Minstens 150 top Boerboele kom op Saterdag 25 Oktober van regoor die land by die Afridome in Parys byeen, waar die 2008 Wêreld Boerboelskou en -veiling deur die SA Boerboeltelersvereniging (SABT) aangebied word.
Hierdie byeenkoms is die hoogtepunt van die SABT se 25ste verjaardagvieringe. Volgens die voorsitter, mnr. Frans du Toit, is dit is gepas om die skou en veiling in die Vrystaat te hou, waar die vereniging in 1983 op die plaas Mizpah van mnr. Lucas van der Merwe, sowat 50 km van Parys, gestig is.
"Ons hoofoogmerk met die wêreldskou is om die Boerboel - die enigste Suid-Afrikaanse honderas - te vereer. Daarby kry telers en eienaars die geleentheid om 'n bietjie te spog en self te oordeel watter vordering daar in die verbetering van rasstandaarde gemaak is. Dit is ook 'n ope uitnodiging aan die publiek om die Boerboel te ontmoet. Om hierdie groot, gespierde, kalm en beheersde honde in die skouring te sien, is genoeg om van enigiemand 'n lewenslange Boerboel-entoesias te maak," het Du Toit belowe.
Deelnemende honde is gedurende September by ses streekskoue as top presteerders aangewys. Reuns en tewe word onderskeidelik in vier kategorieë beoordeel in ouderdomsklasse wat wissel van ses weke tot 24 maande en ouer. Aan die einde van die verrigtinge word die grootkampioenreun en -teef aangewys. Die skou begin om 09:00 en toegang is gratis.
Die veiling begin om 16:00. Tot dusver is ongeveer 30 honde, waarvan die meeste tussen ses en twaalf weke oud is, vir die veiling geregistreer. Om vir voornemende kopers in die buiteland, Boerboele uiters gesog is, voorsiening te maak, sal telefonies gebie kan word.
Foto's en inligting oor die honde en veilingprosedures is beskikbaar op die SABT se webtuiste by www.sabt.co.za.
Navrae: Mnr. Brink Botha, sel. 082 452 4090.
7 Oktober 2008