Dr. Charlotte Nkuna, direkteur vir die Pluimveesiekte-bestuursagentskap, sê dié aankondiging is tydens die agtste internasionale
Avian Influenza-konferensie in April vanjaar aan veeartse van regoor die wêreld oorgedra.
Sy was ’n spreker by die jaarlikse kongres van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (
SAPV) in Johannesburg.
Volgens Nkuma is agt lande endemies geïnfekteer, en sewe subtipes van die virus is aangemeld. ’n Totaal van 598 gevalle is by mense in Europa, Afrika en Asië aangemeld, en 352 van dié mense het gesterf. Duisende voëls is ook wêreldwyd geïnfekteer en moes van kant gemaak word.
RedesDie toename word grotendeels aan twee redes toegeskryf. Die eerste is
laksheid wat veiligheid betref. “Baie lande is nie konsekwent en gerig wat die beheer van veiligheidsfaktore betref nie,” verduidelik Nkuma.
Die tweede rede is ’n groeiende pluimveebedryf en dus ’n “hoë pluimveedigtheid” wat in baie lande voorkom.
Wilde voëls’n Bron van kommer vir baie lande is die migrasie van wilde voëls, wat as een van die groot redes vir die verspreiding van die virus aangedui word. Sommige lande, wat deel vorm van die voëls se trekroetes – soos Australië – monitor hul pluimveebedryf en selfs wilde voëls gereeld om ’n uitbreking te voorkom.
Volgens Nkuma word die inenting van pluimvee en ander voëlsoorte gereeld bespreek. Sy sê ’n groot debat bestaan oor of grootskaalse inentings teen die siekte wel suksesvol sal wees. ’n Inentingsveldtog is vroeër in Viëtnam onderneem, wat baie gunstige resultate opgelewer het. Die impak van die siekte is verlaag, en die voorkoms van
nuwe infeksies is beperk. ’n Soortgelyke veldtog het egter in Egipte het geen resultate opgelewer nie.
Nkuma sê in die Suid-Afrikaanse konteks is dit belangrik dat die benadering tot die behandeling van die virus en die monitering daarvan weer nagegaan word. “Al is dit dan om te besluit om die status quo te behou, maar ons moet die regte strategie gereed hê.”
VolstruisbedryfIntussen het dr. Greg Celliers, wat as voorsitter vir die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundigesessie by die kongres opgetree het, gesê die Volstruisbesigheidskamer (
VBK) het aangedui dat hy by die SAVP gaan aansluit.
Nkuma het veeartse gevra om dié bedryf op elke moontlike manier by te staan dat hy so vinnig moontlik weer op sy voete te kom en sy uitvoerstatus terug kan kry.
Sedert April verlede jaar het die voorkoms van die
H5N2-virus by volstruise die bedryf se uitvoer gestuit. Hoewel die virus maande gelede laas by enige volstruise gediagnoseer is, moet ’n lang proses gevolg word voor die uitvoerstatus herstel word. Intussen verloor die bedryf maandeliks sowat R108 miljoen aan uitvoerinkomste.
31 Mei 2012