2005 se inname) se groepgemiddelde was 2,2 vir 92 ramme, waarvan die hoogste punt 3,8 was, en die laagste 1. In 2004 was die gemiddelde 2 vir 69 ramme, met 3 die hoogste en 0,8 die laagste; en in 2003 was die gemiddelde 2,3 vir 68 ramme, met die hoogste 3,7 en die laagste 0,8.
Mnr. Clynton Collett, bestuurslid van die klub, sê 'n teler moet besef dat 'n ram se kondisiepunt nie noodwendig aan sy gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT) gekoppel is nie. 'n Goeie balans tussen GDT en kondisiepunt moet eerder nagestreef word.
"Dit is vir ons baie belangrik om 'n skaap te teel wat nie net gras en bossies in kilogramme kan omsit nie, maar ook 'n goeie kondisie handhaaf. Sy kondisiepunt is 'n aanduiding van die genetiese vermoë om reserwes op te bou vir goeie reproduksie, en om lammers te produseer wat van die veld af bemark kan word," sê Le Roux.
Die kondisiepunt-tellings is voorts nuttig om aan telers leiding te gee wat ramme vir sogenaamde "nat" of "droë" skaapkuddes wil koop.
Collett en Le Roux skryf die Afrino se sukses in ander veldramprojekte toe aan die streng ekstensiewe seleksie by Bethulie.
Met die afgelope twee innames by Vrede se multiras-veldramklub het die Afrino-groep telkens die hoogste ekonomiese indeks van ál vier rasse (Merino's, Dohne-Merino's, SA Vleismerino's en Afrino's) behaal, sê Le Roux.
Uitslagpersentasie is ook 'n sterk punt van die ras wat hulle aan die ekstensiewe seleksiemetodes toeskryf. Met die vorige drie karkaskompetisies in die nabygeleë Rouxville - van 2003 tot 2005 - het die Afrino-groep telkens die beste gemiddelde uitslagpersentasie van vyf deelnemende rasse behaal, en die meeste eerste plekke van ál die rasse ingepalm. In die vorige twee jaar het die Afrino-wenners telkens 60% uitgeslag.
Afrino's maak naam oorsee
Die Afrino was een van die laaste skaaprasse wat uit Suid-Afrika na Australië uitgevoer is, maar dié ras het reeds daar naam gemaak, sê mnr. Clynton Collett, Afrino-teler van die plaas La Rochelle by Bethulie.
Die eerste Afrino-embrio's is twee jaar gelede Australië toe, en daar is nou sowat 150 Afrino-ooie in dié land.
Collett sê die immigrant-kudde, by me. Ruth en mnr. Evan Murdoch in Wes-Australië, spog met 'n gemiddelde oogspierdiepte van 41 mm en weeg gemiddeld 95 kg op 15 maande (in gunstige natuurlike toestande).
Dít het die Murdochs, wat bekende Merino- en Dohne-Merino-telers is, glo só beïndruk dat hulle nou besluit het om heeltemal na Afrino's om te skakel, sê Collett.
Volgens Collett gaan Afrino's ook binnekort op die Falkland-eilande ingespan word om die skaapkudde daar te verbeter. Verteenwoordigers van dié eilande het Suid-Afrika onlangs met die oog hierop besoek, en besluit om die Afrino die volgende drie jaar in proewe van die Australiese regering daar te gebruik.
11 November 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24