Menu
 

Deur AMELIA GENIS (agenis@landbou.com)
5 November 2007

1074 keer gelees | 0 kommentaar

Kruisteling bied geleenthede vir vleisbemarking aan melkboere. Sonder om groot koste aan te gaan, kan hulle groter winste behaal deur kruisras-bulkalwers aan voerkrale te verkoop.


Rooivleispryse het die afgelope paar jaar sterk toegeneem; hoofsaaklik danksy 'n stabiele aanbod en 'n toenemende vraag na vleis. Dit skep geleenthede vir melkboere om bulkalwers aan voerkrale te verkoop.

Melkbees-bulkalwers (Holsteins) het 'n markprys van R200 tot R400, maar slegs enkele voerkrale is bereid om die kalwers aan te koop. Die bulkalwers van sekere melk- en vleisrasse word selfs beskou as van min waarde vir die voerkraalbedryf omdat hulle swak groei in voerkraaltoestande.

In die Wes- en Suid-Kaap kruis melkboere reeds geruime tyd Simmentaler met Jerseys en Holsteins om meer geharde diere te kry wat meer melk gee en voer beter benut. Hulle besef nou dat daar ook geleenthede is om goeie pryse vir die kruisras-bulkalwers by voerkrale te kry.

Mnr. Thys Swart, boer van Swellendam en ondervoorsitter van die Simmentaler-belangegroep, het by 'n inligtingsdag oor bemarkingsmoontlikhede vir Simmentaler-kruisrasbeeste gesê van die belangrikste voordele van die inisiatief is dat dit diversifikasie in die melkvertakking moontlik maak sonder bykomende uitgawes. Derhalwe kan meer geld per koei verdien word.

In 'n brief wat dr. Dirk Verwoerd, tegniese bestuurder van Pfizer-dieregesondheid, voor die inligtingsdag uitgestuur het, sê hy voorlopige inligting oor groeisyfers en gekoördineerde bemarking toon die potensiaal om die bykomende inkomstebron vir melkboere te ontsluit.

"Voerkrale is grootliks onbewus van die neiging en vind nog nie juis baat by die beskikbaarstelling van kalwers wat amper vleisbeeste is nie hoofsaaklik omdat die bemarking tot dusver ongekoördineerd was en daar min kalwers beskikbaar was."

Hy meen egter kalwergetalle het intussen drasties toegeneem en boere moet nou net die koördinering en bemarking regkry.

"Boere in die Suidwes-Kaap met sy winterreën is uit pas met die tradisionele somerreëngebiede ten opsigte van die beskikbaarheid van kalwers," sê Verwoerd.

" 'n Ontleding van speenkalfpryse deur die jaar vir die afgelope sewe jaar dui op 'n 'skaarsheidspremie' van 20% tot 30% wat gewoonlik betaal word per kilogram lewende gewig vir kalwers wat in Augustus verkoop word, teenoor dit wat betaal word in April wanneer kalwers uit die somerreëngebiede aan die voerkraalmark gebied word."

Swart sê voerkrale betaal boere reeds tussen R11/kg en R12/kg vir Simmentaler-kruisbulkalwers - dieselfde as wat vir rasegte vleisbeeste betaal word. "Hierdie Simmentaler-kruiskalwers is besonder gewild by voerkrale omdat hulle gewoonlik hans grootgemaak is en dus gewoond aan mense is. Daarby het hulle 'n rustige temperament.

"Dit verlaag hul stresvlakke teenoor dié van vleisraskalwers wat voerkraal toe gaan net nadat hulle gespeen is," sê Swart.

"Die Simmentaler-kruisings is boonop gewoond aan voer uit voerbakke vreet, wat tot onmiddellike gewigstoename lei. Melkboere is gewoonlik ook op datum met hul inentingsprogramme wat gesonder kalwers aan die voerkrale verskaf.

"Wanneer hierdie kruiskalwers by die voerkraal aankom, kan hulle dadelik begin gewig aansit, terwyl kalwers wat van vleisbeeste gespeen is, die eerste paar weke gewig verloor vanweë stres. 'n Verdere bonus is dat die kruisrasversies in die melkery opgeneem kan word aangesien daar bewys is dat kruisraskoeie selfs meer melk produseer as hul rasegte melkmaats in dieselfde kudde," sê Swart.

Swart sê in verskillende proewe oral in die wêreld het Simmentaler/Simmentaler-beeste 'n puik groeitempo en goeie voeromsetting getoon. "Deur Simmentalers met melkbeeste te kruis, is gevind dat die voeromsettingskoers van die kruisraskalwers beduidend beter as dié van rasegte melkbeeste is."

Dieselfde resultate word met plaasproewe gekry. Op Dundonald van mnr. Pierre Laesecke was die gemiddelde gewig van Simmentaler-Jersey-kruisbulle 231 kg op sewe maande. Op Weideland, die plaas van dr. Josef Uys, het Simmentaler-Jersey-kruisbulle gemiddeld 205 kg geweeg op vyf en 'n half maande. By Springmount Trust in die Oos-Kaap het 'n groep gemengde kruisings (Simmentaler x Jersey en Simmentaler x Holstein) gemiddeld 264 kg geweeg ná tien maande op grasweiding.

Springmount se kruisraskalwers is teen gemiddeld R2 795 stuk verkoop, met 'n wins van R632 per kalf. Rasegte Holstein-bulkalwers moes 30 dae langer gehou word om 267 kg te haal. Nadat hulle verkoop is, was die wins per kalf slegs R451.

Eweneens het dr. Carel Muller, navorser van die Wes-Kaapse departement van landbou se instituut vir diereproduksie by Elsenburg, gevind dat vyf maande oue Simmentaler/Holstein-kruisings 209,3 kg weeg, met 'n daaglikse gewigstoename van 1 071 g.

Muller is besig met 'n kruistelingsprojek waarin eienskappe van Simmentaler x Holstein- en Simmentaler x Jerseykuddes met rasegte diere vergelyk word. Hy sê in al die proewe het die Simmentaler x Holsteinbulkalwers, -ossies en -verse swaarder geweeg as die vergelykende Holsteinbulkalwers, -ossies en -verse.

"Hoër liggaamsgewig vir vleisbeeste verseker 'n hoër inkomste. Die uitwerking van kruisteling sal oor die leeftyd van die melkkoeie bepaal word. Die potensiaal van die Simmentaler-ras in vergelyking met ander melkbeesrasse in Suid-Afrikaanse toestande met laegraadse voerbronne moet nog bepaal word."

Landbouweekblad, 26 Oktober 2007

Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 08/04/14 15/04/14 %
Beesvleis A2/A3 3415c 3422c down 0.2
Speenkalf (lewend) 1723c 1719c down -0.2
Skaapvleis A2/A3 4638c 4636c down 0
Varkvleis (gem. prys) 2136c 2119c down -0.8
Braaikuikens 1712c 1721c down 0.5

Aandele

  • Namibiese Elite-koei: Bonsmara

    Funksioneel doeltreffende diere wat oral in alle toestande kan produseer, is die doelwit van mnr. Edward Hansen van Okahandja.

  • Sussex se Elite-koeie

    Met sý Sussex-beeste moet kommersiële boere op die veld wins kan maak, sê mnr. Chris Nel van Petrus Steyn.

  • Beefmasters se Elite-koei

    Mnr. Piet Human van Steynsrus se Beefmasters is die resultaat van die familie wat al 150 met beeste in die Vrystaat boer.

  • Drakensbergers se Elite-koei

    Jou oë kan vir jou jok, maar nie syfers nie, sê mnr. Edwin Schroeder van Dundee, eienaar van die Elite-koei in die Drakensberger-ras.